169. God in aksie.

[Johannes 11]

Wat is ‘n wonderwerk? Dit is ‘n gebeurtenis in die lewe van ‘n mens wat net in bonatuurlike terme beskryf kan word. Die amptelike definisie beklemtoon die misterieuse aspek van ‘n hoogs onwaarskynlike of buitengewone verskynsel.

‘n Wonderwerk is ‘n verrassende en welkome uitkoms wat nie met natuurlike of wetenskaplike wette verduidelik kan word nie en daarom  as die werk van ‘n goddellike wese beskou word.

Dit is verrassend en welkom, ‘n positiewe uitkoms. Dit is die teenoorgestelde van die krisis of omstandighede wat aanleiding gegee het tot die noodsaaklikheid van die wonderwerk. DIt is met ander woorde die onverduidelikbare uitkoms uit ‘n katestrofiese, harverskeurende situasie.

‘n Wonderwerk is God in aksie. Dit is ons liefdevolle Vader, almagtige Skepper-God, wat intree en die onmoontlike vir ons doen, tot ons voordeel. ‘n Wonderwerk is ‘n welkome verligting waar menslike verligting nie moontlik was nie.

Wonderwerke is antwoord op gebed.

God is ‘n misterie wat in die onsienlike realm bestaan. Hoe sal ons Hom vind en Hom in aksie “sien”? God is die God van sy mense. Hy is aktief in Sy gemeenskap. Dit is Sy werk in en om die mense waarin ons Hom “sien”.

William Barclay verduidelik hoe ‘n rabbi die teks van Deuternonomium 13:4 uitlê. Die Skrif stel dit so:

Jy moet getrou bly aan die Here jou God en Hom eer, jy moet sy gebooie gehoorsaam en na sy bevele luister, jy moet Hom dien en aanhang.

Om die Here aan te hang is om te doen wat Hy doen. Hy werk onder die armes (Genesis 3:21), Hy besoek die siekes (Genesis 18:1), Hy troos die treurendes (Genesis 25:11), Hy begrawe die dooies (Deuteronomium 34:6). In al hierdie dinge vind ons ons eie rol in die gemeenskap, deur te doen wat Jesus doen.

In hierdie gedeelte van Johannes 11:17-27 ontmoet ons die huishouding van Jesus se vriende in Betanië. Marta tree volgens  haar karakter wat ons al ontmoet het, op (Lukas 10:38-42).  Sy hou van aksie. Maria sit stil. Marta hardloop Jesus tegemoet en praat haar hart oor haar lippe. Sy spreek haar verwyt teenoor Jesus uit en tog haar geloof, hoewel sy teleurgesteld is.

Here, as U hier was sou my broer nie gesterwe het nie.

In haar woorde vra sy Jesus waarom Hy so laat is. As Hy gekom het toe sy die boodskap gestuur het, sou haar broer gelewe het. Tog is daar geloof in haar woorde dat God sal doen wat Jesus vra.

Marta noem die algemene opstanding in die laaste dae. Dit is heel belangrike woorde van Marta.

Een van die merkwaardige dinge in die Bybel is dat die Ou Testament se geloofshelde nie werklik in die lewe na die dood geglo het nie. Hulle het geglo dat almal, gelowig of nie, na die doderyk gaan wat hulle Sheol of Hades genoem het. Die doderyk word soms verkeerdelik methelvertaal, maar dit was nie ‘n plek van marteling nie, eerder ‘n skaduland van blote bestaan, vreugdeloos en kragteloos, amper spookagtig. (Psalms 6:5; 30:9)

Hiskia treur oor die profesie dat hy sal sterwe en sê:

In die doderyk kan niemand U loof nie, geeneen wat dood is, kan U prys nie; niemand in die graf dink aan u trou nie!  (Jesaja 38:18)

In die Psalms (16:9-11 en 73:23-24) wil die Psalmis glo dat nie eers die dood hom van God kan skei nie. Hierdie ewige hoop vind ons in Job. In sy smart en siekte roep Job uit:

MAAR ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan.

En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou; (Job 19:25,26, OAB)

In die tyd van Jesus, het die Sadduseërs nie in die lewe na die dood geglo nie, maar die Fariseërs en die meerderheid van die Jode het wel.  Die dooies het God gesien en is nie eers dooiesgenoem nie, maar die lewendesom dat hulle by God was.

Dit is na hierdie geloof wat Marta uitreik.

Jesus antwoord haar met een van die mees lewegewende EK IS-uitsprake.

Ek is die Opstanding en die Lewe.

Ons geloof in Hom gee lewe en Sy lewe maak geen voorsiening vir dood in enige vorm nie – geestelik, fisies of op sielsvlak.

Not even a lifetime’s thinking will reveal the full meaning of this; but we must try to grasp as much of it as we can.[William Barclay]

Daar is lewe na die fisiese dood op aarde. Die dood is nie die einde nie. Die dood is slegs ‘n deur na die onsienlike.

Die fisiese dood is die sonsopkoms, die dagbreek van die Ewigheid.

Dit was die gewoonte, veral vir vroue, om die graf te besoek en daar te treur op elke moontlike geleentheid vir ‘n week na die begrafnis. Maria se groet aan Jesus was presies dieselfde as Marta s’n.

‘n Mens moet in gedagte hou dat dit nie ‘n sagte ween en traan wegpik geleentheid is nie. Dit was meer ‘n histeriese weeklaag en skreeuende uitroepe van hartverskeurende rou. Vir die Jode was so ‘n onbevange gehuil ‘n teken van eer aan die dooie.

Jesus is diep geraak. Die woord wat gebruik word is: embrimasthai.

Die woord word drie maal op ander plekke in die Nuwe Testament gebruik. Dit beteken om ‘n streng opdrag te gee, of ‘n skerp vermaning uit te spreek.

Hoekom was Jesus kwaad?  Daar word bespiegel dat Jesus bewus was van die voorgee en vals, opgewerkte hartseer van die mense. In die gewone Grieks beteken embrimasthai ‘n perd wat snork. So ‘n diep emosie het in Jesus geroer dat Hy ‘n kreun laat hoor het.

Hierdie is ‘n wonder van Jesus se lewe en die wyse waarop die Evangelieskrywers dit beskryf, is merkwaardig. Jesus was so betrokke by die mense dat Sy emosie geraak is.

Johannes skryf hierdie Evangelie sodat ons die denke van God in Jesus kan sien.Vir die Grieke was een van die belangrikste kenmerke van ‘n god dat hy totaal bo emosies was en geen gevoel kon ervaar of uitleef nie.

Emosie is die gevolg van ons reaksie op mense en omstandighede. Dit beteken dat iets buite onsself beheer oor ons kry. Niemand kan beheer oor ‘n god hênie, daarom moet ‘n god of opperwese geen emosie toon of ervaar nie en heeltemal bo dit wees.

Die Grieke het in ‘n passielose, neutrale, geïsoleerde opperwese aangehang.

 Wat ‘n wonder-beeld het Jesus geleef! God is betrokke, aangeraak. God het lief. Hy gee om. Hy is diep geraak in jou hartseer omdat Sy liefde vir jou Hom na jou toe trek met ‘n onvoorwaardelike betrokkenheid om beter te maak, gesond te maak en uit te red.

Die gewone graf in Palestina was ‘n spelonk-tipe opening uit rots gekap. Die liggaam is in linne toegedraai. Die kop is apart toegedraai. Voor die opening was daar ‘n groef in die grond waarin ‘n groot klip gerol is om die graf toe te maak.

Jesus vra dat hulle die steen moet wegrol. Marta het sekerlike gedink dat Jesus sy vriend ‘n laaste maal wil sien, maar sy het nie gedink dis ‘n goeie idee nie. Lasarus was al vier dae in die graf en in daardie hitte het die liggaam heel moontlik al begin ontbind. Daar het ‘n bygeloof bestaan dat die siel van ‘n dooie mens drie dae om die graf vertoef om dalk weer in die liggaam in te gaan, maar na drie dae finaal vertrek. Na vier dae was die gesig ook sekerlik nie meer herkenbaar nie.

Jesus spreek die opdrag waarteen selfs die dood geen mag het nie.

Lasarus kom uit!Dit was sekerlik nogal ‘n gesig om die toegedraaide figuur uit die graf te sien struikel. Jesus moet vir die mense sêom hom los te maak. Almal het sekerlik versteend gestaan en staar, te bang om te beweeg.

Die oomblik wat Jesus die woorde gespreek het, het die krag van God deur Hom gevloei. Die wonderwerk was tot eer van God, net soos in Elia se gebed:

 Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.”(1 Konings 18:37)

In die ander drie Evangelies is daar stories oor die mense wat uit die dood opgewek is. Jaïrus se dogtertjie (Matteus 9:18-26; Markus 5:21-43; Lukas 8:40-56) en die weduwee van Naïn (Lukas 7:11-16). In beide gevalle het Jesus hulle opgewek kort na hulle dood verklaar is. In die warm klimaat van Palestina het begrafnisse vinnig op dood gevolg en somtyds het mense in die graf uit ‘n koma wakker geword. Die mense is dalk deur Jesus van ‘n wrede dood in ‘n graf gered. Argeologiese opgrawings het bewyse van mense wat van binne af uit ‘n graf wou kom.

Daar was egter geen ander geval van ‘n persoon wat vier dae dood was en toe weer lewe nie.

Die Sanhedrin is bymekaar geroep om die geval te bespreek. Die wonderwerk van Lasarus se opwekking het hulle gedwing om drasties op te tree.

Die Sanhedrin was beide Fariseërs en Sadduseërs. Die Fariseërs was nie polities nie. Hulle het die Wet van Moses geleef as voorbeeld vir die ander mense. Die Sadduseërs was polities. Hulle was welvarend en het geleef soos die aristokrasie. Hulle lewenswyse moes natuurlik ten alle koste beskerm word en daarom het hulle met Rome saamgewerk. Die Sadduseërs het die praatwerk in die Sanhedrin gedoen.

Hulle was berug vir hulle ongeskiktheid en beledigings. Hulle houding het in sterke kontras met die optrede en woorde van Jesus gestaan.

Jesus was ‘n wesenlike bedreiging vir hulle rykdom en status. Sy volgelinge kon onrus veroorsaak en Rome was wreed ongeduldig met opstande en sou die Sadduseërs blameer. Die vraag of Jesus die waarheid praat en werklik van God gestuur is, was nie eers ter sake nie.

‘n Mens kan sy eie karakter bo die wil van God verhef.

Die geskiedenis bewys die dramatiese ironie. Die Sadduseërs wou van Jesus ontslae raak om hulle mag te behou, maar 70nC het die Romeine genoeg gehad van die onrustige, moeilik-beheerbare Palestina en Jerusalem met die grond gelyk gemaak net soos Jesus voorspel het. Sou dinge nie anders uitgedraai het as hulle Jesus aanvaar het nie?

Kajafas, die Hoë Priester, maak hierdie ironiese stelling:

… dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie verlore gaan nie.”

Die Hoë Priester moes God namens die volk nader. Moses het die raad aan Joshua gegee (Numeri 27:18-21)

God praat soms deur mense wat onbewus is van die groter impak van hulle woorde – soos in hierdie geval.

Jesus het inderdaad vir die hele volk gesterf.

Teen hierdie tyd het mense al begin aankom vir die Paasfees in Jerusalem. Die Jode moes seremonieel rein wees vir die Fees en kon daarom nie aan ‘n lyk vat nie.

‘n Mens kan jou net die gepraat voorstel. Die mense het geweet wat aangaan. Hulle het altyd belanggestel in iemand wat die owerhede met durf teenstaan. Dit was ‘n kwessie van lewe en dood.

Die gevolgtrekking van die gepraat was dat Jesus onder geen omstandighede in Jerusalem sal wees nie. Dit was onmoontlik om die Joodse leiers en die Romeinse owerhede te konfronteer.

Maar…hulle het Jesus onderskat. Niks op aarde sou Hom stop. Hy het openlik Jerusalem binnegekom in ‘n triomfantelike prosessie met al die aandag op Hom. Hy het bewys Hy het die dood oorwin.

Die slegste scenario kon Hom nie keer nie.

 

 

 

 

 

122. Een dag na ‘n ander – geen kontras ooit so groot.

Ek het groot geword met Goeie Vrydag. Ek kan nie almal van hulle so goed onthou nie, maar ek weet hulle was daar. Vir omtrent 25 jaar het ons die Paasnaweek tydens kampdienste gevier. Tien dae lank het mense vanoor die hele land op ‘n groot stuk grond net buite Johannesburg met tente, karavane, ‘n paar houthutte en ‘n paar permanente geboude hutte van die môre tot die aand kerk gehou. As mense nie kerk toe gegaan het nie, het hulle gekuier en geëet.

Later, in hoërskool- en universiteitsjare het ek deur meeste Paasnaweke geswôt. Selfs dan het ek nooit die “groot” dienste gemis nie – Goeie Vrydag oggend en die feesdiens vir die Opstanding die Sondagoggend. Die dienste is in ‘n rowwe, koue baksteengebou met ‘n sinkdak gehou. Die struktuur kon ‘n hele paar duisend mense sitplek gee. Voor was ‘n groot platform vir die uitgebreide orkes en sitplek vir die leierskap. Die sang was hemels en elke jaar het almal huis toe gegaan met nuwe liede op hulle lippe en meer belangrik, in hulle harte.

Soveel getuienisse is met die ou gebou geassossieer. In meeste dienste is die mense aangemoedig om gebedsversoeke op klein papiertjies te skryf en dit in ‘n mandjie voor die platform te kom sit. Daar was ‘n groot heen en weer gelopery voor die dienste begin het. Tydens die voorbiddingsgebed het van die leiers hulle hande op die mandjie gelê en die wonderkrag van ons hemelse Vader daaroor afgebid.

Een maal het my ma “gesien” hoe een van die sinke van die dak oplig en die papiertjies met ‘n rukwind weggeraap word, in die hemel in. Ek het die prentjie in my kop gehou totdat ek die mooi skrif in Openbaring 5:8 leer ken het en weet dat ons gebede in die goue bakke voor die Troon is.

My ouer twee seuns het saamgekuier op die Kamp. Niemand kon ooit die laaste Sondag se totsiens-diens mis nie. Ons het dik duvets saamgedra sodat hulle op die vloer kon slaap as die drie-uur diens te lank raak. Ja…drie ure! Ons het ‘n uur gesing en voorbidding gedoen vir baie versoeke en rustig gesit vir preke wat ek vandag nog ‘n paar van onthou.

My broer het ‘n houtstruktuur laat opsit, waar ons na die dienste kon bymekaarkom en op opslaanstoele en piekniektafels die heerlikste, mobiele feeste uit ons huiskombuis in koelsakke en mandjies aangedra, kon geniet. My seuns het sy hut die Ark genoem. Op die laaste Sondagaand het ons 40 of 50 pannekoeke met kaneelsuiker by een van die kerkstalletjies gekoop vir al die mense wat kom groet het en bly sit het vir ‘n getuienis of twee.

Ek sal nooit die gesprekke vergeet nie. Die mense het oor die Here gepraat, die heeltyd – vry, vol passie en heelhartig. Al die ouderdomme, veral die ou veterane het getuienisse en insig oor die voorsiening en goedheid van God met almal wat entoesiasties kom sit het, gedeel.

Dan was daar die kinders, saamgebondel in ‘n saal van hulle eie. Sonskynhoekie het menige kinders onder twaalf die evangelie van Jesus geleer. ‘n Neef van my pa en sy gesin het met illustrasies en musiek die goeie nuus in kinderharte ingebrand. Die lied vir die laaste aand sing ek nog steeds – die laaste versie van Psalm 23:

Net goedheid en guns

sal my volg

Al die dae, al die dae van my lewe

En ek sal woon in die huis van my Heer vir ewig

En ek sal aansit aan die tafel berei vir my

Net goedheid en guns…

Die afgelope naweek was Paasnaweek en ek is ‘n miljoen myl in tyd en afstand van daardie dae. Hoekom onthou ek?

Ek weet hoekom.

Heel paar jaar later in my volwasse lewe was, ek saam met my pa-hulle in ‘n diens van die United Kerk in Hermanus. Die predikant was Martin Holt, bekend vir sy radiopraatjies en preke. Ek was altyd lief vir Latyn, op skool en universiteit en Martin Holt het daardie oggend die Latyn in my kop ingebrand, wat nou nog, hier waar ek skryf en die trane vrylik vloei, uitroep – Vivit – Hy leef!

Dis hoekom ek onthou. Geen Paas, geen kerk, geen getuienis, geen gebed is moontlik sonder die kreet van die heelal, saam met die vroue daardie eerste Opstandingsondag – Vivit – Hy leef!

Hierdie een feit verander alles. Dit is die kontras van ‘n Saterdag in duisternis en dood en ‘n Sondag in lig en lewe.

Ons is nou in die week na daardie dag wat Jesus daar in die tuin vir Maria gesê het:

Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.” (Markus 16:7)

Waar is jy in hierdie dae na Paas? Is jy vasgevang in dood en duisternis van Saterdag en voel soos Petrus die nederlaag van verraad en verbryselde drome?

Jesus praat met jou, net so spesiaal as wat Hy Petrus aanspreek. Gaan na die plek waar jy Hom ontmoet het – jou Galilea. Hy weet wat jy nodig het. Hy weet watter effek Sy teenwoordigheid op jou lewe het.

Hy wag vir jou… Jou lewe sal verander as jy Hom sien.

Gaan met die uitroep – Vivit – Hy leef … omdat Hy uit die dood opgestaan het.

113. Waar skryf jy ‘n nul?

Hoe lank duur ‘n leeftyd nou eintlik? Wat is daar binne ‘n leeftyd wat konstant bly? Verandering kom so gou, beplan en onbeplan. Kyk vir ‘n oomblik terug oor die afgelope vyf jaar en dink aan al die dinge wat verander het. Dit is soms moeilik om tred te hou met gebeure, mense en omstandighede.

Dink nou aan ‘n duisend jaar. Kan enigiemand jou moeg maak met die gedagte van ‘n duisend jaar. Ons kan skaars die honderd jaar wat die sterkste onder ons leef, beheer.

So hoekom sal ons in ‘n millenium belangstel? ‘n Duisend jaar is soveel meer as ‘n lewensduur en werklik moeilik begrypbaar.

Ek kan goed onthou hoe my ma haar berekeninge in haar besigheid, voor rekenaars en sigbladverwerkings gedoen het. Sy het haar eie sigblaaie gemaak. Sy het papiere aanmekaar geplak om die oorsig oor die berekeninge makliker in ‘n oogopslag te sien. Dit was maklik om hier en daar ‘n ekstra nul in te skryf of uit te laat, wat dan alles omvergooi. Miskien het sy een van die foute besef toe sy oor nulle filosofeer.

Dit maak baie saak waar jy die nulle in jou lewe skryf, het sy gesê. Nulle voor die een beteken niks. Nulle na die een voeg waarde toe. Sorg dat jy die nulle van jou lewe (jou eie pogings) ná die Een leef. Wanneer ons ons lewe “bereken” is dit net wat na die Een, wat soos die Kruis van Jesus geskryf word, kom wat werklik ‘n verskil maak.

Hier in die 20e hoofstuk van Openbaring is ons weer by die getalle van Openbaring, soos ons voorheen al bespreek het. Die hele gedagte van ‘n duisendjarige vrederyk waarin die Messias regeer, vind sy oorsprong in Joodse geskrifte. Die “dogma” as mens dit so kon noem, het grootliks verskil en afgehang van die tendense in die gemeenskap en die status van die leraar wat dit verkondig. Dit was veral gewild in die eeue voor die geboorte van Jesus. Dit is nie Christelik in oorsprong nie.

Voor Jesus se geboorte het die kerkleiers gevoel dat die wêreld inherent so sleg is dat die koninkryk van God en die Messias nie in hierdie realm kan kom nie. Uit hierdie siening het die gedagte van ‘n beperkte Messiaanse regering ontstaan, waarna die finale afrekening sou plaasvind.

Sommige historici sien die wêreldgeskiedenis in ‘n reeks van weke. Daar is sewe weke in die verlede, In die agste week sal die gelowiges met die swaard regeer en die huis van God bou. In die negende week sal boosheid vernietig word en geregtigheid floreer. In die tiende week sal die oordeel kom en daarna die ewigheid van God se goedheid.

Die psalmdigter vra God om die jare van lyding met jare van vreugde te vervang (Psalms 90:15). So het die gedagte ontstaan dat die goeie jare net soveel as die slegte jare sal wees.

Selfs meer gewild was die gedagte dat ‘n duisend jaar soos ‘n dag in die oë van die Here getel word.

 Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ’n nagwaak. (Psalms 90:4)

Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. (2 Petrus 3:8)

Die ou Hebreeuse skrywers het geleer dat elke dag van die skepping ‘n duisend jaar was. Die Messias sou in die sesde duisend jaar kom en Sy regering sou die sewende duisend jaar, die ekwivalent van die Sabbat, duur.

Hierdie hoofstuk in Openbaring wys dat Millenarianisme in die vroeë kerke redelik gewild was. Augustinus het die leer vergeestelik en in ‘n groot mate die verwagting van letterlike vervulling stadig laat sterf. Hy het die oorwinning oor Satan deur die gelowiges, die ware volgelinge van Christus as die regering van die Millenium gesien. Vanaf die geboorte van Jesus is die koninkryk van God op aarde gevestig en dit is die opstanding uit die dood van sonde van elke wedergebore Christen, wat sy plek as soldaat en stryder teen boosheid inneem en uitleef.

Die ewige heerskappy van die groot rots van Daniël 2:44, 7:14,27 is die koninkryk wat Jesus met sy eerste woorde van bediening bevestig het.

Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom. (Matteus 3:2)

Ek dink mens kan heeltemal veilig die interpretasie dat ons in die simboliese millenium leef, aanvaar. Die regering van die Messias is ingelei deur Jesus se lewe op aarde. Johannes het die millenium-gedagte ingesluit om te wys dat Jesus die antwoord eens en vir altyd op AL die verwagtinge van die Messias was en dat Hy deur die kerk, Sy heerskappy op aarde gevestig het.

Die getal duisend is gebruik om menslike ontelbaarheid uit te druk. Psalms 50:10 sê dat die vee op ‘n duisend heuwels aan die Here behoort en Job 9:3 verklaar:

As jy ‘n saak teen Hom sou wou voer, sou jy Hom nie eers op een vraag uit duisend kon antwoord nie.

Die slang is die “ou duiwel” (20:2) die vyand van die mens. Hy was daar in die Tuin by die eerste Adam se verleiding en het ‘n gemors van verwoesting en tragedie oor die wêreld losgeruk. Hy is die aanklaer van God se kinders en die teenstaander van God en mens.

Die afgrond (20:3) is gesien as ‘n onderaardse spelonk waar die afgestorwenes gegaan het. Dit was die onderwêreld of onderaardse diepte wat die duiwels gevrees het toe Jesus hulle uit die besetene van Gadara uitdryf. (Lukas 8:31)

Die onderaardse diepte word geseël net soos die graf van Jesus geseël is. God maak oop wat Hy oop wil hê. (Matteus 27:66)

Die duiwel wat losgelaat is, spreek van ‘n toetstydperk vir die Christene. Geloof wat getoets word, is blywend. Die wat in Christus sterf en die wat in Hom leef sal hulle loon ontvang en saam met Hom regeer in hulle bevoegdheid as regters. (20:4)

Die trone is die van die 24 ouderlinge, die kerk. Die ouderlinge word vier maal in Openbaring genoem. Hulle is die verteenwoordigers van die kerk op aarde en in die hemel (Daniël 7:22,27, Matteus 19:28, Lukas 22:30, Hebreërs 12:1,2) en word saamgestel uit die 12 stamme en die 12 apostels.

Diegene wat onthoof is, is die simboliese verwysing na die martelare en enigiemand wat vir die Evangelie ly.

 Oordeel wat van ‘n troon kom is ‘n konsep wat dikwels in die Nuwe Testament voorgekom het. Jesus het self gesê dat sy dissipels op trone saam Hom sal sit en die 12 stamme oordeel (Matteus 19:28). Paulus herinner die gelowiges aan hulle oordeelsplig. Dit is nie die tipe oordeel wat ons aan dink soos in ‘n hof met ‘n hamerslag en vonnis nie. Dit is die verpligting om te besluit om die regte ding te doen. Ons weet nou al wat die waarheid is, om Jesus, dié Waarheid, te ken. Ons kan nou al die leuens van die wêreld onderskei. Ons oordeel daagliks, om in moeilike omstandighede, waar bedrog en verraad heers, die regte keuses te maak.

Die dood het geen mag oor die gelowiges nie. Die fisiese dood is die oorgang na die ewigheid. (20:6)

Priester beteken brug-bouer volgens die Latyn, pontifex. Die priester bou ‘n brug tussen die mense en God. Ons het die voorreg om mense na Jesus te lei. Ons is die heilige volk, die koninklike priesterdom wat in Jesus brûe bou na God toe.

Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.(1 Petrus 2:9)

 Die kerk sal saam met Jesus regeer. In Christus is die mees gewone mens ‘n koning wat regeer.

In die volgende verse word die finale rebellie beskryf (20:7-10). Satan wil die einde verhaas aangesien die geleentheid vir redding verbygaan. God is in beheer van die tye. Die vier uithoeke van die aarde beteken die ganse aarde.

‘n Groot en gedugte mag wat optrek teen Jerusalem is een van die sentrale gedagtes in Joodse teologie. (Daniël 11:1-45, Sagaria     14:1-11)

Die stryd van Gog en Magog vind ons in Esegiël 38:1-23 en 39:1-29. Hulle sal optrek teen Jerusalem en uiteindelik totaal deur die Messias oorwin word.

Dit is nie ‘n fisiese, militêre stryd nie. Die stryd is geestelik. Ons leef in die geestelike dispensasie na die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag. Die fisiese Jerusalem is vervang met die nuwe Jerusalem, die kerk van Jesus.

In die laaste verse word die finale oordeel beskryf. (20:11-15)

Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn. (Romeine 14:10)

Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, (2 Korintiërs 5:10)

Hierdie skrifte bevestig die eenheid van God en Jesus. Daar is net een regterstoel van die Drie-eenheid. Dit is kern belangrik vir die Jode om dit te verstaan. Die Hebreeuse God is een, in teenstelling met die veelvuldige gode van die heidennasies om hulle. Hulle bely met oortuiging Deteronomium 6:4:

“Hear, O Israel: The Lord our God, the Lord is one!

 En ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. (Openbaring 20:11)

 Hemel en aarde sal vergaan, maar Jesus se woorde nooit. (Markus 13:31). Sien ook 2 Peterus 3:10, Psalms 102:25-27.

Die boeke word geopen. Daar is twee soorte boeke wat in Openbaring genoem word. Die Boek met die sewe seëls en die Boek van die Lam. (Daniël 7:10 en Openbaring 5, 13, 17 e.a) Ons juig by die oopmaak van die Boeke. Ons word die kosbare besitting van die Here. (Maleagi 3:16-18)

 God se boeke word dikwels in die Skrif genoem. Moses is gewillig om uit die Boek van die Lewe uitgewis te word ter wille van die volk (Exodus 32:32). Die psalmdigter vra dat die bose uit die Boek van die lewe uitgewis moet word (Psalms 69:28).

Paulus praat van mede-arbeiders wie se name in die Boek van die Lewe opgeskryf is (Filippense 4:3). Aan Sardis word die belofte gemaak dat hulle name nie uit die Boek van die Lewe gehaal sal word nie (Openbaring 3:5).

Elke heerser van die antieke wêreld het ‘n boek gehad waarin die name van die burgers opgeteken is. Dawid het die volk getel, die Romeine het gereeld ‘n sensus gehou. Dit is juis die rede waarom Josef en Maria uit Nasaret na Bethlehem moes gaan.

Die Boek van die Lewe is ‘n rekord van die geestelike, lewende, aktiewe burgers van die Koninkryk van God. Niks, nie eers die dood nie, kan jou naam uit daardie Boek verwyder nie.

Hoewel die kinders van God doodgaan, is hulle lewend in die onsienlike koninkryk van God.

Die see sal sy dooies teruggee. Vir die antieke wêreld was ‘n begrafnis van die grootste belang. Mense wat op see doodgegaan het, het geen begrafnis gehad nie. Johannes troos al die bygelowe en sluit almal in die uiteindelike opstanding in.

 Net so met die doderyk waar mense vir die opstanding gewag het. Met die opstanding van Jesus is die doderyk leeggemaak.

 Alle dood word onder die opstanding van Jesus in oorwinning omskep. Satan het geen mag in die finale opstanding nie. Prys die Here!

 

66. Opstandingslig op jou pad.

Besluit jy iets, dan kom dit tot stand; en oor jou weë skyn ‘n lig.

[Job 22: 28]

Paas is afgehandel. April is vakansiemaand. Skoolvakansies en vakansiedae – asemhaal-kans na ‘n besige eerste termyn. Plesier, ontspanning en winterplanne het alle gedagtes aan die Paastyd verdryf. Dit was na alles maar net weer die gewone jaarlikse herdenking van die kruisiging.

Dink net vir ‘n oomblik hoe ‘n gespanne-opwindende tyd hierdie dae na die opstanding vir die volgelinge van Jesus was. Vanaf daardie Sondag wat Maria die dissipels kom roep het en die leë graf ondersoek is, het die nuus versprei. Lees gerus al 50 versies van die triomfantelike Lukas 24. In die 40 dae voor die Hemelvaart het Jesus drie keer aan Sy dissipels verskyn. [Johannes 21:14]

Maria het agtergebly daar in die tuin by die graf en alleen die geleentheid gehad om met Jesus te praat nadat die ander dissipels huis toe gegaan het. Dit was vir haar die hoogste troos wat daar kon wees en een wat haar verwagtinge oortref het. In haar gesprek met Hom is haar pyn en vrees genees. Herstel is gewaarborg in die teenwoordigheid van die Here.

Die dissipels, wat nie gewag het nie, is terug agter die geslote deure van vrees. Johannes 20:19:

En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle!

Hy sal jou kom haal, selfs agter die deure van jou vrees en vertwyfeling. Hy het dit gedoen vir Thomas, agt dae later. Spesiaal, sodat Thomas presies dieselfde ondervinding het, as die ander wat Hom gesien het. Kind van die Here, die donkerste dag van die Hemel, wat chaos onder die volgelinge van Jesus gesaai het, het in oorwinning verander toe Jesus verskyn. Net so sal Sy verskyning in jou donkerste dae, die chaos in oorwinning laat verander.

Johannes praat van baie tekens wat Jesus gedoen het, wat nie beskrywe kan word nie. Johannes 20:30.

Ek kan my net voorstel. Die tonge was los, die berigte het versprei, die storie het geloop. Op een of ander stadium het die dissipels Jerusalem verlaat en teruggekeer na die See van Galilea om voort te gaan met die bekendheid van hulle visvangery.

Die beskrywing van Sy verskynings lees soos ‘n spanningsverhaal. Jesus verskyn en verdwyn. Hy stap saam na Emmaus en luister na hulle verwarring en vertwyfeling. Daardie stappers het sekerlik die mees insiggewende teologiese gesprek op die hele aarde gevoer, toe Jesus Homself in die Skrifte aan hulle verduidelik. Selfs na al hierdie superieure lering het hulle oë eers oopgegaan toe Hy die brood breek. Slegs in Sy teenwoordigheid, met Hom aan die tafel sodat Hy self vir jou die Brood van Sy liggaam breek, sal teologie sin maak.

Hulle was nie seker wanneer hulle Hom weer in lewende lywe gaan sien nie. Die dissipels is by die meer, besig met hulle gewone pligte. Petrus gaan visvang en die ander saam met hom, maar hulle vang die hele nag niks nie. Skielik is Hy weer by hulle, op die strand, soos van ouds toe Hy hulle geroep het, maar hulle herken Hom nie dadelik nie. Jesus vra hulle of hulle iets te ete het en hulle antwoord nee. Hy beveel hulle om die net aan die regterkant van die skuit uit te gooi. Sonder omhaal van woorde, met net ‘n eenvoudige opdrag, het hulle ‘n wonderbaarlike oorvloed vis wat hulle uittrek sonder dat die nette skeur. Johannes herken die wonderwerk en verklaar: Dit is die Here. Petrus spring sommer in die see en hardloop uit om vinniger op die strand te kom.

Na ‘n heerlike ontbyt – daar is niks soos vars vis op ‘n vuur op die strand nie – en sekerlik in gesprek met hulle geliefde Jesus wat al die vrees en onsekerheid van die kruisigingstyd verdryf, word die besonderhede van Jesus se gesprek met Petrus fyn beskryf.

Dit word duidelik dat die tyd na die opstanding ‘n tyd van herstel is. Petrus word herstel in vergifnis en liefde sodat hy toegerus is om sy hoë roeping te vervul. Die dissipels se pyn en verwarring na die kruisiging word omskep in oorwinningsvreugde en verwondering.

Handelinge begin met Lukas se saaklike stelling wat die opstanding bevestig.

Handelinge 1:3

 to whom He also presented Himself alive after His suffering by many infallible proofs, being seen by them during forty days and speaking of the things pertaining to the kingdom of God.

Gryp vas aan hierdie waarheid. Ons beleef nou die 40 dae na hemelvaart en dan kom die 10 dae in die bokamer van Pinkster in afwagting op die Heilige Gees. Die Fees van die Weke waarin die eerste vrugte op ‘n oes gevier word.

Dit is ‘n tyd waarin verwarring en vrees vervang word met verwagting en geloof. Dis ‘n tyd wat nuwe insig op jou situasie deur die opgestane Jesus se superieure teologie die oorvloed vis intrek sonder dat die net skeur.

Waar is jou oog? Op die aktiwiteite van ‘n jaar wat voortsleep, alreeds vasgedraai in ‘n warboel van werk wat jou visie verdof.

Dit is weer tyd vir stilte en onderworpe denke.

2 Korintiërs 10:5:

… terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,

In daardie stilte bid ons Psalm 121:1: Ek lig my oë op…

Dit is net moontlik om God te sien as ons oog reg ingestel is om Hom te herken. Bid saam met die blinde Bartomeus: Here, laat ek kan sien… [Markus 10:51]

Sien jy die wonderlike visvangs? Sien jy Jesus wat op die strand staan en vir jou ontbyt braai? Verhef jou verwagting en kyk wat die Here vir jou doen.

Exodus 14:13

And Moses said to the people, “Do not be afraid. Stand still, and see the salvation of the Lord, which He will accomplish for you today.

Deuteronomium 1:21

Look, the Lord your God has set the land before you; go up and possess it, as the Lord God of your fathers has spoken to you; do not fear or be discouraged.’

Die vermoë van ‘n mens om verkeerd te kyk, is skrikwekkend. So dikwels kan iemand objektief in ‘n ander se situasie inkyk en nie verstaan waarom dinge so verkeerd loop nie. Die manier waarop jy kyk is bepalend en kan jou lewe versuur of versier. Dis in jou mag om die slegte raak te sien en daarop te reageer, net soos dit in jou mag is om die regte dinge raak te sien en met wysheid te reageer – met die vrug van die Heilige Gees, sonder woede en verwyte. Ons word uitgedaag om met liefde en begrip op die gebrokenheid van die wêreld te reageer.

Dit kan goed gaan met jou sonder dat jy dit besef. Sien jy seën raak en leef jy in dankbaarheid met ‘n goddellike bewustheid van voorsiening en beskerming van jou Vader?

Kyk jy die seker tekens van ‘n huwelik wat skeefloop en kinders wat smag na aandag en aanvaarding mis? Dis so maklik en gebeur heeldag. Net die Heilige Gees gee ware insig in jou eie binneste. Hy oortuig van sonde. Laat Hom toe om jou gemoed aan te spreek, bely jou sonde en koop die oogsalf by die Koopman van Openbaring 3:18 sodat jy nie naak, misrabel, blind en arm deur die lewe gaan nie. Jesus sê self: [Matteus 6:22 en 23]

Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees.

Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!

Wat is genesing vir die verkeerde oog? Die uitdaging is om werklik te sien en diepe insig en kennis te verwerf.

Spreuke 9:10

Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand.

Ons oog op die Here is sonder twyfel die bron van insig en genesing van die geestlike blindheid waarmee die sorge van die lewe ons sig verdof.

‘n Groot vreugde is om te besef waar God se oog is. Hy verklaar so dikwels in die Skrif waar Sy oog kyk en dat Sy oog op ons ‘n voortreflike lewe verseker.

Psalm 32:8

Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.

My hart roep uit in dankbaarheid vir die versekering dat God se oog op my is.

1 Samuel 9:16

…for I have looked upon My people, because their cry has come to Me.”

1 Samuel 16:7

Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.

God se oog kyk diep – dieper as wat ons ooit kan kyk. Insig in die lewe van ons familie en vriende kan net in die diepste vertroue op die insig van die Heilige Gees wees sodat ons met onvoorwaardelike liefde daarop kan reageer.

2 Kronieke 16:9

… Sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is…

Waar is jou oog in hierdie opstandingstyd? Sien jy die opgestane Jesus? Kyk jy met nuwe insig en is jou verwagting sterk genoeg? As jy opkyk sal jy God se oog op jou vang.

Lig jou oog op…

My gunsteling lied oor die opstanding. Don Francisco: He’s Alive.

37. Die Fees van die dood – hoe dan nou?

In hierdie laaste week voor Paas is dit altyd goed om ‘n tree terug te staan en die gebeure van daardie donker Vrydag so lank gelede met ‘n objektiewe menslike oog te beskou. Tot op daardie stadium is die geskiedenis ‘n storie van oorheersing deur een of ander antieke beskawing, wat sy politiese en kulturele hoogtepunt, militêr op die res van die wêreld afdwing. Hier op die draaipunt van die eeue, is dit ook nie anders nie. Die beeld van Nebukadneser van Babel se droom, wat deur Daniël in die sesde eeu voor Christus uitgelê is, is nog steeds aan die uitspeel in die tyd van die Kruis. Babel, die beeld se kop van goud, is die ryk in wes-Asië wat die heerskappy by Egipte oorneem, afgee aan die ryk van Darius, die Meed, gevolg deur Xerxes van Persië (Ester pas hier in). Die ryk van die Mede en Perse moet kniebuig voor die Griek, Alexander die Grote, en die magtige voete van yster en klei – Rome – neem oor.

In die tyd van Jesus is die Romeine hooghartig en wreed. Die oorheersing is hardhandig en onregverdig. Hoewel die Romeinse reg vandag nog ‘n voorbeeld van superieure intellektuele denke is, geld dit nie vir nie-Romeinse burgers in die tyd van Jesus nie. Dis net ‘n totale wreedaard wat ‘n kruisdood kan uitdink en toepas. Duisende mense word tereggestel aan ‘n kruis, die doodstraf is maklik afdwingbaar en word toegepas om die geringste opstand of teëstand te onderdruk.

In ons sigbare wêreld is die dood ‘n finaliteit waarmee rekening gehou moet word. Jesus het hierdie misterie en die vrees wat dit inboesem, erken in die insidente waar hy op aarde met die fisiese dood te doen gehad het. In hierdie wrede tyd, waar ‘n mens se lewe goedkoop is, is die dood ‘n verskrikking, omhul in vrees en bygeloof.

Daar was 3 insidente waarop hy die dood gekonfronteer het . Dit was inderwaarheid ‘n konfrontasie, want dis beskou as ‘n magtige vyand – finaal en onbekend. Jairus se dogter, die weduwee van Nain en Lasarus word in volgorde in Markus 5, Lukas 7 en Johannes 11, opgeteken. In die geval van Jairus en Lasarus het Hy gesê hulle slaap. Die mense in beide gevalle het dit verkeerd verstaan – by Jairus het hulle hom uitgelag en by Lasarus het sy dissipels gesê as hy slaap sal hy beter word. Jesus moes toe vir hulle in “menstaal” sê – verstaan tog, by julle standaarde – hy is dood! [Johannes 11: 14.]

Jesus se woordgebruik is belangrik – amper asof Hy die fisiese dood nie erken nie. Die dood kry ‘n statusverlaging!! Die tweede dood [Openbaring 20:6 en 21:8] is die dood wat gevrees moet word. Dit is die dood wat Jesus geweet het, Hy is gestuur om te oorwin deur Sy bloed. Hy sê aan die gemeente in Openbaring 2:11 – hy wat oorwin sal nie deur die tweede dood geraak word nie. Hier gaan ons terug na die eerste beginsels van Bodemklippe in Filiipense 3:10 en 11 – die opstanding uit die dood in hierdie lewe.

In beide gevalle is Jesus geroep na die krisis van ‘n siekbed wat in menslike wysheid tot die dood gelei het. In die geval van die weduwee lyk dit asof Jesus amper “toevallig” op die begrafnis afkom (niks in Jesus se lewe was ooit toeval nie) en dan ingryp sonder uitnodiging op grond van sy simpatie met die ma. Kom ons laat hierdie geval vir eers daar.

Jairus en Lasarus se groot krisis het gekom toe Jesus oënskynlik “opgehou” is en toe te laat is. Met ander woorde: die dood het Jesus voorgespring. Dood is so finaal en so onbestrede, daar is dadelik magtelose aanvaarding in die familie. Die naastes en die mees geraaktes aanvaar en deins terug.

Kom ons kyk na die agtergrond. Jairus is die leier van die Sinagoge. Hy is ‘n baie belangrike, verantwoordelike en hoog aangeskrewe mens. ‘n Mens sou dink dat hy ‘n dienskneg sou stuur om Jesus te roep. Hy stuur nie ‘n bediende nie. Hy verlaat sy kind se sterfbed om self Jesus te roep. Uit sy oogpunt: ‘n vernedering met groot risiko. ‘n Mens kan jou net voorstel – ‘n paniekerige haastigheid in Jairus. Kan Jesus nie maar ook hardloop nie? Maar Jesus stop en praat met die vrou wat aan hom aanraak en genesing kry. In Jairus se gedagtes kon haar wonderwerk seker wag. Sy het immers nog geleef en geloop. Sy kind het gelê en die dood was menslik gesproke onvermydelik. Hy kon seker Jesus verwyt het dat die oponthoud die “laaste spyker in sy kind se kis” was. Toe hulle uiteindelik weer oppad was toe kom die tyding – TE LAAT!

Jairus se mense gee vir hom die boodskap. Jesus is nou nie meer nodig nie. Mens kry die indruk hulle was amper verlig. Hulle het dalk nie saamgestem met hierdie “wild goose chase” van Jairus nie. Hulle woorde: Hoekom val jy die Meester nog lastig? [Markus 5:35] gee die indruk dat hulle Jesus van die hele petalje wil weghou. Hulle wil druk op hom sit om terug te val op die bekende proses van hartseer en rou wat vooraf deur die gemeenskap voorgeskryf is. Die krisis het sy volle verloop geneem, die worst case scenario het getref. Duidelik is die gevoel: Kom nou, Jairus, aanvaar die dood. Niemand kan nou nog iets doen nie. Gedra jou Jairus. Tree op met die waardigheid van rou.

‘n Joodse huis in rou was regtig iets geweldig. Daar is weeklaers gehuur om ‘n groot lawaai te maak by die huis en by die graf. Die weeklaers het op hulle bors geslaan, oor die lyk gehang, hulle hare uitgetrek en hulle klere geskeur. Fluitspelers (selfs ‘n arm man moes minstens twee hê) is gehuur. Geskeurde klere is vir 30 dae gedra en na sewe dae kon die skeur baie rof toegewerk word, maar moes nog duidelik sigbaar wees. ‘n Persoon wat rou mag nie werk nie, mag nie Bybel lees nie (want dis ‘n vreugde), moes eiers in sout en as gedoop eet. Dan was daar nog die bygeloof. Alle water is uit die rouhuis sowel as die bure se huise verwyder, want, het hulle geglo, die doodsengel doop sy swaard in water. Die betrokkenes moes buite hulleself wees van hartseer en is daarom ook van die wet vrygestel.

Hierdie voorskrifte het van ‘n Joodse huis ‘n patetiese, plek van weeklaag gemaak met alles gefokus op die finaliteit van die dood en magteloosheid van die mens daarteen. Die oorwinningshoop van die Christelike geloof was heeltemal onbekend.

Stel jou net voor : hoe rewolusionêr en in skreeuende kontras Jesus in hierdie desperate lawaai, met kalmte, sekerheid en doelgerigtheid instap. Totaal ongekend in hierdie situasie.

Let op Sy woorde: Jairus, moenie vrees nie. Bly glo! Onthou Jairus het groot geloof alreeds gewys en Jesus komplimenteer sy geloof. Hierdie woorde is belangrik as jou krisis draai na slegste moontlik.

Hy stuur die mense weg, vestig kalmte en as ek mag opmerk – meer rasionaliteit in Sy teenwoordigheid. Hy verwyder die geraas, te veel gepraat, ou gewoontes en bygeloof. Sy teenwoordigheid maak al die verskil. Hy kom met kalmte en woorde van sekerheid.

Sy woorde word in die Grieks geskryfde Nuwe Testament in Aramees aangehaal: Talitha cumi – dogter staan op. Hoekom?

Baie spesiaal : daar was sekerlik soveel liefde, soveel simpatie, soveel deernis en soveel krag in daardie eenvoudige doodskonfrontasie dat dit volgens een kommentaar vir die Bybelskrywers onvertaalbaar gevoel het. Jesus se woorde in kontras met die wreedheid van die geskreeu en gekla.

Die onbeskryflike, onmoontlike het gebeur – die dood is oorwin. Jesus is rasioneel en prakties, met die opdrag om vir haar iets te gee om te eet. Amper asof hy sê: moenie in die emosie van die oomblik die praktikaliteite vergeet nie.

Hy sê ook om stil te bly oor die wonderwerk. Hierdie wonderwerk was privaat en kalm, sonder die fanfare van die tyd. Jesus het geweet hoe ‘n geweldige aanslag teen die wonderwerk van die mense sou kom. In stilte is daar beskerming – so ‘n duidelik boodskap van sekerheid. Geen verduideliking is nodig vir jou bonatuurlike uitkoms nie. Natuurlik sou die mense sien die dogtertjie lewe. Onthou die Israeliete moes stilbly toe hulle om Jerigo loop. Hulle het net die sewende keer geskreeu. Hulle moes stilbly in die aanslag van gespot en gevloek. Dis die beskerming van stilte.

Meer as 10 jaar gelede, was ek eenmaal in die kerk in Hermanus. Dit was die United Church se diens op die Donderdagaand voor Paas. Hulle noem dit die diens van Tenebrae – dis die Latynse woord vir duisternis of skaduwee. Die beskrywing daarvan is soos volg:

The distinctive ceremony of Tenebrae is the gradual extinguishing of candles while a series of readings and psalms is chanted or recited.

Die seremonie was pragtig. Die duisternis van die Tuin van Getsemane is herdenk. Kerse in die vensterbanke van die kerkie is met elke skriflesing wat deur die gemeentelede self hanteer is, uitgedoof, totdat die kerk in algehele duisternis was. In totale stilte is een groot kers voor in die kerk opgesteek – die hoop op die Opstanding.

So was dit ook. In die Tuin van Getsemane is die werklike oorwinnig behaal. In die diepste duisternis is die oorwinning van die Lig sonder twyfel sigbaar.

Tydens hierdie Paastyd, moenie die tyd van stilte vergeet nie. Die rasionele kalmte waarmee die duisternis van die Seun van God in Sy doodsoomblik herdenk word. Die oënskynlike oorwinning van verskrikking, met die seker wete – die Opstanding volg. Lewe en Lig seëvier!

Volgende week – die opwekking van Lasarus. Gebeure kort voor die Paasfees van daardie tyd, lei tot die kritiek en veroordeling wat die kerkleiers opsweep om Jesus se teregstelling te beplan, wat kort daarna plaasvind. Lasarus se triomfantelike oorwinning oor die dood op grond van die stem van Jesus wat hom uit die kloue van verskrikking uitroep.