[Openbaring 5]
Ons hemelse reis gaan voort. Vir my is dit moeilik om myself uit tyd uit te dink. Ek sukkel om die vol implikasie van God se perspektief buite ons tyd-gevangenis te begryp. Hy sien die ganse geskiedenis in ‘n oomblik, ons geboorte en dood en alles tussenin. Ek het dikwels gedink as ek waarlik hierdie element van God ten volle en te alle tye in my lewe toepas, sal my geloof versterk , my vrees verdwyn en my gees-rus verdiep. Ek sal dalk in staat wees om God te vertrou soos wat Hy waardig is met die waarborg van ‘n triomfantelike verloop van my lewe. Hy beskryf Homself as:
Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. (Exodus 34:6)
Nêrens in die Bybel is die tydperspektief so merkwaardig soos in Openbaring 5. God op die Troon neem die boekrol in Sy regterhand – die simbool van mag en gesag. Die boekrol is die geskeidenis van die mensdom, vol geskryf op die voor- en agterkant sodat niks bygevoeg kan word nie. Dit is reeds volledig en geseël. Dit bevat God se reddingsplan vir die mens, wat nou in die oorwinning van Jesus oor die dood openbaar word. Die sewe seëls is die gevolge van sonde en ongehoorsaamheid.
In die Romeinse reg is slegs die testament van ‘n persoon met sewe seëls verseël. Elke getuie van die sewe seëls moes by die oopmaak daarvan teenwoordig wees. Gewone dokumente is slegs met een seël verseël.
Geen wese in die hemel of op die aarde is waardig om die boekrol oop te maak nie. Dit is die tragedie van die aarde en Johannes huil.
Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus. (Efesiërs 1:9,10)
Johannes is onder die indruk dat die verwagting van die waardige Een frustreerd is en ondervinf ‘n diep hartseer daaroor.
Die Here God doen niks as Hy nie sy besluit bekend gemaak het aan sy dienaars die profete nie. (Amos 3:7)
God openbaar sy hartsgeheime aan die profete oor al die eeue, ook vandag. Binne die visioen is daar ‘n punt van ontvangs vir diegene wat hulle insig koester om in die onsienlike in te kyk. Buitstaanders sal niks kry nie en sal voortgaan om in te leef in verwarring en onkunde soos wat Efesiërs 4:18 beskryf:
… hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard.
Daar is troos vir die droefheid in die Plan van God. Een van die ouderlinge troos Johannes. Ook reg so – die kerk het die kennis van Jesus, die oplossing vir alles. Die kerk moet die troos bring en die instrument wees waardeur die wêreld van Jesus leer. Jesus se eie woorde aan soveel mense was: Moenie huil nie. Hy spreek rus en troos oor ‘n gebroke, verslae mensdom.
Alle menslike smart word gebore uit onvoldoende kennis en ‘n gebrek aan visie.
Jesus ken God se geheime en is waardig om dit te ontsluit. Hy is die Bron van geduld, volharding en vertroue in God. In Hom is die volheid van kennis om te verstaan wat hier in ons wêreld aan die gebeur is.
Hy word bekendgestel as die Leeu uit die stam van Juda, net soos Matteus 1 in die geslagsregister Hom voorstel as die Een wat hulle verwag volgens die profesieë van ouds – die tak wat bloei uit die stam van Dawid. (Jesaja 11:1) Die Messias sal mag en goedheid kombineer volgens Jeremia 23:5 en Sagaria 3:8.
In plaas van die Leeu wat Johannes verwag om te sien, sien hy ‘n Lam wat lyk asof hy geslag is. Jesus dra Sy wonde ook in die hemel. God se doel is vervul. Sy dood het die redding van die ganse mensdom gekoop. Daar is geen beperkinge nie. Dit is alles-insluitend en sal altyd so wees.
Die sewe horings wys op gesag, almag en eer. (Psalm 89:17,112:9, 148:14) Die priester het die bloed van die offerdier op die horings van die altaar gestort. (Levitikus 4:7,18, 25). Dit spreek van redding. ‘n Mens kon ook die horings van die altaar vasgryp om jou lewe te red in tye van vervolging. (1 Konings 1:50/ 2:28)
Die sewe oë wys op volledige kennis, wysheid en insig soos belowe in Jesaja 11:2 – die karakter van die Messias. Hy neem die boekrol soos wat Daniël beskry in Daniël 7:9-14. Hy noem Hom die “Oue van Dae”. (OAB)
Die Lam is die middelpunt van die toneel. Jesus word 29 keer in die Bybel die Lam van God genoem. In Jesaja (53:7) en Jeremia (11:19) word Jesus profeties gesien soos ‘n Lam wat na die slagting gelei word.
Die reaksie in die hemel op sy binnekoms is aanbidding. Die Kruis staan sentraal in die geskiedenis van die mens. Jare na die gebeure van die Kruis “sien” Johannes wat in die hemel gebeur na Jesus se dood. Die Kruis het Jesus waardig gemaak om die Boekrol te neem en oop te maak, om die reddingsplan van God te ontvou. Die Kruis maak ons waardig om ons lewe binne hierdie plan te ontvou.
Jesus staan voor die Troon as die eerste vrug van die kerk. In Johannes 20:17 sê Hy aan Maria Magdalena:
Jesus sê vir haar: Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.
In Openbaring 5 sien Johannes hierdie woorde gebeur. Jesus vaar op na die Vader in Sy verheelikte liggaam as oorwinnaar oor die dood. Dit is die oomblik wanneer die hele skepping weet Hy is waardig om die Boekrol te neem. Na Sy terugkeer in die sienlike realm het Hy aan verskeie mense verskyn en hulle kon Hom aanraak soos Hy Thomas genooi het om te doen.
Alle skepsels, ouderlinge en heiliges aanbid die Lam as waardig om die lotgevalle van die mens te bepaal. Hierdie skrif is een van die pilare in my lewe.
Is dit nie wonderbaar om in jou geestesoog die Trronkamer van die Almagtige God te “sien” met die wierookaltaar daarby. Die wierookkom (ook genoem altaar) was in die temple en die woestyntabernakel die simbool van aanbidding en gebed. Daar in die altaar voor die Troon is my gebed!
Juig Bodemklipvriend! Ons gebed het ‘n ereplek – beter kan dit nie. Ons is die heiliges wat bid; heilig gemaak deur die geregtigheid van Jesus aan die Kruis.
Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. (1 Petrus 2:9)
Daar bestaan nie so iets soos onbeantwoorde gebed nie. God hoor ALLE gebede. Ons verklaar die grootheid van Jesus saam met al die hemelse wesens. Wat ookal in jou hart aangaan vandag, vrees, bekommernis en laste, moenie jou plek in die koor opgee nie. Bring jou hart na die Troonkamer en “sien” jouself in die goue bak voor God.
Mag my gebed voor U wees soos ‘n wierookoffer, die uitstrek van my hande soos ‘n graanoffer in die aand. (Psalm 141:2)
Ons gebede gaan direk na God en Jesus is ons voorspraak in die hemel. Daar is geen middelaar nodig nie. Die deur na God is oop en ons het toegang. Jesus gee hierdie belangrike boodskap aan Maria Magdalena by die leë graf daar die Sondagoogend lank gelede: My God en julle God, My Vader en Julle Vader volgens die Skrif wat hierbo aangehaal is uit Johannes 20.
Ons bid in die Naam van Jesus wat Hy vir ons gegee het. (Johannes 16:26)
Dan sing ons ‘n nuwe lied – nuut in kwaliteit, so uniek dat dit nooit vantevore ooit gehoor is nie. (Psalm 33:3, 40:3, 98:1, 144:9, 149:1, Jesaja 42:1-13)
[Nuut kan beteken: neos – meer van dieselfde, kwantitatief soos ‘n nuwe potlood maar daar is baie van dieselfde soort of kainos – uniek, soos daar nog nooit was nie, kwalitatief, een van ‘n soort.]
Die konings en priesters wat regeer is die kinders van God wat oor die aarde heers deur ons gebed, geestelike groei en wandel met God. Ons getuienis stuit boosheid en vernietiging. Die teenwoordigheid van die kerk is die lig in die duisternis. (1 Petrus 2:9)
Die syfers in Openbaring is simbolies en wys op ontelbare menigtes (5:11) Net God kan sulke berekeninge doen. Dit is altyd meer as genoeg en meer as wat nodig is.
Hy is: El Shaddai – die God van oorvloed.
Elke moontlike wese en skepsel sal die knie buig voor Jesus. (Filippense 2:10). Die menigtes prys elke aspek van God terwyl die geskiedenis verloop om te kulmineer in die erkenning van Jesus as koning.
Almal sê AMEN – dit is waar.
Dit is die grootste koor ooit. Die ouderlinge prys die Here met instrumente soos harpe.
Sing vir die Here ‘n danklied, sing tot eer van ons God met begeleiding van die lier. (Psalm 147:7)