102. My lewe, my lied, my lafenis.

[Openbaring 9]

Alles wat God gemaak het is goed. Die hele skepping is ‘n wonder wat ons bestudeer en waardeer op ‘n daaglikse basis. Die kinders van Adam is steeds besig om alles op ons aarde te benaam. Dit is wat ons wetenskap noem. Sedert daardie eerste opdrag van God aan Adam om name te gee aan wat hy sien, het die proses nog nooit opgehou nie. Dit is ‘n bron van vreugde en verstommende bewondering vir elke kind van God. Die natuur is ‘n onuitputlike bron van inspirasie. ‘n Japanese studie het bevind dat net ‘n 15 minuut stappie per dag tussen bome, kan moegheid verlig en geestesgesondheid beduidend verbeter.

In die vorige hoofstukke het ons onder die indruk gekom van die natuur se deelname in die oordeel oor sonde. Die natuur is ingestel op God en sy plan en “wag” vir die openbaarmaking van Sy volheid en vernuwing van die skepping.

Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. (Romeine 8:19)

Die vyfde trompet weerklink met skrikwekkende intensiteit. Iets meer as die natuur is hier aan die werk – die demoniese. Die onderaardse skag (abyss) of helse put, die vergaarbak van boosheid, word oopgemaak om bomenslike verskrikking los te laat. In die antieke wêreld is die sterre gereken as hemelse wesens, maar hier word hulle as boos beskryf. Die ster wat val is Lucifer, die môrester en die aanbiddingsleier in die hemel soos beskryf in Jesaja 14:12.

Die onderaardse plek van verskrikking, die helse put, was algemeen gereken as die tussentydse plek van straf vir die dier, gevalle engele, vals profete en alle demone – alles wat boos is. (Openbaring 9:1,2,11,11:7, 20:1, 20:3) Die finale plek van straf is die poel van vuur en swael. (Openbaring 20:10,20:14-15) Die onderaardse skag wat hier van gepraat word, is deel van die skeppingsverhaal. Dit is gesien as die voortydse waters waarvan in Genesis 1:6-7 gepraat word. Dit is die plek van God se vyande. (Amos 9:3, Jesaja 51:9, Psalm 74:13) Die gevangenes van die skag of put is die ongehoorsame hemelinge volgense Jesaja 24:21,22). Dit is ‘n aaklige plek, verwyderd van God en daarom chaoties.

Rook is altyd ‘n simbool van misleiding en verwarring. So dikwels word die waarheid verdraai en geknoei en as die regte ding opgedis. Misleiding propageer ‘n konsep wat homself voorhou as die waarheid. Die is slegs in die lig wat Jesus bring, die Son van geregtigheid wat met genesing in Sy strale skyn (Maleagi 4:2) dat die rook van misleiding uit die helse put weggewaai word en die asem van God, die Heilige Gees, ingeasem kan word.

Helder en wyse insig is al wat misleiding kan veg. Niemand kan deur rook sien nie. Asem en visie word beperk en uiteindelik kan die rook van misleiding geestelike dood veroorsaak, net soos fisiese rook jou asem vergiftig. Die openbaring van Jesus is die enigste waarheid en Hy sal ons deur die Heilige Gees in waarheid lei.

Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. (Johannes 16:13)

Waarheid is ‘n geweldige konsep opsigself waaraan ‘n mense se ganse lewe gemeet word. Filosowe oor al die eeue het geskryf en geredeneer oor waarheid. Dit was Pilatus se vraag aan Jesus en heel moontlik iets waarmee hy geworstel het. Het hy dalk in daardie wroegende oomblik onderskei dat hy nog nooit in sy lewe nader aan die waarheid was nie? (Johannes 18:38)

Sprinkane is ‘n simbool van verwoesting en word in Joël 1 en 2 beskryf. Sprinkane bring hongersnood en vernietiging. NIks ontduik hulle onkeerbare sloping van al wat eetbaar is. Die kommentare stem saam dat die beskrywings van Joël en Openbaring gald nie oordryf word nie. ‘n Sprinkaan het ‘n kop wat soos ‘n perd lyk. Dit word duidelik uitgespel in hulle Duitse naam (Heupferd) en Italiaanse naam (cavaletta). In Hebreeus het hulle vyf name:

 gazam – skeer – vernietig die plante

arbeh – swerm – kom in groot swerms

caal’am – sluk en verwoes met sy tande

hargol – gallop – beskryf sy spoed

tslatsal – maak ‘n geluid wat hom aankondig

Die sprinkane word losgelaat om die mense sonder die seël van God op hulle voorkoppe aan te val, nie die plantegroei van die aarde nie. Die verskrikking is nie letterlik nie – dit dui op demoniese teistering. Die sprinkane het boonop nog ‘n stert soos ‘n skerpioen of slang om pynlik te verwond. Die dood sal soos uitkoms voel, maar sal nie beskikbaar wees nie. God het beheer oor dood en lewe.

As ons net vir ‘n oomblik dieper kyk, sal ons die demoniese foltering in ons gemeenskap sien. Dit is wreed en aanhoudend. Soms lyk die dood soos uitkoms en daarom sal mense in uitsterste desperaatheid die dood aangryp. Ons sien dit in die onstellende statistiek van selfdood.

Vyf maande is die lewensiklus van ‘n sprinkaan. Die tyd vir demoniese aanval is beperk. Die beskrywing van hierdie afskuwelike wesens klink soos iets uit ‘n gruwelfliek. Hulle is soos:

  • perde – toegerus en gereed vir oorlog met borsharnasse en die geluid van baie strydwaens
  • goue krone – welvaart en luuksheid wat verlei in obsessie met besittings en
  • hare – soos ‘n vrou wat uitlok ( in antieke tye het slegs prostitute het hulle hare onbedek gedra sodat hulle aantreklik vir ‘n man sou wees. Getroude vroue het hulle kop bedek om hulle getrouheid aan hulle man te wys). Die sprinkane het
  • sterte – om te steek en te verwond. Die skerpioen was ‘n simbool van intense pyn volgens Lukas 10:19 en
  • ‘n koning met die naam in Hebreeus Abaddon (vernietiging), en in Grieks Apollyon (heerser van ondergang).

In die vrees en pyn van hierdie oorlog sal die mense wens vir die dood. (Job 3:21, Jeremia 8:3)

Later in die hoofstuk word dinge net erger. Onthou altyd:

Demoniese pyniging is nie om te straf of te vernietig nie, maar om mense tot bekering te lei. Dit is so dikwels in die diepste duisternis en pyn dat sommige mense die krag van redding en uitkoms wat daar in Jesus is, sal erken.

Die sprinkane kan nie doodmaak nie, net vernietig. In Lukas 10:19 gee Jesus ons die mag oor alles.

Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.

Slange en skerpioene is simbolies van demoniese aktiwiteit. Dit is wat ons sien in ons wêreld vandag. Soos Paulus dit stel:

Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is. (Efesiërs 2:2)

Die stem van die sesde trompet kom uit die vier horings van die altaar. Dit is ‘n simbool van goddellike toorn. Dit is geweldig as die altaar wat ‘n simbool van bekerming is, om wraak uitroep. Die sonde was inderdaad geweldig.

Die vier engele wat by die Eufraatrivier losgemaak is, word deur meeste kommentare beskou as die vier sultans wat oor die Turkse ryk regeer het en die oorheersing van Islam in die ooste gevestig het. Islam is ‘n vals profeet wat die Christenwêreld konstant bedreig. Lande het engele soos in Daniël 10:13 beskryf word.

‘n Derde van die mensdom is ‘n betekenisvolle minderheid (ook 9:18). Die venietiging word beperk. Die heerskappy van die Turke pas heel gemaklik in die beskrywing van die sesde trompet. Hulle oorheersing is in so ‘n mate beperk, dat hulle nie Israel en Europa geheel en al kon oorweldig nie, ten spyte van grootse en herhaalde pogings. Ek haal aan uit Matthew Henry’s Bible Commentary:

The sixth angel sounded, and here the power of the Turks seems the subject. Their time is limited. They not only slew in war, but brought a poisonous and ruinous religion. The antichristian generation repented not under these dreadful judgments. From this sixth trumpet learn that God can make one enemy of the church a scourge and a plague to another. The idolatry in the remains of the eastern church and elsewhere, and the sins of professed Christians, render this prophecy and its fulfilment more wonderful. And the attentive reader of Scripture and history, may find his faith and hope strengthened by events, which in other respects fill his heart with anguish and his eyes with tears, while he sees that men who escape these plagues, repent not of their evil works, but go on with idolatries, wickedness, and cruelty, till wrath comes upon them to the utmost.

Benson se kommentaar sit noukeurig uiteen hoe die jare van verowering deur die Turke die detail van die profesie bevestig. Hier moet ek myself inhou om nie ‘n volledige uiteensetting van die geksiedenis in te sluit nie. Ek vind dit fassinerend!

Meer belangrik egter, is die beginsel dat boosheid beperk word en onder beheer is. Die teenwoordigheid van die kerk beteuel die aktiwiteite van demoniese magte. Jesus het ons gesag oor dit gegee soos ons in Lukas 10:19 (hierbo aangehaal) gesien het. Met die wapenrusting van Christus en ons wandel in die waarheid oorwin ons die owerhede van duisternis. Dit is ons roeping.

Die getal van die perderuiters was tweemaal tienduisend maal tienduisend. Die som maak twee honderd miljoen, maar beteken ‘n oorweldigende hoeveelheid.

Die skitterende strydwaens van God was duisende, duisende der duisende, toe die Here van Sinai af die heiligdom betree het. (Psalm 68:18)

Die apokaliptiese ruiters word beskryf met die kleure van vlamme – vuurrooi, donkerblou en swaelgeel harnasse met asem van vuur en swael en sterte van slange om skade aan te rig; ‘n skrikwekkende beeld van verwoesting. (9:17-19)

Die verwoestingskrag van boosheid dien altyd om die weg na reddingskrag aan te dui. Verwonding en verwoesting word in God se teenwoordigheid genees en herstel. Sy genade is altyd beskikbaar, selfs vir laaste minuut bekering.

So dikwels word die blaam vir boosheid op God geplaas, sonder enige persoonlike kennis van Hom en Sy liefde. Die misleiding is so sterk dat sondaars sterf sonder om te bely, te spyte van die oorweldigende liefdesboodkskap van Jesus gekruisig. (Psalm 115:8; 135:18). Die ongelukkige gevolg van droefheid en gebrokenheid is dat mense hulle harte in bitterheid verhard.

Die laaste verse van die hoofstuk klink soos ‘n klaaglied oor die ongeloof van die mense. Die hartseer van afgode wat nie kan sien of hoor of help nie, selfs al word hulle van kosbare materiaal soos goud, sliwer of brons gemaak, lei tot die sonde van moord, heksery (dwelms en alkoholisme), seksuele immoraliteit (onsedelikheid) en roof.

Ek dank die Here vir die detail van die visioen wat my hep om die oorweldigende boosheid in die wêreld om my te verstaan en die gevolge van siekte en verwoesting. Net ‘n vinnige blik na die statistieke van seksueel oordraagbare siektes as een voorbeeld van die gevolge van immoraliteit, is skokkend. Die algemene voorskrifte vir die vookoming van sulke siektes is om getrou te wees aan een persoon of geheel daarvan te onthou.

Wat ‘n voorreg om in die koninkryk van God te leef en te weet dat my selfwaarde nie afhang van my deelname aan die vernietiging wat om my heers nie. Ons as kinders van God is onder Sy beskerming en ons teenwoordigheid verhinder die gevolge van boosheid. Staan vas en hou moed – ons oorwinning is gewaarborg. (Openbaring 12:11)

Kom ons sing die lied van Moses (Exodus 15):

Ek wil tot eer van die Here sing omdat Hy hoog verhewe is. Perd en strydwa het Hy in die see geslinger.

Die Here is my krag en my beskerming. Hy het tot my redding gekom. Hy is my God, Hom roem ek, die God van my voorvaders, Hom prys ek.

 Die Here is oorwinnaar in die stryd, sy Naam is ‘die Here’!


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s