92. My kosbare besitting, sê die Here!

[Openbaring 2]

Hulle sal vir My ‘n kosbare besitting wees die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige. Ek sal goed wees vir hulle, soos iemand goed is vir sy seun wat vir hom werk. (Maleagi 3:17)

Die briewe aan die kerke van Openbaring 2 en 3 is op ‘n hoë standaard van literêre vakmanskap geskryf. Dit vorm ‘n gestruktureerde eenheid waarin ‘n karaktertrek van Jesus, wat in die eerste hoofstuk genoem is, in die aanhef van die brief aangehaal word, behalwe in die geval van Laodicea, die laaste gemeente. Al die beskrywings van Jesus kom uit die Ou Testament waarin die opgestane Messias voorspel word. Die toneel is so opgestel dat Jesus in warm, oop en liefdevolle verhouding met sy kerk in gesprek tree.

Die kerke is simbolies van al die kerke te all tye, histories sowel as die eindtyd kerk. Die getal sewe spreek altyd van volledigheid en volle insluiting. Die stede waarin die kerke geleë was, het op ‘n handelsroete in Klein-Asië, ‘n provinsie van Rome, gelê. Dit was hoegenaamd nie die grootste of mees belangrike gemeentes in daardie tyd nie. Dit het ook niks met denominasies te doen nie, hoewel daar historiese interpretasies bestaan waarin die groter tendense van die geskiedenis van die Christendom aan die hand van die gemeentes bespreek word. Weer kan ons beklemtoon dat Openbaring op veelvuldige vlakke interpreteer kan word.

Vir nou, vra ons die Here om ons ore te salf sodat ons kan hoor wat die Gees aan ons, die gemeente, op hierdie oomblik in ons lewe sê. Die belofte is dat Hy sal praat. God se stem is die waardevolste skat ooit – nie ‘n alles omvattende interpretasie nie.

Daardie dag sal my volk my Naam bely: dat Ek die Here is, dat dit Ek is wat sê: Hier is Ek! (Jesaja 52:6)

 Therefore My people shall know My name;

Therefore they shall know in that day

That I am He who speaks:

‘Behold, it is I.’

Die NAB (Nuwe Afrikaanse Bybel – 1983) praat van die die leraar van die gemeente in plaas van die engel van die gemeente soos in die OAB (Ou Afrikaanse Bybel – 1933/53). Vir die Jode was engele wat hulle oppas en oor lande en kerke waak, gald nie ‘n snaakse verskynsel nie. Dit is vir Johannes normaal om die engel van die gemeente aan te spreek. Dit is egter duidelik dat die leier van die kerk aangespreek word. Jesus praat van beskermengele in Matteus 18:10 en in Handelinge 12:15 help ‘n engel Petrus om bonatuurlik uit die tronk te ontsnap. Dit word bevestig in Hebreërs 1:13,14:

Van watter engel het Hy ooit gesê: “Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het” ? Is hulle dan nie almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om dié te dien wat die saligheid gaan beërf nie?

Die gemeente self is ons – die bloedgewaste, wedergebore kinders van God, wat die saligheid beërwe. Leiers dra groot verantwoordelikheid vir die siele van die gemeente en word deur God self geroep en toegerus vir die taak.

‘n Priester moet met kennis kan praat, daar word verwag dat hy die volk sal kan leer wat My wil is, want hy is ‘n boodskapper van die Here die Almagtige. (Maleagi 2:7)

Die skrywe aan die kerke volg ‘n patroon waarin die spesifieke gemeente aangespreek word, ‘n karaktertrek van Jesus uitgespreek word, ‘n kompliment of aanbeveling oor die werk van die gemeente uitgespel word (behalwe Sardis en Laodicea), ‘n korreksie aanbeveel word, ‘n waarskuwing uitgespreek word, ‘n uitdaging gestel word en verbondsbelofte as oorwinningsloon voorgehou word.

 

Efese – die liefdelose kerk

Efese was ‘n groot stad met ‘n hawe wat as toegang tot die streek gedien het. die stad was “vry” in terme van Romeinse adminstrasie en kon homself regeer. ‘n Romeinse prokonsul (provinsiale regter) het van tyd tot tyd besoek om seker te maak dat regering en regspraak reg verloop. Verskeie stamme en nasies het saamgewoon en die stad was bekend vir misdaad en immoraliteit. Spele in die arena het wreedheid en moord as vermaak aangebied. Dit was die sentrum vir aanbidding aan die vrugbaarheidsgodin, Diana (in Grieks = Artemis) in ‘n tempel wat as een van die wondere van die antieke wêreld beskou is. Diana se beeld was ‘n vetterige, vroue-figuur met baie borste. Bygeloof het geheers en klein voorwerpies van silwer, goud of brons is as geluksbringers verkoop wat voorspoed, genesing of vrugbaarheid belowe het. Paulus het lank in Efese gewoon en heel moontlik die briewe aan die Korintiërs uit Efese geskryf. Timoteus was die pastoor van Efese en volgens Handelinge 18 het Aquila, Priscilla en Apollos daar bedien. Dit was die woonplek van Johannes voor en na Patmos en hy is daar oorlede.

Jesus hou die sewe sterre in Sy hand. Hy is in volle beheer van Sy kerk. In sy eie woorde:

Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. (Johannes 10:28)

Jesus loop tussendie lampstaanders. Die lampstaanders is die kerk, Hy alleen is die Lig en Hy is sonder ophou aktief in Sy kerk om te red en te genees.

Maar Jesus het Hom teen hulle verweer: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” (Johannes 5:17)

Hy prys die gemeente vir hulle harde werk en volharding en al hulle arbeid ten goede, maar waarsku dat hulle goeie dade in ortodokse, liefdelose roetine verval het. Hulle haat die dwaalleer van sedelose verval en afgodery wat deur sekere groepe (Nikolaïete) as toelaatbaar, selfs binne kerkverband, voorgehou word. Die waarskuwing is om hulle sonde te bely sodat hulle van binne af rein en kragtig word.

Die eerste liefde, wat die warm opwinding van nuwe liefde beskryf, is verlore. Verlore liefde maak die kerk kragteloos en oneffektief. Getroue liefde duur vir ewig net soos Jesus liefhet.

Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad. (Johannes 13:1)

Liefdeloosheid kan net deur die Heilige Gees openbaar word. Dit is Hy wat oortuig van sonde. Dit kan herken word in familiêre omgang met die goddellike, ‘n arrogante en oppervlakkige houding tot die Skrif en ‘n gebrek aan respek of onsensitiwiteit vir die Teenwoordigheid van die Here. Net soos die Here aan Jeremia (2:2) sê:

Gaan roep hierdie woorde uit sodat elkeen in Jerusalem dit kan hoor. So sê die Here: Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was in jou jeug; hoe lief jy My gehad het toe jy my bruid geword het, toe jy My die woestyn in gevolg het, in ‘n wêreld waar niks geplant word nie.

Die kenmerke van die liefde van die Bruidstyd is aanbidding tot God vir wie Hy is en nie net vir Sy guns en gawes nie, ‘n bewustheid van visioen en doelstelling binne die werk van die Here en die meewerking daarin met liefde en meegevoel vir die gemeente, net soos Jesus.

Die waarskuwing om die lampstaander te verwyder, is aan die leier van die gemeente gerig. God sien om na die oorblyfsel en sal die skape wat deur die wolwe verjaag word, bymekaar maak en beskerm.

 Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. (Matteus 7:15)

 Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. (Handelinge 20:29)

Uiters belangrik is om weer te besef dat die waarskuwing en korreksie dien, nie om te veroordeel en te verdoem nie, maar om die weg vir seën en herstel te baan. Ons is nie onkundig oor dit wat God vereis nie. Daar is geen verwarring in die Koninkryk van God nie. Die Heilige Gees is aktief besig om te oortuig van sonde sodat die kerk kragtig en doeltreffend boosheid teëwerk.

Aan hom wat oorwin word die Boom van Lewe in die paradys belowe. Die Boom van die Lewe is Jesus self. Die Jode het die Boom van Lewe in Eden beskryf as ‘n geurige, vrugdraende, skadyryke boom. Dit spreek van ‘n herstelde verhouding met Jesus wat voorsien en seën uit die rykdom van Sy glorie. In Sy teenwoordigheid is geen verval – net volmaakte liefde en vrede.

 

Smirna – die vervolgde kerk.

Smirna was ‘n pragtig stad, bekend as die kroon van Asië. Die seewindjie het die stad afgekoel, maar ook die rioolreuk van die stadafval wat in die see gepomp is, oor die stad gewaai. Dit was ‘n belangrike handelsentrum en die stad is beplan om die besigheidsaktiwiteite die beste te dien. Een straat, wat soos ‘n halssnoer om die heuwel uitgelê is, was bekend as die goue straat. ‘n Reuse tempel ter ere van Zeus (die hoofgod van die Romeine) was aan de toppunt en verskeie ander tempels vir ander gode is langs die straat gebou. Smirna was lojaal in Caesar-aanbidding [sien Bodemklippe 90] en ‘n beduidende kultuursentrum.

Aan hierdie stad word Jesus voorgestel as die opgestane Christus, die Eerste en die Laaste en die een wat dood was en weer lewe. Die aardse luister van die stad kan nooit vergelyk met oorwinning oor die dood. Geen kultuur of handel kan in die ware behoeftes van die mens voorsien nie. Die Jode was invloedryk en vyandig teenoor die Jesus-volgelinge. Polycarp, een van die prominente figure in die vroeë kerk, het in die arena in Smirna as martelaar gesterf. Die Christene leef onseker lewens en behoort aan die stad se laer klas. Hulle besittings kon enige tyd geplunder word en dit was amper onmoontlik om ‘n voorspoedige lewe te ly. Hulle was geestelik ryk.

Die antieke wêreld het die “goddellike gaping” in die mense se siel met ‘n reeks gode probeer vul. Dit het tot groot verwarring en eindelose diere-offers gely. Aanbidding aan een god, almagtig en alwys, was baie aantreklik. Die Jode was nie baie gewillig om heidene in hulle geledere toe te laat nie, mar het wel sommige onder streng wetsgehoorsaamheid en beperkte toegang tot die Tempel verduur. Die Weg, soos wat die Jesus-volgelinge bekendgestaan het, wat ‘n verwelkomende, liefdevolle God, gereed om te red en te seën, verkondig het, was ‘n balsem van vrede en sekerheid in ‘n wêreld van vyandige en kwaai gode wat gedurig kalmeer moes word.

Die sinagoge van Satan dui op die vyandigheid van die Jode wat Jesus-volgelinge aktief probeer uitroei het. Satan is altyd aktief binne in die kerk. Dis juis daar waar hy aanstoot en onmin wil saai en liefdeloosheid aanmoedig. Dit maak die kerk kragteloos en oneffektief, sodat die beeld van Jesus na buite verdof word. Die enigste verweer is nederige soeke na en onderwerping aan die Teenwoordigheid van God en volharde studie van die Woord, sodat ons Jesus ken in die krag van Sy opstanding. Vleeslike leierskap word deur God self verwyder soos in die geval van Korah wat teen Moses en Aaron opgestaan het. Lees daarvan in Numeri 16.

‘n Periode van 10 dae dui op ‘n beperkte, relatiewe kort tydperk. Die gevangenis in daardie dae was maar ‘n voorspel tot die dood. Die Christene is onder verskeie voorwendsels vervolg soos kannibalisme (die elemente van die nagmaal word opsetlik verkeerd vertolk), wellus (die liefdesboodskap word verdraai), familieskeurings en dislojaliteit aan Rome as gevolg van hulle weiering om Caesar te aanbid.

Die kroon van die lewe is die kroon van die oorwinnaar – in Grieks stephanos en in Latyn diadem. Die Romeine was erg oor krone. Hulle het krone gedra na bankette, die spele en selfs in hulle tempels tydens aanbidding. Die kroon van Jesus is ewig en verwys na die oorwinning oor die tweede dood.

Die tweede dood word net in Openbaring genoem (20:6,14 en 21:8) en beteken ewige verwydering van God. Die Sadduseërs, ‘n groep Joodse geleerdes amper soos die Fariseërs, het glad nie in die lewe na die dood geglo nie. Meeste Jode kon nie aanvaar dat hierdie lewe die einde van alles is nie en dat ‘n goeie lewe, presies soos ‘n slegte lewe, in stof eindig nie. Sommige het in ‘n tussenfase na die dood, amper soos die Katolieke leer oor die vagevuur, geglo. Daniel 12:2 en Johannes 5:29 praat van die grafte van die wat goed gedoen het. Vir ons is Jesus se kruiswoorde aan die moordenaar langs Hom, deurslaggewend.

Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Lukas 23:43)

Die fisiese dood is ‘n misterie, maar nooit vreesaanjaend nie. Jesus het die dood oorwin en het die skerp pyn uit die oorweldigende finaliteit van ons hulpeloosheid by die dood, verwyder. (1 Korintiërs 15:55)

My gebed, Bodemklipvriend, is dat jy Openbaring met ‘n nederige, maar vrymoedige gees van begrip sal lees om te deel in die seën oor hierdie profesie. Veilig in die skaduwee van die Almagtige en die skuilplek van die Allerhoogste (Psalm 91) kan ons kennis neem van al die boosheid en verwarring rondom ons wat in hierdie boek beskryf en voorspel word, sodat ons bemoedig word en besef ons behoort aan die onsigbare koninkryk van God. Ons leef as pelgrims en vreemdeliinge op reis na beter, nooit slagoffers nie, eerder as oorwinnaars.

Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is.

(Hebreërs 11:13)


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s