[Openbaring 20]
Hoe lank duur ‘n leeftyd nou eintlik? Wat is daar binne ‘n leeftyd wat konstant bly? Verandering kom so gou, beplan en onbeplan. Kyk vir ‘n oomblik terug oor die afgelope vyf jaar en dink aan al die dinge wat verander het. Dit is soms moeilik om tred te hou met gebeure, mense en omstandighede.
Dink nou aan ‘n duisend jaar. Kan enigiemand jou moeg maak met die gedagte van ‘n duisend jaar. Ons kan skaars die honderd jaar wat die sterkste onder ons leef, beheer.
So hoekom sal ons in ‘n millenium belangstel? ‘n Duisend jaar is soveel meer as ‘n lewensduur en werklik moeilik begrypbaar.
Ek kan goed onthou hoe my ma haar berekeninge in haar besigheid, voor rekenaars en sigbladverwerkings gedoen het. Sy het haar eie sigblaaie gemaak. Sy het papiere aanmekaar geplak om die oorsig oor die berekeninge makliker in ‘n oogopslag te sien. Dit was maklik om hier en daar ‘n ekstra nul in te skryf of uit te laat, wat dan alles omvergooi. Miskien het sy een van die foute besef toe sy oor nulle filosofeer.
Dit maak baie saak waar jy die nulle in jou lewe skryf, het sy gesê. Nulle voor die een beteken niks. Nulle na die een voeg waarde toe. Sorg dat jy die nulle van jou lewe (jou eie pogings) ná die Een leef. Wanneer ons ons lewe “bereken” is dit net wat na die Een, wat soos die Kruis van Jesus geskryf word, kom wat werklik ‘n verskil maak.
Hier in die 20e hoofstuk van Openbaring is ons weer by die getalle van Openbaring, soos ons voorheen al bespreek het. Die hele gedagte van ‘n duisendjarige vrederyk waarin die Messias regeer, vind sy oorsprong in Joodse geskrifte. Die “dogma” as mens dit so kon noem, het grootliks verskil en afgehang van die tendense in die gemeenskap en die status van die leraar wat dit verkondig. Dit was veral gewild in die eeue voor die geboorte van Jesus. Dit is nie Christelik in oorsprong nie.
Voor Jesus se geboorte het die kerkleiers gevoel dat die wêreld inherent so sleg is dat die koninkryk van God en die Messias nie in hierdie realm kan kom nie. Uit hierdie siening het die gedagte van ‘n beperkte Messiaanse regering ontstaan, waarna die finale afrekening sou plaasvind.
Sommige historici sien die wêreldgeskiedenis in ‘n reeks van weke. Daar is sewe weke in die verlede, In die agste week sal die gelowiges met die swaard regeer en die huis van God bou. In die negende week sal boosheid vernietig word en geregtigheid floreer. In die tiende week sal die oordeel kom en daarna die ewigheid van God se goedheid.
Die psalmdigter vra God om die jare van lyding met jare van vreugde te vervang (Psalms 90:15). So het die gedagte ontstaan dat die goeie jare net soveel as die slegte jare sal wees.
Selfs meer gewild was die gedagte dat ‘n duisend jaar soos ‘n dag in die oë van die Here getel word.
Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ’n nagwaak. (Psalms 90:4)
Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. (2 Petrus 3:8)
Die ou Hebreeuse skrywers het geleer dat elke dag van die skepping ‘n duisend jaar was. Die Messias sou in die sesde duisend jaar kom en Sy regering sou die sewende duisend jaar, die ekwivalent van die Sabbat, duur.
Hierdie hoofstuk in Openbaring wys dat Millenarianisme in die vroeë kerke redelik gewild was. Augustinus het die leer vergeestelik en in ‘n groot mate die verwagting van letterlike vervulling stadig laat sterf. Hy het die oorwinning oor Satan deur die gelowiges, die ware volgelinge van Christus as die regering van die Millenium gesien. Vanaf die geboorte van Jesus is die koninkryk van God op aarde gevestig en dit is die opstanding uit die dood van sonde van elke wedergebore Christen, wat sy plek as soldaat en stryder teen boosheid inneem en uitleef.
Die ewige heerskappy van die groot rots van Daniël 2:44, 7:14,27 is die koninkryk wat Jesus met sy eerste woorde van bediening bevestig het.
Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom. (Matteus 3:2)
Ek dink mens kan heeltemal veilig die interpretasie dat ons in die simboliese millenium leef, aanvaar. Die regering van die Messias is ingelei deur Jesus se lewe op aarde. Johannes het die millenium-gedagte ingesluit om te wys dat Jesus die antwoord eens en vir altyd op AL die verwagtinge van die Messias was en dat Hy deur die kerk, Sy heerskappy op aarde gevestig het.
Die getal duisend is gebruik om menslike ontelbaarheid uit te druk. Psalms 50:10 sê dat die vee op ‘n duisend heuwels aan die Here behoort en Job 9:3 verklaar:
As jy ‘n saak teen Hom sou wou voer, sou jy Hom nie eers op een vraag uit duisend kon antwoord nie.
Die slang is die “ou duiwel” (20:2) die vyand van die mens. Hy was daar in die Tuin by die eerste Adam se verleiding en het ‘n gemors van verwoesting en tragedie oor die wêreld losgeruk. Hy is die aanklaer van God se kinders en die teenstaander van God en mens.
Die afgrond (20:3) is gesien as ‘n onderaardse spelonk waar die afgestorwenes gegaan het. Dit was die onderwêreld of onderaardse diepte wat die duiwels gevrees het toe Jesus hulle uit die besetene van Gadara uitdryf. (Lukas 8:31)
Die onderaardse diepte word geseël net soos die graf van Jesus geseël is. God maak oop wat Hy oop wil hê. (Matteus 27:66)
Die duiwel wat losgelaat is, spreek van ‘n toetstydperk vir die Christene. Geloof wat getoets word, is blywend. Die wat in Christus sterf en die wat in Hom leef sal hulle loon ontvang en saam met Hom regeer in hulle bevoegdheid as regters. (20:4)
Die trone is die van die 24 ouderlinge, die kerk. Die ouderlinge word vier maal in Openbaring genoem. Hulle is die verteenwoordigers van die kerk op aarde en in die hemel (Daniël 7:22,27, Matteus 19:28, Lukas 22:30, Hebreërs 12:1,2) en word saamgestel uit die 12 stamme en die 12 apostels.
Diegene wat onthoof is, is die simboliese verwysing na die martelare en enigiemand wat vir die Evangelie ly.
Oordeel wat van ‘n troon kom is ‘n konsep wat dikwels in die Nuwe Testament voorgekom het. Jesus het self gesê dat sy dissipels op trone saam Hom sal sit en die 12 stamme oordeel (Matteus 19:28). Paulus herinner die gelowiges aan hulle oordeelsplig. Dit is nie die tipe oordeel wat ons aan dink soos in ‘n hof met ‘n hamerslag en vonnis nie. Dit is die verpligting om te besluit om die regte ding te doen. Ons weet nou al wat die waarheid is, om Jesus, dié Waarheid, te ken. Ons kan nou al die leuens van die wêreld onderskei. Ons oordeel daagliks, om in moeilike omstandighede, waar bedrog en verraad heers, die regte keuses te maak.
Die dood het geen mag oor die gelowiges nie. Die fisiese dood is die oorgang na die ewigheid. (20:6)
Priester beteken brug-bouer volgens die Latyn, pontifex. Die priester bou ‘n brug tussen die mense en God. Ons het die voorreg om mense na Jesus te lei. Ons is die heilige volk, die koninklike priesterdom wat in Jesus brûe bou na God toe.
Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.(1 Petrus 2:9)
Die kerk sal saam met Jesus regeer. In Christus is die mees gewone mens ‘n koning wat regeer.
In die volgende verse word die finale rebellie beskryf (20:7-10). Satan wil die einde verhaas aangesien die geleentheid vir redding verbygaan. God is in beheer van die tye. Die vier uithoeke van die aarde beteken die ganse aarde.
‘n Groot en gedugte mag wat optrek teen Jerusalem is een van die sentrale gedagtes in Joodse teologie. (Daniël 11:1-45, Sagaria 14:1-11)
Die stryd van Gog en Magog vind ons in Esegiël 38:1-23 en 39:1-29. Hulle sal optrek teen Jerusalem en uiteindelik totaal deur die Messias oorwin word.
Dit is nie ‘n fisiese, militêre stryd nie. Die stryd is geestelik. Ons leef in die geestelike dispensasie na die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag. Die fisiese Jerusalem is vervang met die nuwe Jerusalem, die kerk van Jesus.
In die laaste verse word die finale oordeel beskryf. (20:11-15)
Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn. (Romeine 14:10)
Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, (2 Korintiërs 5:10)
Hierdie skrifte bevestig die eenheid van God en Jesus. Daar is net een regterstoel van die Drie-eenheid. Dit is kern belangrik vir die Jode om dit te verstaan. Die Hebreeuse God is een, in teenstelling met die veelvuldige gode van die heidennasies om hulle. Hulle bely met oortuiging Deteronomium 6:4:
“Hear, O Israel: The Lord our God, the Lord is one!
En ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. (Openbaring 20:11)
Hemel en aarde sal vergaan, maar Jesus se woorde nooit. (Markus 13:31). Sien ook 2 Peterus 3:10, Psalms 102:25-27.
Die boeke word geopen. Daar is twee soorte boeke wat in Openbaring genoem word. Die Boek met die sewe seëls en die Boek van die Lam. (Daniël 7:10 en Openbaring 5, 13, 17 e.a) Ons juig by die oopmaak van die Boeke. Ons word die kosbare besitting van die Here. (Maleagi 3:16-18)
God se boeke word dikwels in die Skrif genoem. Moses is gewillig om uit die Boek van die Lewe uitgewis te word ter wille van die volk (Exodus 32:32). Die psalmdigter vra dat die bose uit die Boek van die lewe uitgewis moet word (Psalms 69:28).
Paulus praat van mede-arbeiders wie se name in die Boek van die Lewe opgeskryf is (Filippense 4:3). Aan Sardis word die belofte gemaak dat hulle name nie uit die Boek van die Lewe gehaal sal word nie (Openbaring 3:5).
Elke heerser van die antieke wêreld het ‘n boek gehad waarin die name van die burgers opgeteken is. Dawid het die volk getel, die Romeine het gereeld ‘n sensus gehou. Dit is juis die rede waarom Josef en Maria uit Nasaret na Bethlehem moes gaan.
Die Boek van die Lewe is ‘n rekord van die geestelike, lewende, aktiewe burgers van die Koninkryk van God. Niks, nie eers die dood nie, kan jou naam uit daardie Boek verwyder nie.
Hoewel die kinders van God doodgaan, is hulle lewend in die onsienlike koninkryk van God.
Die see sal sy dooies teruggee. Vir die antieke wêreld was ‘n begrafnis van die grootste belang. Mense wat op see doodgegaan het, het geen begrafnis gehad nie. Johannes troos al die bygelowe en sluit almal in die uiteindelike opstanding in.
Net so met die doderyk waar mense vir die opstanding gewag het. Met die opstanding van Jesus is die doderyk leeggemaak.
Alle dood word onder die opstanding van Jesus in oorwinning omskep. Satan het geen mag in die finale opstanding nie. Prys die Here!