Net Een het ooit gesê:
Ek is die Lig van die Wêreld.
LAAT DAAR LIG WEES
Kotie Schoeman
Uit die eeue van vergetelheid
toe duisternis die hemelruim omring
het daar ‘n God’lik Wese afgekyk
om onbekende planne uit chaos voort te bring.
Met grootse skeppingsdrang
roep Hy die lig
en skoonheid onbeskryflik
het alle duisternis vervang.
Maar aan die sy van die Alwyse
werk ook die Medekunstenaar
en vol verlustiging het Hy aanskou
hoe die Alwyse, die mooiste
skoonste skepping bou.
Hy het die watervloede reggestel
en soet fonteine op laat wel
so het blydskap lig en lewe
God’s skepping sag omvou.
Vanuit ‘n ligpaleis so ver…
so ver in die verskiet
het hemelsang verrys, lofsange
wat net die Skepper prys
en oor die tralies van die hemelland
het engele ver geleun
om af te kyk en te aanskou
die skepping
van die Vader en die Seun.
En toe het God die hele land
met blom en gras en boom beplant
en diere vir die veld gegee
en visse vir die see.
Die Kunstenaar en die Alwyse wens
‘n wese daar te stel
om soet gemeenskap te geniet
en uit hul skeppingswens
maak Hul die mens.
‘n Weinig minder as ‘n God’lik wese
met eie sin en wil.
Afskynsel van die Ewige
met eer en heerlikheid gevul
om in gehoorsaamheid oor al die skone werke
te regeer, op Sy bevel.
En toe het God gerus,
maar in die awendwind…
wou God, die mens daar vind.
‘n Vreemde duisternis oorval die tuin
‘n helse rook vanuit die put;
die Kunstenaar kom, en vind die puin
en sien hoe lig moes wyk
hoe sielenag gebore is.
Waar is die mens, my skeppingskroon
berou… berou vervul My hart.
Die mens wat Ek gemaak het,
dié mens is nou My smart.
En deur die eeue heen
het daar ‘n stryd gewoed.
In die hart van die alwyse God
was daar ‘n toorngloed
‘n onbetaalde skuldlas
‘n mensdom wat sou boet.
Maar toe het God gespreek
en vir die Hemelkunstenaar het Hy
‘n menslik liggaam voorberei;
want in die Boekrol was dit opgeskryf
‘n Offerlam, ‘n Slaaf, ‘n Prins, ‘n Priestergod,
wat in die stof moes leef en ly.
Een donker nag in Bethlehem,
verrys vanuit ‘n stal ‘n babastem…
en oor die tralies van die Hemelland
het weer eens engele geleun
om af te luister en saam te sing
die lied wat aan die herders bring
die boodskap van die God’lik Lig.
Dié Lig wat daardie sielenag
vir ewig sal verdring.
En niks is daar in die gans heelal
wat hierdie Lig kan doof
Selfs ook die helse nag vanuit die put
moet wyk, voor die geloof
van Sy bemindes.
Want Hy, die Hemelkunstenaar,
het deur Sy eie dood die prys betaal,
en nou kan ons deur Sy geregtigheid
gemeenskap met die Vader hê,
en leef in alle ewigheid.
Dis met groot vreugde dat ek hierdie gedig van my ma publiseer vir hierdie Kerstyd.
Ek bid vir Bodemklippe oor die Kersseisoen, vir elkeen wat hierdie lees en toelaat dat die Woord harte raak en verander.
Baie liefde
Ansophie