109. Hoe kan dit liefde wees?

[Openbaring 16]

Selfvoldaan en aanmatigend probeer die wêreld vandag omskryf wat liefde is. Die sekulêre begrip van liefde bepaal voorwaardes, gevoelens en omstandighede wat as liefde geld. ‘n Oomblik se seksuele genot word beskryf as ‘n liefdesdaad – making love – selfs as daar van verhouding geen sprake is nie. Reusagtige en kleinere liefdadigheid impliseer liefde, veral as menslike pogings die verwoesting van die duiwelse dier van Openbaring en die tragedie wat volg, wil verlig. Wat ookal die wêreld dink of doen, dit kan nooit met die Bron van Liefde vergelyk, God in Jesus se aarde-lyf, wat ons almal in staat stel om lief te hê.

Antieke Grieks het met vier woorde liefde omskryf. Philia – broederlike liefde tussen gelykes soos vriende, eros – romantiese liefde en storgé liefde tussen kinders en ouers en ander verhoudings soos patriotisme en “liefde” vir ‘n sportspan.

Die vierde woord agapé is selde in antieke tekste buite die Nuwe Testament gebruik. Die woord was bekend, maar sonder inhoud, amper asof dit vir ‘n besondere inhoud en definisie gewag het. Jesus het die woord gebruik. Net die blote definisie daarvan is asemrowend wonderbaar en kragtig om God se liefde te beskryf.

Agapé is onvoorwaardelike liefde, liefde uit keuse, vyrwillig en doelbewus. Die woord bepaal ‘n onstuitbare goedgunstigheid en onuitwisbare welwillendheid wat altyd, sonder uitsondering, die heel beste belang van die objek soek en navolg, sonder enige oorweging van die objek se waarde. Dit is nie afhanklik van enige chemiese reaksie van verliefdheid, gevoel of emosie van vriendskaplikheid of aantreklikheid nie. Dit is ‘n liefde uit keuse en nie uit toeval nie. Dit is selfloos en vrygewig sonder om enigiets terug te verwag.

Agapao (werkwoord) en agapé (selfstandige naamwoord) is die woorde van die Nuwe Testament vir God se liefde.

Agapao is ‘n woord wat eintlik eksklusief aan die Christen gemeenskap behoort. Die woord is byna nooit buite die Bybel gebruik nie en kom selde of ooit in die tekste van die Griekse filosowe voor.

Hierdie definisie moet duidelik en onuitwisbaar in aanbidding en meditasie in ons gedagtewêreld gevestig word, voordat ons voortgaan met die studie van hoofstuk 16 in Openbaring. Lees die definisie weer en vra die Heilige Gees om aan jou te openbaar net hoe lief God die wêreld het.

Die sewe engele is gereed om die sewe bakke met God se toorn oor die aarde uit te giet.

Onthou altyd, alle rampe en tragedie is om mense tot bekering te lei. Die Here wag op die desperate roep van die slagoffers van rampspoed en is altyd gereed om kragtig in te tree met wonderwerke van uitkoms.

Die plae wat hier genoem word, herinner aan die tien plae van Egipte, hoewel al die detail nie ooreenstem nie.

Hier volg ‘n opsomming van dit wat ons tot nou toe weet van rampe en teëspoed wat uitspeel oor die eeue.

In die eerste plek – die tien plae oor Egipte in die tyd van Moses en die slawevolk.

(i) Water wat in bloed verander (Exodus 7:20-25).

(ii) Paddas (Exodus 8:5-14).

(iii) Muggies (Exodus 8:16-18).

(iv) Steekvlieë (Exodus 8:20-24).

(v) Pes onder die vee (Exodus 9:3-6).

(vi) Bose swere (Exodus 9:8-11).

(vii) Donderweer en hael (Exodus 9:22-26).

(viii) Sprinkane (Exodus 10:12-19).

(ix) Duisternis (Exodus 10:21-23).

(x) Dood van die eersgeborenes (Exodus 12:29-30).

In die tweede plek volg die rampe van die sewe trompette.

(i) Hael, vuur en bloed wat ‘n derde van die bome en gras laat vergaan (Openbaring 8:7).

(ii) Berg wat brand en in die see gegooi word sodat ‘n derde van die see bloed word (Openbaring 8:8).

(iii) Die ster, Bitterals, wat in die waters val en ‘n derde van die waterbronne en riviere besmet (Openbaring 8:10-11).

(iv) ‘n Derde van die son, maan en sterre wat verduister (Openbaring 8:12).

(v) Die ster wat die helse put ontsluit en die sprinkaan-weermag op die aarde loslaat (Openbaring 9:1-12).

(vi) Die loslating van die vier engele by die Eufraatrivier en die demoniese ruitermag uit die ooste (Openbaring 9:13-21).

(vii) Die aankondiging van God se oorwinning en die rebelse woede van die nasies (Openbaring 11:15).

In die derde plek volg die rampe van hierdie hoofstuk.

(i) Bose sere aan die mense (Openbaring 16:2).

(ii) See wat bloed word (Openbaring 16:3).

(iii) Riviere en fonteine wat bloed word (Openbaring 16:4).

(iv) Son wat brand soos vuur (Openbaring 16:8).

(v) Duisternis oor die koninkryk van die dier (Openbaring 16:10)

(vi) Die Eufraat wat opdroog en die vyand uit die ooste toelaat (Openbaring 16:12)

(vii) Lugbesoedeling en natuurverskynesels soos donderweer, aardbewings, weerlig en hael (Openbaring 16:17-21)

Die trompette se verwoesting is beperk tot een derde van die aarde. Trompette roep die mense tot belydenis en ‘n terugkeer na God toe. Die verwoesting van die bakke is finaal en allesomvattend.

Belangrik: die rampe tref die ongelowige.

In this final series of terrors John seems to have gathered together the horrors from all the stories of the avenging wrath of God and to have hurled them on the unbelieving world in one last terrible deluge of disaster. [William Barclay]

Die eerste vier bakke word op die omgewing uitgegiet. Die laaste drie tref die koninkryk van die dier. Die kort beskrywings dui op gelyktydige gebeure, eerder as opvolgende voorvalle. Dit is nie beperk tot die fisiese realm nie; die stryd is ook geestelik.

God se harde stem ontketen die rampe.

Daar het kwaadaardige en pynlike swere uitgekom aan die mense wat die merk van die dier aan hulle het en wat sy beeld aanbid. (Openbaring 16:2)

Sere is ‘n direkte gevolg van ongehoorsaamheid soos beskryf in Deteronomium 28:35. Sien ook Job 2:7:

En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE, en hy het Job met bose swere getref, van sy voetsool tot sy skedel

 Water wat in bloed verander, maak ‘n lewegewende bron nutteloos en die dodelik. Die ramp tref elke moontlike waterbron op aarde. Daar is geen ontkoming aan die finale oordeel nie. Die kerk is altyd eerste om vervolging te ervaar. Die bloed van die martelare roep om vergelding. Die seediere wat sterf is ‘n teken van die oordeel.

Die oordeel vergeld die misdaad – dit is nooit te veel of te min nie. Die altaar (16:7) spreek van Jesus se lyding en ook van die martelare van alle tye wat in Sy naam ly.

Die duisternis wat hier beskryf word, is verwarrend en vreesaanjaend. Vir die Christen, is selfs die duisternis nie sleg nie.

Die volk het op ‘n afstand bly staan, maar Moses het nader gegaan na die donker wolk waarin God was. (Exodus 20:21)

Julle het toe nader gekom en aan die voet van die berg gaan staan. Die berg het gebrand, die vuur was tot in die hemel, en daar was ‘n rookwolk wat dit stikdonker gemaak het. (Deuteronomium 4:11 and 5:22)

Dié dag is ‘n dag van toorn, ‘n dag van nood en benoudheid, ‘n dag van storms en verwoesting, ‘n dag van donkerte, van duisternis, ‘n dag van wolke, van swaar onweer, (Sefanje 1:15)

Daar is vir ons geen vrees in die “dag van die Here” nie. Vir ons sal Hy die skatte in die duisternis wys. (Jesaja 45:3)

Ek sal vir jou die skatte gee wat in die donker gebêre word, die rykdomme wat weggesluit is, sodat jy kan weet dat Ek die Here is, dat Ek jou op jou naam geroep het, Ek, die God van Israel.

Wanneer die wêreld om jou donker lyk, sal God uitkoms bewerk in moeilike omstandighede.

Daar is ‘n ontstellende refrein in 16: 9,11 en 21. Die veroordeeldes vloek God. Selfs al kan hulle die almagtige Hand van God in wêreldgebeure bespeur, sal hulle Sy roep tot bekering weerstaan. Hoe dikwels hoor ons die verwyt dat ‘n God van liefde die wêreld so laat ly? Dit is die roep van die verharde verbitterdes. As hulle die vraag hoegenaamd stel, erken hulle Sy vermoë om dinge te verander? Is daardie vermoë nie waardig om aanbid te word nie?

In die uitroep van Darius, die Meed, hoor ons die erkenning van ‘n almagtige Opperwese wat ingegryp en gered het.

“Daniël, dienaar van die lewende God, was jou God wat jy met soveel volharding dien, in staat om jou van die leeus te red?” (Daniël 6:21)

Vir Johannes is die troon van die dier Rome. Rome se wrede en volgehoue vervolging van die kerk is geestelike oorlog.

Water wat opdroog is ‘n teken van God se mag (16:12) Hy het op die manier ingegryp by die Rooi See en die Jordaan. Dit het ook gebeur as vergelding soos beskryf in Jeremia 51:36 and Sagaria 10:11.

Toe Persië Babilonië inval het die vyandige weermag die Eufraatrivier opgedroog en in ‘n meer laat vloei om sodoende met die droeë rivierloop in die stad in te kom. Water wat opdroog maak ‘n pad oop vir die vyand. God maak riviere in die woestyn en gee water as uitkoms in die droogtes van ons lewe. Hiervoor is daar vele voorbeelde.

Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge. (Jesaja 44:3)

In the woorde van Jesus:

Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ” (Johannes 7:38)

Ons hoef niks te vrees nie want:

Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ‘n tuin met volop water, soos ‘n fontein waarvan die water nie opdroog nie. (Jesaja 58:11)

Johannes beskryf die grillerige werklikheid van die leuens.

 Toe sien ek uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die vals profeet drie onrein geeste kom wat soos paddas lyk. (16:13)

 Onrein geeste lyk soos paddas. Ons woorde is kragtig. Die woord vir gees in Grieks is pneuma, wat asem beteken. Die vals drie-eenheid asem valsheid en boosheid. Onreinheid bring plae, soos ook in die Persiese mitologie geglo is.

Die kerk word teen die valse profeet gewaarsku in Markus 13:22.

Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, die uitverkorenes te mislei.

 Die waarheid se grootste vyand is ‘n halwe waarheid. Dit is misleiding wat soos die waarheid klink wat soveel mense op die verkeerde spoor bring. Die misleiding kan selfs met wonderwerke en tekens voorgehou word. Paul en Johannes in sy sendbrief waarsku skerp teen vals leer. Net die Heilige Gees met die gawe van onderskeiding kan ons help om waarheid te onderskei.

Vergelyk Openbaring 16:15 met 3:18. Ons, die kerk, is gereed vir wat ookal ons kant toe kom. Probleme mag onverwags kom, maar ons het ons wit klere, goud en oogsalf om te onderskei en dieper te kyk. Verlossing van skande is baie belangrik. Ons lyding is waardig en word hoog geag in God se oë. Onmeetbare seën wag vir ons wat oorkom.

‘n Finale veldslag met die naam, Armageddon was ‘n ou idee en word onder andere in Psalm 2 genoem. Magedon (spellings verskil) is die plein tussen Egipte en Damaskus op die hoofweg en was ‘n bekende slagveld in die Hebreeuse geskiedenis. Armageddon is die stad en Harmageddon die berg. Esegiël 38 en 39 voorspel die oorlog tussen Gog en Magog sal in die heuwels van Israel plaasvind.

Ons stryd is nie fisies nie; dit is ‘n geestelike stryd teen die “paddas”, die demoniese magte.

Die sewe bakke tref ook die lug. Skoon lug is ‘n bron van lewe. Die natuur self stry teen sonde. Daar is aardbeweings en Babilon as simbool van sonde en boosheid word geskeur. Sy mag word verbreek.

Eilande en berge verander in die normale verloop van die natuurmagte op aarde. Eilande groei en vergaan met die verloop van tyd. Hael is bekend as ‘n oordeel oor die vyande van God se volk soos opgeteken in Joshua 10:11, Jesaja 28:2 en Esegiël 38:22. Hael, vuur en swael klink soos vulkaniese uitbarstings. Al hierdie natuurverskynsels is daagliks regoor die wêreld aktief en die meteoroloë versamel die data en berig daaroor.

God is aktief oor Sy woord en sal Babilon straf vir sy boosheid (16:19). Die mens kan altyd sy hart verhard teenoor die Here. Keuse is die groot gawe van God, sodat liefde kan bestaan, maar selfs in die hewigste en woedende storms en teëspoed, kan die mens God se liefde weerstaan.

Vir ons is die belofte duidelik:

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.. (1 Petrus 1:3-7)

Dit is slegs in die kennis van wat ons erfenis is, dat ons die wêreld kan liefhê soos wat Hy die wêreld liefhet. Ons kan nie uit onsself dit regkry nie. Ons liefde kom van die maat van God se liefde wat in ons aktief is. Hy is die enigste Bron van liefde, selfs vir dit wat die ongelowige liefde noem.

Noudat al die oordeel en boosheid duidelik is, herken jy die liefde daarin?

 

 

 

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s