Soms praat mense oor ander mense en sê: Ja, ek dink nie hy is op ‘n goeie plek nie, bedoelende dat so ‘n persoon nie reguit dink nie, of dalk groot tragedie moet verwerk en onstabiel, hartseer en depressief voorkom. As ek so ‘n frase hoor, dan dink ek altyd dat ‘n plek kan verander. Dit klink vir my tydelik en verwys na ‘n seisoen van trauma, hartseer en teleurstelling.
Ons wêreld is nie op ‘n goeie plek nie. Praat van trauma, teleurstelling (minstens helfte van Amerika is woedend en opgewerk), depressie, angs, onsekerheid en die vernietiging van verhoudinge en werk wat hierdie afgelope jaar se virus-verwoesting veroorsaak het. Dit is te begrype. Mense wat leef sonder die anker van geloof in die Evangelie van Jesus met die beloftes van hoop, genade en wonderbaarlike ingryping, sal sukkel.
Wat my egter meer bekommer is dat die Kerk nie op ‘n goeie plek is nie. Verdeeldheid, inmenging in die politiek, verkondiging van moderne, omstrede standpunte, kragtelose gestryery en opstandige meningsverskille is aan die orde van die dag. Christene dobber rond soos irrasionele lugkussings wat in ‘n stormsee heen en weer geruk word. Die kerk behoort eerder daardie diep-geankerde boei te wees, wat saam met almal in die stormsee die golwe voel, maar wat se anker so vas en diep lê dat die onwrikbare plek van standvastigheid, geloof en liefde, onbetwyfelbaar gemerk is. Die kerk moet die “goeie plek” wees. Dit is die plek wat die oplossing bied. Dit is die redding van die drenkeling.
Bespiegelinge oor die eindtyd is iets wat my in die besonder opval. Links en regs word boeke geskryf, video’s gemaak en boodskappe uitgestuur wat wêreldgebeure beskryf, bedink, bepraat en bestudeer – alles om in te pas by die metafore, allegorieë en simbole van die boeke Openbaring en Daniël. Mense wat nog nooit oor hierdie dinge gepraat het nie, het skielik YouTube video’s met wit borde, swart penne en tydlyne. As mens een van die soort video’s se skakel volg, dan gooi YouTube se algoritme (wat soms spookagtig akkuraat is) vir jou reekse soortgelyke spekulasies uit. Kyk maar, daar is ‘n ontstellende hoeveelheid van mans en vrouens wat met ernstige gesigte en skaamtelose arrogante oortuiging die politiek in die Bybel inforseer om ‘n kwansuise simboliese toekomsvoorspelling uit te lê.
Wat hulle motivering vir dit is, gaan my verstand te bowe. Dit is beslis nie aanmoediging of bemoediging nie. Dit is eerder ‘n doemprofetiese, klaaglied-agtige voorspelling van die “you ain’t seen nothing yet” senario. Met groot oë en ronde lippe, “hoor” ek die whooo-klank waarmee spookstories van ouds gedramatiseer is. Die hel gaan warmer en erger wees as wat jy jou ooit kan voorstel. As jy gedink het, dit is nou erg dan sal hulle vir jou vertel hoeveel erger dit nog gaan word. Gaan jy gereed wees vir die lyding, die marteling, die verwoesting van die groot bees, die duiwel, Babilon, die draak, die valse profeet en die hele hel en sy engele wat op jou losgelaat gaan word?
In meeste gevalle is Israel en die gebeure in die fisiese Midde-Ooste ‘n fokuspunt. Daar word gepraat van die Oospoort, die Derde Tempel, die asse van die rooi vers, die hervatting van offers en die belangrike rol van die Jode in die nabye toekoms.
Ek het in 2016 ‘n reeks oor Openbaring op Bodemklippe gepubliseer. [Bodemklippe 90 – 116] Dit volg die klassieke-historiese benadering om Openbaring te interpreteer. Dit is nie ‘n dispensasionele benadering nie.
Die diep wortels van hierdie lering het ek reeds in die vroeë negentigs by Dr Johan Geyser in die Randburg se Weslaan- gemeente (voor Mosaïek) in die Woordskool geleer. Ek het later my entoesiasme daaroor aan hom genoem en hy was verbaas. Volgens hom was ek die enigste persoon wat ooit weer na daardie lesings verwys het.
Iewers in 2013 is ek genooi na ‘n Woensdagaand lesing in ons kerk net hier naby. Die spreker was Dr Paul Spilsbury en hy het in twee ure die fondasie van interpretasie van Openbaring gelê. Ek was meegevoer en tot in my siel geroer met die rasionele, sober benadering van ‘n interpretasie wat die simbole en lering van die ganse Ou Testament “deurtrek” tot by die volmaakte volvoering van God se Plan. Dit is die asemrowende goue draad van Bybel-verklaring wat jou siel in ‘n dans van vreugde en vrede oor die almag en getrouheid van ons hemelse Vader invoer.
[The Throne, The Lamb & the Dragon. A reader’s guide to the Book of Revelation is Spilsbury se boektitel en kom hoogs aanbevole]
Die fokus van die benadering is op Jesus en Jesus alleen as die volmaakte uitvoering van die Groot Gedagte, dit wil sê die denke van God van die Skepping tot by die volvoering van alles – die Tweede Koms van Jesus.
Spilsbury het my belangstelling opnuut geroer en ek het begin navors. Dit was soos ‘n myn van goud, silwer en edelstene van alle kleure, geure en skoonheid. Dit was en is nog steeds ‘n reis van lofprysing en aanbidding, verstomming en opgewondenheid en terselfdertyd ‘n diep besef van die grootheid van God wat my op my gesig neer fel net soos Johannes in Openbaring 1.
Voordat ek te veel daaroor skryf, laat my toe om een aspek van die moderne gesprek aan te raak – die merk van die bees.
Het jy al daarvan gehoor? Natuurlik. Die mense praat. Weet jy waar dit in die Bybel staan? Ek sal help – Openbaring 13:16-18:
En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word;
sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het.
18Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is seshonderd-ses-en-sestig.
Het jy al gehoor van die seël van God? Dalk nie. Dit is ses hoofstukke voor die beskrywing van die bees. Openbaring 7:2,3:
En ek het ‘n ander engel sien opkom van die opgang van die son, met die seël van die lewende God; en hy het met ‘n groot stem geroep na die vier engele aan wie dit gegee is om die aarde en die see te beskadig
3en gesê: Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie.
Ek hoor nie Christene praat oor die seël van God nie. Dink jy God se seël is nie belangrik nie? Ek hoor hulle praat oor Bill Gates, inentings en tatoeëring wat in verband met die merk van die bees genoem word – watter belaglike nonsens hou ons ons mee op! Ons moet wys en ingelig wees, ander sal ons bedrieg en mislei word.
Ken jy die storie van die eerste Paasfees in Egipte? Onthou jy die bloed van die lam aan die deurposte wat die Israeliete veilig gehou het van die doodsengel?
Jy is geseël, Kind van die Allerhoogste God, met die kosbare bloed van die Lam, Jesus, wat jou denke en doen en late bepaal. Net soos God sy kinders in Egipte bewaar het, so sal Hy dit vir ewig en altyd doen. Hy verander nie!
Die merk van die bees is op die voorkop, simbolies van denke en op die regterhand, simbolies van dade.
Dit is ‘n bespotting (parodie) van die gebed-simbole van ‘n Jood – die klein leer boksies met skrif (Tefillin) wat ‘n Jood op sy voorkop en regterhand dra. Binne-in was die Skrif: Exodus 13:1-16; Deuteronomium 6:4-9;11:13-21.
Wat is in jou en kom uit by jou mond? Skrif of spekulasie? Praat jy die chaotiese gebrabbel van die bees?
Kyk om jou! Sien jy die mense met die merk? Natuurlik. Daar is dinge in die wêreld wat vandag as waarheid verkondig word waarmee ‘n Christen hom nooit ooit mee kan vereenselwig nie. Dit is die merk van die bees. Die mense wat dit praat en doen dra die merk. Hulle koop en verkoop – simbolies van materialisme, aardse rykdom en ‘n siel wat verlore gaan.
Want wat sal dit ‘n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly? 37Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel? (Markus 8:36,37)
Die aanval op Christen-waardes en beginsels is die verdrukking wat die Bybel van praat. Dit word erger – sonder twyfel. Ons moet sterker en slimmer word. Daar is duisende Christene wat fisies sterf vir hulle geloof, maar daar is duisende wat hulle beginsels verwater in die naam van linkse dogma. Ek sal nie die onverdraagsame, straatstemme wat hulleself liberaal noem, komplimenteer met die naam liberaal nie. Klassieke liberalisme spreek van vryheid van spraak en denke. Vandag word elkeen wat van gewelddadige linkse dogma verskil, geviktimiseer en vervolg. Dit is nie liberalisme nie.
Ons vryheid (oorsprong in die woord liberaal) lê veel dieper as wat hierdie ou wêreld in sy verwarring en chaos kan opdis.
En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak. (Johannes 8:32)
Die waarheid is nie ‘n filosofiese wat nie. Die waarheid is ‘n wie!
Daar is net een mens in die ganse geskiedenis wat gesê het: Ek is die Waarheid…(Johannes 14:6)
Ons hoef nooit te twyfel nie. Ons ken die waarheid persoonlik en in verhouding.
Kyk weer na die wêreldgebeure. Sien Jesus soos wat Openbaring en al die profete bedoel het. Ons oë is nie op die politiek of ekonomie of sosiale chaos nie. Dit is die klein stoffies op die skaal, die druppel in die emmer. (Jesaja 40:15).
Wat is dan die dinge wat die skaal van God beweeg? Dit is die vraag aan die Kerk van God vandag.
Die antwoord is eenvoudig. Dit kan net een ding wees. Jesus.
Jesus en sy kerk wat herleef is die anker van die wêreld. Kyk na die Kruis en “sien” jou merk. Die seël van God op jou.
O ja! Wat die Jode aanbetref: Daar is nie ‘n aparte Abrahamitiese Verbond wat kant-langs vir die Jode bedoel is nie. God het EEN plan, EEN Verbond. Die Verbond met Abraham het sy volvoering in Jesus. Die Jode het geen spesiale behandeling nie. Hulle gaan ween oor die Een wat hulle deurboor het.
Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind. (Sagaria 12:10)
Daar kom op die oomblik meer Jode tot bekering (aanvaar Jesus as die Messias) as ooit tevore in al die eeue na Jesus gesamentlik. Dit vul my met opgewondenheid en vreugde.
Juig Bodemklipvriende! Ons “leef” die profesie van die begin van die eindtyd – 70nC toe Jerusalem verwoes is… Jesus se:
Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom. (Matteus 23:36)
Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie. (Matteus 24:34)
‘n Geslag in die Bybel is veertig jaar. Jerusalem is vernietig in 70nC, presies veertig jaar na die Kruisiging. Dit was die begin van die eindtye.