[Openbaring 19]
Daar is geen tywfel dat die tale van die wêreld ‘n phenomeen is wat ons verhoudinge op ‘n globale skaal grootliks bepaal. Ek is gefasineerd met taalontwikkeling en die geskiedenis van taal. Daar is baie tale, moeilik om te leer en soveel talentvolle mense wat soveel tale bemeester. ‘n Taal is insig in ‘n volk, ‘n verduideliking van die siel van etnisiteit.
‘n Paar dekades gelede het Coke ‘n aangrypende liedjie in hulle advertensie gebruik. Wie kan onthou? I’d like to teach the world to sing in perfect harmony. Ek kan goed onthou hoe ek gevoel het as ek die liedjie hoor. Ek het gedink dit is die heel beste ding wat ooit kan gebeur. Musiek kan die wêreld verenig. Ek het daardie selfde gevoel as ek Openbaring 19 lees. Dit is presies wat die wêreld nodig het.
Die storie van die toring van Babel in Genesis 11 is eienaardig, om die minste te sê. Die mense van die aarde kom na die vloed bymekaar en beplan om ‘n toring te bou. Volgens die prentjies in die Kinderbybel het hulle al ver gevorder voor die taalverwarring gebeur het. Hulle taaleenheid het hulle baie kragtig gemaak. God self sê dat niks vir hulle onmoontlik sal wees nie en verwar hulle taal. As gevolg daarvan versprei hulle oor die aarde soos wat Hy oorspronklik bedoel het.
Eeue later gebruik God ‘n wonderwerk van taal om Sy kerk te verenig sodat hulle die krag van eenheid kan ontvang. Op Pinksterdag het taal die ongelowiges verbyster en die kerk gevestig. Tale is een van die gawes van die Heilige Gees wat deur Hom uitgedeel word, soos dit nodig mag wees (1 Korintiërs 12:4-11).
Dit is die kerk van Jesus-taal, maar wat van die tale van die wêreld wat so moeilik is om te oorkom. Oor soveel eeue, selfs voordat televisie en digitale media globale kommunikasie oorgeneem het, was daar een woord in enige taal herkenbaar, tot vandag toe nog.
Selfs die eenvoudigste mense van die meeste volke kan Hallelujah herken, moontlik met klein variasies in spelling. Die negentiende hoofstuk van Openbaring begin met ‘n loflied van onmeetbare skares. God se oordeel, waarvan ons in die vorige hoofstukke gelees het, bring vreugde en vrede in die harte van die gelowiges. Die menigte wat sing is die engele (7:9) en die martelare en gelowiges (5:11). Hier is almal saam in ‘n koor van lof wat psalm sing tot eer van die Allerhoogste.
Halal beteken prys en Jah beteken Jahweh. Dit is die eerste frase van soveel Psalms. Psalm 118 word die Hallel genoem en elke Jood sal dit ken.
Die heelalkoor sing van saligheid, glorie en mag. In skrille kontras tot die aktiwiteite van die dier, bring God uitkoms en wonderwerke. Saligheid bring danksegging, glorie bring respek en mag bring die besef van liefde en uit dit vloei vertroue. Dit is die elemente van ‘n lofsang.
Sonde moet geoordeel word. In die woorde van T.S. Kepler:
The moral law can no more be broken than the law of gravity; it can only be illustrated.
God se oordeel is volmaak en waar en altyd geregtig omdat:
- God alleen weet alles, ook die innerlike van die mens
- Hy is waarlik rein en sonder vooroordeel
- Hy is alwys met die mag om dit toe te pas
Die Here sal nooit Sy eie in die steek laat nie. Die lof kom uit die kerk, die 24 ouderlinge (19:3-5) en hulle word opgeroep om te sing. Dit is inderdaad ‘n alamagtige gedreun.
Die woorde wat hulle sing herinner ons aan Jesaja 34:9-10 waar die oordeel oor Edom uitgespreek word. Die oordeel is voltooi. Die kerk en die natuur verenig in een groot lofgesang.
Die dienaars is die profete (10:7, 11:18 & 22:6) en die martelare (gelowiges) (7:3, 19:2). Klein en groot (19:5) beteken Christene van al die vlakke van die lewe, intellektuele vermoeëns en sosiale stand en ook al stadia van Christen” ouderdom”. Die wonder-fees is weer eens insluitend soos alles in die Evangelie.
Dit is die gereddes wat sing (19:6-8). Volgens Efesiërs 3:10 is dit die kerk wat God se veelvuldige wysheid aan die hemelse wesens bekend maak. Dit is die doel van die kerk in die onsienlike.
Die geluid van baie waters en die gedreun van donderweer is geluide wat nie ignoreer kan word nie. Dit mag skrikwekkend vir baie wees, maar is verwelkomend aan die deelnemers. Die geluid oordonder alles in die heelal. Dit is die “geluid” van wonderwerke. Ons erken die lofsang van die heelal. Onthou die ou lied:
I hear the voice of the Supernatural singing
Like only those who know Him can
In Matteus 5:12 gebruik Jesus twee woorde: chairein en agalian. Dit beteken om te juig of jubelend bly te wees. Ons het alreeds die gewoonte om te herhaal van die Hebreeuse taal bespreek. Dit ondersteun memorisering en beklemtoon waarhede.
Die huweliksfees van die Lam (19:7) is ‘n heerlike gevolg van die intieme verhouding van Christus en die kerk. Sy bloed bind ons aan Hom in ‘n verhouding wat geen mens kan vernietig nie, net ons eie keuse van verraad.
Die huwelik is ‘n gerespekteerde instelling en ‘n dinamiese beginsel in die Woord. Die profeet Hosea het sy hele lewe as ‘n simboliek van die volk se afvalligheid van God geleef, deur met ‘n prostituut te trou en selfs kinders by haar te hê. Hy moes haar telkens van die strate gaan terughaal, waaarheen sy in verraad en ontrou teruggekeer het. In Hosea 2:18,19 belowe God Sy ewige trou.
Ek gaan jou my bruid maak vir altyd. Ek gaan jou aan My bind deur my weldade en my goeie sorg, deur my liefde en my ontferming. Ek gaan jou aan My bind deur my onverbreekbare trou sodat jy aan My, die Here, toegewy sal wees.
Hy verklaar deur Sy profeet Jesaja dat jou Maker jou Man is. (54:5). Esegiël 16:1-63 verduidelik God se wonderbare benadering tot Sy volk as Hy in liefde uitreik en die verhouding herstel. Die gedeelte is ‘n bemoediging om volle vertroue in die onkeerbare goedgesindheid van die Here te hê.
Die Almagtige God (19: 6-8) word uitgedruk in die woord pantokrator, wat beteken dat Hy beheer oor alle dinge het. Hierdie frase is algemeen in Openbaring maar kom net een keer buite Openbaring in die Nuwe Testament voor. (2 Korintiërs 6:18). Daar is niks vir Hom onmoontlik nie. Hy kan net wen, nooit verloor nie en ons in Hom is oorwinnaars.
Daar is baie verwysings in die Nuwe Testament na bruilofsfeeste en God se gedagtes oor die huwelik. (Matteus 22:2, 10-11, 25:1, Markus 2:19, Johannes 3:29, 2 Korintiërs 11:2, Efesiërs 5:21-33.)
Een groot waarheid staan bo alles: ‘n liefdelose huwelik is onmoontlik. Die intieme gemeenskap van ‘n huwelik waarin twee mense een word, is totaal onmoontlik sonder liefde. Met liefde is dit ‘n vreugde. Getrouheid impliseer noodwendig lojaliteit.
Aanbidding by die Messiaanse banket (19:9 -10) is ‘n ego van die lang verwagte tradisie van die koms van die Messias in Joodse literatuur.
Op hierdie berg gaan die Here die Almagtige ‘n feesmaal gereed maak vir al die volke, ‘n feesmaal met die beste om te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn. (Jesaja 25:6)
Jesus sien uit om saam met al die geloofshelde (dit is ons ingesluit) aan die tafel te sit en ‘n feesmaal te geniet.
Ek sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel. (Matteus 8:11)
Dit is die verstommende realiteit van die onsienlike koninkryk van Jesus op aarde. Nou reeds sit ons aan by die feesmaal in Sy teenwoordigheid deur die Kruis (Psalm 23, Openbaring 3:20) en in Sy woord “gesels” ons met die geloofshelde van die eeue.
Johannes skryf (19:10):
Toe het ek voor sy voete op my knieë neergeval om hom te aanbid. “Pas op, moenie!” sê hy toe vir my. “Ek is ‘n mededienaar van jou en van jou medegelowiges wat aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. Aanbid God, want dit is Jesus wat die getuienis gelewer het, en dit is die Gees wat die profesie gegee het.”
Ons kan nooit die boodskapper aanbid nie. Aanbidding is aan God alleen. Die engel is slegs die dienaar. Engele het ‘n belangrike rol in die Joodse godsdiensbeskouing gespeel, maar kan nooit God as Opperwese vervang nie.
Dit is die toets vir enige profesie. Die ware profeet sal Jesus die middelpunt van alles maak. Die profeet kan nie praat as hy nie van God gehoor het nie.
Die mees dramatiese oomblik in hierdie ganse Bybelboek is Jesus se veskyning op die wit perd.
Sy name is Getrouheid en Waarheid, die oorwinnaar. Hy word beskry as die Een wat oorlog voer, in lyn met die Messiaanse verwagting van die Jode. ‘n Romeinse generaal het in ‘n triomftog altyd op ‘n wit perd deur die strate gery.
Getrouheid verseker ons van absolute betroubaarheid en Waarheid is die bron van alle werklikheid in teenstelling met die leuen van illusie en verraad.
Daar is by Hom geen omdraai nie. Hy is geregtigheid. Hy is die regverdige regter. Hy spreek reg deur die offerbloed van Sy seun. Dit is die dieper reg van Een voor Wie alles oop en bloot is.
Sy oë is soos vuurvlamme wat beteken dat Hy alles sien te alle tye. Hy word gekroon met baie heerserskrone – politieke en oorwinnaarskrone (diadema & stephanos).
Dit was algemene gebruik dat die oorwinnaar die krone van die gebiede wat oorwonne was, gedra het. Jesus is die oorwinnaar van al die aardse koninkryke, meer as die van die draak.
Sy naam is die WOORD van God, soos beskryf in die eerste hoofstuk van Johannes se Evangelie.
‘n Jood sal verstaan dat woorde nie blote klank is nie. Dit impliseer aksie. Woorde is ‘n kragtige energie-eenheid.
‘n Voorbeeld hiervan is die seën wat oor Jakob uitgespreek is en nie omgekeer kon word nie (Genesis 27). God se woord is ‘n hamer wat die rots in stukke breek (Jeremia 23:29) God se woord skep. God se woord aktiveer sy voorskrifte en wonderwerke.
Jesus het gebed omskep in ‘n ware gesprek met ‘n liefdevolle Vader. Hy gee ons Sy naam om in gebed te gebruik (Johannes 16:23)
Jesus is die openbaring van God vir hierdie dispensasie, maar dis nie die volle beeld van wat God is nie. Hy is altyd meer as wat ons verstaan. Die hemelse Jesus is die oorwinnaar, nie die veroordeelde slagoffer soos voor die Kruis nie. (Jesaja 63:1-3)
Sy kleed is in bloed gedoop. (19:13, Jesaja 63:1-3)
Sy kleed is simbolies van die Bloed wat Hy vir ons gestort het.
Hy regeer met ‘n ystersepter van gesag en sekerheid, nooit tirannie.
God se toorn (19:14-16) staan in sterk kontras met die bruilofsfees.
Jesus praat van die hemelse leërskare in Matteus 26:53. Hy kon hulle tot Sy voordeel beveel.
Sy swaard is die Woord wat Hy spreek.
Hy sal die goddeloses in die land hard oordeel, met sy uitsprake sal hy hulle om die lewe bring. (Jesaja 11:4)
Jesus se vyande se verdoemenis word in die laaste verse van die hoofstuk uitgespel (19:17-21).
Die roofvoëls word uitgenooi om die vlees van die bees en sy vyande te verorber. Dit herinner aan die beskrywing van Esegiël 39:17-19 van Gog en Magog se ondergang.
Hulle sal in die poel van vuur gewerp word. Dit is die gevolg van sonde en boosheid. Uiteindelik is dit altyd die mens se eie keuse wat sy ondergang bring. God wil dat almal gered word.(Openbaring 20:14, Daniël 7:11)
Dit is ook wat mens om jou sien vandag. Die gevolge van sonde is geweld en verwoesting, hel op aarde. God se Woord verwoes Sy vyande.