62. Julle is ons brief…

Taal en woorde is ‘n wonder van ons wêreld. Die eerste keer toe ek die storie van die toring van Babel gehoor het, was ek verslae oor die mag van woorde. Net met taal is die gang van die geskiedenis verander. God het met taal ingegryp om boosheid te blok en die verspreiding van die mens oor die aarde te verseker.

Ons weet sekerlik almal hoe moeilik dit is om ‘n nuwe taal te leer. Ten spyte van al die tegnologie wat tot ons beskikking is, is dit nog steeds ‘n pynlike proses met determinasie, toewyding en tyd wat ons in staat stel om ‘n sinnetjie aanmekaar te worstel. Op Pinksterdag is taal gegee, in ‘n oomblik, deur die Heilige Gees, om God se kerk te verenig en te bekragtig. Die krag van taal het die kerk in een dag gevestig. Die taal van die Heilige Gees is een van die nege gawes wat in 1 Korintiërs 12 genoem word as ‘n geskenk van God, in ‘n oogwink, waarookal dit nodig mag wees. Wat ‘n wonder!

Woorde is kragtig. Ons hele hart en denkproses word daagliks met woorde uitgedruk. Vreugde, liefde, verwonding en pyn, hartseer en opgewondenheid vloed oor ons lippe. As ons nie praat nie, is almal bekommerd. Depressie maak stil. Ons wag met verwondering op ‘n kind se eerste woorde en die pogings tot kommunikasie word met ‘n groot gejuig aangemoedig en opgeteken.

Woorde in alle vorme en kleur bepaal ons denke en optrede. Liede laat ons huil, laat ons aanbid, laat ons onthou. Woede woorde laat ons breek en laat ons haat. God-woorde laat ons versag en vergewe.

Laat my toe om Koos van der Merwe se gedig Optelwoorde uit die bundel met dieselfde naam aan te haal:

tussen dwaaldistels en doringspore

in die soekloop op die verwegpad

soos genadelig lê daar optelwoorde

wat ‘n wegloopsiel weer huistoe kan vat

optelwoorde

vir ‘n valkind

optelwoorde

wat verloormense vind

in die skaduweelaagtes

diep gaan haal

en huistoe bring

na die optelkraal

Paulus skryf in Korintiërs dat ons soos woorde is wat ander mense kan lees. 2 Korintiërs 3:2-3:

Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense; omdat julle duidelik ‘n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart.

Lees saam tot by vers 8.

So ‘n vertroue het ons deur Christus by God.

Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God, wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend.

En as die bediening van die dood, met letters op klippe gegraveer, in heerlikheid was, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig, wat tog moes vergaan,

hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie?

Dit is ons – ons lewe, ons woorde. Ander mense moet ons lees soos mens goeie nuus en hoop lees. Ons is die brief wat geskryf is, die woorde van hoop en lig aan duisternis en boosheid. Hierdie woorde is natuurlik dit wat ons definieer as mens.

Ek het jare gelede die vergelyking gehoor dat ons lewe soos ‘n spons is wat water opsuig. Die toets kom wanneer die spons gedruk word. As die spons modderwater opgesuig het, sal modderwater die ruimte om hom besoedel. As skoon water opgesuig is, sal die spons die ruimte om hom beter laat.

Hoe reageer ons as die lewe druk en dinge gaan nie volgens beplanning nie? Reaksie word bepaal deur die inhoud van jou binneste. Wat kom uit? Wat het jy opgesuig toe dit goed gegaan het? Het jy bronne wat die ruimte om jou beter laat as jy swaarkry?

Jesus-woorde in ons binneste is gees en lewe. [Johannes 6:63]

Dit sal ons die brief maak wat ander wil lees. Johannes 7:38:

Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.

The Message beklemtoon dit wat uit jou diepste wese kom:

Rivers of living water will brim and spill out of the depths of anyone who believes in me this way, just as the Scripture says.

Dan is ons lewe en bediening uit die Gees en slegs so ‘n bediening het krag en geskied in heerlikheid, soos ons hier bo gelees het in 2 Korintiërs 3:8.

Die woord lees in Grieks is anaginosko. Die grondbetekenis is om presies te weet, om oor en oor te weet en te herken.

Die hofdienaar wat Phillipus ontmoet in Handelinge 8 het die boek Jesaja gesit en lees. Dieselfde Griekse woord word hier gebruik. Hy het met aandag en begrip gelees, sodat die woorde ‘n verskil in sy hart en denke gemaak het. Die woorde het hom oortuig om hom aan die doop te onderwerp – ‘n wesenlike ingrepe in sy lewe.

Kan ons so ‘n lewe ly dat ons lewenstyl en daaglikse omgang ‘n brief van lewende woorde vir die mense om ons kan wees? Ek vra die vraag met die noodwendige retoriek. Natuurlik moet ons dit wees. Dis nie ‘n keuse nie. As jy nie lewe-gewende God-woorde vir jou huismense en in jou verhoudings praat-leef nie, dan loop jy die risiko om af te breek eerder as op te bou.

God belowe ons dat ons bouers sal wees en nie afbrekers nie.

Jesaja 58:12:

Those from among you shall build the old waste places; You shall raise up the foundations of many generations; and you shall be called the Repairer of the Breach, the Restorer of Streets to dwell In.

Hoe sal ons die gaping toekry? Die woord breach wat hier gebruik word is perets in Hebreeus. Dit is dieselfde woord wat in Esegiël [22:30] gebruik word waar God iemand soek om in die bres te staan:

En Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie.

Die Engels is meer bekend.

So I sought for a man among them who would make a wall, and stand in the gap before Me on behalf of the land, that I should not destroy it; but I found no one.

Mag die Here ons gewillig en gereed vind om die gaping toe te maak, sodat ons kan instaan vir ‘n sondige wêreld en namens ons land intree by God. Die naam : hersteller en opbouer – sal ons met waardigheid en nederigheid as kenteken dra.

Weer Koos uit Optelwoorde:

Ek soek woorde wat kan heelmaak uit die boeke van die tyd

Ek soek woorde wat kan toemaak

daar waar niemand ooit mag kyk
Watter woorde sal kan stilmaak as die gisters hard wil praat

Watter woorde kan kom lig maak as die nag sy donker laat

O praat met my van yster

O praat met my van hout

O praat met my van asyn en spons

O praat met my van bloed

Ysterwoorde in hout gekap

Asyn op Hissop en purper lap

Ysterwoorde in hout gekap
Asyn op Hissop en bloed wat tap

Ysterwoorde maak heel

Doringkroonwoorde is goed vir die pyn

Eli Lama Sabachtani
Laat my eensaamheid verdwyn

Tot volgende keer.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s