79. Die Fees begin…kyk diep en dankbaar.

Die aankondigings het reeds begin. Die liggies is op. Die versierings is lankal uitgedink. Die klein- en groothandel van die wêreld maak gereed om te oes. Kopseer oor geskenke en reisplanne vir die Kerstyd is pynlik en werklik. Die geldlaaie raas harder as die musiek in die winkelsentrums.

Ek het nie eintlik raad vir die toestand van sake nie. In die sienlike realm sal Kersfees kom en gaan soos altyd. Die blatante verdraaiing van die waarheid en die flagrante uitbuiting van die wonder, word net meer intens tot weersinsvlak gedryf.

Net ‘n oppervlakkige bewustheid van die pyn in Parys en die Midde-Ooste waar bomme en masjiengewere enige moontlike viering verdoof en verdof, stuit jou gewone feesfokus met daardie magtelose skouer-ophaal in die seker wete dat soveel verwonding hierdie Feestyd vir derduisende in bloed gemerk is. Bid saam met my dat God in Sy kenmerkende genade en liefde sal vertroos en red in die volle krag van die kernboodskap van Kersfees.

Here Jesus, laat U koninkryk kom in hierdie deurmekaarspul. Laat U Woord kragtiglik die pyn en wonde van hierdie jaar genees. Ons verhef U as die Koning van Kersfees. Help ons om te vergewe, bewaar ons van die bose wat ons sien en beleef en red ons kinders van die vernietiging en verkrotting van boosheid in liggaam en siel.

Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleen-wyse God, kom toe die eer en heerlikheid, tot in alle ewigheid, Amen. [1 Timoteus 1:17]

Kom ons maak ‘n realistiese opgawe van die wonder waarin ons as kinders van die Almagtige lewe, sodat ons die speelvlak van die Fees sonder kompromie in Lig en Waarheid kan voorberei.

Die eerste beginsel van Kersfees vir ons is Johannes 15:5:

“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.

Jesus staan sentraal, sonder Hom is alles en almal niks! Kersfees sonder Jesus is net ‘n klinkende metaal en ‘n luidende simbaal, in mooi Ou Vertaling Afrikaans – sommer ‘n leë blik wat rondgeskop word en geraas maak. Jesus is die kern, Hy is die Een. Hy is die spieël van God, sodat ons in staat is om te weet hoe ons wonderbare Vader, ons Vredevors, ons Raadsman is. Hy is genoeg rede en AL rede vir ons Fees. Laat ons feesvier in die volheid van die wingerdstok wat spreek van voorsiening en voorspoed op ‘n diep vlak.

Jesus is die Redder van die wêreld. Dis die boodskap wat ons ken en uitdra. Reg so.

Binne die kras geskal van leë feeste, is dit ons wat die kwalitatiewe inhoud van Kersfees bepaal.

Bodemklipvriende, moenie wegskram van die Fees nie. Dit maak nie saak dat die datum verkeerd is en die aanslag van goddeloosheid mens teen die bors stuit nie. Ons is nooit slagoffers nie. Gebruik die geleentheid. Dit word in prag en praal vir ons aangebied. Tree bewustelik in die Fees en bewapen jou met ‘n word in season – ‘n seënbede oor almal wat jy mee te doen kry. [Jesaja 50:4]

Jesus het sy dissipels gewaarsku dat hulle voor die owerhede gedaag sal word, teen hulle wil. Dit het sekerlik nie reg gevoel om met geweld en arrestasie gedwing te word om voor ongelowiges en spotters te staan nie, maar Jesus sê in Matteus 10:18:

Ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word ter wille van My. Dit sal julle geleentheid wees om voor hulle en voor die heidennasies van My te getuig.

Efesiërs 5:16:

Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd.

Kolossense 4:5:

Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is. Maak die beste gebruik van elke geleentheid.

Daar is geen hoër gesag op aarde as ons, die kerk van Christus nie.

Miskien moet ek dit weer uitspel, sodat ons met ‘n bewuste, denkpause dit inneem. Het jy gehoor?

Daar is niemand met meer gesag as ‘n wedergebore, bloedgewaste, Woord-versterkte kind van God nie!

Gesagsorde is goed bekend en ‘n feit van die lewe. Ouers het gesag oor kinders, bestuurders oor werknemers, regerings oor burgers, konings oor onderdane. In die geestelike realm werk dit dieselfde. Daar is engele, aartsengele, gerubs, serafims en ander wesens waarop ek nie nou wil ingaan nie. In die wêreld van boosheid is daar ook ‘n gesagsorde, daarom kon die bose geeste die outoriteit van Jesus oor hulle erken.

Lukas 4:35:

Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit!” En die bose gees het die man tussen die mense laat neerslaan en uit hom uitgegaan sonder om hom seer te maak.

Lukas 8:29:

Dit het hy gesê omdat Jesus die onrein gees beveel het om uit die man uit te gaan.

Waar staan ons in hierdie orde? Gesag is aan ons gegee om boosheid te verdryf. Daar is geen hoër gesag as die van ‘n kind self nie.

 Lukas 9:1:

Jesus het die twaalf bymekaargeroep en aan hulle mag en gesag gegee om alle bose geeste uit te dryf en siektes te genees.

Ons is die seun, nie die huurling nie. Johannes 10:12:

‘n Huurling is geen herder nie, en dit is nie sy eie skape nie. As hy ‘n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar.

By nou sal almal al weet hoe lief is ek vir die storie van die verlore seun. Elke keer as ek dit lees, daaroor dink of iemand daaroor hoor praat, leer ek iets nuuts. Baie jare gelede het ek vir ‘n groep vroue gevra wat hulle beeld van God is. Na ‘n diskussie het ons almal saamgestem dat die beste “geestesprentjie” van God die Vader is die Pa wat wag vir die seun in hierdie verhaal. ‘n Wonder-vaderfiguur wat ‘n stoute, rebelse seun tegemoet hardloop, omhels en ‘n vrolike, oorvloed-fees hou om die herstel van sy seunskap te vier – heerlik! [Lukas 15:11-32]

By die varke besluit die seun om terug te gaan as ‘n dagloner in sy pa se huis. Hy berei sy woorde aan sy pa voor. In die arms van sy pa, kom hy net halfpad met sy woorde. Die pa knip dit kort en keer dat hy die woorde van vernedering oor homself uitspreek.

Hy het nie besef dat hy nie die reg het om te kies om ‘n slaaf te wees nie. Hy is ‘n seun. Sy flenters van vernedering word afgehaal en hy kry die beste mantel, ‘n ring wat sy posisie en outoriteit herstel en nuwe skoene. Die ganse identiteit van die seun word herdefinieer, sodat daar geen rekord van sy vernedering en verkeerde besluite is nie.

As ‘n mens ‘n kind leer fiets ry, neem mens nie foto’s van al die val en stukkende knieë nie. Daar is gewoonlik ‘n triomfantelike video van die eerste suksesvolle solo-poging! Net so hou God nie rekord van al die mislukkings van ons lewe nie. Ons vernedering word in ‘n oomblik uitgewis en ons kry ‘n hele nuwe klerekas.

Is jy gereed om Kersfees inhoud te gee met jou feesklere aan?

Kersfees word in ons wêreld ook gekenmerk met dronkpartytjies. In Efesiërs 5:18 skryf Paulus:

Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.

Hoekom sou Paulus dronkenskap hoegenaamd met die Heilige Gees in verband bring? Natuurlik is dit ‘n waarskuwing teen dronkenskap, maar miskien is daar ‘n “beginsel” van dronkenskap wat hieruit geleer kan word.

‘n Dronk persoon het nie beheer oor sy denke en optrede nie. Sy vermoeë om onafhanklik te besluit is beperk. Hy is totaal en volledig onder die invloed van drank. Daar is nie ‘n deeltjie van sy verstand wat “uitgehou” kan word nie en nie beïnvloed is nie. AL sy denke is onder verdenking.

Ons as nugtere kinders van God hou sommige dele van ons denke weg van Heilige Gees invloed. Party gedagtes word oorheers deur vrees en ongeloof. Dit is soos ‘n kontrak met die bose en maak ons hele lewe kragteloos.

Laat die Heilige Gees jou denke oorheers soos wyn wat ooral invloei en jou ongeloof en vrees uitspoel. Word vervul met die regte beeld van jou Vader sodat jy ten volle begryp hoe lief Hy jou het.

Kyk diep en dankbaar en gebruik die geleentheid.

 

 

Kyk op YouTube vir die lied: No longer slaves.

Die woorde is so pragtig:

You unravel me

with a melody

You surround me with a song

Of deliverance

from my enemies

Till all my fear is gone

 

I’m no longer a slave to fear

I am a child of God

 

From my mother’s womb

You have chosen me

Love has called my name

I’ve been born again, into your family

Your blood flows through my veins

 

You split the sea, so I can walk right through it

My fears were drowned in perfect love

You rescued me, so I can stand and sing

I am a child of God


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s