Nuusbeelde van ons eie land en ander wêrelddele wys ons so dikwels die chaos van oorlog, natuurrampe en armoede. Daagliks stry ons teen chaos in ons eie lewens. Ons maak aan die kant, maak skoon, orden, kategoriseer en beplan. Chaos is soos ‘n honger monster gereed om oor te neem en verwoesting te saai. Chaos is negatief. Dit veroorsaak emosionele verwarring, depressie en gevoelens van magteloosheid. ‘n Goed-georganiseerde lewe spreek van beheer en goeie beplanning.
Net so het Jerusalem in puin en verlate agtergebly na ‘n verwoestende besetting en die dood van die Judese koning. Die hele volk Juda, behalwe die swakkes, siekes en oues is deur Nebukadnesar in ballingskap weggevoer. Die ballingskap is deur verskeie profete voorspel, met die uitvoerige waarskuwings oor ‘n lang tydperk oor terugkeer na die Here om die ballingskap te vermy. Die volk se voortdurende ongehoorsaamheid het die Babiloniese heerser die oorhand laat kry. Die ballingskap sou 70 jaar duur. Daniël het as ‘n jong seun in die paleis van Nebukadnesar beland en vier heersers, Babilonies sowel as Persies, as ‘n banneling gedien. Hy het die profesie geken en begin bid dat die Here die uitkoms stuur. In genade verkort die Here die tydperk en na 60 jaar ballingskap arriveer die eerste bannelinge terug in Juda.
Onder die goeie gesindheid van Kores, die Persiese heerser, het die eerste vlaag bannelinge teruggegaan Juda toe. ‘n Mens kan jou kwalik voorstel wat hulle indrukke van die verlatenheid en verwoesting was. Die oorweldigende omvang van die heropbou was sekerlik ‘n massiewe uitdaging. Die tempel was ‘n ruine, die muur afgebreek in rommel en stof en die stad ‘n wegkruipplek vir rowers en swerwers. Sterk leierskap het die mense gemotiveer en die werk uitgedeel.
Ek is altyd verstom oor die detail van die verslaggewing in Esra en Nehemia, wat spreek van deeglikheid en orde. Die twee boeke van die Ou Testament was in die Hebreeuse Bybel een boek. Esra se naam beteken: die Here het gehelp. Dit is nie heeltemal duidelik of Esra self die boek onder sy naam geskryf het nie en of iemand anders dalk die skryfwerk gedoen het nie en die naam van die boek aan die hoofkarakter van die gebeure gekoppel het. Meeste kenners is van mening dat Esra self die boek geskryf het, asook Nehemia sowel as 1 en 2 Kronieke.
Esra was ‘n priester en skrifgeleerde en word so beskryf in Esra 7:9-11:
Esra het hom gewy aan die wet van die Here. Hy wou dit in die praktyk toepas en Israel elke voorskrif en bepaling leer. Hier volg ‘n afskrif van die volmag wat koning Artasasta verleen het aan die geleerde priester Esra, wat op hoogte was van alles in verband met die gebod van die Here en met sy voorskrifte aan Israel…
Die boek beskryf die eerste groep se terugkeer uit ballingskap in 538 vC oor ‘n tydperk van 23 jaar in hoofstukke 1 – 6. Bouwerk aan die tempelherstel begin in alle ywer, maar vyandskap onder die nie-Joodse inwoners van die gebied, bring die herstelwerk tot ‘n stilstand. Die profetiese bediening van Haggai en Sagaria inspireer die terugkerendes om die bouwerk te hervat en nie moed te verloor omdat die tempel nie so indrukwekkend soos die tempel van Salomo is nie. Uiteindelik is die nuwe Tempel in 515 vC voltooi en toegewy.
Ongeveer 60 jaar later is daar ‘n tweede groep wat terugkeer onder die leierskap van Esra met nog geld en waardevolle items vir die verfraaiing van die Tempel en tot ondersteuning van die aanbidding, ingesluit die kosbare tempelelemente wat deur Nebukadnesar weggeneem is – verstommende antieke administrasie! Esra word geestelike hervormer en invloedryke, toegewyde priester. Hy preek ernstige terugkeer na die oorspronklike gees van die wet van die Here. Hy spreek die afvalligheid aan, selfs tot die mate dat hulle moet skei van heidenvroue met wie hulle getrou het. Die belangrikste tema in die boek is God se getrouheid en die mens se ontrouheid.
God se getrouheid en leiding in tye van politieke verwarring en omwenteling is ‘n ligtoring vir ons lewens vandag. Ons is so blootgestel aan die oproer en onrus wat staatsbesluite veroorsaak op ‘n wêreldwye vlak. Wanneer alles so duister en ontwrig lyk, is dit tyd om weer die gebed van die blinde Bartomeus te bid: Here, laat my sien.
God is getrou om die ballingskap te verkort. Hy versag die wêreldmag van daardie tyd se heerser, Kores, se hart teenoor sy volk sodat die terugkeer van die bannelinge kan begin. Hy wek die leiers op om hulle te begelei en die reëlings te tref – Esra en Serubbabel. Toe hulle moedeloos raak met die bou van die tempel en die vyandskap van die mense hulle lamlê, rig Hy Haggai en Sagaria op om moed en goddellike inspirasie oor hulle te profeteer sodat die werk klaarkom. Hy voorsien lering en duidelike leiding oor Sy Woord in die persoon van Esra, sodat daar geen onduidelikheid oor Sy plan en wil is nie.
Aan die ander kant, laat die mense toe dat vyandskap hulle durf steel totdat hulle totaal opgee met die bouery. Die tempel is uiteindelik klaar en ‘n plek van aanbidding is herstel, maar nog is die volk nie oortuig nie. Lees die pragtige gebed van Esra vir die volk in hoofstuk 9. Hy is so moedeloos oor die sonde en afvalligheid van die volk dat hy sy klere skeur, sy baard en hare uittrek en verslae voor die Here gaan sit. Hy bely hulle sonde en spreek al God se genade en voorsiening uit.
‘n Mens sou nou kon wonder watter effek het dit dat hy die volk se sonde bely, terwyl hyself so noukeurig voor die Here wandel. Die profete en volksleiers van ouds het dikwels namens die hele volk by die Here ingetree. Dit is ‘n wonderbare en wonderwerkende beginsel. Ons kan vir ons gesinne, ons familie en ons volk voor die Here intree en namens hulle, hulle sonde bely en die Here om uitkoms bid.
Esegiël 22:30:
Ek het iemand tussen hulle gesoek wat ‘n muur sou bou en vir die stad in die bres sou tree dat dit nie vernietig word nie, maar Ek het niemand gekry nie.
And I sought for a man among them, that should build up the wall, and stand in the gap before me for the land, that I should not destroy it; but I found none.
In Esegiël 22 word ‘n donker prentjie van die land geskilder:
“Mens, sê vir die land: Jy is ‘n land wat geen reën sal kry die dag as my toorn losbreek nie.
“Die regeerders in die land sweer saam en is soos brullende leeus op vangste uit. Hulle vreet mense op en vat die rykdom en kosbaarhede vir hulleself, hulle maak baie vrouens in die land weduwees.
Die burgers van die land verdruk en beroof mense. Hulle buit armes en mense in nood uit en hulle verdruk die vreemdeling asof daar geen reg bestaan nie.
Die amptenare in die land is soos verskeurende wolwe. Hulle moor, hulle laat mense doodgaan, hulle maak oneerlike wins.
Is dit ‘n skrikwekkend bekende beskrywing van politieke korrupsie en onsekerheid, verwarring en verkeerde praktyke? Wat is ons rol?
God soek iemand om in die bres te staan. Dit is nie die jammerlike weeklaag van saamkla, saam skinder, saam sleg praat wat so algemeen is nie. Dit is ook hoegenaamd nie ‘n oproep om die feite en werklikhede van so ‘n negatiewe toestand te ignoreer nie. Dit is ‘n oproep tot gebed en positiewe bydra tot die oplossing wat net kan kom deur ‘n ingrype van die Hemel Vader wie ons ken en dien.
Dit is een van die mees onstellende goddellike verwyte in die ganse Bybel.
” Ek het gesoek”, sê God, “Ek het niemand gekry nie!”
My hart skreeu ten hemele: Hier is ek Here. Ek sal bid vir Suid-Afrika. Ek ken U wonderwerke. Ek weet dat U ‘n groot en gedugte Hemelheerser is wat oor die heelal regeer en daar vir U niks onmoontlik is nie. Vergewe my dat ek moedeloos raak en die vyand toelaat om die bou van die Tempel te ontspoor. Ek sal my hande oplig voor U oor my land. Laat U Woord oor my lippe kom. Laat U krag deur my vloei sodat ek effektief teen die boosheid van vernietiging kan weerstand bied. Vul my op met U meegevoel en liefde vir die mense, sodat ek hulle onvoorwaardelik kan liefhê en vergewe soos U my liefhet en vergewe.
Is ons nie God se verbondsvolk nie? Hoe kan ons toelaat dat politiek die magtige terme van God se bloedverbond neutraliseer? Ons gebrek aan insig in die ware voorsiening van God aan ons, binne politieke verwarring en onrus, maak ons moedeloos en ontspoor die bouwerk. Bou ons die Tempel? Herstel ons die plek van aanbidding?
Ek glo ons word almal opgeroep om Esra te wees. Ons kenteken wat duidelik in ons praat en optrede herkenbaar moet wees, moet verklaar: Die Here het gehelp.
Hoor die woorde van aanmoediging van die profeet Sagaria aan die bouers van die Tempel wat moed verloor het: [4:6,7]
Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.
Wie is jy, groot berg? Voor Serubbábel sal jy tot ’n gelykte word! En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom!
Ons is die “geleerde priester” soos Esra deur die Persiese koning beskryf is. Dit word oor ons uitgespreek in 1 Petrus 2:9:
Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.
Ons kenteken is die verlossingswerk van God. Dis ons wat die lig in die duisternis is. Ons is die lamp wat nie onder die emmer ingesteek word nie. Ons sing nie meer:
LAAT ONS SKYN VIR JESUS MET ‘N HELDER GLANS,
SKITTER SOOS DIE STERRE AAN DIE HEMELTRANS!
IN DIE DONKER WêRELD, SKYN DAN, SKYN –
JY IN JOU KLEIN HOEKIE EN EK IN MYN.
Ons is gekies om te skyn. Bodemklipvriend, die opdrag is duidelik saam met die belofte van voorsiening, lering, profete en priesters. Waarin is ons toekoms verseker? In die beloftes van God. Laat ons die slap hande en die lam knieë oprig en aan die werk spring. [Hebreërs 12:12]
Mag ons onder die indruk kom van die hoë roeping waarmee ons geroep is. 1 Petrus 2:9 in The Message:
But you are the ones chosen by God, chosen for the high calling of priestly work, chosen to be a holy people, God’s instruments to do his work and speak out for him, to tell others of the night-and-day difference he made for you—from nothing to something, from rejected to accepted.
Volgende keer: Esra 3:3:
Ten spyte van hulle vrees vir die ander bevolkingsgroepe in die land het hulle die altaar op sy oorspronklike plek opgerig en daarop brandoffers vir die Here gebring, soggens en saans.