206. Die kern is vrede

‘n Mens sou dink jy is voorbereid op die dood.  Dit is na alles die enigste ding van ons bestaan op hierdie ou aarde wat seker is. Veral die dood van ‘n baie ou mens, waar ‘n verlenging van ‘n ryk vol lewe gereduseer is tot so ‘n klein wêreld van baie beperkte plesier, net onlogies en selfs wreed sou wees.  Tog tref die finaliteit en onomkeerbaarheid van lewe wat wegsypel ‘n mens so diep, dat die kern van alles wat oorbly weer eens onder die soeklig val.  Wat is belangrik, wat is blywend, wat onthou mens op die ou end wanneer jy die misterie van die onbekende in jou eie gemoed moet hanteer.

In die afgelope maand is my skoonma van 97 jaar en sewe maande oorlede.  Die laaste paar weke was sy bedlêend en baie swak.  Ons vermoed ‘n ongediagnoseerde gewas het uiteindelik haar lewe geneem, maar ‘n hospitaal met al die toetse en naalde was ‘n scenario wat vir haar vreesaanjaend en uiters onaangenaam sou wees.  Daarom het sy tuis gebly, in bekende en geliefde hande, volgens haar uitgesproke wens.  ‘n Bekende dokter, wat haar die afgelope jare deur ‘n griep of brongitus gehelp het, het voorgeskryf wat nodig was om haar gemaklik en pynvry te hou.  So is sy een nag, stil en rustig in haar slaap oorlede. My man het naby middernag ingeloer en die kombers oor haar skouer getrek, sodat die nagkoeligheid van Augustus in Johannesburg haar nie sou pla nie.  Net so het hy haar die volgende oggend gekry.  Iewers in die nag het die God wat sy van kleins af dien, haar kom haal. Wat ‘n vreugde wanneer die dood geen verskrikking inhou nie, net ‘n warboel en maalkolk van emosie en gedagtes oor ‘n vol lewe van uitnemendheid in geloof.  Sy was een van God se heiliges:

Kosbaar is in die oë van die HERE die dood van sy gunsgenote.

 Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.

(Psalm 116:15, OAB en NAB). Die twee Afrikaanse vertalings is so komplimenterend dat albei weergawes iets van die pragtige woorde toelig.

Rondom die dood van ‘n persoon, is daar sekere goed wat moet gebeur.  Die begrafnis en alles wat daarmee saamgaan is die eerste ding. Noodwendig gaan ‘n mens se gedagtes terug na die verlede en dit wat haar lewe volgemaak het.  My skoonma het haar edele rol van ‘n bekommerde moeder voluit geleef.  Ons moes haar dikwels paai met al die nodige versekeringe van ons verantwoordelike omgang met gevaar.  Hoe ouer sy geword het, hoe meer het ons haar bekommernis gerespekteer en haar eenvoudig nie alles vertel nie.  So kon sy in relatiewe vrede leef.  Ek het soveel keer haar haar onkunde beny.  Die lewe is gevaarlik. Daar is soveel dinge wat dreig om elke draai en dit is net die dinge wat ons van weet.  Daar is soveel gevare waarvan ons salig onbewus is, en wat enige oomblik met wrede oombliklikheid kan toeslaan.

Haar bekommernis en begeertes het haar gebring op die een plek waar alles ‘n oplossing vind – die voet van die Kruis van Jesus.  My skoonma was ‘n bidder en sy het haar bekommernis en vrese na die Here toe gebring. Daar het sy vrede gevind vir die bekende en die onbekende.  Dit is na alles net by die Alwetende God waar ons waarlik vrede kan vind.  Sy naam is Vredevors.

Net soos aan die begin van die studie van Filippense, is die belofte van ‘n volmaakte werk hier ook van toepassing.  Soos vrees en ellende ons onverwags kan oorval, so is niks vir die Almagtige en Alwetende God ‘n verrassing nie.  Die toekoms behoort aan hom.  Dit is sy domein en Hy het volle beheer daaroor.  Daar is niks wat in die hede ooit kan gebeur, wat te groot of te vreeslik vir ons hemelse Vader is.  Dit is geloof.  Net soos iemand iewers gesê het:

Faith mighty faith

The promise sees

And looks to God alone

Laughs at impossibilities

And cries it shall be done

 

Dit is die KERN van ons geloof.  Ons het die belofte van klaarmaak, die belofte van krag, die belofte van die kenmerk van God wat die belofte maak en nou kom ons by die kern van hierdie brief.

Kom ons lees die bekende sodat al die familiariteit verdwyn en die woorde in hulle oorspronklike kragtige bedoeling in ons hart ingebrand word.

Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!

Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

 Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.

 En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees. (Filippense 4:4-9)

Ons het al so dikwels in Bodemklippe hieroor gepraat.  Die Afrikaanse woord: smeking, is in my begrip vergelykbaar met die negatiewe Engelse woord: “nag”.  Vir so lank het ek gedink ek moet by die Here kerm en kla tot ek my sin kry en my vrees en bekommernis verdwyn.  Dit is eers in die lees van die Amplified vertaling dat ek lig op die bedoeling van die woorde kon werp.  Kom ons lees vers 6.

Do not fret or have any anxiety about anything, but in every circumstance and in everything, by prayer and petition (definite requests), with thanksgiving, continue to make your wants known to God.

 Nou maak dit sin – is dit nie so nie?

Die formulering van ‘n spesifieke versoek in gebed het groot krag.  Dit is daar in ons gesels met Jesus dat ons hart ontbloot word en die diepste motiewe en begeertes voor hom gebring word.  Ons versoeke kry ander perspektief en nuwe dimensies, as ons dit in nederigheid, met danksegging voor God bring.  In gebed word ons verstand geopen met die openbaringskennis van die Heilige Gees en ons insig in dit wat ons lewe so beheers, verdiep, tot so ‘n mate dat ons begeertes en bekommernisse gereduseer word in ondergeskiktheid aan die grootheid en goedheid van God.  Dit is presies waar bekommernis hoort.  Dit behoort nie die oorheersende emosionele maalkolk te wees nie.  Dit is so maklik om dit aan God bekend te maak en die las daarvan weer op te neem.

In hierdie oomblik, neem ‘n stukkie tyd om die een ding wat jou die meeste bekommer, die gedagte wat jou die meeste pla, die onvervulde begeerte wat nou by jou opkom voor die Here te sit.  “Sien” in jou geestesoog die Kruis van Jesus en spyker daardie woorde op ‘n papiertjie vas, sodat jy ‘n gedagteprentjie het van jou bekommernis en begeerte vas aan die Kruis.  As jy weer daaroor dink, “sien” weer die Kruis met jou papiertjie.  As dit sonde en skuld is, “sien” jou bondel vullis wat jou lewe belas en besoedel aan die voet van die Kruis en “sien” die druppel bloed wat afdrup en jou bondel sonde laat verdwyn – weg – so ver as die ooste van die weste (Psalms 103:12)

Die gevolg van hierdie hantering van bekommernis is VREDE, ‘n bonatuurlike besondere vrede wat jy self nie kan verstaan nie.  Dit is die beste lewe moontlik.  Dit is ‘n lewe wat vol is met al die heel beste dinge wat daar is: waarheid, edele optrede en gedrag, die regte dinge, rein dinge wat jou siel nie sal besoedel of beskadig nie, mooi dinge, dinge wat jy kan bewonder.  Die lys is oneindig – so lank as wat God se goedheid en glorie is. Dit is alles joune in gebed en oorgawe.

Dit is God wat vrede gee. Vrede is die kern van ons bestaan. Vrede is die hoogste goed, die luukste lewe moontlik – ‘n lewe sonder vrees!

 

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s