138. Die toneel is voorberei – die roep gaan uit.

[Johannes 1]

Dis eers diep in hoofstuk een wat die storie begin. Johannes maak seker dat ons die tydloosheid en ewigheidswaarde van hierdie verhaal begryp – waarlik die wonderlikste storie ooit. God het Sy geskape wesens so lief dat Hy een van hulle word om Homself as offer te bring om hulle te red.

Johannes is noukeurig om die eerste week van Jesus in die fyn detail weer te gee.

[Die Skrif is soos volg: eerste dag – Johannes 1:19-28; tweede dag – Johannes 1:29-34; derde dag – Johannes 1:35-39, vierde dag – Johannes 1:40-42, vyfde dag – Johannes 1:43-51. Die sesde dag is oop en die sewende dag word beskryf in – Johannes 2:1-11.]

Daar is drie getuies tot Jesus se lewe: Johannes die Doper, die dissipels en die wonderwerke. Johannes die Doper stel sy eie posisie baie duidelik in Johannes 1:19-28.

Een van die belangrike spelers in hierdie storie is die Jode. Hulle is altyd in opposisie, in ‘n kruis-ondervragingsrol. Hulle word meer as 70 keer genoem. Hy vertel van hulle verwerping van Jesus. God bring saligheid wat hulle weier; Jesus nooi uit en hulle bied weerstand. Die hele Evangelie vertel van die liefde van God, maar waarsku teen die verwerping van daardie liefde.

Johannes die Doper was die seun van Sagaria, ‘n priester (Lukas 1:5). Die priesterskap was ‘n erfposisie oorspronklik van Aäron af. ‘n Persoon is ‘n priester gebore of hy daarvan gehou het of nie.

Die Fariseërs was geleerdes in die Wet van Moses en het in streng ooreenstemming daarmee geleef, as voorbeeld vir die mense. Hulle naam beteken afgesonderd. Buiten die Fariseërs was daar die Sanhedrin, wat Jesus fyn dopgehou het. Hulle was ‘n raad van gemeenskapsleiers in elke stad van Judea. Hulle naam beteken saamsit. ‘n Belangrike deel van hulle funksie was om teen valse profete te waarsku. Hulle was besonder suspisieus oor enigiets nuuts en Johannes die Doper het nie binne die toegelate spektrum van profete geval nie.

Die Jode as ‘n nasie en hulle leiers het in verwagting van die Messias geleef. Hulle het ‘n majestieuse regeerder van vrede en mag verwag; ‘n nasionale kampioen wat hulle die heersers van die hele aarde sou maak; ‘n prins uit die stam van Juda en ‘n afstammeling van Dawid.

Soveel mense het oor eeue uitgeroep dat hulle die Messias is en groot onluste veroorsaak. Almal het geglo dat Elia sou kom om die Messias aan te kondig (Maleagi 4:5). Sommige het geglo dat Johannes die Doper die reïnkernasie van een van die ander groot profete soos Jesaja of Jeremia kan wees, al was reïnkernasie nie deel van die algemene geloofsbeginsels nie. Johannes die Doper het al hierdie titels en name oor homself ontken.

Johannes die Doper was ‘n ware pastoor en prediker. Hy het deurgaans die ware Koning uitgewys. Die prediker moet vergete wees en dit wat hy beklemtoon moet uitstaan. Die fokus moet altyd op Jesus wees.

Hoekom het Johannes gedoop?

Die doop was nie vir die Israeliete nie. Slegs vreemdelinge wat hulle by die Joodse geloof wou aansluit is gedoop. Die Jode het nie doop nodig gehad nie; hulle was alreeds kinders van God. Johannes het die speelvlak gelyk gemaak in antisipasie van iets besonders. Hy het Jode soos heidene behandel. Mense, uit al die moontlike vlakke van die samelewing, het na hom gestroom in die hoop vir iets kragtig en wonderbaar in die vernuwing van hulle geloof.

Onder die kruisondervraging van die Fariseërs het die Doper geantwoord:

“Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie.” (Johannes 1:26,27)

Hy kon nie ‘n meer nederige taak genoem het nie. Om skoenrieme los en vas te maak was ‘n slaaf se werk. Die Rabbi’s het gesê dat ‘n dissipel enigiets vir sy meester mag doen, maar nie sy skoene vasmaak nie. Johannes verklaar dat hy nie eers waardig is om Jesus se slaaf te wees nie. Deur dit te sê het hy die koning van Israel aangekondig.

Johannes was net besig om die weg vir Jesus voor te berei, soos wat elke prediker moet doen. Ons het dieselfde groot roeping as Johannes die Doper. Ons wys die pad na Jesus. Mense moet ons vergeet; ons moet onsself vergeet en die beeld van Jesus in fokus bring.

Dit is die ware toets van Woordbediening. Hoe duidelik is die woorde en werke van Jesus in ons kerke vandag? Dieselfde Johannes skryf die “toets” vir ware geloof in sy sendbrief.

Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is. Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is. En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is. (1 Johannes 4:1-3)

Waar is die duiwel die meeste aktief? In die kerk tussen die kinders van God. Daar wil hy die valse leer versprei, halwe waarhede wat lei na wettisisme en twyfel. Ons ken die WAARHEID – Jesus in persoon. BID dat die gawe van onderskeiding oor vooroordeel, vooropgestelde idees en wêreldse kultuur ons sal bewaar van valsheid. Ons moet die suiwer Evangelie soos Johannes die Doper verkondig:

Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! (Johannes 1:29)

In hierdie een stelling is daar vier beelde van Jesus:

  • Die Paaslam, wat in Egipte geslag is, toe hulle die bloed aan die deure gesmeer het in Exodus 12:11-13. Paulus bevestig dit in 1 Korintiërs 5:7.

 

  • Tydens die offers by die Tempel is duisende lammers geslag en die bloed teen die fondamente gesprinkel. Die lammers is spesiaal geteel vir die offerrituele en dit was daarde spesifieke herders wat die paaslammers opgepas het, wat die boodskap van Jesus se geboorte by die engelkoor gehoor het. Die lammers is deur die handelaars in die voorhof van die Tempel verkoop.

 

  • Die profete het die titel van Jesus uitgeroep. Ek was soos ‘n mak lam wat weggelei word om geslag te word. (Jeremia 11:19)

Soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie. (Jesaja 53:7)

  • Die stryd van die Maccabese teen die bose Antiochus Epiphanes rondom 163 vC was vars in die geheue van die Jode van daardie tyd. Die lam met horings was die simbool van die groot oorwinnaar as God se kampioen. Hy sou die oorwinning oor sonde in ‘n eenmalige stryd wen.

Johannes gebruik hierdie titel van Jesus 29 keer in die Openbaring.

Dit het een van mees geliefde titels van Jesus geword. In een woord som dit die liefde, opoffering, lyding en die oorwinning van Jesus alles saam op.

Kon enigiemand ooit bang wees vir ‘n lammetjie? Kon enigiemand ‘n lammetjie verwerp?

Jesus kom as ‘n mensbaba, die mees hulpelose nuutgebore wesetjie wat daar kan wees. Hy kom nie om te oordeel of te verdoem nie. Hy kom om te red. Dit is ‘n beeld van diepe kontras. Hoe kan ‘n lam meer wees as ‘n hulpelose skepsel wat versorg moet word? Jesus is die Lam van God wat in oorwinning die wêreld red.

Dit is ‘n beeld wat aandag trek juis in die geweldige kontras, die inherente dissonansie wat dit skep.

Dit is die grootste konfrontasie van denke ooit.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

136. Ja werklik…soos nooit vantevore.

[Johannes 1]

Ons het al daaroor gepraat. Nuut soos ‘n nuwe pen is iets wat al lankal bestaan. Daar is ook ander soort nuut. ‘n Nuwe een soos in absoluut die heel eerste wat bestaan. God maak iets nuut. Wat Hy nuut maak het nog nooit vantevore bestaan nie. Hy is die Skepper. Hy maak mense nuut. Hy maak die mees bose en aakligste gemors iets wonderbaar met ‘n unieke plek in die wêreld.

Ek is altyd oorstelp met die idee van ‘n nuwe begin. Het ons ou wêreld dit nie vreeslik nodig nie? Hoeveel keer sien ons lewens wat so verkeerd loop in die oppervlakkige soeke na plesier, rykdom en sukses wat lei na roekelose en onverantwoordelike besluite. In die duisternis van die gevolge van sulke oortredings, ego die hulproep na ons God wat kan nuut maak.

Hierdie glorieryke Skepper-God het mens geword om in die stof te leef en ly en hier by ons sy genesende en restorerende krag te bevestig. Johannes stel dit so:

1:14: Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

Hierdie vers is die kern van die ganse Evangelie van Johannes.

Die Woord wat die wêreld geskep het, die rede van God wat die wêreld in stand hou het ‘n mens geword sodat ons Hom met ons eie oë kon aanskou. God het vorm aangeneem sodat dit vir ‘n gewone mens moontlik was om Hom te sien.

Hierdie redenasie van Johannes onderskei sy Evangelie van alles anders wat ooit geskryf is. Dit was iets waarvan niemand nog ooit bewus was of verstaan het nie. Augustinus het daarna verwys en verklaar dat daar niks in enige filosofiese geskrifte bestaan, wat verduidelik hoe die Woord, vlees geword het.

Vir die Grieke was dit onmoontlik – ‘n god kon nooit mens word nie. Die wêreld en die fisiese was so korrup dat God nie eers naby dit kan kom nie.

Johannes maak hierdie skokkende stelling: God het ‘n mens geword; God het ewigheid vir tyd verruil; God het ‘n gewone lewe kom leef en sigbaar vir die mens geword. Paulus gebruik die woord VLEES om die mens se natuur en geneigdheid tot sonde te beskryf. Om dit aan God toe te skryf was ongehoord.

Sommige het gesê Jesus is ‘n spook wat nie werklik koue en honger kon ervaar nie. So sterk het hierdie gedagte posgevat, dat dit ‘n sekte geword het. Johannes maak ‘n sterk argument teen dit.

In Jesus sien ons God ons lewe leef, soos wat Hy dit sou leef as Hy op aarde moes woon. Jesus het God in ons lewe ingeleef.

Johannes skryf in klassieke Hebreeuse styl – dieselfde konsep word herhaal, bietjie anders die tweede maal vir impak en beklemtoning.

Hierdie vers bevat die twee mees belangrike woorde in die ganse Jesus-saga – genade en waarheid.

GENADE:

Genade is heeltemal onverdiend, iets wat ons nooit self in ons guns kan laat werk nie. Dit is aksie van God, voortspruitend uit Sy liefde om die hulpeloosheid van die mens uit die onbeperkte goedgesindheid van God te hulp te kom.

In Grieks beteken genade ook charisma of sjarme. In Jesus sien ons God se wonderbare, sagmoedige geaardheid.

Genade verduidelik God se eensydige uitreiking na die mens, sonder om enigiets terug te verwag.

Net in die daaropvolgende verse verduidelik Johannes die onbeperktheid en onuitputlikheid van God se genade.

Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. (Johannes 1:16)

Dit beskryf een wonder wat tot die volgende lei. Daar is altyd meer – mooier en mooier. Musiek, kuns en letterkunde het geen einde nie. God is nog soveel meer as ons aardse konsep van skoonheid. Hy is onbeperk.

In sy onbeperktheid voorsien Hy AL die genade wat ons ooit mag nodig hê. Genade is dinamies en genoeg en kan alles bedek en red. God is lief vir die mens en gee genade sonder maat. Dit mag dalk nie so duidelik uit die wet van Moses en die Ou Testament blyk nie, maar in die lewe en boodskap van Jesus is daar geen twyfel nie.

WAARHEID:

Wysgere oor eeue soek na waarheid. Hoe kan mens ooit seker van die standaard en oorspronklike, waaraan waarheid gemeet kan word, wees? Waarheid word defineer as die feit, geloofwaardigheid of realiteit in ooreenstemming met ‘n oorspronklike of ‘n standaard.

Jesus se: Ek is die waarheid (Johannes 14:6). Om die waarheid te ken, moet ons Jesus ken. Hy is toeganklik vir almal. Sommige mense vind dit moeilik om abstrakte idees te verstaan. Dit is moeilik om skoonheid te beskryf, maar almal kan iets mooi herken en met sekerheid in sy eie opinie weet dis mooi. Ons kan na Jesus wys en sê: Dit is God. In Hom weet ons wat die waarheid oor God is.

Jesus het nie vir ons kom vertel van God nie. Hy het in lewende lywe kom wys wat God is, sodat die eenvoudigste denke God kan begryp en aanvaar, net soos die mees ontwikkelde intellektuele denke met die diepte van filisofiese studies Hom kan begryp.

Jesus kommunikeer waarheid; Hy is die waarheid (Johannes 8:31) en Hy is ‘n getuie tot die waarheid (Johnannes 18:37). Hy is die oorspronklike, die standaard. Jesus wys ons die regte pad, maar stel ons ook in staat om reg te kies en dan reg te leef. Sy Gees is die gees van waarheid (Johannes 14:17; 15:26; 16:13)

Die Heilige Gees help ons om die Bybel te lees, te verstaan en te leef.

Dit is die waarheid wat ons vry maak (Johannes 8:32).

‘n Kind wat werklik weet wie hy is, is vry en vrymoedig om ten volle te leef. Die vyand wil ‘n skewe, leuenagtige beeld van onsself vir ons laat glo. Dit is hoe vrees en ongeloof in ons denke vastrapplek kry.

Die waarheid kan weerstaan word. Jesus is doodgemaak daarvoor (Johannes 8:40).

Geen mens kon nog ooit die waarheid vernietig deur dit te weier nie.

 Die waarheid kan verwerp word (Johannes 8:45). Soveel mense kan nie in Jesus glo nie, net omdat dit so eenvoudig en maklik is. Sommige is so vasgevang in halwe waarhede en vals leerstellinge wat soms die groter gevaar vir die waarheid is.

Waarheid is nie abstrak nie. Dit is prakties en moet geleef word (Johannes 3:21). Dit kan geken word, aanvaar word en uitgeleef word. Om die Jesus-lewe te leef deur Sy genade is die ware lewe.

Dit is die nuwe begin, na groot tragedie, na groot rampspoed. ‘n Hele nuwe lewe, hier op die aarde binne al die gebrokenheid.

135. Onplesierige tuiskoms.

[Johannes 1]

Dis altyd so goed uitgebeeld in die flieks. Dis net verstommend hoe die wrywing en spanning van ‘n ongemaklike verhouding ‘n knoop in my eie maag maak, net terwyl ek daarna kyk uit die veiligheid van ‘n teatersitplek. ‘n Lang verlore broer kom huis toe vir ‘n spesiale geleentheid; ‘n troue of ‘n begrafnis en almal is in hoogspanningsrat, bewus van die pyn van onsekerheid en vermorste jare.

Ons is kinders van God en Jesus is die seun van God. Hy is ons oudste broer deur wie ons wêreld bestaan. Johannes skryf oor die hartseer en teleurstelling in die man wat vir ons die rede en hart van ons Vader verpersoonlik het.

1:10,11: Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.

As die mens net ingestel was om Hom te sien, sou hy nog altyd Logos in die heelal kon herken.

Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie… (Romeine 1:20)

Die wêreld is so gemaak om mense na God te lei. Die skepping en omstandighede word so beskik dat ‘n mens die leemte in sy siel probeer vul. Dit is bedoel dat hy sal uitroep na God toe.

Die Teologie het nog altyd ‘n onderskeid tussen natuur-teologie en openbaringsteologie gemaak. Laasgenoemde is gebaseer op die waarheid wat direk van God deur die profete in Sy woord openbaar gemaak is. Natuur-teologie is die waarheid wat die mens op sy eie deur sy eie intellek en begrip van die wêreld om hom, ontdek. Hoe kan ons God in ons wêreld herken?

Openbaringskennis is die wonder van God se stem deur sy geskrewe Woord. Dit is die stem van oortuiging in ons gedagtes, wat ons besluite bepaal en ons gedagtes stuur.

Commit your works to the Lord, and your thoughts will be established. (Proverbs 16:3)

Dit is die grootste seën op aarde en vir dit hou ons aan bid en studeer.

Ons bid vir insig in die wêreld om ons. Ons kan net deur die oë van die Heilige Gees waarlik sien. Ons kyk na die heelal uitwaarts en dink soos die Grieke dat waar daar orde is, is daar intelligensie. Die wêreld het verstommende orde. Die planete hou hulle bane, die getye is konstant, die seisoene is soos klokslag en net so dag en nag (Genesis 11:22). Volmaan, sonsverduisterings ensovoorts kan noukeurig bereken word. Dit is ‘n superieure intelligensie aan die werk.

Ons kyk na die heelal opwaarts. Die astronome studeer die sterre wat soos die sand aan die see is in ‘n onbegryplike groot heelal. Die astronomie wys na God en Sy majestieuse skepping.

Ons kyk na die wêreld binnewaarts. Waar het ons die vermoë om te dink gekry, om te redeneer en te weet? Waar en hoe het ons gewete ontwikkel, ons verwyt, skuldgevoel? Hoekom kan ons nie in boosheid verval en vrede ervaar nie? Geen mens kan homself buite God verklaar nie.

Ons kyk na ons heelal terugwaarts. Ons ganse geskiedenis is God se morele waardes in werking. Ryke het ontwikkel en geval volgens ‘n paroon van morele substansie.

Israel was God se spesiale land en die Jode God se uitverkore volk. (Exodus 19:5; Psalms 135:4). In die lig hiervan moes die deur vir Jesus wawyd oop gewees het. In plaas daarvan, het die mense wat oor eeue vir ‘n taak voorberei is, die taak geweier.

Net soos vandag nog is daar baie mense wat die taak wat hulle opgelê is, weier en selfs onbewus daarvan leef. Dit is een van die redes vir innerlike dissonans.

Weet jy wat jou roeping is? Is jy ongelukkig met jou omstandighede? Dink noukeurig na. God het ‘n baie spesiale plan vir jou. Dis nie noodwendig ‘n radikale lewensverandering nie, net groter fokus op Sy doelstelling presies daar waar jy in jou werk en huis met die mense om jou omgaan.

Hy berei ons voor in ons omstandighede, in die alledaagse van ons lewe.

1:12-13: Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.

Die mens is nie ‘n kind van God van nature nie. Hy moet een word. ‘n Mens kan in ‘n klaskamer sit, sonder om ‘n student te wees. Net soos een prediker gesê het: om in ‘n motorhuis te sit, maak nie van jou ‘n kar nie. Kerk toe gaan maak nie van jou ‘n Christen nie.

Die mens kan net tot God nader as God self die pad daarvoor oopmaak. Dit is so duidelik uit die antieke wêreld se desperate en intense soeke na God. Deur in Jesus te glo, kan ons die lewe wat God bied ontvang en leef.

Die lewe is moeilik en dikwels voel ons nie so gelowig en triomferend oor boosheid nie. Dit is juis in hierdie tye waar die krag en ondersteuning van Jesus ons dra. In ons swakheid is ons meer bewus van Sy voorsiening en leiding. Dit is die sleutel tot oorwinning.

Jesus belowe so veel in die wonder van Sy naam. Die Jode het ‘n naam gegee om die natuur van ‘n persoon te beskryf.

Daarom vertrou almal wat u Naam bely, op U, want U, Here, laat dié wat vra na u wil, nie in die steek nie. (Psalm 9:11)

Ons stel ons vertroue in die die Here wat ons weet hoe Hy is. Hy is soos Jesus. Dit is hoe ons die voorreg het, om kinders van God te word – eenvoudig – neem die besluit. Miskien is dit goed dat jy swak voel en nie op jou eie krag en insig steun nie…vra net.

134. Woord, Lig, Wêreld, Donker

[Johannes 1]

Ons het dit al gesê. Dit staan geskrywe in die baie boeke van die geskiedenis, Die woorde staan vas en onveranderd. Niemand kan dit betwis nie.

“Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” (Johannes 8:12)

Baie mense het gekom en gegaan. Baie het hulleself as God of die Messias uitgeroep. Baie het mense getrek deur wonderwerke, genesing en ander voordele. Google maar net die mense in die Jodendom wat oor eeue hulleself as die Messias verklaar het. Geen van die name is bekend nie.

Niemand in die ganse geskeidenis van die mensdom het nog ooit gesê hy is die lig van die wêreld nie.

Die woord lig kom 21 keer in Johannes se Evangelie voor. Jesus is die lig van die mense. Die roeping van Johannes die Doper was om aan te dui wie die Lig is. Jesus het homself twee maal die lig van die wêreld genoem (Johannes 8:12, 9:5)

Die lig van Jesus is in mense (Johannes 11:10) sodat hulle kinders van die Lig word (Johannes 12:26). Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie. (Johannes 12:46)

  • Jesus bring lig om die chaos te verdryf – Hy is die enigste een wat dit kan doen.
  • Jesus bring lig om dinge te ontbloot en te wys hoe dit werklik is. Al die bagasie en leuens van die wêreld word gestroop, om mense en omstandighede in hulle ware karakter te wys. Dit is lig wat waarheid openbaar.
  • Jesus bring rigtinggewende lig – sekerheid binne onsekerheid. Hy gee lig wat besluite bepaal.

Duisternis in die wêreld is net so ‘n werklikheid soos lig (Johannes 1:5)

Die onoorwinlike lig van Jesus sal die die duisternis oorwin, Johannes maak die saak uit dat jy moet kies sodat jy aan die wenkant kan wees.

Dit is mense wie se dade boos is wie die lig vrees (Johannes 3:19-20). Dit is net iemand wat iets wil wegsteek wat duisternis verkies. Duisternis word simbolies gebruik om blindheid te beskryf. Jesus belowe ‘n lewe sonder duisternis as ons Hom volg.

Sonder Jesus is dit onmoontlik om rigiting in jou lewe te hê.

Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is, skryf Johannes in 20:1. Hy beskryf die atmosfeer as donker om die geweldige kontras in die opstanding te beklemtoon. Duisternis en dood is vir ewig inherent verander.

Judas het sy hand saam met Jesus se hand in die bakkie gesteek en toe uitgegaan. Dit was nag (Johannes 13:30).

Wat ookal soveel bose magte oor die geskiedenis heen wou doen om hierdie lig te doof, het gefaal. In elke geslag skyn die lig van Christus helder ten spyte van vervolging en onderdrukking.

Duisternis sal nooit wen nie. Dit mag die simbool van jou omstandighede of hartstoestand wees, maar dis nooit te veel dat die lig van Jesus alles verander nie. Hy is daar om Sy lig te skyn net daar waar jy roep.

Die volk het op ‘n afstand bly staan, maar Moses het nader gegaan na die donker wolk waarin God was. (Exodus 20:21)

Binne die eerste vyf verse bring Johannes al die bygelowe, al die afgode, al die filosofie, al die verwarring en selfs die wêreldse logika bymekaar en gee die antwoord in die persoon van Jesus. Die hele deurmekaarspul van Romeinse, Griekse, Egiptiese en Persiese godery word verskuif in die lig van die waarheid van Jesus.

Dit is die mees radikale verklaring ooit –

Jesus is die enigste antwoord op alles nog ooit.

 Johannes die Doper was ‘n getuie van die Lig, net soos ons geuies is, nooit die lig self nie. (Johannes 1:6-8)

Vierhonder jaar was die profete stil voordat Johannes begin doop het. Daar was die gevaar dat mense sou dink hy is die vervulling van die belofte. Johannes maak dit duidelik dat Hy en die Doper net na Jesus wys en geen plek langs hom wil inneem nie. Daar is net één.

Johannes die Doper self stel dit duidelik in die Evangelie van Johannes. Jesus moet meer wees en die Doper minder (Johannes 3:25-30). Die mense het bevestig dat Johannes nie kon doen wat Jesus doen nie (Johannes 10:41).

Johannes waarsku skerp om nie mense aan te hang nie. Slegs Jesus is waardig om te volg. ‘n Ware profeet sal na Jesus wys as die middelpunt van alle aandag. Die Doper was net ‘n getuie.

Ons ken die werke van Jesus uit die getuienisse. Dit is die

  • getuienis van Jesus self. Nou ja, oor My getuig Ek self én die Vader wat My gestuur het.” (Johannes 8:18). “Al getuig Ek ook oor Myself, is my getuienis geldig, omdat Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek teruggaan (Johannes 8:14). Jesus se persoon en werke was sy eie beste getuie.

 

  • getuienis van sy werke. “Maar Ek het getuienis wat nog gewigtiger is as dié van Johannes. Die werk wat die Vader My gegee het om te voltooi en waarmee Ek nou juis besig is, lê oor My getuienis af en bevestig dat die Vader My gestuur het (Johannes 5:36). Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self. (Johannes 14:11). As Ek nie by hulle die werke gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle nie skuldig gewees het nie; maar nou sien hulle dit, en tog haat hulle My en my Vader (Johannes 15:24). Geen mens kon die kragtige werke van Jesus doen, sonder dat hy nader aan God was, as enige mens nog ooit was.

 

  • getuienis van die Woord. Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig (Johannes 5:39). As julle Moses geglo het, sou julle in My geglo het, want hy het van My geskrywe (Johannes 5:46). Filippus was oortuig dat Jesus die een is van wie die profete geskryf het. (Johannes 1:45).

 

  • getuienis van die laaste profeet, Johannes die Doper. Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. (Johannes 1:7-8).

 

  • getuienis van die mense met wie Jesus in aanraking gekom het. Die Samaritaanse vrou was ‘n getuie van die insig en krag van Jesus (Johannes 4:39). Die man wat blind gebore is, was ‘n getuie van Sy genesingskrag (Johannes 9:25;9:38). Die mense wat Sy wonderwerke aanskou het, was verstom oor Sy werke (Johannes 12:17).

 

  • getuienis van die dissipels self en veral die skrywer van die Evangelie. En julle moet getuig, want julle is van die begin af by My” (Johannes 15:27). Daar is dus drie wat getuig: die Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis stem ooreen (1 Johannes 5:7). Die Gees het die waarheid verkondig en die mense in staat gestel om die waarheid te erken.

God gee altyd bevestiging in getuienis. Dit geld vandag nog en is veral waar in die wonderbare herlewing wat aan die gang is. Laat altyd die Woord toe om profesie te bevestig. Die Here sal jou wys en Sy plan bevestig. Sy weg is lig – nie ‘n duistere verwarring nie.

“Daar mag nie net een persoon teen iemand getuig nie, al was die oortreding of die misdaad ook wat, al het hy ook hoe verkeerd gehandel. ‘n Beskuldiging kan net bewys word deur die getuienis van twee of drie getuies. (Deuteronomium 19:15)

1:9: Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe.

Daar is twee Griekse woorde vir waarheid: alethes en alethinos. Die eerste beteken waar in kontras met onwaar en die tweede beteken werklik teenoor onwerklik. Johannes gebruik die tweede een om te beklemtoon dat Jesus die perfekte is, in kontras met al die vals en onvolmaakte wat Hom vooraf gegaan het.

Hy stel sy saak soos ‘n regsgeleerde om alle twyfel oor Jesus weg te redeneer.

Daar is gedeeltelike lig en vals lig wat die mense volg. Jesus is die enigste ware lig, die werklike lig wat waardig is om te volg. Jesus is die dagbreek van ‘n donker wêreld.

Kennis van Hom kan die skadu van twyfel heeltemal verdryf. In Sy koms is God nie meer ‘n misterie nie. Jesus het getoon wat God is. Hy is die Lig wat al die vrae en verwarring kon antwoord.

Selfs die dood het al sy mistiese angsaanjaende krag verloor. Die antieke wêreld het die dood bo alles gevrees. Dit het die marteling en argwaan van een of ander god aangekondig en daar was geen uitweg nie. Jesus het ‘n groter, beter lewe na die dood belowe en vrees vir dood verdryf.

Antieke gemeenskappe was erg eksklusief. Die Jood het die Griek gehaat, die heidene gehaat, wat volgens hulle vir geen ander doel as die helse vuur gemaak is. Daar is geen aandag gegee aan die woorde van die ou profeet dat Israel die lig van die nasies sal wees. (Jesaja 42:6; 49:6) Die Romeine het die Christendom gehaat en gevrees omdat dit hulle van hulle eksklusiwiteit beroof het.

In die wêreld vandag is net een oplossing – glo in Jesus sodat Hy ons in liefde en vrede kan verenig. Enige ander eenheid of vrede is onmoontlik.

Hy maak die onmoontlike moontlik. Geloof in Hom is ‘n verligting en ewige rus in waarheid en veiligheid.

Waar is Hy vandag? Hy is Bron van lewe en oorwinning oor duisternis.

In genade deur die Kruis is Hy myne! Roep uit na Hom en leef in die lig – vir altyd.

 

 

 

133. Daar was ‘n man.

[Johannes 1]

Augustinus het gesê dat in alles wat hy ooit van die wêreld geleer het; in al sy studies en filosofiese denke het hy nog nooit gelees van ‘n woord wat ‘n liggaam gekry het en ‘n mens geword het nie. Dit is presies wat Johannes hier in die eerste hoofstuk van sy Evangelie verklaar. Die rede, die gedagte van God is in ‘n menslike vorm ingespreek.

Dit is Johannes se groot gedagte: Jesus is God se kreatiewe, lewe-gewende en liggende  woord. Jesus is die krag van God, waarmee Hy die wêreld gemaak het en die rede van God waarmee Hy die wêreld onderhou. Dit is God self wat na die aarde in menslike vorm kom. Johannes verduidelik die vooraf-bestaan van Jesus. (Johannes 1:1-2)

As die woord van God van die begin af bestaan het en deel van die ewige karakter van alles is, beteken dit dat God altyd soos Jesus was. Ons dink die God van die Ou Testament is anders as Jesus en eintlik ‘n kontras met Jesus se bediening op aarde. Dis selfs moontlik dat mens sou kon dink dat Jesus God se houding teenoor die mens “verander” het. Die Nuwe Testament is daarop gemik om te wys dat God altyd soos Jesus was.

Jesus het die venster van tyd oopgemaak sodat ons kan inkyk op die ewige en onveranderlike liefde van God.

 Wat dan van die wrede, geweldadige dele van die Ou Testament?

Dit is nie God wat verander het nie. Dit is die mens se kennis van God wat verander het. Die profete het die vernietigende gevolge van sonde gesien en dit toegeskryf aan die wraaksugtige, woede van God. Daar is geen seën moontlik waar sonde heers nie. Jesus het gekom om die wonderbare hart van God te wys, sodat ons nie in onkunde moet vergaan nie.

Daar word vertel dat ‘n klein dogtertjie van die wrede en bloeddorstige dele van die Ou Testament gehoor het en eenvoudig verklaar het: “Dit is voordat God ‘n Christen was.”

Jesus wys dat God altyd ‘n Christen was!

In die tyd waarin Johannes geskryf het, was daar ‘n dwaling onder die mense wat hulle Gnostisisme genoem het. Hulle het geglo dat daar van die begin af twee dinge bestaan het – God en materie. Materie was die rou materiaal waaruit die aarde gemaak is, gebrekkig en onrein.

God se gees is rein en perfek en kan nooit aan materie raak nie. Daarom is Jesus nie God nie, want God kan nooit in menslike vorm kom nie. Die aarde was boos en kon net uit ‘n bose god kom.

Dit was vir Johannes belangrik om die waarheid te verkondig. Twee basiese Christen waarhede is hier ter sprake. Die nou verband tussen Jesus en die skepping word weer en weer bevestig. In Kolossense 1:16 skryf Paulus: God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is… Alles is deur Hom en vir Hom geskep.

die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe

(1 Korintiërs 8:6). Net so in Hebreërs 1:2: … het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het

 Die grondbeginsels van die Christendom bepaal dat God die wêreld gemaak het en alles wat verkeerd is, is ‘n gevolg van sonde. Die wêreld behoort aan God. God is nie verwyderd van die wêreld nie, eerder intens bestrokke om Sy plan van liefde te laat geld volgens die keuse van die mens.

Hy het Jesus gestuur om Sy liefde en lewe aan die mense te illustreer (Johannes 1:4). Die tema van die hele Evangelie is lig, lewe en liefde. In Latyn: lux, vitas, caritas, wat mens dikwels op wapens en kerke sien.

Die vierde Evangelie begin en eindig met lewe. In die begin leer ons dat Jesus lewe is en aan die einde skryf Johannes dat sy doel met die skrywe is, dat die mens sal glo in Jesus, die Christus, die Seun van God, en daardeur in Sy naam die ware lewe kan hê (Johannes 20:31).

Dit is Jesus se verwyt dat mense kies om Hom te verwerp en so die ware lewe mis (Johannes 5:40). In Jesus is lewe in oorvloed (Johannes 10:10). Hy gee lewe en niemand sal een van ons uit Sy hand ruk nie (Johannes 10:28). Jesus is die Weg, die Waarheid en die Lewe (Johannes 14:6).

In die Evangelie van Johannes word die woord “lewe” (zoe) meer as 35 keer gebruik en “om te lewe” as werkwoord meer as 15 keer.

Lewe is die teenoorgestelde van vernietiging, vervloeking en dood.

Jesus bring lewe, God gee lewe.

Die woord wat die lewe van God beskryf is aionios – die ewige lewe.

Dit is nie eenvoudig lewe wat vir altyd aanhou nie – dit is inderdaad Goddellike lewe. Jesus bring ons God se lewe. Die ewige lewe is die lewe wat die krag van God self reflekteer. Jesus nooi ons om in God se lewe in te tree.

Die wyse waarop ons toegang kry is om in Jesus te glo (pisteuein), ‘n woord wat 70 maal in die Evangelie van Johannes gebruik word.

Wie in die Seun glo, het die ewige lewe… (Johannes 3:36).

“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe (Johannes 6:47).

“Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan (Johannes 5:24).

Hoe glo ek dit? Ek moet glo dat Jesus die Seun van God is, uit die dood opgestaan het en sy voorskrifte aanvaar as waar en juis oor my lewe. Dit is nie ‘n ondervinding nie – dit is ‘n besluit!

Dit is die sleutel tot die ware lewe. Sonder God en Jesus is dit onmoontlik om waarlik te leef.

Onderwerp aan Hom en Hy sal Sy vrede in jou gees laat heers. Hy is immers die hart van God in menslike vorm.

132. ‘n Woord kry menslike vorm.

[Johannes 1]

Ons is so bekend met die Bybel se woorde – dit word amper betekenisloos. Ons denke moet weer verkwik word met ‘n nuwe waardering vir die wonder. Ons ken mos die woorde van Johannes 1: die Woord het vlees geword, so goed dat ons skaars weer daaroor dink. Miskien moet ons ons verbeelding in ‘n ekstreme oefening inspan en visualiseer hoe ons woorde in menslike vorm lyk.

Hoe sal die woorde daar in die kar wat na die ander motoriste geslinger word lyk? Heel moontlik soos groot, growwe, uitsmyters wat ‘n ou papslaan en disnis daar op die pad neergooi. Hoe lyk die woorde van skinder agter iemand se rug? Dalk soos ‘n donker figuur in ‘n mantel om ‘n bebloede dolk te versteek wat weer en weer verwond, soos die skerp woorde in die onsigbare realm ingestuur word. Dit klink dalk oordrewe dramaties, maar ek kan dit nie wreedaardig genoeg uitdruk nie. Ons woorde doen skade, selfs tot die dood toe. (Spreuke 18:21)

Hoe sou ons woorde van aanmoediging en liefde lyk? Kan jy jou voorstel dat hoorde lyk soos ‘n sterk arm wat iemand ophelp en afstof om aan te gaan? Ons woorde van liefde is ‘n groot omhelsing wat beskerm teen vrees en die wreedheid lewe wat ons moet hanteer. Ons woorde van gebed mobiliseer die hemelse weermag om te veg en te red.

Meer nog: daar was ‘n Man – logos – die Woord.

The first chapter of the Fourth Gospel is one of the greatest adventures of religious thought ever achieved by the mind of man.

[William Barclay, Professor of Divinity and Biblical Criticism at the University of Glasgow]

Teen die tyd dat Johannes hierdie Evangelie skryf, woon hy in Efese. Dit is na die die Joodse oorlog van 66-70 nC. Teen 60 nC was daar ongeveer ‘n 100 000 Griekse Christene vir elke Joodse Christen. Die goeie nuus van Jesus het uit die tradisionele Joodse wysheid uitbeweeg na ‘n baie groter toepassing in die wêreld van daardie tyd. Joodse idees was vreemd vir die Grieke. Die Grieke het byvoorbeeld, geen Messiaanse verwagting gehad nie. Hoe moes Jesus aan die denke van die Grieke voorgestel word?

In beide kulture was die konsep van die woord sentraal in ‘n hulle denke oor wysheid.

Vir die Jode was ‘n woord baie meer as net klank. Dit was iets met ‘n eie bestaan wat konkreet dinge verrig – ‘n eenheid van kragtige energie. Hebreeus was spaarsamig met woorde – 10 000 in totaal terwyl Grieks oor die 200 000 woorde gebruik het.

Die Jode het ‘n tipe letterkunde gehad wat die Wysheidsliteratuur genoem is. Dit was nie spekulatief en filosofies nie, eerder prakties om jou lewe elke dag te bepaal. In die Ou Testament is die voorbeeld van Spreuke. In sekere gedeeltes waar daar oor wysheid (Grieks=sophia) gepraat word, is wysheid ‘n misterieuse, lewende en ewige krag. Wysheid word personifiseer en soos ‘n medewerker van God voorgestel in Spreuke 3 en 8.

Dieselfde tyd as wat die Prediker geskryf is, is ‘n boek in Alexandrië in Egipte geskryf met die titel: Die Wysheid van Salomo. Die skrywer van die boek het wysheid en die woord gelykgestel.

Dus sê Johannes: As jy God se woord wil sien, God se skeppende krag wil sien, daardie woord wat lig en lewe aan die hele mensdom bring, kyk na Jesus. In Hom is God se woord tussen julle.

Maar hoe het hierdie idee in Griekse filosofie ingepas? Eintlik was dit alreeds daar, maar met ‘n verwagting vir vervulling wat die inhoud van die konsep sou bepaal. Sover terug as 560 vC het ‘n denker met die naam Heraclitus in Efese gewoon, presies waar Johannes geskryf het vyf eeue later. Heraclitus was van mening dat alles om ons in ‘n toestand van vloed is en dus van oomblik tot oomblik verander. Sy mees bekende voorbeeld hiervan, is dat dit onmoontlik is om twee maal in dieselfde rivier te tree. As jy uittree en weer intree, het die water gevloei en die rivier is anders. Indien dit waar is, hoekom is die wêreld en die lewe nie heeltemal chaoties nie? Daar kan geen sin wees as daar konstante verandering is nie.

Heraclitus se antwoord was dat die vloei van alles nie toevallig is nie – dit was onder beheer en fyn bepaal volgens ‘n patroon. Die patroon wat die wêreld orden is logos – die woord – die rede van God.

Die Grieke het vasgeklou aan die idee van logos en alles daarmee verklaar, veral in die denkskool van Stoïsisme, wat oor die orde van alles in verwondering gestaan het. Orde impliseer intelligensie, daarom is die kosmiese orde verklaarbaar met logos.

 So het Plato (428-348 vC), een van die bekendste Griekse filosowe, LOGOS as die basiese feit van die lewe verhef. Hy het bepaal dat daar ‘n vooraf iets was tussen die logos van die denkende siel en die logos van dinge.

Vir die Grieke is die betekenis van logos, die woord. Plato en ander filosowe het logos nie net vir die gesproke woord gebruik nie, maar vir die ongesproke woord, die rede, die woord wat nog vorm aanneem binne denke. In terme van die heelal, was logos die rasionaal, die intelligensie wat alles bepaal.

Johannes het logos binne ‘n hele nuwe konsep toegepas om die inhoud te gee wat die Grieke nagestreef het. Skielik was die mens in staat om sedert die heel begin van alles die logos te ken, in die persoon van Jesus Christus. Hy het aan die Grieke gesê: oor soveel eeue het julle gedink en geskryf en gedroom oor logos, die verstand en krag wat die wêreld gemaak het en die orde van alles bepaal, waarvolgens ‘n mens ook redeneer en kennis kry om met God kontak te maak. Jesus is die logos van God.

Die ongesproke woord in God se denke, het menslike vorm aangeneem en tussen ons kom woon. God se rede het ‘n persoon geword.

God se woord het ‘n mense geword om ons te wys hoe sou God op hierdie aarde geleef het. Ons is “klein Christusse”, daarom noem hulle ons Christene.

In wedergeboorte kry ons die “sin” (denke) van Christus.

Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus. (1 Korintiërs 2:16)

Hoe sou ons ons woorde in hierdie wonder-verklaring van God en Jesus onderwerp aan logos?

Kom ons bid Psalm 19:15:

Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!

 

These are the words in my mouth;
these are what I chew on and pray.
Accept them when I place them
on the morning altar,
O God, my Altar-Rock,
God, Priest-of-My-Altar.
(The Message)