51. Kyk – wat is in jou hand!

Hier in noord-Amerika word so maklik ‘n frase geskep wat dan in geskrewe en skerm media gebruik word asof die hele wêreld moet weet wat dit beteken. Mens moet erken dat die meeste Amerikaners verbaal talentvol is, dikwels van so ‘n jong ouderdom af, dat jy verstom staan. Klein en kleiner is vol selfvertroue en word aangemoedig om hulle mening uit te spreek en vrae te vra.

Hoe ouer ons word, hoe moeiliker word dit om inligting te vra. Intellektuele snobisme veronderstel sekere kennis van wat ookal bespreek word. Dan word jy nog boonop geoordeel en veroordeel omdat jy weet of nie weet nie. Ek onthou goed hoe my ma oor afkortings gekla het. Nuwe organisasies en besighede was alte vinnig net op die afkorting bekend, en as jy nie weet nie kon jy skaars die nuus verstaan.

Ek wonder wat sou sy gesê het as ek haar gevra het om vir my Geloof 101 te verduidelik. Die term het in die algemene taalgebruik ingesluip uit die universiteitswêreld, waar die inleidende kursusse oor enige onderwerp so genommer is. Dit beteken dus die basiese feite, grondreëls, eerste beginsels van die saak. Dit is daardie veronderstelde kennis – die fondament – waarop jy jou uitgebreide kennis gaan bou.

Die geskiedenis van die kerk van Jesus op aarde is bietjie meer as 2000 jaar oud. Dit is ‘n kragtige storie van ‘n man wat, gemeet aan vandag se standaarde in menslike terme, baie oneffektief ‘n bediening op aarde gevestig het. Hy is in die platteland van Judea gebore, ver van enige belangrike sentra van die wêreld in sy tyd. Hy was nooit naby die staatkundige en politieke hoofstad – Rome. Hy het meestal te voet gereis en net 12 mense opdrag gegee om die boodskap uit te dra. Hulle opleiding was net drie jaar, informeel, gesprek-gerig met praktiese blootstelling aan sy persoon en wonderwerke. In vandag se terme kom mense nie baie ver met net drie jaar opleiding nie. Enige professie verg ‘n paar jaar meer fokus en energie. Hy het ook nie die geleerdes van die tyd genader nie. Hy het hulle eerder vervreem. Na Sy bloedige en vernederende dood, het Hy aan ‘n paar mense verskyn, waarvan net sommige genoem word. Sover ons kennis strek, net Sy vriende. Daar is geen skokkende verrassende verskyning aan Sy vyande wat Hom doodgemaak het nie. ‘n Soort – ja-ek-het-jou-mos-gesê – was nie Sy manier nie.

Jesus verskyn vandag nog aan Sy vriende. Hy openbaar Homself aan die wat Hom nader. [Jakobus 4:8] Hy het nooit met die almag aan Hom toegeken die vrye keuse van die mens weggeneem of gemanipuleer nie. Vir Sy volgelinge is wysheid belowe, maar menslike mislukking was nie uitgesluit nie. Die kerk het ontwikkel van ‘n veilige hawe en sentrum vir uitkoms en redding tot ‘n korrupte, liefdelose, robot met ‘n eie stel reëls waarvolgens mense misbruik en vermoor is.

My eie insig in die kerkgeskiedenis het die kerk net so hard terug-geoordeel. Met die luuksheid van historiese insig, het ek woedend gewonder hoekom die mense dit toegelaat het, hoekom hulle nie die oorspronklike bedoelings en woorde van Jesus kon onderskei nie. Dis onmoontlik om hier al die faktore op te noem wat Jesus binne die kerk tot ‘n lewelose en onbetrokke afbeelding gereduseeer het. Armoede en ongeletterdheid aan die een kant en arrogansie en menslike eer van die adel en kerkleiers aan die ander kant, het gesorg dat ons liefdevolle Vader ‘n kwaai, ontevrede, vreesaanjaende vaagheid bly.

Vir eeue was die gewone man die slagoffer van kerk en staat, tot een man – Luther die swaard van die Woord en woord opgeneem het. Met die uitroep: die regverdige sal deur die geloof alleen lewe en sy intellek in diens van die Koninkryk, het hy die Bybel in Duits vertaal – die eerste vertaling uit Latyn in 12 eeue! Die vertaling wat bekend was as die Vulgaat in Latyn, is gedoen omdat Latyn die algemene spreektaal in daardie tyd was – ongeveer 400 nC. Vulgaat beteken algemene taal. Dit het die amptelike Bybel van die Katolieke Kerk geword, aangesien die Christendom na Konstantyn die voorgeskrewe godsdiens in die Romeinse Ryk geword het. Die kerkleiers en geleerdes kon lees, die slawe en armes was nie die luukse van skool gegun nie.

Eers 12 eeue later het Luther die Bybel in die hand van die gewone mens gesit. Dit het nie net die Protestante beweging tot gevolg gehad nie, maar ook ‘n fundamentele hervorming in die Katolieke Kerk veroorsaak. Hulle het gou afgesien van meeste van die groteske verdraaiing van genade. Luther het die individu se interpretasie van die Woord van die Here moontlik gemaak en tesame met ‘n mate van godsdiensvryheid, het ‘n hele verskeidenheid denominasies ontstaan, min of meer in ooreenstemming met die herontdekking van ou vergete waarhede. Elke denominasie het ‘n spesifieke waarheid beklemtoon. Soos dinge maar weer eens in mensehande rigied en wetties word, het die Pinksterbeweging van die laat Negentiende eeu, die kerk vernuwe en waarheid beklemtoon. Denominasies is nie vervang nie, eerder herstel en bekragtig. As daar herlewing is, word elkeen opnuut met die waarheid van redding, vergifnis en hoop geinspireer. Die kerk wat met die 12 ongeleerdes en die Seun van God as mens op aarde begin het, het wonderbaarlik oorleef, gegroei en getriomfeer – met sy kosbare antieke Geskrif.

Hierdie lang geskiedenisles bring ons by Geloof 101. Ek hoop dit werp lig op die ontstaan van denominasies en die verskeidenheid van beklemtoning in die kerk van Jesus. Onthou ons praat van die universele kerk waaraan al die kinders van die Here behoort. Dit is die enigste “kerk”-grens wat God self trek. Hy kyk na die hart. Die mens is die skepper van denominasies.

Ons tydvak is fasinerend en uitdagend. Nog nooit was die Woord so beskikbaar, bereikbaar, leesbaar in alle vorme en tale – op papier en op skerms – net soos jy verkies. Wat maak jy daarmee? Dink aan die tye van die papierrolle wat net in die Sinagoge beskikbaar was, die Bybel in Latyn net in katedrale en kloosters, die eerste Duitse Bybel, die geskiedenis van die King James vertaling is ‘n studie op sy eie, die Living Bible in alledaagse Engels, die 1933-Afrikaanse vertaling, die Lewende Bybel, die Boodskap. Ons kan lees en beleef, ons kan saam juig en getuig uit die verskillende denominasies, en die belangrikste – saam bid en glo. Dank die Here vir die saad van geloof wat jy met moedersmelk ingekry het. Dit is baie belangrik. God vergeet nie gebede nie. Elke kind wat aan die Here toegewy is, in watter denominasie ookal, is vasgebid aan die Koninkryk van God, al lyk dit asof die “tou” baie lank is.

Dit is hoe Petrus sy brief aan die gemeente begin:

Aan God die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat vir julle in die hemel in bewaring gehou word.  [1 Petrus 1:3,4]  

Petrus begin sy skrywe met die vreugde van die basiese beginsels van ons geloof – God se genade, wedergeboorte, goddellike hoop, die opstanding van Jesus en oorwinning oor die dood en ‘n ewige erflating wat nooit kan vergaan, verander of verrot. Weet jy wat jy het? Hoe sal jy ooit kan weet om te oorwin as jy nie lees en hoor nie?

Die mens is maar ‘n gemaksugtige, lui leerder. Nes dit goed gaan en alles loop reg, vergeet ons die bron van genade en guns en kan dalk in die grootsheid van die lewe gevang word om te dink ons is sulke goeie mense. Die belofte van hoop dra ons deur die moeilike tye waar ons waarlik leer. Probleme maak jou ore oop. As jy in die hoek is, dan roep jy uit vir ‘n wonderwerk. Hoe sou jy ooit geweet wat Hy kan doen as jy dit nie so nodig gehad het nie?

Dit is Geloof 101. Hoe wonderlik sal dit nie wees as ons met ‘n leerbare gesindheid in elke probleem die Here voluit vertrou sonder paniek of vrees? Ek wil so leef. Ek wil my probleme sien as die aksieveld vir wonderwerke en met afwagting die oplossing “sien”. Die tyd wat mens wag vir die oplossing, is die leerproses en dikwels die groter wonderwerk as die uiteindelike oplossing van jou probleem.

Petrus gaan verder en sê:

In all this you greatly rejoice, though now for a little while you may have had to suffer grief in all kinds of trials. These have come so that the proven genuineness of your faith—of greater worth than gold, which perishes even though refined by fire—may result in praise, glory and honor when Jesus Christ is revealed.

Dit is die krisis wat jou op die plek bring om die groot skat te ontdek – meer werd as goud. Dit is die stem van jou Vader wat met jou praat deur Sy woord. Dit sal net gebeur as jy die tyd neem en voor die Heilige Gees gaan sit met die doel om te “hoor”. Gesalfde ore en oë is die vereiste. Dit is: ore en oë met die nodige fokus op die Bybel en ‘n ingesteldheid van onderwerping aan die Woord. Dan word die geskrewe woorde, gesproke Woord. Jesus het gesê Sy woorde is gees en lewe. [Johannes 6:63]

Jy het die Bybel in jou hand. Lees en leef!

Since all this is true, we ought to pay much closer attention than ever to the truths that we have heard, lest in any way we drift past them and slip away. [Hebreërs 2:1]

Tot volgende keer!


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s