138. Die toneel is voorberei – die roep gaan uit.

[Johannes 1]

Dis eers diep in hoofstuk een wat die storie begin. Johannes maak seker dat ons die tydloosheid en ewigheidswaarde van hierdie verhaal begryp – waarlik die wonderlikste storie ooit. God het Sy geskape wesens so lief dat Hy een van hulle word om Homself as offer te bring om hulle te red.

Johannes is noukeurig om die eerste week van Jesus in die fyn detail weer te gee.

[Die Skrif is soos volg: eerste dag – Johannes 1:19-28; tweede dag – Johannes 1:29-34; derde dag – Johannes 1:35-39, vierde dag – Johannes 1:40-42, vyfde dag – Johannes 1:43-51. Die sesde dag is oop en die sewende dag word beskryf in – Johannes 2:1-11.]

Daar is drie getuies tot Jesus se lewe: Johannes die Doper, die dissipels en die wonderwerke. Johannes die Doper stel sy eie posisie baie duidelik in Johannes 1:19-28.

Een van die belangrike spelers in hierdie storie is die Jode. Hulle is altyd in opposisie, in ‘n kruis-ondervragingsrol. Hulle word meer as 70 keer genoem. Hy vertel van hulle verwerping van Jesus. God bring saligheid wat hulle weier; Jesus nooi uit en hulle bied weerstand. Die hele Evangelie vertel van die liefde van God, maar waarsku teen die verwerping van daardie liefde.

Johannes die Doper was die seun van Sagaria, ‘n priester (Lukas 1:5). Die priesterskap was ‘n erfposisie oorspronklik van Aäron af. ‘n Persoon is ‘n priester gebore of hy daarvan gehou het of nie.

Die Fariseërs was geleerdes in die Wet van Moses en het in streng ooreenstemming daarmee geleef, as voorbeeld vir die mense. Hulle naam beteken afgesonderd. Buiten die Fariseërs was daar die Sanhedrin, wat Jesus fyn dopgehou het. Hulle was ‘n raad van gemeenskapsleiers in elke stad van Judea. Hulle naam beteken saamsit. ‘n Belangrike deel van hulle funksie was om teen valse profete te waarsku. Hulle was besonder suspisieus oor enigiets nuuts en Johannes die Doper het nie binne die toegelate spektrum van profete geval nie.

Die Jode as ‘n nasie en hulle leiers het in verwagting van die Messias geleef. Hulle het ‘n majestieuse regeerder van vrede en mag verwag; ‘n nasionale kampioen wat hulle die heersers van die hele aarde sou maak; ‘n prins uit die stam van Juda en ‘n afstammeling van Dawid.

Soveel mense het oor eeue uitgeroep dat hulle die Messias is en groot onluste veroorsaak. Almal het geglo dat Elia sou kom om die Messias aan te kondig (Maleagi 4:5). Sommige het geglo dat Johannes die Doper die reïnkernasie van een van die ander groot profete soos Jesaja of Jeremia kan wees, al was reïnkernasie nie deel van die algemene geloofsbeginsels nie. Johannes die Doper het al hierdie titels en name oor homself ontken.

Johannes die Doper was ‘n ware pastoor en prediker. Hy het deurgaans die ware Koning uitgewys. Die prediker moet vergete wees en dit wat hy beklemtoon moet uitstaan. Die fokus moet altyd op Jesus wees.

Hoekom het Johannes gedoop?

Die doop was nie vir die Israeliete nie. Slegs vreemdelinge wat hulle by die Joodse geloof wou aansluit is gedoop. Die Jode het nie doop nodig gehad nie; hulle was alreeds kinders van God. Johannes het die speelvlak gelyk gemaak in antisipasie van iets besonders. Hy het Jode soos heidene behandel. Mense, uit al die moontlike vlakke van die samelewing, het na hom gestroom in die hoop vir iets kragtig en wonderbaar in die vernuwing van hulle geloof.

Onder die kruisondervraging van die Fariseërs het die Doper geantwoord:

“Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie.” (Johannes 1:26,27)

Hy kon nie ‘n meer nederige taak genoem het nie. Om skoenrieme los en vas te maak was ‘n slaaf se werk. Die Rabbi’s het gesê dat ‘n dissipel enigiets vir sy meester mag doen, maar nie sy skoene vasmaak nie. Johannes verklaar dat hy nie eers waardig is om Jesus se slaaf te wees nie. Deur dit te sê het hy die koning van Israel aangekondig.

Johannes was net besig om die weg vir Jesus voor te berei, soos wat elke prediker moet doen. Ons het dieselfde groot roeping as Johannes die Doper. Ons wys die pad na Jesus. Mense moet ons vergeet; ons moet onsself vergeet en die beeld van Jesus in fokus bring.

Dit is die ware toets van Woordbediening. Hoe duidelik is die woorde en werke van Jesus in ons kerke vandag? Dieselfde Johannes skryf die “toets” vir ware geloof in sy sendbrief.

Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is. Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is. En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is. (1 Johannes 4:1-3)

Waar is die duiwel die meeste aktief? In die kerk tussen die kinders van God. Daar wil hy die valse leer versprei, halwe waarhede wat lei na wettisisme en twyfel. Ons ken die WAARHEID – Jesus in persoon. BID dat die gawe van onderskeiding oor vooroordeel, vooropgestelde idees en wêreldse kultuur ons sal bewaar van valsheid. Ons moet die suiwer Evangelie soos Johannes die Doper verkondig:

Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! (Johannes 1:29)

In hierdie een stelling is daar vier beelde van Jesus:

  • Die Paaslam, wat in Egipte geslag is, toe hulle die bloed aan die deure gesmeer het in Exodus 12:11-13. Paulus bevestig dit in 1 Korintiërs 5:7.

 

  • Tydens die offers by die Tempel is duisende lammers geslag en die bloed teen die fondamente gesprinkel. Die lammers is spesiaal geteel vir die offerrituele en dit was daarde spesifieke herders wat die paaslammers opgepas het, wat die boodskap van Jesus se geboorte by die engelkoor gehoor het. Die lammers is deur die handelaars in die voorhof van die Tempel verkoop.

 

  • Die profete het die titel van Jesus uitgeroep. Ek was soos ‘n mak lam wat weggelei word om geslag te word. (Jeremia 11:19)

Soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie. (Jesaja 53:7)

  • Die stryd van die Maccabese teen die bose Antiochus Epiphanes rondom 163 vC was vars in die geheue van die Jode van daardie tyd. Die lam met horings was die simbool van die groot oorwinnaar as God se kampioen. Hy sou die oorwinning oor sonde in ‘n eenmalige stryd wen.

Johannes gebruik hierdie titel van Jesus 29 keer in die Openbaring.

Dit het een van mees geliefde titels van Jesus geword. In een woord som dit die liefde, opoffering, lyding en die oorwinning van Jesus alles saam op.

Kon enigiemand ooit bang wees vir ‘n lammetjie? Kon enigiemand ‘n lammetjie verwerp?

Jesus kom as ‘n mensbaba, die mees hulpelose nuutgebore wesetjie wat daar kan wees. Hy kom nie om te oordeel of te verdoem nie. Hy kom om te red. Dit is ‘n beeld van diepe kontras. Hoe kan ‘n lam meer wees as ‘n hulpelose skepsel wat versorg moet word? Jesus is die Lam van God wat in oorwinning die wêreld red.

Dit is ‘n beeld wat aandag trek juis in die geweldige kontras, die inherente dissonansie wat dit skep.

Dit is die grootste konfrontasie van denke ooit.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s