Wat sien jy as jy aan God die Vader dink? Kan jy ‘n prentjie vorm van Hom? Dink jy Hy en Jesus is soort van apart? Hoe sal jy die leer van die Drie-eenheid waarmee ons teologie ons Godheidskonsep bepaal, illustreer?
Kom ons bly in die laaste hoofstukke van Exodus in een van die mees dramatiese tonele van alle eeue wat ons gebed vir toekomstige geslagte sal bepaal.
Moses is in gesprek met God. Die Here sê dat Hy nie saam na die beloofde land sal gaan nie, met ‘n verwytende en teleurgestelde houding – amper vreemd vir die God van wonderwerkende genade waarmee hulle dusver te doen het.
“Trek nou hiervandaan af weg, jy en die volk wat jy uit Egipte laat wegtrek het…
Julle is so ‘n moedswillige volk dat Ek nie sal saamtrek na hierdie land wat oorloop van melk en heuning nie, want dan verdelg Ek julle op pad daarheen.” (Exodus 33:1,3)
Nou is die volk skielik Moses se volk. Hoe het dit gebeur? Die Here weet goed wat Moses kan dra. Hy is God se goeie vriend – onthou?
Die Here het direk met Moses gepraat soos ‘n man met sy vriend. (Exodus 33:11)
God is alwetend en staan buite tyd. Hy weet wat Sy verwyt in Moses se hart sal opwek sodat Moses vir die volk pleit met sy eie lewe op die spel.
Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.” (Exodus 32:32)
Moses tree op as ‘n ware profeet. Hy stel homself op tussen die volk en God. Wat ‘n ellendige gemors bring die gevolge van hulle sonde. God lyk teleurgesteld en kwaad op hierdie punt.
Moses reageer sonder vrees. Hy pleit vir die mense met die volle besef van God se woede en heiligheid. Hy gaan selfs sover om God te herinner dat hulle Sy kinders is en nie aan hom wat Moses is behoort nie.
Hy slaan sy tent buite die kamp op – ‘n simboliese skeiding van die sonde en boosheid van die kamp en die mense. Die mense wat genade soek, het ‘n geleentheid om hulleself van die sonde te onderskei. Waar Moses daar in die tent sit, is die wolkkolom oor die deur as ‘n teken van God se teenwoordigheid.
As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk.” (Exodus 33:13)
Selfs te midde van groot sonde en teleurstelling, is God daar by Sy mense. Sy teenwoordigheid is daar sodat almal die geleentheid het om te kom regmaak wat verkeerd is.
Hy is daar waar ‘n hart hom in opregtheid soek, om elke uitroep met guns en genade te antwoord.
GEBED: Wys my U genade sodat ek U ken en guns in U oë vind.
BEGINSEL vir ‘n lewe van uitnemendheid: Moses vorm vir die mense die beeld van God soos wat hulle dit moet onthou.
Hulle het God se teleurstelling en die gevolg van hulle sonde ervaar. Die goud van die kalf wat hulle gedrink het, is simbolies van die dodelike gevolge van ons dade.
God weet wat om hulle van Sy karakter te wys, wanneer Hy Homself aan Moses vertoon.
Maar die Here sê: “Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. (Exodus 33:19)
In hierdie oomblik van groot verwarring en hartseer, wys God sy goedheid.
God openbaar Homself en verklaar oor Homself:
Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. (Exodus 34:6)
Hierdie uitspraak kan opgesom word in die Hebreeuse woord , wat elke moontlik aspek van die verbondsbeloftes omvat. Toe die mense Moses vra hoe God “lyk”, toe antwoord hy met hierdie woord. Moses het God se karakter gesien, nie die uiterlike vorm nie.
Hy is die Bron van alles wat goed en waar is. Uit Sy karakter spruit Sy dade.
Hoe kan ons dan bid om in die teenwoordigheid van die Almagtige God te kan ingaan?
GEBED: As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede. Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses. (Psalm 34:18,19)
BEGINSEL vir ‘n lewe van uitnemendheid: Dit is net ‘n eenmalige oomblik – nie ‘n lewe van voortdurende skuld nie; eintlik die teenoorgestelde. Bely en stap aan in oorwinning. Belydenis is ‘n stap vorentoe, nie ‘n volgehoue bewussyn van skuld en onwaardigheid nie.
In gebed sal die glorie van God se goedheid jou bewussyn oorweldig. Jou lewe word bepaal deur die volle impak van Sy liefde vir jou.
Dit is die beeld van die Vader. “Sien” die pa van die verlore seun wat uitkyk vir jou tuiskoms en jou tegemoet storm met uitgestrekte arms…