Ons kan nog nie wegstap van Filippense nie. Toe ek weer lees, het ek besef dat die rykdom wat nog daar opgesluit lê, net te groot is. Dit kom nou van beplanning – so ‘n informele besluit om vier stukkies oor Filippense te skryf is maklik. Vier hoofstukke – dis logies. Dis Filippense se tweede hoofstuk wat my oog vang – die aanmoediging en glorie van lewensbeginsels wat ‘n mens verhef tot ‘n lewe van uitnemendheid.
Ek het hierdie week met ‘n studie van die boek Daniël (van Beth Moore) begin. Die klem in die eerste les is die aard van die Babiloniese ryk waarin Daniël en sy vriende hulle bevind. Sonder spesiale beplanning, kyk ek en my man na ‘n dokumentêr oor die Babiloniese ryk op Amazon Prime. So word ‘n paar gevolgtrekkings gevestig, wat so raak ons huidige kultuur beskryf, dat ek weer eens verstom staan oor die wonder van die Woord se toepassing oor alle eeue.
Net ‘n oorsigtelike lees van die eerste hoofstuk van Daniël dui op ons eie kultuur se obsessionele betowering met jeug, skoonheid en intelligensie.
Die jongmanne moes sonder liggaamsgebrek wees, mooi, toegerus met kennis, verstandig, bekwaam en in staat om in die paleis diens te doen. Hulle moes onderrig word in die Galdeërs se skrif en taal. (Daniël 1:4)
God het dit alles gesien en bestuur. Hy het Daniël en sy vriende guns gegee by die hoofpaleisbeampte. So weier Daniël die koning se lekkernye, seker hoofsaaklik omdat dit onrein vleis was en volgens die voorskrifte van Moses se wet nie “kosher” nie. Daniël se opvoeding as ‘n deel van God se volk, red hom van diepe assosiasie met ‘n bose en heidense kultuur, hoewel dit die rykste en mees vooraanstaande kultuur van sy tyd was. Die Babiloniërs was indrukwekkend om die minste te sê. Hulle konstruksie, wiskunde en literatuur word nou nog bestudeer.
Die vriendelikheid van die hoofpaleisbeampte was sekerlik aantreklik in ‘n tyd van groot emosionele ontwrigting vir Daniël as ‘n tienerseun (ongeveer 16 jaar oud) weg van sy ouers, familie en land. Sy geloof opvoeding en skoling in die beginsels van alles wat die Hebreeuse volk God se eie gemaak het, is die kenmerk van sy lewe in Babilon – ‘n lang en voorspoedige lewe, vol doodsgevare, spanning en geloof oorwinning. Daniël dien in die hof van meerdere keisers, selfs die van die ryk wat die Babiloniërs oorwin – die Mede en Perse. ‘n Lewe van uitnemendheid – sonder twyfel.
Ons kultuur is vandag net so uitdagend soos Babilon van ouds. Boosheid het nog niks verander nie. In die Weste vandag is presies dieselfde beheptheid met skoonheid, jeug en intelligensie. Die begeertes van jeug en skoonheid dryf industrieë van etlike biljoene in meerdere geldstelsels van die wêreld. Die onlangse skandaal oor korrupsie met betrekking tot universiteit toelatings in die VSA waarin ‘n hele paar beroemde aktrises (interessant dat dit vrouens is) van omkopery in die universiteit aansoeke van hulle kinders aangekla word, dui op die groot beloning van die gemeenskap vir gesaghebbende en gerekende universiteitskwalifikasies. In die obsessie word die grense van geregtigheid verdof en die “koning se lekkernye” word prioriteit wat teen elke prys bekom moet word. Ek het onlangs ‘n resensie gelees van ‘n boek waarin die outeur die jongmense kalmeer en verklaar dat dit heeltemal aanvaarbaar is om eers later in die lewe jou hoogtepunt van prestasie te bereik. Dit is so maklik om te dink dat die kultuur vereis dat elke kunstenaar, musikant en wetenskaplike deesdae reeds in hulle tienerjare naam moet maak.
Filippense 2 is ‘n rykdom van lewensbeginsels wat die Babilon-kultuur met teen-intuïtiewe lewensbeginsels aandurf.
Lees saam vanaf vers 3 tot 8. Kom ons dink diep en vra die Heilige Gees om die woorde lewend te maak.
Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.
Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.
Kom ons lees The Message vir ‘n nuwe blik op ou bekende woorde.
Don’t push your way to the front; don’t sweet-talk your way to the top. Put yourself aside, and help others get ahead. Don’t be obsessed with getting your own advantage. Forget yourselves long enough to lend a helping hand.
5-8 Think of yourselves the way Christ Jesus thought of himself. He had equal status with God but didn’t think so much of himself that he had to cling to the advantages of that status no matter what. Not at all. When the time came, he set aside the privileges of deity and took on the status of a slave, became human! Having become human, he stayed human. It was an incredibly humbling process. He didn’t claim special privileges. Instead, he lived a selfless, obedient life and then died a selfless, obedient death—and the worst kind of death at that—a crucifixion.
Om ‘n ander mens hoër as jouself te ag, was beslis nie deel van die Babiloniese kultuur nie. Tog moet ek sê dat die deursnit mens vandag maklik volg en heeltemal te maklik ‘n openbare figuur of prediker slaafs napraat. Dit spruit dalk uit die onsekerheid en vrees wat die oorweldigende beskikbare inligting en vloed van feite in die moderne lewe veroorsaak. In die verwarring van soveel nuus uit elke moontlik wêrelddeel, is dit maklik om in ‘n maalkolk van gedagtes vasgevang te voel. Persone wat inligting verteer en meer aanvaarbaar opdis, is moderne helde.
In ons tyd, net soos in die tyd van Daniël, is die oplossing in die verwarring en vrees van ‘n obsessionele kultuur, om God en sy patroon van lewe soos in Jesus gesien word, te volg. Hy het nie sy status as gelyk aan God geag nie. Hy het mens geword en moes gehoorsaamheid leer net soos ons, selfs tot die dood toe. Hy het homself verneder en aan die Kruis gesterf – die ergste wat die Babilon van Jesus se tyd, Rome, aan ‘n mens kon doen. Jesus het nooit toegelaat dat die kultuur van sy tyd aan hom voorskryf nie, ook nie die kerk-kultuur nie. Ons kan gerus sy voorbeeld noukeurig bestudeer. Dit is dissipelskap. Jesus is mentor en die model voorbeeld.
Sy krag was in gesprek met sy Vader. Sy bediening het gevloei uit ‘n intieme verhouding met God. Dit is ons voorbeeld. Dit is hoe ons die eise van Babilon in die een en twintigste eeu aandurf. Dit is die “vernedering” van die Jesus-lewe – om al die voorregte van die arrogansie van die kultuur op te gee. Ons leef in liefde en verdraagsaamheid met mekaar. Ons leef uit Jesus met die sekerheid van die Woord en die asem van God om dit lewend te maak. Sy beginsels gee lewe.
As Jesus ons vra om ander hoër as onsself te ag, is dit presies wat Hy gedoen het. Hy het ons hoër as homself geag – dit is waarom Hy aan die kruis gesterf het. Die Prins van die hemel het homself nie meer werd as ons geag nie. Dit is waarlik iets om oor stil te word.
Die gevolg – ons het sy Naam.
Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader. (Filippense 2:9-11)
Die woord bely in Grieks het ‘n pragtige betekenis. Dit beteken om openlik te erken en met vreugde fees te vier oor ‘n waarheid. Dit is ons wonder-lewe van Goddelike kindskap. As ons Jesus se Naam en koningskap nou reeds bely, is dit ons vreugdefees dat Hy in ons omstandighede regeer.
Juig Bodemklipvriend!
Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!” (Jesaja 52:7)
Neem ‘n tydjie van stilte net om die Heilige Gees kans te gee om in jou hart te spreek. Is daar iets waarvan jy oortuig word om te laat gaan? Vra die Here in die naam van Jesus om jou gedagtes te verkwik sodat jy ‘n lewe van volheid en uitnemendheid kan leef.
God gave these four young men knowledge and skill in both books and life. In addition, Daniel was gifted in understanding all sorts of visions and dreams.
When the king interviewed them, he found them far superior to all the other young men… (Daniel 1:17-19, The Message)