205. Die krag van die uitnemende belofte

Groter, meer, dieper – so stap ons aan deur Filippense.  Ons het gepraat oor die karakter van die Een wat die belofte maak,  die kenmerk van ons besluit om God te ken in die volheid van sy opstanding sodat ons opstaan uit die dood selfs in hierdie lewe en nou kan ons praat oor die krag wat Hy vir ons beskikbaar maak om in te leef.

Een van uitstaande beloftes van Filippense is die krag van klaarmaak.  Elkeen wat nog ooit ‘n projek aangepak het, weet dat die laaste afronding, die fyn besonderhede van laaste dinge soms die meeste moeite verg. As mens huisbou, dan is dit die afronding wat die meeste geld kos en die meeste dinkwerk vereis.

By die punt van wedergeboorte word ons gees nuutgemaak met die inwoning van die Heilige Gees. Dit is ons “immigrasie” in die onsigbare koninkryk van God op aarde.  Dit is wat Jesus bedoel het toe Hy vir Nikodemus in Johannes 3 gesê het dat iemand wat nie wedergebore is nie die koninkryk van God nie sal sien nie. Dit was nie ‘n verwysing na die hemel eendag na die dood nie.  As ons besluit om ons lewe aan die Here oor te gee, tree ons in die “hemel” in.  Wat is die hemel dan anders as die woonplek van God?  Ons lewe in die onsigbare koninkryk op aarde is ons lewe in die hemel, in die teenwoordigheid van God.  Psalm 91 beskryf dit so – duisend jaar voor Jesus op aarde geleef het:

Hy wat sit in die skuilplek van die Allerhoogste, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. Ek sal vir die Here sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.  (Psalm 91:1,2, OAB)

Die bewuswording van God as ‘n toevlug en bergvesting is die beste lewe wat mens op hierdie aarde kan leef.  Dit is hemel op aarde.

…omdat ons nie let op die sigbare dine nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelike, maar die onsigbare ewig(2 Korintiërs 4:18)

Die belofte van Filippense 1 hierby ingeweef.  Paulus sê hy vertrou op die Here wat die goeie werk in elkeen begin en dit klaarmaak tot op die dag van Christus, bedoelende die fisiese dood of die wederkoms, watter een ookal die ander voorafgaan (vers 6).

Hy sal ons nooit verlaat nie, ons nooit afskryf vir ‘n hopelose saak nie, ons nooit te gering ag nie. Die belofte staan.  Hy sal klaarmaak.  In God se skaduwee word ons verander.  In liefde vind ‘n transformasie plaas wat ons  by die volgende kragtige belofte wat ons lewe in elke aspek kenmerk bring.

En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om te toets die dinge wat wesenlik is, sodat julle rein en vir niemand ‘n hinderpaal mag wees nie, tot op die dag van Christus.  (Filippense 1:9,10)

Dit is wesenlik, as ek die OAB se taal kan gebruik om daarop te let dat liefde die kern van onderskeiding is.  Om te weet wat belangrik is,  is een van die belangrikste lewensvaardighede.  ‘n Ander vertaling verduidelik dit so: dat julle sal kan onderskei die dinge waarop dit aankom.

Die vermoë om dinge te onderskei,  belangrike bo onbelangrike te kies en oor die algemeen die dieper betekenis en perspektief in die lewe te ken, is deel van die belofte-pakket van die Heilige Gees soos in 1 Korintiërs 12 uiteengesit word.  So lewe ons met ‘n hemelse perspektief op alles.

Leer my om u wil te doen, want U is my God! Laat u goeie Gees my op ‘n gelyk pad lei.  (Psalm 143:10)

Liefde is die teenoorgestelde van alles wat die boosheid bewerk.  Liefde staan reg teenoor vrees en woede.

Liefde maak ook ander uitnemende dinge moontlik.  Aan die einde van die eerste hoofstuk en die begin van die tweede hoofstuk is eenheid onder bespreking.  Dit is altyd verstommend hoeveel mense eenheid as ‘n emosie ervaar.  Vriende wat goed klaarkom, of die eenheid in die huwelik met iemand vir wie jy lief is, of die eenheid van ‘n werksverhoudinge wat baie goed uitspeel en skerp kontrasteer met ander wat botsings bring.

Eenheid is ‘n besluit. Eenheid as ‘n emosionele “gevoel” is ‘n wankelrige, en ek sal dit waag om te sê, nikswerd ervaring wat met die eerste ernstige toets daarvan kraak en verkrummel.  Een van die aantygings teen die Christendom is juis die verdeeldheid wat in die groot aantal denominasies voorkom onder die groter vaandel van katolieke en protestante.  Juis in die verband is dit belangrik om eenheid te bevorder in onderwerping aan die woorde van die profeet Joël wat in Handelinge aangehaal word:

En elkeen wat die naam van die Here aanroep sal gered word.  (Handelinge 2:21, OAB)

Die kerk van Jesus is saamgebind en uit die wêreld gered deur die bloed van Jesus.  Dit is ons fondament, die basis van alles wat ons doen en so moet dit bly.  Ons kan alleenlik die denominasies verdra in die lig van die eerste, fundamentele beginsel van redding deur die bloed van Jesus met ‘n besluit om hom in jou lewe in te nooi.

Alles wat daarna kom waaroor die kerke stry, moet in nederigheid en onderwerping aan die Woord met die insig van die Heilige Gees vir elkeen uitgeklaar word.  Geestelike groei kom na bekering.  Volwassewording in Christus is ‘n konstante onderwerping aan die Woord in volle oorgawe aan die wonder van die skeppende krag van God se woord en werking in elke individu se lewe.

Ware eenheid is ‘n besluit om almal wat Jesus bely in liefde te aanvaar.  Hier geld die krag van Petrus se wonderwoorde:

Maar voor alles moet julle mekaar vurig liefhê, want liefde sal ‘n menigte van sondes bedek.  (1 Petrus 4:8, OAB)

En weer eens – is ons terug by die liefde – die grootste van alles.

Dit is hoe ons leef; dit is hoe ons oorwin; dit is hoe ons die swartgalligheid van die boosheid afskud en roekeloos in geloof ons regmatige plek in die koninkryk inneem.


Lewer kommentaar