159. Weet dat jy weet – geen twyfel.

[Johannes 7]

Soveel keer het ek al gewonder hoe dit sou wees om in die tyd waarin Jesus op die aarde was, te geleef het. Ek moet my verbeelding gebruik om die werklikheid te bedink. Hoe sou dit wees om die praatjies oor Hom te hoor? Miskien sou ek te bang wees om teen die kerkleiers te wees. Sou ek te bang wees om openlik vir Hom te gaan luister? Die gewone mense van daardie tyd was vasgevang in ‘n harde lewe om ‘n bestaan te maak onder die politieke ystervuis van die Romeine met swaar belasting en die hoë vereistes van die kerkleiers wat absolute gehoorsaamheid verwag het.

Daar was ‘n ou liedjie in ons kerk wat die kinders gesing het: “Ek wens ek was daar”. Ek weet nie altyd nie. Is dit dalk makliker om die luuksheid van historiese terugblik te geniet?

Noodwendig is die volgende vraag: Wat het Jesus verwag? Het Hy verwag dat mense die gemeenskap en kerk verloën en Hom volg self al sou dit hulle lewe kos? Dit is nie eers die kernvraag nie. Wat daarvan as ek Hom ontmoet het en Hy sonder twyfel die antwoord was op alles wat ek nog altyd gehoop het?

Dit is die antwoord wat alle ander reaksies uitwis. Geen mens het ooit uit die teenwoordigheid van Jesus gegaan sonder ‘n daadwerklike besluit oor Hom nie. Net soos vandag, vereis Sy bestaan ‘n antwoord. Neutraliteit is onmoontlik. Wat mens sou beskryf as ignoreer kom neer op weerstand teen die trekkrag van die Heilige Gees. Nou, net soos toe is die rug wat jy draai op die Seun van God, jou lyftaal van verwerping, selfs al dink jy jy maak geen besluit oor Hom nie en verklaar hovaardig dat diegene wat in sprokies wil glo, dan maar hulleself tevrede hou met storietjies van Jesus.

Wat is die waarheid oor Hom? Hoe sal jy weet?

Daar is net een manier. Dit is die bron van waarheid oor al die eeue heen. God is waarheid en Hy is die enigste bron daarvan. Daarom is die enigste manier om waarheid te ken, die Heilige Gees wat die asem van God self is.

Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. (Johannes 16:13)

God het ons onfeilbare toegang tot die waarheid gegee. Toe Jesus op aarde was het die Heilige Gees in harte gewerk net soos wat Hy vandag ook doen.

In Johannes 7:15-136 beskuldig hulle Hom van ‘n gebrek aan ondderrig. Hoe kon Hy dit waag om Moses aan te haal? Wat het Hy in elk geval van Moses geweet? Hulle wou Hom toets met aardse akademiese vereistes.

Jesus het gesê dat Sy bron is die wysheid van God. God is die enigste bron van wysheid. (12:49; 14:10)

All great productions of the human mind and spirit are given by God. If we glory in being self-taught, if we claim that any discovery we have made is our own unaided work, we are, in the last analysis, glorifying only our own reputation and our own selves. The greatest of men think not of the power of their own mind or hand; they think always of the God who told them what they know and taught them what they can do.  [William Barclay – Daily Study Bible]

Die persoon wat die wil van God bestudeer sal Sy verordeninge verstaan. Dit is nie ‘n teologiese waarheid nie. Dit is ‘n universele waarheid. Ons leer deur te kies en dan te doen. As ons wag om alles te verstaan voor ons tot aksie oorgaan, sal ons nooit begin nie.

In hierdie debat tussen Jesus en die kerkleiers, antwoord Jesus nie die aanklagte van die skare nie. Hy erken hulle bloeddorstigheid en opgesweeptheid. Hy antwoord ook nie die terloopse opmerkings wat aan Hom gemaak word nie.

Die wet bepaal dat die besnydenis op die agste dag moet plaasvind. Veronderstel die agste dag is die Sabbat. Indien die Sabbatsreëls met besnydenis “gebreek” kan word, kan Hy sekerlik dit “breek ” met genesing?

Jesus argumenteer omdat Hy graag mense wil laat dink en dieper sien. Hy wil nie hê dat hulle oppervlakkig oordeel nie. (Matteus 21:23-27)

Die skare is verstom oor sy dapper optrede. Hulle het geweet dat vyandskap met die kerkleiers groot moeilikheid kan bring. Dit het sommige oortuig dat Hy wel die Messias is.

Waar kom Hy vandaan? Almal het geweet Hy kom uit Nasaret. Die populêre mening was dat niemand sal weet waarvandaan die Messias kom nie. Almal het geweet Hy moet in Bethlehem gebore word, maar sy grootword moes ‘n misterie bly. Jesus het nie by hulle bygelowe en misterie stories ingepas nie.

Hulle het God in die abnormale gesoek. Hulle kon nie aanvaar dat Hy deel van die alledaagse is nie. God is juis in elke dag se detail. As Hy net in die abnormale en misterieuse sou manifesteer, was die wonder van God as ons Vader in ons alledaagse lewe, verlore. Hy is nooit afwesig nie.

Jesus het geantwoord met twee stellings: Hulle weet waar Hy vandaan kom, maar Hy kom ook van God. Hulle ken God nie, maar Hy ken God.

Dit was eintlik ‘n vreeslike belediging om kinders van God te vertel dat hulle nie hulle God ken nie. Daarmee saam het Hy aanspraak gemaak op baie unieke kennis van God wat uit Sy unieke verhouding met God voortspruit.

Jesus se “oortreding” het al hoe groter geword. Nie alleen was Hy ‘n verbreker van die wet nie, Hy was ‘n ketter. Hy het gepraat soos geen mens ooit toegelaat is om te praat nie.

Tog het sommige uit die skare wel geglo. Hulle het Sy wonderwerke gesien en Sy gesag erken. Dit het die leiers nog kwater gemaak. Hulle het soldate gestuur om Hom gevange te neem. Hy het gesê hulle sal Hom nie vind nie. Jesus was ten volle in beheer van Sy bediening. Sy kruisdood was op die hemelse kalender afgemerk. Dit sou nie ‘n oomblik voor die bepaalde tyd gebeur nie.

Die mense het met aardse perspektief gekyk, wanneer Hy van hemelse dinge soos die opstanding en hemelvaart gepraat het. Hulle het gedink Hy sal weggaan saam met die Jode van die Diaspora of by die Grieke gaan wegkruip.

Kon daar ‘n dag aanbreek waar ‘n mens Hom sou soek en Hom nie vind nie? Hy het belowe om Hom te laat vind. Elkeen wat Hom soek met ‘n opregte hart, sal Hom vind. (Jesaja 55:6; Matteus 7:7)

By die graf het die engel gesê: Hy is nie hier nie. Dit was die enigste tyd in die geskiedenis van die mensdom waar daardie woorde gegeld het en dit was goeie nuus. God is oral en alom beskikbaar vir die hart wat uitroep. Moet nooit jou hart se twyfel glo dat Hy jou gebed ignoreer nie.

Toe Jesus opvaar na die hemel, moes hulle wag vir die Heilige Gees (Handelinge 1) om die missie van Sy bediening voort te sit. Die Heilige Gees het verdeel en op elkeen gaan rus, net soos vandag.

Deur Sy Gees, God se asem, is Hy in en om ons. Hy sal ons in alle waarheid lei. Dit is hoe ons weet dat ons weet.

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s