99. Die aarde kreun, die mense ween…

[Openbaring 6]

Dramaties ontvou die geskiedenis in hierdie hoofstuk. Die seëls word oopgemaak en die gevolge van sonde oorweldig die aarde en sy inwoners. ‘n Stem soos ‘n donderslag sê: Gaan uit! Die stem beveel die perde om te vertrek.

Hier in Openbaring 6 het Johannes nog steeds sy heelal-uitsig sitplek in die Troonkamer van die Almagtige – verstommend! Hy sien die eerste vier seëls as perde wat beperkte (‘n kwart van die aarde – 6:8) maar verwoestende mag in vier kategorieë gegee word, om dood en lewe te bepaal.

Die vier perde van die Apokolips was al dikwels die onderwerp van flieks en stories. ‘n Perd is ‘n uitsonderlike wese in God se skepping. Die woorde van God aan Job ego deur die geskiedenis waar ‘n perd beskryf word in terme van die ondersteunende rol wat die dier oor soveel eeue in die mens se lewe gespeel het.

Gee jý vir die perd sy krag, sit jý vir hom maanhare aan?

 Het jý gemaak dat hy kan spring soos ‘n sprinkaan, dat hy almal bang maak met sy trotse gesnork?

Hy kap die grond met sy pote en trippel rond, met krag skiet hy vorentoe, die geveg in.

 Bang wees bestaan vir hom nie, hy skrik nie, hy deins nie terug vir oorlog nie.

In die koker aan sy sy ratel die pyle, die spies en die swaard blink in die son.

 Opgewonde en oorgehaal kap-kap hy die grond, hy kan nie wag vir die blaas van die trompet nie.

 By die blaas van die trompet runnik hy, hy weet die geveg kom, hy ken die offisiere se bevele en hulle krygskrete. (Job 39:22-28)

Van die vroegste tye af was wilde perde ‘n bekende gesig op die onbesette heuwels en velde oor die aarde. Kenners meen dat die inwonders van die Eurasiese steppe die eerste keer perde mak gemaak het oor die 6000 jaar gelede. Tot onlangs nog was troppe wilde perde op die Amerikaanse grasvelde te siene. Deesdae word hulle beskerm om hulle uitsonderlike karaktertrekke van spoed en krag vir die nageslag te bewaar.

Enige perdetemmer sal ‘n kleurvolle storie oor ‘n perd kan vertel. Om ‘n perd mak te maak is nie kinderspeletjies nie en vereis geduld en volharding. Die proses is pynvol, vir die man en perd. Baie mense gebruik die woord: inbreek. Al die wilde gewoontes van instink en vryheid word oor ‘n tydperk van ingehoktheid gebreek, sodat dit plek maak vir volkome en onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan die mens.

Die visie van perde wat oor die aarde losgelaat word, is ‘n manier om die brutale en vreesaanjaende eienskappe van sonde te versinnebeeld. Wilde perde sal hulle vyand vertrap, met ‘n runnik en ‘n steier wat ‘n mens op sy knieë dwing. So ‘n wilde perd moet met vaardigheid en geduld in ‘n kraal ingelok word. Hulle word nie in troppe makgemaak nie – een op ‘n slag.

Dit is dikwels so met gewoontesonde en verslawings in ons lewe. Ons pak hulle een vir een met die hulp van die Heilige Gees aan. As ‘n reël is dit ‘n hele paar rondtes in dieselfde kampie voor die binding van ‘n sondige natuur gebreek word. Dit is ‘n stadige, gedetermineerde proses om ‘n saal op ons eie wilde perd te kry sodat ons hom in volle onderwerping en gehoorsaamheid aan die inwonende Heilige Gees in oorwinning kan ry.

Die vier perde en die gevolge van boosheid en vernietiging is die omstandighede waarin die redding en salgheid van die mensdom geskied. Esegiël (14:21-23) beskryf die vier swaar strawwe teen Jerusalem en Sagaria (6:1-8) beskryf die vier perde in die identiese kleure van Openbaring as simbole en tipes van verwoesting. Hier is die Amplified vertaling wat ons help om die simboliek te verstaan.

Now again I looked up, and four chariots [four angelic spirits appointed by God to dispense His judgment] were coming out from between two mountains; and the mountains were mountains of [firm, immovable] bronze (divine judgment).  The first chariot had red horses (war, bloodshed), the second chariot had black horses (famine, death), the third chariot had white horses (victory), and the fourth chariot had strong dappled horses (death through judgment).

Die wit perd. Die pyl en boog is ‘n simbool van oorlog. Jesus word nooit met ‘n pyl en boog beskryf nie, altyd met ‘n swaard. Hierdie perd simboliseer die oorwinnar in suksesvolle oorlogvoering. Daar is net soveel bloedvergieting aan oorwinninaarskant as aan die kant van die verloorders in die politieke en godsdienstige oorloeë van die geskiedenis. Die kroon (stephanos) is die oorwinnaarskroon. Jesus se kroon is diadema, die koninklike kroon.

Hy leer my hande om oorlog te maak, my arms om selfs die stramste boog te span. (Psalm 18:34) In die Engelse vertalings word die boog as ‘n bronsboog beskryf – stram en akkuraat.

Die Romeine het enige oorwinning met ‘n groot fanfare in militêre parades gevier en die generaal op ‘n wit perd laat ry.

Die rooi perd simboliseer oorlog en stryd. Vrede word met die swaard weggeneem. Die mense moor mekaar uit, soos Barclay dit beskryf:

“The world is a seething cauldron of embittered hate.”

Vrede kan net van God kom. Satan kan dit nie gee nie. Vrede is nooit kunsmatig nie; dit kan nie aangesit word nie – dit is daar of dit is nie. Dit is ‘n direkte en kragtige gevolg van ‘n goddellike lewe.

Jesus gee vrede met die swaard van die Woord. Hy belowe kalmte en krag binne die pyn van stryd en verwoesting.

Die swart perd simboliseer skaarste van gebruiksgoedere en lewensmiddele. Skale is gebruik om af te meet as daar tekorte is en die oes teleurstel. Daar was drie hoof kommoditeite in Israel: koring, wyn en olie.

(Deuteronomium 7:13, 11:14, 28:51 and Hosea 2:8,22.)

Om brood af te meet, spreek van skaarste. (Levitikus 26:26, Esegiël 4:16)

Dit is egter nie net materiële gebrek nie, maar ‘n gebrek aan ware kennis en insig – ‘n gebrek aan geestelike voedsel. Jesaja 55: Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is.

Met ons verligte oë van die verstand (Efesiërs 1:18) moet ons die honger van die wêreld vir dit wat slegs die evangelie kan gee, raaksien en verskaf.

Dit is moontlik dat wyn en olie beskikbaar is, maar nie koring nie. Die wingerde en olyfbome het diep wortels en kan vrug dra wanneer daar droogte is, maar die koringoes kan nie droogte oorleef nie. ‘n Denarius was ‘n dagloon vir ‘n arbeider. Daarmee kon hy homself voed; niks meer nie. Dit is die tragedie wat heers. Daar is nie genoeg vir sy familie nie; hy kan nie sorg nie.

Gedurende die regering van Domitianus was daar ‘n koringtekort en ‘n ooraanbod van wyn. Dit stel die luukse teenoor hongersnood – presies wat ons om ons sien.

In teenstelling met skaarste verteenwoordig die vier lewende wesens om die Troon die volledige voorsiening van die Skepping. Die natuur kan voorsien, maar die mens se korrupsie veroorsaak tekorte sodat sommige honger ly.

Die vaalperd verteenwoordig siekte en dood. (6:8)

Ek het gesien: daar was ‘n vaal perd. Sy ruiter se naam was Die Dood, en die doderyk het agter hom aan gegaan. Aan hulle is mag oor ‘n kwart van die aarde gegee om die mense dood te maak met die swaard en met hongersnood en met pes en deur die wilde diere van die aarde.

Mag oor ‘n kwart van die aarde beteken beperkte verwoesting. Die ramp is groot maar nie alles word vernietig nie. Sy kleur word beskryf met die woord chloros wat ‘n doodsbleek, verskrikte gelaat skilder. Soos in Esegiël 14:21 veroorsaak hierdie perd moord en doodslag met die swaard, hongersnood, peste en ongediertes.

Esegiël beskryf hoedat die ongediertes die kinders steel. Dit gebeur vandag voor ons oë en tot ons groot konsternasie. Wellus, seksuele sonde, mag, immoraliteit, geldaanbidding, om net ‘n paar te noem, is die wilde gediertes wat ons kinders met die wrede kloue van verslawing en vals vreugde verskeur.

Die doderyk is die realm van die dood. Dit sien ons ook om ons. Dit is moontlik om in die greep van die dood te leef, selfs terwyl ‘n mens lewe. Jesus red ons van die dood, deur die doop waarin ons saam met Hom begrawe word en opstaan in ‘n nuwe lewe.

Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon. (Romeine 8:11)

Die vyfde seël is die roep van die martelare. Die woord martelaar se oorspronklike betekenis was getuie. Omdat daar soveel van Jesus se getuies hulle lewens verloor het, word die woord in volksmond uitsluitlik vir die slagoffers van vervolging gebruik.

Daar is ‘n altaar in die hemel. Dit is die hemelse patroon wat op aarde sy spieëlbeeld in die woestyntabernakel en die Tempel vind. Die priester het die bloed van die offerdier onder die altaar gegiet. Die siele van die martelare roep uit vir God se vergelding, nie wraak nie. Hulle roep uit oor die oënskynlike vry hand van bloedige vervolging oor God se kinders, maar in volle vertroue op die uiteindelike oorwinning.

Die martelare kry wit klere van reinheid en oorwinning. Hulle moet ‘n klein rukkie wag sodat die genadetyd vir bekering verleng kan word. Dit is geduldige, liefdevolle genade wat meer tyd gee.

Dit is vasgelê in die tyd voor die ark en die vloed in die naam van Metusalem. Enog het die profesie in die naam van sy kind opgesluit. As Metusalem sterf sou die oordeel kom. Metusalem is bekend vir die mens wat die langste ooit geleef het. Dis genade – altyd meer as wat ons kan dink; meer as genoeg.

Die sesde seël is onbeskryfbare kosmiese rampe wat die aarde teister. Die sewe strukture van die aarde en die sewe kategorieë van mense word oorweldig. (Hebreërs 12:27, Lukas 23:27-30, Jesaja 2:2,17, Hosea 10:8)

Die frase: die dag van die Here, soos in Obadja 15 aangehaal, word as ‘n vreesaanjaende verskrikking beskryf. Dit is ‘n dag van oordeel en Goddellike ingrepe. Dit bepaal die lotgevalle van wêreldryke en beskawings.

Die ongelowiges “bid” tot die natuur om hulle te red.

Hulle het vir die berge en die kranse gesê: “Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam.  (Openbaring 6:16)

Wie kan bly staan op hierdie dag? (6:17) Daar is geen uitkoms nie. Die waarheid van die openbaring van God wat hulle ontken het, is te veel om te sluk.

Die ongelowige vrees nie die dood nie – hulle vrees die openbaarmaking van God.

 Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val. (Hebreërs 10:31)

Alles wat hier genoem word, word op ander plekke in die Bybel beskryf:

  • Aardbewings – Amos 8:8, Esegiël 38:19.
  • Sons- en maansverduisterings – Amos 8:9, Jesaja 50:3, Joël 2:31.
  • Sterre wat val was in die Joodse bygeloof die ergste wat kon gebeur – Matteus 24:29.
  • Die hemel wat soos ‘n boekrol oprol – Jesaja 34:4.
  • Berge en eilande wat uit hulle plekke geskud word – Jeremia 4:24, Nahum 1:5 en die kontras daarvan in Jesaja 55:12.

Elke moontlike natuurramp en die verwoestende gevolge daarvan is die inhoud van die visie van die sesde seël. Deesdae gaan omtrent nie ‘n maand verby dat daar nie nuus van een of ander ramp is nie; soms mensgemaak soos oliebore wat ontplof, tenkskepe wat sink en lek, atoomaanlegte wat op mediese gebied rampspoedige gevolge het of natuurrampe soos die verwoesting van orkane en tifone, modderstortings, vure, vloede, vloedgolwe en aarbewings.

Saligheid en uitkoms is beskikbaar binne dit alles vir die wat dit kies.

 

 

Volgende keer: Die sewende seël in hoofstuk 7.

 

 

 

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s