115. Stad van lig en lewe.

[Openbaring 21]

Bodemklipvriende, ons het reeds gepraat oor ons hemelse gasheer. Dink maar aan die mees gesogte uitnodiging wat jy sou wou ontvang na die fees wat alles in jou lewe tweede beste maak by verre. Die heel beste wat jou geïnspireerde verbeelding kan opdink en ver, ver meer, wag vir jou in die hemelse Jerusalem.

Vir soveel jare sing die kerk met verlange na ‘n hemelse stad van lig en lewe. Ek het geen twyfel dat elke woord van elke lied vir ons sal waar word, met God se vermenigvuldiging in glorie en aanskoulikheid. Ons moet wel besef, dat ons die nuwe Jerusalem op aarde is. Ons is die kerk van Jesus en deur die Kruis ervaar ons nou reeds die lewe in die hemelse stad, die perfekte kubus, die Allerheiligste – die plek waar God woon by sy kosbare besitting – ons. Hoor wat is alles daar vir jou in die laaste hoofstuk van Openbaring.

Ons beweeg van buite na binne. Die rivier met die water van lewe is ‘n bekende beeld in die Ou Testament. Ons lees van die rivier in die Tuin van Eden (Genesis 2:10,18-16). Esegiël se tempel het ‘n rivier gehad (Esegiël 47:1-7). In Psalm 46:4 sing die psalmis:

…oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad, in die heilige woning van die Allerhoogste

Die profete het die fontein in die huis van God verkondig as ‘n seën by die koms van die Messias.

 Daardie dag sal daar volop wyn wees op die berge, oorvloed melk op die heuwels. In al die slote van Juda sal daar water loop, ‘n fontein sal uit die huis van die Here borrel en die Sittimdal natlei. (Joel 3:18)

In Sagaria (14:8) word die lewende water van Jerusalem genoem. Die simboliek van water is lewegewend. Dit is presies wat God met Sy kerk beplan. Die kerk, die nuwe Jerusalem, is die lewe en die hoop van die wêreld wat die goeie nuus van saligheid aan die nasies bring.

Vir ons weerklink die ware belofte deur al die eeue. Ons kan rus in die lewegewende fontein van God. In die woestyn het Moses die rots geslaan en die water het gevloei. Die rots is ‘n tipe van Jesus wat geslaan is met die kruisiging en die hemelse fontein van lewe ontsluit het. In ongehoorsaamheid het Moses die rots die tweede keer geslaan, toe hy met die rots moes praat. Net ‘n fluistergebed is nodig om die water te laat vloei. Die Kruis was eens en vir altyd. Sy kruisdood geld vir tyd en ewigheid.

 Hy wat rots in waterkuile verander, harde klip in fonteine. (Psalm 114:8)

Wysheid word dikwels in verband met water gebruik. (Spreuke 10:11, 13:14,14:27,16:22) God is die bron van alle wysheid en die fontein van die lewe. (Psalm 35:9).

In die woorde van Jesus self is die lewe van oorvloed wat van God af kom, beskikbaar vir die wat in Hom glo.

 Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ”(Johannes 7:38-39)

Die Boom van die Lewe wat in die Tuin van Eden staan, word in Genesis 2:8,9 en 3:6 genoem. Die rivier en die boom in die pragtige beskrywing van Esegiël se tempel is die natuur in God se hand wat alles voorsien wat ons nodig het. Die Boom van die Lewe is Jesus as Bron van alle lewe.

Weerskante op die wal van die stroom sal allerlei vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verlep nie en hulle vrugte sal nie opraak nie. Hulle sal elke maand dra, want die stroom se water kom uit die heiligdom. Die vrugte sal daar wees om te eet en die blare om genesing te bring.” (Esegiël 47:12)

Vir ons, die kerk, is die vrug van die Heilige Gees soos in Galasiërs 5:22 bespreek, die voeding van die Boom van die Lewe. In Jesus kan ons voorsien in die wêreld se behoefte aan die dieper waarhede wat genesing vir die nasies bring.

Geen vervloeking en boosheid kan die atmosfeer en die omgewing besoedel nie. (22:3-5). In Sy teenwoordigheid sien ons Hom van aangesig tot aangesig. Dit is die hemelse seën vir die rein van hart in die saligsprekinge uitgespreek. (Matteus 5:8)

Niemand kan God sien en lewe soos aan Moses gesê Exodus 33:20,23. Net in Christus is dit moontlik. Om God se aangesig te sien is om:

  • te aanbid in gees en waarheid – ‘n lewe van gehoorsaamheid.
  • ‘n lewe met die “merk” van God wat aan Hom uitsluitlik behoort.

Daar is geen duisternis en geen son en maan meer nodig nie. God self is die lig in die stad. Hy sal saam met Sy dienaars regeer.

Die laaste woorde (22:6-9) van enige dokument is belangrik. Die hoofstuk se einde het drie sprekers en belangrike punte word weer en weer aangehaal.

Die engele as interpreteerders van die goddellike wat Johannes aanskou het. Hulle bevestig die waarheid daarvan. Die Heilige Gees inspirasie waarmee Johannes skryf is dieselfde as waarmee die profete van ouds geskryf het.

Jesus self kondig Sy wederkoms aan en spreek ‘n seën uit oor almal wat hoor en gehoorsaam is.

Johannes bevestig sy outeurskap en waarsku teen engel-aanbidding soos in 19:10. Hierdie herhaling beklemtoon die belang van die waarskuwing. Aanbidding is aan God alleen.

Dit was die gewoonte om belangrike dokumente te seël met die opdrag om niks by te voeg of weg te neem nie. So moet hierdie visioen geseël word om te dien as aanmoediging vir die kerk.

Wat oor die aande en oggende aan jou geopenbaar is, sal werklik gebeur. Maar jy moet die visioen geheim hou, want dit sien op die verre toekoms.” (Daniel 8:26)

Toe sê hy: “Jy moet nou gaan, Daniël, want die woorde is verseël en word geheim gehou tot die eindtyd toe. Baie mense sal gesuiwer, gereinig en gelouter word, maar die goddeloses sal goddeloos bly. Nie een van die goddeloses sal verstaan nie, maar die verstandige leiers sal verstaan (Daniel 12: 8,9. Sien ook Esegiël 3:27)

Eeue terug het God geweet van die mense wat Hom sal verwerp. Daar is nie sprake van liefde as daar nie vrye keuse is nie.

Jesus bevestig wie Hy is en dat Hy kom om die gelowiges te beloon. Sy titels, die Eerste en die Laaste beklemtoon die gesag en voltooiing van die visioen. Mag is in Sy hande en sal daar bly.

Weer eens word die toegangsvereistes uitgespel. Dit is die aanvaarding van Jesus se kruisdood as redding uit sonde en dood. Openbaring 21:8 noem diegene wat verhinder word om Sy teenwoordigheid te ervaar. Dit is die sonde wat jou ‘n kragtelose mens maak, sonder oorwinning, insig en wonderwerke.

Kyk maar weer na die lysie. Dit is goed om waaksaam te wees teen vrees en misleiding.

Honde was altyd ‘n simbool van onreinheid en gemeenheid. Die Jode het die heidene honde genoem. Rondloperhonde is gewoonlik aggressief en sal wreed veg vir enige afval. Die manlike prostitute in die afgodstempels is honde genoem. In hierdie verband dui die honde op immorele, sedelose mense.

Geen bedrieër sal in my paleis diens doen nie, geen leuenaar kan my dien nie. (Psalms 101:7)

Die visioen kom van Jesus (22:16) en sy titels word bevestig.

Jesaja 11:1 en Numeri 24:17 noem die ster in die verwagting van die Messias. Die môrester kondig die begin van ‘n nuwe dag aan en die einde van die duisternis. Jesus is die Lig van die wêreld. (Johannes 8:12)

Die groot uitnodiging (22:17) wat deur al die eeue oor die hele aarde weerklink, word in die laaste woorde herhaal. Gewoonlik word die laaste woorde van enigiemand as baie belangrik beskou. Die laaste woorde van Johannes se visioen is kernbelangrik om die wese van die boodskap te bevestig.

Die Gees en die Bruid sê Kom. Aan almal wat hoor en almal wat dors het kom die grootse uitnodiging van alle tye. Net soos die briewe aan die gemeentes, kom die opdrag om te hoor en te gehoorsaam. (Jesaja 55:1 and Johannes 6:35)

Dan kom die groot waarskuwing (22:18-19). Dit is ‘n ernstige waarskuwing om die intergriteit van die waarheid te respekteer.

Maar al sou een van ons of selfs ‘n engel uit die hemel aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het – die vloek van God sal hom tref! (Galasiërs 1:8)

Ons sien die goue draad van die ware evangelie deur die hele Skrif. Die einde is algemeen in antieke geskrifte. Net so is daar ‘n waarksuwing in oor die woorde van God in die Ou Testament.

 Moenie iets byvoeg by wat ek julle beveel nie en moet ook nie iets daarvan wegvat nie, maar gehoorsaam die Here julle God se gebooie wat ek julle gegee het. (Deuteronomium 4:2)

…en Spreuke 30:5,6:

Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil. Moet niks byvoeg by wat Hy gesê het nie; Hy sal jou bestraf, en jy sal daar staan as ‘n leuenaar.

 Die rol van die skriba in antieke tye was ‘n triomf in perfeksionisme.

In die heel laaste verse is die refrein wat Christus deur Sy kerk laat klink, weer en weer (22:20-21).

Ons hoor die glorie en barmhartigheid, bemoediging en verwagting wat die kerk definieer. Binne al die vreeslike vervolging, kan ons die teenwoordigheid van ons Jesus ervaar.

Die heel laaste woord in die ganse Bybel: GENADE. Die belofte dat Sy genade altyd by ons is. Juig Bodemklipvriend!

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s