55. En toe vererg ek my so…

Klink hierdie woorde of gedagte bekend? Miskien kan ons net stilword soos in ‘n sela-oomblik en dink hoeveel keer in die afgelope dag of week dit gebeur het. Miskien spreek ons nie elke oomblik van verontwaardiging en verontregting uit nie. Hoe dikwels gebeur dit nie op die pad in ‘n motor nie? Die onregverdigheid van die lewe en ander mense se sonde in ons lewe – hoe versuur dit nie ons bestaan nie!

In my sielsberekeninge – as daar so ‘n woord is – is daar groot en klein skaal woede. Daar is vererg wat gou verby gaan, daar is kwaad word wat bly en maal, maar darem uiteindelik padgee en dan is daar groot woede wat wraakgedagtes uitlok. Soms is dit klein dingetjies wat groot woede aanbring en jy skaam jou sommer vir jouself oor hoe jy jou kan opwerk. Dan is daar groot goed, groot woede en bo alles ‘n wond wat bloei en ‘n litteken los. Wonde wat moeilik rowe vorm, veral omdat gedagtes die ou dun rofie so maklik afkrap dan bloei dit weer. Uiteindelik as die roof gesond word met baie bid en baie vergifnis-prosesse, dan is daar ‘n merk. Dit is ‘n feit. Ander mense se sonde en die verloop van die lewe verwond en kneus ons. Hoe nou gemaak?

Ek moet bely dat insig in en lering oor die verwonding van die lewe vir my ‘n baie wrede proses was. In die eerste plek moes ek leer dat die vyand gereed is om in te storm en op sielsvlak – daarmee bedoel ek in my wil, verstand en emosies – amok te maak. Dis asof die duiwel in die sandput van my woede en seer, bou en stukkend slaan tot sy groot vermaak. Verwonding en woede stel jou bloot, maak jou kwesbaar vir sataniese oordrywing van die situasie sodat jy verwronge en verwese tot trane en twyfel gereduseer word. As ek nog my kop wil oplig, dan sien ek net sy grynslag met ‘n nuwe aspek van my verontregting.

Iewers in hierdie proses moet jy soos ‘n drenkeling uitstyg en roep om hulp, want jy moet dit hanteer. Hoe wreed dit ookal klink – jy en jy alleen moet jou seer na die Here toe bring en roep om hulp. Daar is geen ander pad nie, geen ander mens betrokke nie – dis jy en die duiwel en God. Daarom moet jy weet wat met jou gebeur en die proses uit die Woord ken, sodat jy gewapen is en kan terugveg. Ja veg – dis hoe dit vir my voel.

Jesus sê in Lukas 17:1 – 6 :

En Hy het vir sy dissipels gesê: Dit is onvermydelik dat die struikelblokke kom, maar wee hom deur wie hulle kom. Dit is beter vir hom as ‘n meulsteen aan sy nek gehang en hy in die see gegooi word, as dat hy een van hierdie kleintjies sou laat struikel.

Pas op vir julleself. En as jou broeder teen jou sondig, bestraf hom; en as hy berou kry, vergewe hom.

Die woord bestraf is dalk ‘n skerp woord, maar dit bedoel nie harde woorde van konfrontasie nie, eerder die belangrikheid om te bly praat en die kommunikasie-kanale oop te hou.

En as hy sewe maal op ‘n dag teen jou sondig en sewe maal op ‘n dag na jou terugkom en sê: Ek het berou–moet jy hom vergewe.

Toe het die apostels aan die Here gesê: Gee ons meer geloof. En die Here sê: As julle geloof gehad het soos ‘n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: Word ontwortel en in die see geplant–en hy sou julle gehoorsaam wees.

Die Amplified stel dit so: And [Jesus] said to His disciples, Temptations (snares, traps set to entice to sin) are sure to come…

Struikelblok is eintlik ‘n goeie woord maar dit gee nie duidelik die indruk van ‘n trap of lokval nie. Sommige situasies laat jou net struikel. Jy kan dalk weer opstaan en jou bloedneus afvee, maar ander laat jou verkreupeld. Maak ‘n prentjie van daardie wrede, ystertande weggesteek onder die blare, waarin jy trap en onmiddellik in pyn en skok neerval.

Die verwerking van die pyn van so ‘n verwonding is sekerlik een van die belangrikste geestelike oorwinnings wat daar is. Dit was nie die aanskoue van al die wonderwerke van Jesus wat die dissipels laat besef het hulle geloof skiet te kort nie, maar die eenvoudige opdrag om te vergewe, het hulle laat uitroep vir meer geloof.

Die lewe is vol daarvan, daarom sê Jesus dit. Aanstoot (offence) kan veroorsaak dat jy in geestelike gevangeneskap leef en die helende genade en oorwinning van geloof en liefde heeltemal misloop oor jare en jare. Voordat ons verder gaan – bid saam met my vir die openbaarmaking van aanstoot en woede in jou lewe deur die Heilige Gees, sodat jy kan besef waarvan jy verlos moet word. Is jy dalk kwaad vir God oor hoe die lewe jou behandel? Laat toe dat Hy dit in jou gemoed openbaar. Haat jy jou ouers vir verwerping, misbruik, mishandeling, vooroordeel of oormatige oordeel en kritiek? Haat jy jou kerk oor verwonding van geestelike leiers van wie jy soveel meer verwag het? Haat jy jou huweliksmaat vir sy/haar mislukking om aan jou verwagtinge te voldoen op watter gebied ookal of die pyn wat sy/haar optrede veroorsaak het? Is jy kwaad vir die politiek? Dink aan die onregverdigheid van die lewe wat jou laat ly en konfronteer die waarheid. Moenie bang wees vir die pyn nie. Die waarheid maak vry.

Die Griekse woord vir struikelblok wat in Lukas 17 gebruik word in skandalon. Dit verwys na ‘n lokval waarin aas vasgemaak is om die slagoffer te vang. Aanstoot is ‘n lokval van die Satan. Dit is ‘n belangrike beginsel wat in alle gevalle met insig begryp moet word.

Paulus waarsku die jong Timoteus: [2:24-26]

And the servant of the Lord must not be quarrelsome (fighting and contending). Instead, he must be kindly to everyone and mild-tempered, preserving the bond of peace; he must be a skilled and suitable teacher, patient and forbearing and willing to suffer wrong.

He must correct his opponents with courtesy and gentleness, in the hope that God may grant that they will repent and come to know the Truth. And that they may come to their senses and escape out of the snare of the devil, having been held captive by him, henceforth to do God’s will.

Aanstoot en woede, wat dikwels groei uit argumente en bakleiery, vang jou in die lokval van die satan wat jou vasklamp met die ystertande van bitterheid en wraak. So ‘n bitterheid verhinder jou om deur te dring na die volle seën wat God vir jou beplan. Dit is ‘n jammerlike en hartseer toestand! Jou wonde keer die seën. Verwonding kan kom uit ware onreg of ‘n persepsie van onreg, waar jou interpretasie van die situasie jou vashou.

Hierdie gevangeneskap kan ook onbewustelik wees. Die vyand se plan is om jou bitterheid vir jouself weg te steek, meestal onder die dekmantel van trots. Trots en eie-geregtigheid verhinder vergifnis. Net ‘n gebroke hart en ‘n verslae gees in die liefdevolle gebedsatmosfeer by die Heilige Gees gee ons verligte oë van ons verstand sodat ons kan bely en krag kry om te vergewe. Hebreërs 13:3 waarsku teen die verharding van ons harte deur sonde. Die eerste stap in oorwinning is insig in die strategie van ons vyand. Dit is hy wat agter die onreg en verwonding is, nie die mens wat hy gebruik om jou beet te kry nie. Skei die daad van die mens met wie jy te doen het en identifiseer satanstrategie! Kyk dieper en sien die lokval.

Onthou – jy kan dit nie self doen nie. Oorgawe in gebed is die enigste manier.

Vergifnis is nie altyd eenvoudig en vinnig nie. Dit is dikwels ‘n proses van oorgawe en reiniging. Die proses word mooi beskryf in die advies aan die louwarm gemeente in Openbaring 3 en die pragtige beeld van die Koopman. Vanaf vers 17:

For you say, I am rich; I have prospered and grown wealthy, and I am in need of nothing; and you do not realize and understand that you are wretched, pitiable, poor, blind, and naked.

Die aanklag teen die gemeente is halfhartige oorgawe en trots wat dit verberg. Die oplossing is ‘n besoek aan die geestelike “winkel” van skatte en kosbaarhede.

Therefore I counsel you to purchase from Me gold refined and tested by fire, that you may be truly wealthy, and white clothes to clothe you and to keep the shame of your nudity from being seen, and salve to put on your eyes, that you may see.

Goud wat deur vuur gelouter is die getuienis van uitkoms uit stryd en swaarkry, prosesse van vergifnis, die vryheid wat dit bring en oorwinning oor afgode. Suiwer goud is sag en vloeibaar. Die mengsel met ander metale maak dit hard. Om dit te suiwer word dit in ‘n poeier gemaal en verhit. Vuur laat die metale na bo dryf en die suiwer goud afsak. 1 Petrus 1:6,7:

I know how great this makes you feel, even though you have to put up with every kind of aggravation in the meantime. Pure gold put in the fire comes out of it proved pure; genuine faith put through this suffering comes out proved genuine. When Jesus wraps this all up, it’s your faith, not your gold, that God will have on display as evidence of his victory.

Wit klere om ons naaktheid te bedek, want sonde ontbloot jou altyd. Jou bitterheid is soos ‘n mantel van stinkende, swart, vrot afval wat oor jou hang en jou lieflike geur van dankbaarheid en genade verdryf. Dink net hoe mooi gaan jy lyk in spierwit, blink, sagte sy en linne. Vergewe en laat dit gaan.

En laastens: oogsalf. Dit is die eerste prys. Insig in my eie foute en tekortkominge, ‘n besef van my afhanklikheid van Jesus se redding. ‘n Dieper kyk, begrip van die onsienlike – dit is lewenskwaliteit, verhewe bo die gewone.

Tot volgende keer.


One thought on “55. En toe vererg ek my so…

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s