64. Kyk …en stel jou in om te verstaan!

Ons leef in ‘n visuele wêreld. Aanbiedinge aan volwassenes en onderrig aan kinders word meer as ooit van te vore visueel aangebied. In korporatiewe raadsale is media en skerms met die nuutste en beste beskikbaar om mense se verstaanvermoë te versnel en te stimuleer. In skole het ons lankal nie net ‘n eenvoudige swartbord met stowwerige wit kryt nie.

Skerms in alle vorme en groottes leer ons en vermaak ons. Dink net vir ‘n oomblik wat ‘n halwe eeu gelede beskikbaar was! Rolprentteaters was ‘n besonderse uitgaan-aand. Nou is fliek ‘n bly-op-die-bank-ervaring met ‘n hele wêreld op die knoppies van ‘n afstandsbeheer. Studente “loop” klas aanlyn by hulle eie lessenaar terwyl die dosent fisies iewers in ‘n lesingsaal sy lesing met die hulp van moderne media aanbied, of op ‘n later stadium wanneer dit die student pas. Waar is die dae van banopnemertjies voor in die lesingsaal op universiteit?

Die voorbeelde van inligting wat visueel beskikbaar is, is eindeloos, maar niks is nuut nie. Huppel met groot treë oor die eeue ver terug na die dae van Noag en hoor God se woorde wat vandag weerklink en nog visueel beskikbaar is. Kyk jy na ‘n reënboog en “hoor” God se belofte? Genesis 9:9, 13 en 16:

Maar Ek, kyk, Ek rig my verbond met julle op en met julle nageslag ná julle,

my boog gee Ek in die wolke; dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en die aarde.

As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is.

As God sê: KYK, dan is dit nie ‘n informele uitnodiging om in die verbygaan die blommetjie of ‘n mooi diertjie te sien nie. As God sê KYK, dan hang jou lewe daarvan af. Kyk – om te sien en te verstaan, te absorbeer en te hoor saam met die sien, was nog nooit so belangrik nie. Dit is die stilstaan en aandag gee wat nie net jou oë betrek nie, ook jou ore, hart en verstand. Hierdie is onderrig op die grootste skerm ooit – die hemelruim – wat in oneindige majesteit oor ons hang. Kyk na die reënboog!

Belangrik – die reënboog is altyd daar! Ons het die optiese elemente nodig om die reënboog te sien, maar die kleure is ALTYD om ons in die hemelruim. ‘n Prisma vorm op seker tye wanneer die son (God se lig) deur die wolke, of deur ‘n venster, of sommer op ons horlosie of ander elemente skyn en die kleure word sigbaar.

Baie jare al is die reënboog vir my ‘n teken van voorsiening – daardie heerlike visuele en werklike teken van antwoord op gebed en goddellike ingrype, maar dis net nou die dag wat die konstante teenwoordigheid van die reënboog my tussen die oë tref. Ek en my man staan in ons badkamer waar ‘n pragtige ligkandelaar hang en kyk na die reënboogspatsels wat oor die hele vertrek vorm met die son wat deur die venster kom. Ek is, soos dikwels van te vore, in ekstase oor die verskynsel en sê dat ons nie daaraan gewoond moet raak nie. Hy merk toe op dat ek moet bewus wees van die feit dat die reënboog altyd om ons is, dis net sekere tye wanneer die optiese elemente ons toelaat, dat ons dit sien.

Die konsep het in my wortel geskiet. As ek glo dat die reënboog die teken van God se voorsiening is, dan moet ek my prisma – lewensbril – so instel om dit te sien. Wat is die prisma van my lewe en hoe sal ek dit fokus op die pragtige kleure van uitkoms?

In die vorige Bodemklippe het ons gepraat oor die noodsaaklike oorwinning oor vrees. Net soos wat ons die fisiese bewyse van vreestoestande ervaar, so kan ons opkyk en die seker teken van uitkoms in die wolke ervaar. Die bril is die Woord van God en Sy belofte oor ons gebed.

Ons het al dikwels oor die basiese beginsels van gebed en antwoord op gebed gepraat. Ek herhaal dat Andrew Murray in sy boekie: With Christ in the School of Prayer, my geleer het dat daar nie onbeantwoorde gebede bestaan nie. Ek weet soveel mense ervaar ‘n glasplafon, of ‘n neutrale niks as hulle ernstig uitroep na die Here. Dis moeilik om in die hitte van die stryd die uitkoms te “sien” en met vrome verwagting kalm voort te gaan, as al jou sinne uitroep dat niks verander nie. Die antwoord kom nie soos ons verwag nie. Die fundamentele beginsel in gebed is onderwerping aan God in alles en alle aspekte van jou lewe.

Uitkoms en verandere omstandighede is nie die teken van antwoord op gebed nie. Geloof is die teken.

Hoe kry ons geloof? Deur die Woord van God te hoor en te absorbeer. Romeine 10:17:

Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.

God antwoord gebed met ‘n belofte. In die trane van tragedie word die letters op papier die Stem. Vir my is dit altyd die bron van vrede en verlossing van vrees. Hierdie belofte moet opgeskryf, gememoriseer en gemediteer word. Dit is die eerste ding wat die vyand sal aanval. Die stem van God is in Sy Woord en die sorge van die lewe sal dit verdof. Kyk en kyk weer – sien die teken van uitkoms. Fokus en gee aandag. Dit is kernbelangrik – hoekom?

Vrees het Jesus kwaad gemaak.

Ek het al genoem dat die Heilige Gees korrigeer en dissiplineer. My teregwysing oor vrees en die openbaring aan myself dat ek eintlik God wantrou, was vir my ‘n skok. Ek het onmiddellik meer daaroor raakgelees en agtergekom dat ongeloof die heel belangrikste bron van goddellike woede is – so ernstig dat Jesus beledigend en heftig daaroor gereageer het.

Matteus 13:58:

And He did not do many works of power there, because of their unbelief (their lack of faith in the divine mission of Jesus).

Markus 6:6:

And He marveled because of their unbelief (their lack of faith in Him). And He went about among the surrounding villages and continued teaching.

Hierdie skrif verduidelik dat Jesus in verwondering was oor hulle ongeloof. Dit is natuurlik negatiewe verwondering, hoegenaamd nie bewondering soos wat ons in die algemeen die woord verstaan nie.

Markus 16:14:

Afterward He appeared to the Eleven apostles themselves as they reclined at table; and He reproved and reproached them for their unbelief (their lack of faith) and their hardness of heart, because they had refused to believe those who had seen Him and looked at Him attentively after He had risen.

Weer is dit ongeloof wat Jesus hier sterk woorde laat praat. Daar is niks anders wat Hom verwytend en berispend laat praat het nie. Sy reaksie is konsekwent en skerp.

Johannes 20:27:

Then He said to Thomas, Reach out your finger here, and see My hands; and put out your hand and place it in My side. Do not be faithless and incredulous, but stop your unbelief and believe!

Hoe groot is jou storm vandag?

Matteus 8:26:

En Hy sê vir hulle: Waarom is julle bang, kleingelowiges? Toe staan Hy op en bestraf die winde en die see, en daar het ‘n groot stilte gekom.

Is jy ‘n kleingelowige of staan jy vas onder die kompliment van Jesus aan die Hoofman oor Honderd? Lukas 7:9:

Toe Jesus dit hoor, was Hy oor hom verwonderd, en Hy draai Hom om en sê vir die skare wat Hom volg: Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so ‘n groot geloof nie gevind nie.

My hart roep uit – Here, ek glo onvoorwaardelik. Here, ek glo binne-in die rukwind van die storm. Here, ek glo dat U die woord spreek en die storm sal gehoorsaam. Here, ek glo – kom my ongeloof te hulp!

Markus 9:23,24:

En Jesus sê vir hom: Wat dit betref – as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo. En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!

Boedmklipvriende – oefen om die reënboog te sien. Eendag sal ons weet wat ons eintlik gesien het! Kyk weer na die groot skerm van die hemelruim. Prys die Here!

Openbaring 4:3 en 10:1:

En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was ‘n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ‘n smarag.

En ek het ‘n ander sterk engel uit die hemel sien neerdaal, bekleed met ‘n wolk, en ‘n reënboog was oor sy hoof, en sy aangesig was soos die son, en sy voete soos pilare van vuur…

 

NASKRIF:

Ek lees op die oomblik:

Experience the Impossible van Bill Johnson.

Ek kan dit sterk aanbeveel.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s