114. Ou woorde, nuwe betekenis.

[Openbaring 21]

Almal verstaan die emosies van verandering. Daar is dikwels so ‘n hartsverdeeldheid oor die ou dinge, goed of sleg. Soms kan die verlede spook en selfs byt. Sielsveranderings is die moeilikste. Slegte gewoontes, ou wonde, bitterheid en aanstoot wat in ons hart amok kom dikwels as gevolg van ander mense se sonde in ons lewe.

Met al die uitdagings en stryd in ons lewe, lyk ons harte dalk soos wilde, ongesnoeide tuine, waar bitterheidswortels diep groei en waar die blomme en struike van liefde en omgee sukkel om te blom tussen die dorings en distels van woede en onvergenoegdheid.

Ek juig in die beloftes van vernuwing in die Woord van God. Nie net nou en dan nie – elke liewe dag! Die Here doen nuwe dinge, vergewe altyd en laat ons leef in die nuwe hemel en die nuwe aarde so dikwels as wat ons ons lewe op Hom en Sy realm fokus. Die uitnodiging staan vir tyd en ewigheid:

Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol. As julle gehoorsaam wil wees, sal julle die goeie van die land eet. (Jesaja 1:18,19)

 …deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. (Klaagliedere 3:22,23)

Hoofstuk 21 van Openbaring lei ons in die uiterste, hoogste nuut wat God vir ons berei en wat moontlik is om met aardse taal te beskryf.

Verdoemenis vir die ongelowige word in kontras met die salige heerlikheid van die gelowige gestel. Dit is die droom scenario vir ‘n nuwe begin soos deur Jesaja besing word (65:17).

 Ek gaan ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep; aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie, hulle sal nie onthou word nie.

Wanneer God nuut skep, is die ou dinge in alle dimensies uitgewis en kan dit nie eers onthou word nie.

Kom ons juig in die opskrif van hierdie hoofstuk – Alle Dinge Nuut.

Mediteer oor die elemente van nuut. Hartseer is verby, sonde is weg, duisternis is lig en die tydelike is vervang met die ewige.

Die belofte dat daar geen see meer sal wees nie, was ‘n welkome verligting vir antieke denke. Begrip vir die see kom hoofsaaklik uit mitologiese bronne en slegte ondervinding met skepe wat vergaan in verwoestende storms. Aanvanklik het alle seevaart met die oog op die kuslyn plaasgevind, sonder kompas. Later het kennis van die sterre navigasie ondersteun, maar as ‘n storm die lug donker maak, was daar geen alternatiewe navigasie moontlikheid nie. (Handelinge 28)

Die Nuwe Jersusalem (21:2) se oorsprong vind ons in Griekse filosofie. Plato het die wêreld grootliks beïnvloed met sy idees oor die sienlike en onsienlike. Hy het geskryf dat alles op aarde is onvolmaakte kopieë van die volmaakte hemelse teenkant. Volgens hierdie denkpatroon was daar ‘n perfekte hemelse Jerusalem in teenstelling met die gebrekkige aardse een.

Paulus praat van die hemelse Jerusalem in Galasiërs 4:26 en so ook die skrywer van die Hebreërs (12:22).

Die idee van voorafbestaande vorm mag dalk snaaks klink, maar die konsep dat die ideale en perfekte reeds bestaan beklemtoon dat God die bron van alles is. Daar is groot verwagting vir ‘n hoër en beter lewe.

Na Christus is die nuwe Jerusalem die kerk. Joodse denke het die volle herstel en oorheersing van die Jode as doelwit gestel. Dit is oor eeue heen deur die profete voorspel en besing en gelykgestel aan die fisiese herstel van Jerusalem.

Die kerk is die ware stad, groot genoeg vir al die inwoners en die voorsiening in al hulle behoeftes. ‘n Stad voorsien in alle lewensbenodigdhede. Dienste en mense is beskikbaar in teenstelling met die woestyn en wildernis, waar God op wonderbare maniere voorsien. Dan bring Hy jou in die kerk, die Nuwe Jerusalem, waar jy omring word met Sy voorsiening. Hy is die Bron, altyd.

Die strate van goud is die gawes van die Heilige Gees wat ons wandel en verblyf in die stad bepaal. Die siele van mense is die edelstene (Maleagi 3). God voorsien die lig; daar is geen son nie. Alles waaraan ons gewoond is word vervang met die Goddellike teenkant. In die kerk geniet ons die ononderbroke gemeenskap met God waar Hy die trane wegvee (21:3,4) en die hartseer troos (Esegiël 40:1 – 48:35).

Johannes bring hier al die visioene van die volmaakte bymekaar sodat alle drome en verwagtinge in Jesus vervul kan word. In die lig van die vernietiging van Jerusalem in 70nC, net kort voordat hy hierdie dinge skryf, bemoedig hy in geloof die verhewe verlange na die hemelse Jerusalem.

Die nuwe Jerusalem, die kerk, is ewig en kosbaar. Dit kan nooit vernietig word nie. Ons het gesalfde oë nodig om die volmaakte te “sien”. Dit is ons uitdaging, vandag en elke dag. Om Hom te “sien”, op Sy troon binne in ons omstandighede, is ‘n koninkrykslewe.

Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.” (Exodus 14:13)

 Moses daag die volk uit om die teenoorgesteld van hulle vrees te sien. Net soos hulle moet ons die “Egiptiese weermag” in ons lewens hanteer. Ons lewe binne die realm van God se vyand met die krisis en paniek wat dit veroorsaak. Ons enigste skuilplek is die teenwoordigheid van God (21:3-4)

‘n Harde stem, ‘n stem met gesag, kondig die tabernakel aan. Dit is die woonplek van God by die mense. Die woord wat gebruik word is skene, wat beteken. Die woestyntabernakel was ‘n tydelike struktuur wat opgepak en vervoer kon word. Dit is net ‘n voorsmakie van die glorie wat kom. God woon by Sy mense.

Hier op aarde ondervind ons die hemel in die konstante bewustheid van Sy teenwoordigheid.

Die Griekse woord skene en die Hebreeus schecinah is saam gebruik onder die vroeë Christene, miskien ook oor die woorde baie dieselfde geklink het. Skene is gebruik om die woning van die mense by God aan te dui en schecinah is gebruik om God se woning by die mense te beskryf. In Salomo se tempel (1 Konings 8:10-11) het die shechinah glorie die tempel gevul.

[Hierdie konsep is alom bekend in die Ou Testament: Levitikus 26:11-12, Jeremia 31:33 en 32:39 – 41, Esegiël 37:27, Hooglied 6:3]

Al die voordele van die hemelse Jerusalem word deur Jesaja, eeue voor Jesus besing. (25:8, 35:10, 65:19). Geen trane meer, geen hartseer. Die belofte word in Matteus 5:4 en Filippense 3:10 herhaal

In Christus is alle dinge nuut (21:5-6). ‘n Kind van God is ‘n nuwe skepsel (2 Korintiërs 5:17). Nuwe dinge word belowe in Jesaja 43:18-19.

Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.

Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.

Johannes word opdrag gegee om dit neer te skryf. Dit is soos ‘n kontrak, bindend en betroubaar. Ons kan altyd teruggaan en seker maak van die bepalings.

Alles is voltooi in Christus. Daar is geen ander God nie. (Jesaja 44:6)

Hy is die Begin, arche wat die bron van alle dinge beteken en die

einde, telos wat meer as net die einde beteken; dit beteken die doel van alle dinge.

Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen. (Romeine 11:36)

…één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.. (Efesiërs 4:6)

Is daar enigiets om by te voeg oor God. Sy belofte staan:

Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet. (21:6)

Ons het toegang tot al die geestelike luister en luukse van die hemel. Is daar enigiets wat meer as dit kan beteken? (21:7-8)

Die grootste gawe van alles (21:7) is die vaderskap van God aan ons. Dit het Hy belowe aan:

  • Abraham – Genesis 17:7
  • David oor Salomo – 2 Samuel 7:14
  • Psalms 89:27 – Hy sal My aanroep met die woorde: ‘U is my Vader, my God, die rots wat my redding is.
  • Vir ons dieselfde as bogenoemde.

Daar is geen beter loon moontlik nie.

Die verdoemdes (21:8) word uitgespel: “Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars

 Al hierdie sonde het ‘n geestelike implikasie en interpretasie. Dit is die realm van die dier waarin onsedelikheid en leuens regeer, towery in die vorm van dwelms ons jeug steel en soveel soorte verslawings menselewens vernietig; die afgode van die moderne lewe.

Dit is onmoontlik om daarvan gered te word sonder die versoeningsbloed van Jesus.

Ons erfenis is die stad van die lewende God (21:9-27). Dit is ons woonplek, by God in Christus.

Die bruid word aangekondig deur dieselfde engel wat die bakke van verdoemenis hanteer het – verrassend. Die engel spreek die opdrag wat hy van die Troon kry.

 Johannes word na ‘n hoë berg gedra, net soos in Esegiël se visioen (40:2). Hoogte bring nuwe perspektief, verhewe bo die omstandighede. Ons is nog aardsgebonde, maar “sien ” en “hoor” in die Gees vir ‘n dieper en voller lewe. Daar is werklik ‘n berg net buite Jerusalem wat die Psalmis besing (48:1,2):

Die Here is groot! Aan Hom kom al die lof toe hier in die stad van ons God, hier op sy heilige berg, mooi, hoog geleë, en ‘n vreugde vir die hele aarde, Sionsberg teen die noorde, die stad van die Groot Koning.

Now it shall come to pass in the latter days that the mountain of the Lord’s house shall be established on the top of the mountains, and shall be exalted above the hills; and all nations shall flow to it.  (Jesaja 2:2)

Dis die kerk, dis ons, Bodemklipvriend.

Die lig van God is soos die skynsel van jasper. God se glorie reflekteer in die edelstene. Die edelstene is die heiliges. (Filippense 2:15)

Die stadsmuur beskerm ons teen boosheid.

 Daar kom ‘n dag wanneer hierdie lied in Juda gesing sal word: Ons het ‘n sterk stad, God beskerm ons met mure, met ‘n vesting. (Jesaja 26:1).

Hy belowe beskerming wat nie kan faal nie. Sagaria (2:5) praat van ‘n muur van vuur met Sy heerlikheid daarbinne.

Die twaalf poorte verteenwoordig die twaalf stamme. Dit is deur die Jode wat die Messias aan die wêreld gegee is, sodat almal toegang kan hê. Die woord vir poort is pulon (normaalweg moet dit pule wees.) Pulon kan twee dinge beteken: ‘n groot huis wat om ‘n binneplein gebou is met ‘n groot hek in die buitemuur of ‘n ommuurde stad.

Daar is meer as een ingang deur die openbaring van Jesus. Daar is drie hekke in elke rigting (Esegiël 48:30-35)

In die Ooste waar die son opkom simboliseer diegene wat in die oggend van hulle lewe tot inkeer kom en Jesus aannneem terwyl hulle jonk is.

Die Noorde simboliseer koue en diegene wat deur rasionalisasie en intellek tot inkeer kom.

Die Suide is warm en simboliseer diegene wat tot Jesus kom deur barmhartigheid, liefde en omgee.

Die Weste is waar die son ondergang en simboliseer die sonsondergang van die lewe en diegene wat in ouderdom eers die Here vind, selfs sterfbed-bekerings.

Die twaalf fondamente is die apostels wat die kerk gebou het. Die stamme en die apostels kombineer die oue en die nuwe .

Die afmetings (21:15-17) herinnner aan die meetstok van Esegiël (40:3).

Die vorm van die stad is ‘n vierkant. Dit is die perfekte kubus, ‘n simbool van volmaaktheid in die Griekse Filosofie. Die Jode was bekend met die vorm van die brandofferaltaar , die wierookaltaar en die borsplaat van die hoëpriester. (Exodus 27:1,30:2,28:16) In Esegiël se tempel en die van Salomo was die Allerheiligste deel in die vorm van ‘n vierkant (1 Konings 6:20). Die perfekte kubus voorveronderstel genoeg ruimte vir almal. Die woonplek van God is nie uitsluitend nie. So moet die kerk op aarde ook wees.

Die hoogte van die muur is verrassend laag. Dit is nie vir verdedigingsdoeleindes nie. Dit is net om die buitegrense van die stad aan te dui. Dit wys die verskil tussen diegene buite die stad en die wat binne die stad woon.

Die goud van die stad lyk wit in die son, soos kristalhelder opaal. Skoon en blink spieëls was nie so algemeen in daardie tyd nie. ‘n Spiëel was dikwels gevlek en dof.

Die fondamente is met edelstene versier. Opaal is ‘n deurskynende groen kleur, saffier is in Exodus 24:10 beskryf as ‘n indigo-blou met goudvlekker (amper soos lapis lazuli), agaat is groen soos koper wat verkleur en die groen van ‘n pou se stert. Smarag is bekend en die groenste van alle groen stene. Sardoniks is soos oniks met rooi en bruin lae soos ‘n kameo. Karmeool is bloedrooi, chrisoliet is goudkleurig, beril is see-blou en topaas is deurskynenede groen-goud (Job 28:19). Chrisopaas is appel-groen, Hiasint is diep blou-pers en ametis pers.

Agt van hierdie edelstene word in die bosrplaat van die hoëpriester gevind (Exodus 28:17).

Oorspronklik is die stad van die Griekse gode met twaalf astrologiese tekens gebou en elkeen van hulle het ‘n steen gehad, soos daar vandag nog gepraat word van geboortestene wat toegeken is onder die sterreteken waaronder mens gebore is. Johannes wou al die verwarring oplos en die gode-aanbidding aan die ware God onderwerp. Dit was vir meeste heidene goeie nuus. Hulle het gesukkel om hulle gode te plesier. Hulle was verlig om te hoor daar is een god wat alles kan doen. Johannes gee die astrologiese tekens in omgekeerde volgorde en onderwerp hulle almal aan God se gesag.

Dit is verstommend om een reuse pêrel as ‘n poort voor te stel. Pêrels het besondere waarde in die antieke wêreld gehad. Pêrelduikers was aan groot gevare blootgestel en pêrels was skaars. Jesus het ‘n gelykenis vertel oor die waardevolle pêrel, wat alles wat jy besit kan vervang in Matteus 13:46. Sy toepassing was natuurlik geestelik, maar Hy het die waarde van ‘n pêreld besef en dit in Sy verhaal gebruik. ‘n Pêrelpoort is ‘n simbool van onberekenbare waarde en skoonheid.

God self woon in hierdie wonderlike stad. (21:22-23). Dit is ‘n stad met geen tempel. Die tempel was alles vir die Jode, maar hier is daar geen tempel nodig nie. Die hele stad is die Allerheiligste.

God is ons ewige lig (Jesaja 60:19-20). In Sy lig sien ons die ware lig (Psalm 36:9). Dit is slegs in die lig van God wat ons waarlik kan sien en die waarheid herken..

In die stad is daar geen ligbron. Waar God is, is geen duisternis moontlik nie. Die antieke wêreld het duisternis gevrees. God se lig dryf alle vrees uit.

Daar is genoeg ruimte vir al die nasies. Dit is ‘n tema wat deur die Ou Testament en die profete ego. [Jesaja 2:2-4, 11:12, 45:22, 49:6, 51:5, 55:5, 56:6-8, 66:19. Jeremia 3:17, 16:19-21. Daniël 7:14. Zefanje 2:11, 3:9. Sagaria 2:13, 8:20-23, 14:9, Joël 2.]

Die Joodse geskrifte is vol van die Messias wat ‘n Redder vir al die nasies is. Johannes voltooi die prentjie van goddellike hoop vir al die nasies en die Jode.

Die nasies bring die rykdom en luister na die stad. Die Grieke bring hulle wysheid en filosofie waarin hulle deurgaans na God gesoek het. Die Romeine bring hulle adminstrasie en regspraak en die Hebreërs die ware God en die Messias. Net so bring ons ons talente en vaardighede in diens van die Koninkryk.

 Alle onreinheid en onsedelikheid en valsheid is daar nie meer nie. Dit is die ideale toestand van die kerk van Jesus. Dit is die mense wie se name in die Lam se Boek van die Lewe geskryf is.

God se gawe aan ons was Jesus. Dit is Sy beste.

 

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s