[Johannes 1]
Het jy al ooit jouself in die geskiedenis in verbeel? Waar sou jy geleef het in die dorpies van die Middeleeue, ‘n edelman in ‘n kasteel, ‘n ridder wat vir die hertog veg of dalk die hertog self? Dis redelik moeilik om as vrou te ambisieus oor die geskiedenis te dink, hoewel die geskiedenis vol sterk vroue was. Ek is beslis nie Joan of Arc nie! Vroue wat ek bewonder is selfs verder terug in die geskiedenis – Deborah in Rigters en Huldah in 2 Konings 22. Lees gerus.
Kom ons reis saam na die walle van die meer in Galilea waar almal gepraat het van ‘n man wat mense gesond maak, met die Fariseërs en Skrifgeleerdes argumenteer en na die armes uitreik. Kan jy jou die gepraat rondom die pleine en putte van die Judese dorpies voorstel? Miskien was jy ‘n suksesvolle besigheidsman in die visbedryf om die meer, waar jy die vars vis in sout ingelê het, om te verskaf aan die Romeinse goewerneurswoning in Caeserea of Herodes se paleis in Jerusalem.
Die afgelope Paastyd was ek in die kerk by ‘n preek oor Jesus se intog in Jerusalem op Palm Sondag. Op die skerm was ‘n pragtige foto uit een van die Jesus-flieks wat die gebeure uitbeeld. Terwyl ek na die mense om Jesus kyk, het ek skielik gewonder waar ek sou wees. Ek moet erken ek het ‘n lewendige verbeelding, maar ek het al verskeie kere ondervind dat die Heilige Gees beheer van my verbeelding neem om my geloofsbeelde te wys. Dit is onmoontlik vir my om te dink dat ek self in staat sou wees om dit uit te dink. Een van die mees kragtige geleenthede was toe ek van ‘n oorweldigende vrees verlos is, in die oomblik toe die Here vir my Sy voorsiening en beskerming wys.
Terwyl ek na die skerm staar, het ek vreeslik hartseer geword. Ek het myself nie daar voor met ‘n tak in die hand gesien nie. Ek kon net dink dat ek met my natuurlike supisieuse en huiwerige geaardheid, meer die agterhoede sou vorm en eers sien hoe hierdie ding uitspeel. In gebed wou ek die Here om verskoning vra dat ek so ongelowig sou wees in die werklikheid om Jesus. Ek het Maria Magdalena en Johannes se toewyding bewonder, wat ten spyte van groot risiko Jesus tot by die kruis gevolg het.
In daardie oomblik het die Heilige gees my van die teenoorgestelde gedagte oortuig. In my gees het ek Sy liefdevolle stem “gehoor” wat sê dat ek presies sou wees waar ek nou is. Ek was bewus van die wonderwerk van geloof, saligheid en geestelike insig in die misterie van God wat im my lewe die heel kosbaarste ding is.
Die stap om jou lewe aan Jesus te onderwerp, is ‘n koue rasionele besluit, gevolg deur die wonderwerk van wedergeboorte wanneer die Heilige Gees in jou innerlike wese woonplek opneem. Ek was vol vreugde oor die insig dat Jesus bonatuurlik in die lewens van mense openbaar word, toe net soos nou.
Vir my was dit ‘n oomblik van groot blydskap. Ek was sommer lus en skreeu Hosanna! Ek weet hoe lief ek Hom het en hoe kosbaar Sy woord vir my is, bo alles in hierdie wêreld. Deur die res van die diens het ek my eie intog in Jerusalem geniet, reg daar aan Jesus se sy.
Hoe het die mense geweet Hy is die Messias was hulle so lank verwag het? Dit is juis die tema van hierdie eerste hoofstukke van Johannes. Hy stel Jesus se saak soos ‘n advokaat in ‘n hof, met getuies en bewyse uit die ou geskrifte wat die titel Messias, onderskryf.
1:32-34
Verder het Johannes getuig: “Ek het duidelik die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly. Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.”
Die geleentheid van Jesus se doop was vir Johannes die Doper ‘n diep en onderskeidende gebeure. Daar by die waters van die Jordaan het God Homself as ‘n drie-eenheid openbaar met ‘n stem uit die hemel, Jesus in die doopwater en die Heilige Gees in die vorm van ‘n duif wat op Hom afdaal. Dit was iets wat net die geestesoog met geïnspireerde insig kon sien.
Die doop (Grieks = baptizein, wat beteken om te onderdompel) van Jesus was ‘n kernbelangrike gebeurtenis.
Die duif was ‘n heilige dier. Dit is nie gejag nie en nie geëet nie. Die simbool van ‘n duif was iets baie bekend en geliefd. Die duif het aan Noag die olyftak gebring – ‘n simbool van God se voorsiening. (Matteus 3:16)
Dit was met Jesus se doop dat die Heilige Gees op Jesus kom rus het, op ‘n manier wat vir Johannes die Doper duidelik was.
Die Hebreeus vir Gees is ruach en dit beteken wind. Die Gees van God gee ons drie dinge:
- KRAG: dit word in Handelinge 2 as ‘n geweldige stromwind beskryf.
- LEWE: die bestaan van ‘n mens is deur die asem van God.
- GOD: dit is die manier waarop ons hier op aarde ‘n verhewe, goddellike lewe kan lewe.
Die Gees het die profete geïnspireer. (Miga 3:8,Jesaja 59:21,Jesaja 61:1, Esegiël 36:26-7)
Die Gees bring God se waarheid, gee die mens insig om die waarheid te sien en die vermoë om die waarheid te leef en te verkondig. Vir die Jode was dit nie nuut nie.
Johannes gaan uit sy pad om te verklaar dat die Gees van God op Jesus bly. Dit is nie tydelik nie, dit is ewig. Net soos dit vir ons ‘n ewige inwoning is. Die Heilige Gees deurweek ons wese om die Woord te verstaan en ‘n gees-beheerde lewe te leef. Dit is waarlik God se vuur in ons binneste. ‘n Geesgebed is ‘n uitroep van die hart met geen gedagte aan teologie of liturgie nie, Dit is ‘n wonder-ontmoeting met God self in die privaatheid van die binnekamer soos Jesus self leer. (Matteus 6)
Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here. (Jesaja 11:2)
Dit was die belofte oor die Messias. Net so word ons die belofte deelagtig in ‘n Geeslewe.
1:35-39:
Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom. Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!” Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg. Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – dit beteken leermeester – “waar gaan U tuis?” Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis gaan. Dit was omtrent vieruur die middag, en hulle het die res van die dag by Hom gebly.
Johannes die Doper wys na Jesus as die groot leermeester, terwyl hy weet dat sy dissipels Jesus gaan volg. Hy het geen jaloesie gevoelens nie. Sy oog was op die visioen van die Messias, waarvoor hy die mense voorberei het.
Dit is ‘n ware dissipel – sy oog bly op die visie en die hoër roeping van die Koninkryk van God.
Wat is die visie vir jou lewe?
Neem ‘n oomblik en vra die Heilige Gees om jou gedagtes te inspireer. Skryf dit neer. (Habakkuk 2:15)
Jesus draai om en praat met die volgelinge. Dit is Sy karakter – Hy nader tot ons, as ons die eerste stap gee. Hy maak deure oop. (Jesaja 45:1 en Openbaring 3:8)
Jesus wat omdraai is ‘n pragtige voorbeeld van God se initiatief. Hy kon ons tegemoet, net soos die pa in die storie van die verlore seun. Maak die prentjie van jou hemelse Vader wat jou in Sy arms opvang.
We seek God when He has already found us – Augustinus.
Die kernvraag is natuurlik: Wat soek jy?
Jou begeerte moet uitgespreek word. Die mense wat Jesus volg kan dalk wettiese argumente soek, of nasionaliste wat ‘n geweldadige oplossing soek. Hulle was nederige mense wat hulle Messias gesoek het. Hulle het heel moontlik verward en onwaardig gevoel en ‘n diepe sielsleemte ervaar. Dit is die perfekte plek om te wees – donker lewens wat by die Lig uitkom om vir altyd te verander.
WAT SOEK JY?
Soek jy veiligheid en materiële voorspoed? Dis nie verkeerd nie. In die geestelike realm tel dit as lae ambisie. Dit is onbevredigend om God te soek net as ondersteuning vir jou eie doelstellings in die lewe. Dit is heeltemal anders as jy Hom soek om waarlik jou lewe in Sy te lig te beskou.
Die dissipels vra: Waar woon Jesus?
Hulle noem Hom rabbi, wat letterlik beteken: my groot meester. Dit was ‘n titel van respek vir ‘n wyse man. Johannes skryf aan die Grieke en gebruik die woord vir onderwyser.
Wat beteken hulle vraag?
Hulle wil nie die kort antwoord hê nie. Hulle wil sit en lank praat, baie vrae vra. Dit is nie net ‘n oppervlakkige nuuskierigheid nie. Hulle wil Hom ken.
Jesus antwoord: Kom saam en kyk.
Sy woorde was bekende woorde wat ‘n leermeester vir sy studente gesê het. Dit het beteken dat hulle saam ‘n pad van leer-ondervinding sal stap, verkieslik oor ‘n lang tydperk.
Johannes was sonder twyfel een van die dissipels waarvan hy skryf. Hy maak ‘n nota van die tyd – 4nm – net soos in ‘n dagboek. Hy dink terug aan daardie middag in Galilea toe sy lewe vir ewig verander het.