Tyd is genadeloos, gebeure meestal onstuitbaar, ons beheer is beperk en ons menslikheid feilbaar en magteloos teen die ritme van lewe op aarde. Oorloë breek uit, moorde word gepleeg, vliegtuie verdwyn en mense sterf om nie eers van die onvoorspelbaarheid en magtige oorheersing van die weer te praat nie. Dit klink als so negatief en oorweldigend, maar die besef van vandag se datum en my totale onmag om die aanbreek van die nuwe kalenderjaar net so bietjie uit te stel, is ‘n werklikheid. Die nuwe jaar strek voor ons uit en sover ons kan, word daar beplan en sal ons die planne in geloof en vertroue op die goedheid van God aanpak.
Vrydagoggend, 26 Desember, het ons familie ‘n tweeling dogtertjies ryker geword. Die oproep was vroegoggend uit Toronto – hulle is oppad hospitaal toe. Ek het daar by my ousus wat kuier gaan inkruip, want dis haar oudste seun wat gebel het en ons het gebid, die Here se Hand oor hulle afgepleit met vertroue en eensgesindheid oor die Bron van ons hulp. Die tweetjies was vroeg – 33 weke – en die onsekerheid oor dinge wat ons geen beheer oor het nie, dwing jou op jou knieë. Niks wat ons kon doen, sou die geboorte verhoed nie. Die natuur is onstuitbaar al het ons gedink hulle moet bietjie langer stilsit. Vier dae en seker 40 oproepe later kan ons al begin getuig oor die grootheid van die Here wat alles so voorspoedig laat verloop.
Nuwe lewe laat mens besef hoe anders elke jaar is, hoeveel dinge onvoorspelbaar is en in die luuksheid van terugkyk is dinge dikwels so verbasend anders as wat jy kon dink of droom. Goed en sleg kom aangerol en vereis jou reaksie. Hoe kan jy aanstap sonder om jou toewyding en oorgawe met volkome en diep oortuiging te hernu en jou gemoed met die beloftes van die Woord te versterk nie?
Waar is jou gedagtes hierdie Oujaar? Sien jy uit na 2015, of is die werklikheid van jou omstandighede so pynlik dat jy wens jy kan net verdwyn in ‘n veilige wegkruipplek en eers later as die son weer oor jou skyn, uitkom?
Kom sit vir ‘n oomblik, kry stilte om jou en dink hoe jy dink. Ja, ek bedoel juis dit – dink hoe jy dink. Jou denke bepaal jou optrede en reaksies. Jou gedagtes sal die sukses van jou Nuwejaar bepaal.
Wat van die Oujaar? Hoe hanteer ons die verlede se mislukkings en suksesse? Die mislukkings is onder die bloed van die Here, vergewe en bedek met die verlossingswerk aan die Kruis. Die Kruis is die oorsaak van die suksesse en daarom word sukses in dankbaarheid en vreugdevolle feeste oor die goedheid en seën van die Here gevier.
Vandag, op hierdie dag, kyk ons terug en vorentoe en die besluit wat ons vandag neem kan die verlede sowel as die toekoms bepaal. Dit is hoe krities belangrik vandag is.
Die inhoud van ons toekoms is die beloftes van die Woord. As ons vorentoe kyk, kyk ons in die onsienlike, ons glo die onmoontlike en ons is sterk om enige hindernis te oorkom, want hindernisse is daar en sal daar wees. Hoor wat sê Jesus: Johannes 16:33:
I have told you these things, so that in me you may have peace. In this world you will have trouble. But take heart! I have overcome the world.
Wat meer wil jy hoor? Jesus het oorwin, maar het jy dalk die sleutelwoorde misgelees of nie gehoor nie? In My is die kernbeginsel. Daar is nie ander moontlikhede nie. Net in Hom is die toekoms verseker. Wat is ons oorwinningskreet wat ons van vorige Bodemklippe ken – VIVIT – Hy leef!
Ons lewe is ‘n reis. Ons moet aanstap of bly lê en laasgenoemde is nie ‘n opsie nie, al voel jy so. Vandag, op hierdie Oujaar kan jy die Woord hoor en met ‘n huppel in jou stap die Nuwejaar indans.
Deuteronomium 11:24,25:
Elke plek waar julle voetsool op trap, sal aan julle behoort…
Niemand sal teen julle standhou nie; die HERE julle God sal die skrik en vrees vir julle oor die hele land laat kom waarop julle sal loop, soos Hy julle beloof het.
Trek die goeie nuus van hierdie belofte aan jou voete en begin stap vir 2015. Dit is die belofte oor die land waarin jy woon en die grondgebied waaroor jou gesag geld. Jou gesin, verhoudinge, ambisie, werksomstandighede, planne, geld – al die elemente wat jou lewe uniek maak. Met die onderwerping van hierdie elemente (jou grondgebeid) aan die belofte in die Woord, maak jy die wonderwerkende krag van God los oor jou omstandighede. Onthou – dit bly jou keuse – daagliks, om jou lewe aan die Here oor te gee en Sy Hand daaroor te beveel.
Beveel klink dalk soos ‘n sterk woord, maar Jesaja 45:11 sê die volgende:
Thus says the Lord,
The Holy One of Israel, and his Maker:
“Ask Me of things to come concerning My sons;
And concerning the work of My hands, you command Me.
Jou bevel is die keuse wat jy maak, die bevel aan jou wil, verstand en emosies om die toekoms aan God oor te laat.
Vra My aangaande die toekomstige dinge; vertrou my seuns en die werk van my hande aan My toe!
Dit is duidelik ‘n opdrag. Daarom kan ons net in gehoorsaamheid onderwerp en nie bekommer oor die toekoms nie. Onsekerheid is en was nog altyd ‘n kern-karaktertrek van die toekoms. Hoe reageer jy daarop? Weer eens is dit jou keuse. Jy kan kies om nie te vrees nie. Dit is ‘n werklikheid. Geloof is nie die afwesigheid van vrees omdat jy so “lucky” is nie. Geloof is die gevolg van ‘n rasionele besluit om God en Sy woord te vertrou.
Die beste manier om hierdie nuwe jaar in te dans, is met jou rhema-belofte in jou hart ingebrand. Neem jou tyd met die Woord en vra die Here om met jou te praat. Tyd is die sleutel vir 2015 se deur. Hoe sal jy deurstap? Sommer so struikelend en onbewus van die uniekheid van tyd, of sal jy met bewustheid jou nederig voor die Here buig en Sy stempel op 2015 vra? Ek sou graag my plek in die Skuilplek van die Allerhoogste en die Skaduwee van die Almagtige bevestig. [Psalm 91]
Dis vir my ‘n wonderlike wete dat ek ‘n Alwetende God dien. Ek sien nie die toekoms nie, maar Hy is reeds daar en niks verras Hom nie. Hy weet wat vir my voorlê en in Sy arms is ek veilig. Deuteronomium 33:12:
The beloved of the Lord shall dwell in safety by Him, Who shelters him all the day long; and he shall dwell between His shoulders.
En hierdie is net een belofte uit duisende in die Bybel.
Net die Woord kan ons denke verander. Romeine 12:2 gee ‘n duidelike opdrag: … word verander deur die vernuwing van jou gemoed…
Ons is nie uitgelewer aan die onsekerheid van die toekoms soos slagoffers van tyd en omstandighede nie. Ons is in beheer deur gebed en geloof. Daar kan nie ‘n beter manier wees om ‘n nuwe tydvak te betree nie. Jeremiah 31:21:
Rig vir jou mylpale op, maak vir jou padwysers, let op die grootpad, die pad wat jy geloop het.
Hierdie pragtige woorde van Jeremia maak jou getuienis van God se redding en uitkoms noodsaaklik in die reis vorentoe. Die grootpad wat jy geloop het is die kragtige wonderdade van God. Neem ‘n oomblik en bid Psalm 103:2:
Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!
Nou – rig die mylpale op, maak die rigtingwysers. Wat is jou spesiale woord wat jou leiding gee in die onsekerheid van 2015?
Ek weet hoe belangrik dit is om self te hoor en jou eie, unieke woord hieroor te ontvang. Daar is niks so bevredigend en bemoedigend soos God se stem nie. Neem tyd in Sy teenwoordigheid en hoor….
Kom ons bid saam:
Here, dankie dat U Woord Gees en lewe is en nie dooie letters op papier nie. Dankie dat U lewe spreek en kragtige dade doen. Bo alles, dankie dat U dit vir ons doen, net omdat U ons liefhet en Jesus vir ons die prys betaal het. Dankie dat ons U stem hoor…
Rigtingwysers – vra jy rigtingwysers? Die hele wêreld se boeke is nie genoeg om op te teken hoe God ons liefhet en bewaar nie.
Net uit een hoofstuk – Johannes 14. Hoor Sy stem…
- Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.
- Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
- Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo – die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.
- En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.
- As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.
- As julle My liefhet, bewaar my gebooie.
- En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid:
- Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.
Bodemklip – vriende! Geseënde 2015 – Shalom!
According to Strong’s Concordance 7965 Shalom means completeness, wholeness, health, peace, welfare, safety soundness, tranquility, prosperity, perfectness, fullness, rest, harmony, the absence of agitation or discord. Shalom comes from the root verb shalom meaning to be complete, perfect and full.