200. Terug by die sluitsteen.

Soms vlieg die tyd net so dat ek waarlik voel ek hou nie by nie.  Skrif wat vir my uitstaan en ‘n groot impak in my lewe maak, word soos ou bekende vriende waar ek weer en weer kuier.  Die gedeelte in Sagaria 4 is een van hulle – diep in my hart en maklik op my tong.  Daaroor het ek reeds in 2014 ‘n reeks oor Sluitsteenwoorde geskryf: Bodemklippe 43-45.

Argitektuur en omgewing het nog altyd ‘n groot rol in my lewe gespeel.  Ek kan nie werk of kreatief wees as die kamer, die huis en ek self nie aan sekere vereistes voldoen nie.  Meestal is die hoogste eis ordelikheid, maar ek moet erken mooi is vir my baie belangrik.  Dit is seker die rede dat ek Sagaria 4 lees en die sluitsteen in ‘n pragtige gedagtebeeld geniet – absoluut elke keer as ek dit lees.  Ek kan ook nie sê dat daardie beeld elke keer dieselfde is nie.  Soms sien ek ‘n geboude boog in ‘n tuinmuur wat lei na ‘n afgesonderde en dig begroeide ruigte waar ‘n mens in privaatheid en stilte kan vertoef.  Ander kere is die boog deel van die ingang van ‘n droommooi huis – dalk ‘n rooibaksteen tradisionele styl of met Frans provinsiale rofheid of Italiaanse klassieke verwaarloosde oud-wêreldsheid.  Ons verbeelding is onbeperk en ek geniet die vryheid van beelde wat die mooiste van ons wêreld in my kop kan opdis.  Ons verbeelding is onder beheer van die Heilige Gees om in die onsienlike te “sien” en ons geloofsprentjie geestelik tasbaar te maak.

Die werklikheid is dalk baie ver van die gedagte-prentjie.  Dit is juis waarom die kuier in my kop so ‘n heerlike instrument van plesier is, waarmee ek vir myself ‘n hele wêreld kan voorstel .  Ek maak altyd prentjies as ek lees; net so as ek die Bybel lees.  Dit is nie moeilik om met die argeologiese herstrukturering in die antieke tyd in te “kyk” en ‘n redelike voorstel te maak van die reuse taak van die terugkerende bannelinge in Esra en Nehemia.

Die land het na sewentig jaar nog steeds die littekens van verwoesting gedra en die stad Jerusalem se heel belangrikste elemente: die muur en die Tempel was ‘n skerp herinnering aan ‘n wrede beleg en ‘n bloedige nederlaag teen Nebukadneser, die Babiloniër. Soos ons gesien het in die reeksie oor Nehemia, het die Persiese heerser, Kores, met uitsonderlike en wonderbare goedgesindheid, Nehemia toegelaat om die muur te herbou.  Die magtige Babilonië is deur die Mede en Perse oorwin. Na die Meed, Darius (onthou die storie van Daniël in die leeukuil) heers Kores nou oor die uitgebreide ryk.  Die muur is in ‘n rekordtyd van 54 dae herbou.

Die volgende taak was die Tempel.  Die struktuur wat deur Nebukadneser verwoes is, was die Tempel van Salomo.  Die gebou was een van die wonders van die antieke wêreld. Die weelde, prag en praal was alombekend.  Musikante het vier en twintig uur van elke dag die Here aanbid.  Dit was die kulminasie van die visionêre uitkoms en opheffing van ‘n slawevolk na die hoogtepunt van die Hebreeuse beskawing.

Die bannelinge het hierdie triomfantelike geskiedenis van uitkoms uit Egipte en die historiese begeerte om hulle God te vereer met die beste moontlik in hulle harte bewaar met die hoop om die grootse glans en magtige oorheersing van die Hebreeuse volk te herstel.

Die mense en materiaal tot hulle beskikking in die verwoeste Jerusalem is genoeg om enigeen moedeloos te maak.  Met die glansryke vertellinge van die Tempel van Salomo voel hulle dat daar geen manier was om die eertydse glorie te herstel.

Wat is dan die oplossing as ‘n taak so onmoontlik en hopeloos lyk?

Die antwoord is in die mond van die profeet.  Sagaria en sy visioene word deur die Here opgerig om die bannelinge in hulle taak te bemoedig.

Net so vandag is ons gemeenskap in die greep van verwoesting.  Daar is geen morele maatstaf of filter nie.  Daar is selfs nie eers meer ‘n ordentlikheids-filter nie. Enigeen spoeg sy woede en haat op die banaalste manier ooit uit.  Die openbare domein is ‘n speelveld vir die grootste boelies met woord en daad. Plakkate in optogte en byeenkomste spel die  magtelose woede van ‘n reeks brandende geskille uit.

Lees maar die hoofopskrifte van enige nuuskanaal en jy sal ervaar hoe die weerloosheid van die individu jou gees bedruk.  Die slegte nuus is net te veel; die vernietiging van mens, dier, omgewing en waardes net te groot.  Christenwaardes is veral onder skerp aanval.  Waar Christene nie fisies wreed vir hulle geloof vervolg word nie, word alles waarvoor Jesus geleef en gesterf het, afgebreek en afgemaak.

Hoe sal ons weerstand bied en waar sal ons hulp vandaan kom?

Presies soos Serubbabel en die bannelinge moes hoor om nie die dag van klein begin te minag nie, moet ons dit aangryp vandag (Sagaria 4:10).  Ons uitkoms is in die woorde van die profeet in ons midde.  Ons het die Woord van God in ons hand.  Luister en leef:

Toe sê hy vir my: “Hier is die boodskap van die Here aan Serubbabel: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige

 Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.  (Sagaria 4:6, OAB)

Dit is nie woorde van geweld nie, nie groot missiele en oorlogskepe of  grootmond openbare figure wat elke nou en dan die aftog moet blaas in ongerealiseerde ideale wat die stryd om behoud van ons gemeenskap sal wen nie. Dit is die krag van die Heilige Gees binne-in elke kind van God in die onsigbare koninkryk van Jesus in hierdie gebroke wêreld.

Hoe sal ons weet dit is die oplossing?  Die woorde is gewaarborg in die mond van die spreker – die Here van die leërskare, die Here die Almagtige.

Dit is Hy wat in Jesaja 52:6 sê:

Daarom sal my volk my Naam leer ken; daarom sal hulle weet op dié dag dat dit Ek is wat spreek: Hier is Ek!

Die waarborg is in sy NAAM.  Ons weet met wie ons te doen het.  Ons weet alles is oop en bloot voor hom met wie ons te doen het.

God means what he says. What he says goes. His powerful Word is sharp as a surgeon’s scalpel, cutting through everything, whether doubt or defense, laying us open to listen and obey. Nothing and no one is impervious to God’s Word. We can’t get away from it—no matter what.  (Hebrews 4:12-13, The Message)

Hy is die enigste Regter, die wonderbare Raadsman, die Prins van Vrede in die oorlogsone van skandelike buitensporigheid en vyandskap in ons gemeenskap.

In Jesus kan ons die aanslag van woede-woorde in die moderne katterige kultuur afweer en antwoord met liefde en genade.

Dit is die krag van die sluitsteen-woorde: Genade, genade.

Teen-intuitief  en in kontras met alles om ons, sal ons marsjeer onder die kenteken: Genade!

Genade is nie passief nie.  Genade is aktiewe inspirasie wat opbou en aanspoor.   Dit is ‘n lewe wat gerig is op volle oorgawe aan die kragtige beginsels van die Heilige Gees.  Hy sal ons herinner aan alles wat Jesus gesê en gedoen het, sodat ons die Tempel van aanbidding in ons gemeenskap herbou.

Die woord genade spreek van guns, onverdiende simpatie en liefdevolle aksie tot voordeel van ander. Genade bring mense tot bekering en belydenis (Sagaria 12:10).

Die Heilige Gees word genoem die Gees van Genade (Hebreërs 10:29).

Dit is ons krag vir alles in alles.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s