101. Skielike stilte – die oomblik van gebed.

[Openbaring 8]

Net vir ‘n oomblik, kom ons dink aan die klank in die hemel. Klank en kleur begelei die visioen in elke beskrywing. Johannes beskryf die stem van God soos baie water, die engele met trompette, die nuwe lied, aanbidding van ‘n ontelbare menigte, die stemme van die martelare en die natuur wat aktief deelneem. Dit is alles geluide wat nie ignoreer kan word nie. Is dit nie dikwels ‘n geluid wat ons aandag fokus nie? Ons kyk op en reageer op klank. Ons bou klank in ons lewens in sodat ons bewussyn van gebeure kan verskerp – die deurklokkie as mense arriveer, alarms wat rowers aankondig, telefone wat lui om te kommunikeer.

Hoofstuk 8 begin met stilte na die sewende seël oopgemaak is. Ons het die oopmaak van die sewende seël in die vorige hoofstuk bespreek. Dit is egter nodig om weer te beklemtoon dat Openbaring se hoofstukke nie die gebeure in volgorde aanbied nie, en as ‘n geheel gelees moet word. In die finale opsomming van die boek sal ons ‘n geheelprentjie saamstel wat die belangrikste interpretasiebeginsels aanraak.

Net so is hierdie hoofstuk ‘n vervolg op gebeure wat in die vorige hoofstukke bespreek is.

Die stilte skep ‘n dramatiese verhoog vir kerngebeure in die hemel – ons gebede! Die stilte gee gewig aan die beeld wat voor Johannes ontvou. Selfs meer as klank, is stilte geweldig effektief om aandag te trek en konsentrasie te verskerp..

Bodemklipvriend – die beeld van my gebed in die goue altaar voor die Troon van die Almagtige God van hemel en aarde is een van die pilare wat my bemoedig en staande hou deur enige stryd van vrees, bekommernis en probleme.

Een van die kommentatore is van mening dat ons gebede vir God belangriker is as die musikale aanbidding van die hemelskare. Die hemel is stil by die aanhoor van gebede, selfs die sagste fluisterroep van ons hart. Ek weet God het nie stilte nodig om te hoor nie. Hierdie is ‘n beskrywing in menslike terme om die belang van gebed voor God vir ewig in ons harte in te brand.

Ons het stilte nodig om te fokus. Dink maar wat in ‘n motor gebeur wanneer die radio aan is en die kinders op die agtersitplek tekere gaan. Alles is goed en wel as die pad maklik is, maar sodra daar moeilike omstandighede is; padwerke, verkeersknope of ‘n moeilike kruising, maak ons almal stil om te konsentreer.

Dit is ons Vader. Hy maak die ganse kosmos stil vir ons. Wees bly! Ons gebede is daar in die altaar binne raakafstand van Sy almagtige Hand.

Andrew Murray skryf oor gebed:

It is fellowship with the Unseen, most holy One. The powers of the eternal world have been placed at its [prayer’s] disposal. It is the very essence of true religion, the channel of all blessings, the secret of power and life. Not only for us, but also for others, for the church, for the world, it is to prayer that God has given the right to take hold of Him and His strength.

God hoor ALLE gebed. Hy is meer gereed om gebed te antwoord as wat ons is om te bid.

Die engel staan by die altaar. Daar word dikwels in Openbaring (6:9,9:13,14:18) van die altaar gepraat. Dit is die wierookaltaar in die Heilige deel van die woestyntabernakel waar die tafel met toonbrode en die goue lampstaander is. Dit is nie die brandofferaltaar nie – daar is geen dier offers in die hemel nie. Die Lam is geslag aan die kruis – eens en vir altyd. Niks meer is nodig nie. Die era van brandoffers is vir altyd verby. Die wierookaltaar word in Levitikus 16:12, Numeri 16:46 en Lukas 1:8-10 beskryf. Dit is die simbool van gebed en aanbidding.

Die wierookaltaar was van goud gemaak – ongeveer ‘n vierkante meter groot, met plek binne vir die wierook kole, met horings aan die hoeke.

unknown Die wierookaltaar in die Tabernakel.

Gebed is ‘n offer, omhul met ‘n heerlike geur wat vir die Here aangenaam is. Geen ander offer is nodig nie – net gebed wat die ganse hemel in beweging bring. Die beskrywing van die engel wat vuur op die grond gooi, dui op meer openbaring wat oor die gebeure op aarde kom. Gebed is die sleutel om die openbaring van die seëls te verstaan.

Die beeld van die engel met die gloeiende kool herinner aan die roeping van Jesaja (6:6), ‘n positiewe beeld van salwing en toerusting van die Heilige Gees. Die gerub strooi kole van die altaar oor die stad in Esegiël 10:2.

Hier in ons verhaal neem die engel die gloeiende kole van die altaar en strooi dit oor die aarde (8:5). Gebed het direkte, onmiddellike impak op die aarde.

‘n Trompet is ‘n simbool van ingrype van God in die geskeidenis. Dit is ‘n oproep tot aksie, ‘n waarskuwing om gereed te wees en dikwels ook die aankondiging van ‘n fees of die besoek van ‘n koninklike.

In die geskiedenis van Israel het die trompet die oordeel en aksie van God aangedui (Sefanja 1:14-16, Joshua 6:1-8) soos:

die wet op die kliptafels:                   Exodus 19:16, 10.

die oproep van die bannelinge:        Jesaja 27:13

die “dag” van die Here:                       Joël 2:1, Sagaria 1:16, 9:14.

die vergadering van die uitverkorenes: Matteus 24:31.

Paulus praat van die dag waarop die trompet sal weerklink. (1 Korintiërs 15:52-53 en 1 Thessalonicense 4:16) Dit is ‘n dag van groot vreugde vir die kerk en ‘n dag van afrekening en openbaring vir die kinders van die Here.

Die eerste vier trompette kondig die verwoesting van natuurrampe aan. Die natuur is aktief in die oordeel van God. Slegs ‘n deel van die aarde word getref. Dit is net ‘n voorspel tot die einde en die finale oordeel.

‘n Derde is ‘n substansiële minderheid. Die besonderhede van die volgorde word in die volgende verse gegee:

Eerste die aarde (8:7), dan die see (8:8-9), dan die vars water en fonteine (8:10-11) dan die hemelruim en sterre (8:12) en dit kom neer op die geheel van die skepping.

Die oorsprong van die oordeel vind ons in die plae van Egipte – haelstene, water wat in bloed verander, visse wat vrek, duisternis. [Exodus 7: 17-21,9:23-25 &10:21-23] Sefanja 1:3 praat van die voëls en visse wat in die oordeel van God neergevel word.

Al hierdie rampe word in die geskiedenis van die mensdom meer intens en meer dikwels in die laaste dae herhaal. Die beskrywing van Openbaring gee ons insig in die natuurrampe en besoedeling van die aarde, fisies en geestelik, in ons eie tydvak. Die verwoesting wat om ons gebeur is soms moeilik om te verstaan. Ons weet dat die aarde kreun onder die gevolge van sonde.

Bitterals (wormwood) dui op die pynlikheid van swaar oordeel.

[Grieks = apsinthos – ‘n plant waaruit ‘n bitter olie onttrek is wat giftig op die senuweestelsel inwerk). Dit is dikwels aangewend om wurms inwendig te behandel.

Reën wat soos bloed lyk het in Italië en suidoos Europa in 1901 voorgekom. Die wind wat op ‘n seker manier waai het die Saharasand so ver gewaai dat die rooierige sand soos reën oor Europa neergeval het.

 ‘n Berg wat brand klink soos ‘n vuurspuwende berg. Dit is in die Romeinse tyd berig toe Pompeii verwoes is in 79 nC. Vesuvius, suid van Rome in die Baai van Napels, het onverwags en kragtiglik uitgebars en ‘n hele dorpie onder lawa begrawe. Vandag is dit ‘n toeriste aantreklikheid wat ‘n blik gee op die lewe in daardie tyd.

Die laaste vers praat vand ‘n arend, nie ‘n engel nie, wat met uitroepe van katastrofe en ellende, verdere tragedie aankondig. In Joodse tradisie was ‘n arend dikwels die draer van profesie en openbaring.

Die eerste vier trompette het oordeel oor die natuur aangedui, maar in die laaste drie (hoofstukke 9-11) is dit die ongelowige mense wat ly onder dood en ondergang.

Die wêreld om ons is afgetakel en uitgeput deur oorlog en stryd. God se oordeel is ‘n natuurlike gevolg op die bose staat van sake. Sy eerste gawe aan die mensdom was keuse en Hy sal dit nooit terugtrek nie (Romeine 11:29).

Ons, wie die voorreg het om onsself kinders van God te noem omdat ons ons sonde bely en Jesus as ons Saligmaker aanvaar, is in die unieke posisie om in die veiligheid van goddellike hulp binne die oordeel te oorleef as ‘n voorbeeld van God se reddende krag. Ons gebede en die wonderwerke wat ons van getuig sal ons oorwinning aan die wêreld vertoon.

Hulle het self die oorwinning oor hom [die satan] behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so lief gehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie. (Openbaring 12:11)

 

 

 

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s