[Johannes 17]
Ons het aan die einde van die lang opsommings van Jesus se gesprekke met Sy dissipels gekom. In hierdie hoofstuk bid Hy vir hulle. Dit is merkwaardig dat Johannes hierdie gebed in soveel detail neerskryf. Dit is duidelik dat Jesus se woorde ‘n groot indruk op hom gemaak het. Die gebed het deel gevorm van die kosbare woorde van Jesus wat hy in sy hart bewaar het.
Ons weet ook dat die Bybel onder die inspirasie van die Heilige Gees geskryf is en dat die Gees herinneringe verfris, sodat Johannes dit kon neerskryf. Ons vertrou die Woord van God ten volle. Die Skrif is ‘n openbaring van wie Jesus is en in Hom sien ons die hart van die almagtige Vader sowel as alles wat ons nodig het om ‘n lewe van oorwinning hier op aarde te leef.
[Ek verwys weer na die uitgebreide navorsing oor die wonder van die Bybel van Josh McDowell in sy boek: Evidence that demands a verdict.]
Terug by Johannes 17.
Dit is die gebed vir alle tye wat oor eeue strek om ons hart te raak, om ons te inspireer en te bemoedig. Dit is Jesus self wie vir ons bid.
Kan jy net vir ‘n oomblik stil word en jou verbeelding gebruik om hierdie grootse waarheid ‘n werklikheid te maak? Dink aan Jesus langs jou, Sy hand op jou skouer in gebed. Dit is moeilik om ‘n prentjie te “maak”, maar ek is ‘n visuele persoon en het ‘n geloofsprentjie nodig. Ek dink aan Jesus as die mooi mens wat ek in my Kinderbybel so lank gelede leer ken het. Ek “sien” Hom dikwels iewers in my huis by my sit. Hierdie oomblik “sien” ek Hom opkyk en sê, Vader ek lig Ansophie voor U troon op. Net om hier te sit en dit te skryf, is oorweldigend.
Dit is belangrik om te weet dat Jesus wil hê dat alle mense gered word. Hy bid vir jou!
So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mensen gered word en tot kennis van die waarheid kom.(1 Timoteus 2:3,4)
Die klimaks van Jesus se lewe was die kruis.
Die geskiedenis bewys dat ‘n hele aantal mense se dood aandag getrek het. Hoe en wanneer hulle gesterf het, het hulle oortuigings bewys. Daar by die kruis het die Romeinse soldaat in ‘n oomblik van dramatiese oortuiging uitgeroep. Jesus was ‘n magneet vir mense in Sy lewe, maar ook in Sy dood.
Die kruis was die voltooiing van Sy werk op aarde. Hy het bewys dat daar geen beperking aan God se liefde is.
Hy het in volle gehoorsaamheid die kruisdood gesterf. Die kruis was nie die einde nie. Die opstanding was die volle glorie van die Vader. Die mens het sy wreedste en slegste uitgehaal en God het die grootste oorwinning oor boosheid ooit, daaruit laat voortkom.
Jesus praat oor die ewige lewe.
Die Grieks is aionios wat nie net voortdurende lewe aandui nie, maar eerder die kwaliteit van lewe. Net God kan die ewige lewe bewerkstellig en daarom is die gawe van die ewige lewe ‘n God-lewe, reeds hier op aarde voor die dood.
Om God te ken was een van die hooftemas in die Ou Testament. Kennis van God was die hoogste lewensdoel.
Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.(Spreuke 3:6)
Soos waters die seebodem bedek, so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word.(Habakkuk 2:14)
So sê die Here vir Israel: Vra na my wil, dan sal julle lewe! (Amos 5:4)
Intellektuele kennis van God sal wys hoe God is. Dit kan al die verskil maak. Die mees primitiewe mense het geglo dat daar ‘n versameling gode in elke boom, rivier, berg en rots is. Al hierdie gode was vyandig en het vrees in die mense gewek. Die gode moes konstant met offers gekalmeer word. Sendelinge vertel van die groot verligting van mense wat een God aanvaar en hoor dat Hy goed en liefdevol is. Jesus is die wonder-voorbeeld van God se hart.
Om te ken beteken intieme kennis en is dikwels in die Bybel gebruik om seksuele omgang aan te dui (Genesis 4:1). Kennis tussen ‘n man en vrou is die mees intieme. Hulle word een vlees. Een vlees impliseer ‘n eenheid in hart en siel. Om God te ken is om ‘n intieme verhouding met Hom te hêen nie net intellektuele kennis nie. Dit is die misterie van die intimiteit van seksuele omgang. Dit is slegs in Jesus met die werk van die Heilige Gees moontlik.
Jesus wys ons die krag van die Vader se naam. (17:6-8)
- ‘n Naam was baie belangrik in Bybelse tyd en die Joodse kultuur in die tyd van Jesus. ‘n Naam het die karakter van ‘n persoon weergegee. Psalms 9:10 verklaar dat diegene wat God se naam ken, hulle vertroue in Hom sal stel. Net deur Sy naam sal hulle Sy karakter en aard ken. (Psalms 20:7; 22:22)
Daardie dag sal my volk my Naam bely: dat Ek die Here is, dat dit Ek is wat sê: Hier is Ek!(Jesaja 52:6)
Jesus sê dat die wie Hom gesien het, die Vader gesien het. (Johannes 14:9)
- God se naam was so heilig, dit is nooit gebruik nie. Net die hoë priester het een maal per jaar op die groot Versoendag (Yom Kippur) in die Allerheiligste ingegaan en die naam van God genoem (YHWH – Yahweh).
Dit was ‘n woord sonder vokale in Hebreeus. Onder die YHWH het hulle Adonai geskryf sodat die persoon wat dit voorlees Adonai kan lees en nooit YHWH sênie. Dit is Jehovah in Engels.
In die tyd van Jesus was God so heilig en ver weg dat gewone mense nooit oor Hom gepraat of gedink het. Jesus het die Vader se naam op elkeen se lippe geplaas en Hom voorgestel as iemand wat net ‘n fluistergebed ver is. Hy het hulle geleer om Hom pappa te noem. Dit was ongehoord. Hulle het nog nooit aan God as ‘n pa gedink nie. Vir die meeste was dit ondenkbaar, disrespekvol en godslasterlik.
Maar vir die wat dit aanvaar het, het die onuitspreeklike hulle geliefde, magtige Vader geword.
Jesus het God in alles gehoorsaam. Gehoorsaamheid is ‘n natuurlike gevolg in ‘n lewe wat Jesus aanneem. Gehoorsaamheid beteken om in onderwerping na Sy stem te luister en dit te leef.
Die dissipels is deur God aan Jesus gegee. Hy het nie gekies om net hulle te roep nie, maar hulle het die roepstem geantwoord. Slegs die wat op Sy stem reageer kan in die spesiale verhouding met Hom leef.
Ouers kan soveel drome vir hulle kinders hêen alles doen om hulle sukses te verseker. Die kinders het ‘n keuse. Hulle kan alles verwerp en wegloop. Ons kies ons toekoms. Ons het vrye wil. Dit word nooit op ons afgedwing nie, maar ons sal keer op keer die geleentheid hêom God as ons verlosser te kies.
In Sy gebed stel Jesus Sy vertroue in die toekoms. Hy is nooit neerslagtig oor die toekoms nie. Met die luuksheid van terugblik weet ons hoe moeilik daardie eerste eeu van die Christendom was. Jesus het dit geweet, maar Hy het geweet Sy Vader is almagtig.
Jesus het geen twyfel gehad dat die mense vir wie Hy bid die boodskap sou uitdra.
God kyk nooit neer op ‘n klein begin nie (Sagaria 4:10). Hy het net elf mense om Hom gehad na drie jaar se bediening. Hy het Sy Vader geken en die volheid van Sy glorie. Hy het geen twyfel in die sukses van Sy lewe gehad nie.
Hy het Sy vertroue in daardie paar mense geplaas. Dit is amper ondenkbar dat so ‘n grootse taak op die skouers van daardie paar gerus het.
Is dit nie ‘n wonderbare aanmoediging nie?
Jesus het nooit teruggedeins vir menslike swakheid en die boosheid van die wêreld nie..
[Volgende keer gesels ons verder vanaf vers 9 van hoofstuk 17]
Hello — weereens lekker om die woord te studeer — die woord is inderdaad n padkaart vir die lewe — alles wat ons noodig het is geskrywe
Die probleem is — mense ken/ lees nie die word nie — en ook besef hulle nie — MET WATTER GROOT ALMAGTIGE GOD HULLE TE DOEN HET NIE !!
Liefde en sterkte xxx