Liewe Bodemklipvriende,
Dit is weer daardie tyd van die jaar wat niemand kan ignoreer nie. Dis alles goed en wel as jy jou in omstandighede bevind wat vir jou ideaal is. Die kernboodskap van Kersfees is uitkoms in omstandighede wat hartseer en pynlik is. God is groot en doen magtige dade. Hy sal dit vir jou doen. Sing die lied van Maria in Lukas 1:
Maria het gesê: My siel maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker; Want Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen, en heilig is sy Naam.
Mag die Here van die Leërskare hierdie Kersfees jou silwer en goud wees. Hy is die bron van vrede en hoop. Ons het niks meer nodig as die Een wat gesê het: Ek is die Lig van die wêreld.
Laat die Woord van die Here tot jou spreek uit die ou profeet Haggai:
Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here, en jy Jesua seun van Josadak, hoëpriester, skep moed, en julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige.
My belofte wat Ek met die uittog uit Egipte aan julle gemaak het, sal Ek nakom: my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie!
Aan My behoort al die silwer, aan My al die goud, sê die Here die Almagtige.
Die roem van die tempel sal in die toekoms groter wees as in die verlede, sê die Here die Almagtige. Op hierdie plek sal Ek vrede gee, sê die Here die Almagtige.
Mag die vrede van die Here die Almagtige met julle almal wees, Kersfees en in 2016.