199. Praat met die berg!

Ek het gedink ek weet wat genade is.  Ek het al daaroor geskryf.  Ek kan verwys na ‘n reeksie oor die Sluitsteen in Bodemklippe nommer 43-45. Dit was so ‘n pragtige konsep toe ek dit bestudeer.  Die sluitsteen wat die finale steen in ‘n pragtige ronde boog is, waarop die woord: genade uitgemessel is.  Dit is die opskrif, ‘n blywende kenmerk van ‘n lewensboog.  Ek onthou hoe ek myself ‘n pragtige klip-geboude boog oor ‘n deur voorgestel het en geweet het dat almal wat by my lewensdeur inkom, die woord: genade daarop moet sien en beleef.

Een ding het ek al van die Woord van God geleer.  ‘n Mens kan nooit die vele fasette of die mooi woord: veelkantigheid, van die Skrif onderskat nie.  Daar is altyd iets nuut om te leer.  In die afgelope weke het die Skrif in Sagaria 4 weer onder my aandag gekom in ‘n splinternuwe aspek wat my so inspireer.  Kom ons lees.

Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.

 Wie is jy, groot berg? Voor Serubábel sal jy tot ’n gelykte word! En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom! (Sagaria 4:6,7, OAB)

Dit is belangrik om hierdie gedeelte in die Ou Afrikaanse Bybel te lees want die ganse betekenis en simboliek is verlore in die Nuwe Afrikaans Bybel. “Genade” is ‘n woord wat ryk aan betekenisnuanse is.  Dit word in die NAB met “mooi” vertaal en ek veronderstel dit is om die konsep van tevredenheid met die groot taak wat voltooi is uit te druk.

Serubabel het ‘n reuse taak gehad om die Tempel te herbou nadat die bannelinge uit Babilon teruggekeer het.  Dit is pragtig hoe die aanmoediging vir die reuse taak in die tiende versie verwoord word:

Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie.

Enige reuse projek begin klein, miskien op ‘n papier met ‘n plan, lysies en die volgorde van projekbestuur voordat ‘n klip beweeg word. Jerusalem lêin puin.  Dit is die hartseer van Nehemia en die wonderwerk van die Persiese koning wat aan Nehemia die toestemming en toerusting gee om die muur van Jerusalem te herbou.  Nehemia sit die altaar weer in plek om die aanbidding te herstel, maar die Tempel om die altaar lêsteeds vervalle en vernietig.  Dit is die toestand nadat Nehemia se projek om die muur te herbou in ‘n rekordtyd van 54 dae voltooi is.

Volgende was die Tempel.  Die Tempel van Salomo was oral in die antieke wêreld bekend as ‘n ‘n wonder van argitektuur en weelde.  Dit was bykans onmoontlik om die prag en praal van die oorspronklike Tempel te herstel en die projek sneuwel amper by die blote gedagte aan die grootsheid van die taak.

Sagaria word deur die Here geroep om die tempelbouers te inspireer met die profetiese Woord van God.  Dit is presies waar mens vandag nog moed en uitkoms kry.  Sagaria se pragtige visioene is insig in die onsienlike realm om die grootheid van God te beskryf sodat die probleem in die sienlike realm in die perspektief van God se krag gereduseer word tot hemelse proporsies. Niks is onmoontlik as mens kyk hoe God kyk.  Dit is die perspektief wat die profeet bring.

Die Brenton Septuagint Vertaling het ‘n interessante variasie op Sagaria 4:7.

[Die Septuagint is die vertaling van die Ou Testamentiese Joodse geskrifte uit Hebreeus na Grieks wat in die derde en tweede eeue voor Christus deur Joodse geleerdes vir die Grieke gedoen is en later, na Jesus, deur die Griekse Christene as die Ou Testament aanvaar is.  Sir Lancelot Charles L Brenton het die Septuagint in 1844 in Engels vertaal.]

Who art thou, the great mountain before Zorobabel, that thou shouldest prosper? whereas I will bring out the stone of the inheritance, the grace of it the equal of my grace.

Op daardie sluitsteen staan ons erfenis geskryf – genade wat met God se genade beskryf word. Dit is kragtige woorde.

Hoe kan ons dan weet dat genade ‘n krag is wat in ons guns werk?

 Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal. (Handelinge 4:33)

God se genade het die apostels kragtig gemaak.  Die realm waarin hulle die grootste taak van die ganse geskiedenis van die mensdom moes aanpak, is deur genade gekenmerk.  Die wankelrige begin van die Christendom in die handelinge van die handjievol volgelinge wat op Pinksterdag deur die uitstorting van die Heilige Gees bemagtig en bekragtig is, was in enige menslike terme heeltemal onmoontlik. Die kern van hierdie stelling is natuurlik dat die vestiging van die Christendom nooit in menslike terme beskryf kan word nie.

Die Heilige Gees is die hoofspeler in hierdie verhaal.  Sy werking maak al die verskil.  Die Heilige Gees is die krag van die genade van God.  Hy is die onsigbare aandrywingsmag wat die onmoontlike moontlik maak; wat die berg voor Serubabel ‘n plein maak.

‘n Mens kan nooit die krag van die werking  van die Heilige Gees in ‘n lewe of ‘n situasie onderskat of minag nie.  Die Heilige Gees skuif die berg in die onsienlike realm SONDER dat jy sien.  Hy is die asem van God, die lewegewende wind.  ‘n Mens sien nie asem nie,  Die gebrek daarvan is dood.  ‘n Mens sien ook nie wind nie – net die effek daarvan.  Dit is die punt van die onsienlike realm.  Daar gebeur die dinge wat jou lewe direk impakteer en wat al die verskil tot jou voordeel maak, sonder dat jy sien of selfs weet presies hoe dit uitwerk.

God is goed en Hy wil goeie dinge vir jou doen – alles dinge wat tot jou voordeel sal uitwerk op maniere waarvan jy nooit eers sou kon droom nie.  Dit is sy karakter soos beskryf in Exodus 34: 6:

Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.

God is liefde – jy het dit al baie gehoor.  Hy doen niks behalwe uit die bron van liefde.  Dit is sy karakter en wese.  Hy is die bron van alles wat goed is.

Glo dit  – al voel dit nie so nie.  Die Heilige Gees is nie ‘n gevoel nie.  Hy werk kragtiglik en op grond van ‘n verhewe plan sonder dat jy dit “voel”.

Dit is hoe CS Lewis dit stel:

It is quite right that you should feel that “something terrific” has happened to you (It has) and be “all glowy.”  Accept these sensations with thankfulness as birthday cards from God, but remember that they are only greetings, not the real gift.  I mean, it is not the sensations that are the real thing.  The real thing is the gift of the Holy Spirit which can’t usually be—perhaps not ever—experienced as a sensation or emotion. The sensations are merely the response of your nervous system.  Don’t depend on them.  Otherwise when they go and you are once more emotionally flat (as you certainly will be quite soon), you might think that the real thing had gone too.  But it won’t. It will be there when you can’t feel it.  May even be most operative when you can feel it least.

 

CS Lewis: Words to live by. [My beklemtoning]

 

 

 

 

 

 

 

 

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s