49. Die geur van dankbaarheid – ‘n offer.

Ons kerk het gesing, baie gesing. Daar is nou nog liede wat uitstaan, wat ek onthou in tye van vreugde en tye van hartseer. Liede wat gedagtes en bekommernis fokus op die grootheid van die Here, sodat Sy almag en goedheid die probleme en krisisse van ons dag oorskadu. Deur te sing was jou liggaam, siel en gees onderworpe aan die dissipline van aanbidding.

Een van hulle – stokoud – miskien sal ‘n paar van julle onthou, veral gewild in die Baptistekerk – was: Tel jou seëninge, tel hulle een vir een. Die versie het so begin:

As die lewenstorme woedend om jou slaan,

en jy gans ontmoedig, vrees om te vergaan,

tel jou seëninge, tel hul een vir een,

en jy sal verbaas wees hoedat God jou seën.

Klein en groot het saamgesing, meestal uit ons kop uit, lank voor die woorde digitaal op mure en skerms gegooi is. As kinders het ons soms die woorde verkeerd gehoor. Die kinderweergawe was juis die teenoorgestelde van die bedoeling van die lied, maar miskien so kenmerkend van die normale reaksie van ‘n persoon in die middel van ‘n krisis: As die lewenstorme kom, moet jy woedend om jou slaan!

Woede, verontregting, selfbejammering, onvergenoegdheid en bitterheid is die kneusplekke van die vuisgeveg wat elke nou en dan losbreek en ons bebloed op ons knieë dwing. Op jou gesig voor die Kruis is waar jy die kommer en vrees laat bly, met trane in gebed en vertroue met die beloftes van uitkoms om jou te bemoedig.

Hoe dikwels staan jy nie daar van jou knieë af op en tel onwillekeurig die vreesgedagtes weer op. Voor jy ‘n paar treë geloop het, moet jy buig onder die gewig van die juk van kommer en vrees. Selfs al weet jy, jy moet vertrou, glo en op die Heilige Gees steun, is jou kop in ‘n waas vol sirkelgedagtes wat hiernatoe en daarnatoe dink. Moedeloosheid en ongeloof volg, met ‘n sterk dosis duiweldoepa van hopeloosheid en fokus op die realitieit en onveranderde omstandighede. Hoe nou gemaak?

Kom ons gesels bietjie oor Jona. Ek weet die storie word gekenmerk deur Jona se opdrag van die Here, sy ongehoorsaamheid en ondervindings op die skip, in die vis se maag en sy dikbek ontevredenheid met God se plan, maar deur hierdie storie word die heerlike beginsel van fokus op God se almag en die krag van aanbidding onderstreep.

Die Assiriërs was ‘n gewetenlose, wrede wêreldoorheerser, Israel se mees gevreesde en gehate vyand. Hulle stad, Nineve, was ‘n bekende baken in die antieke wêreld, ongeveer 670km noordoos van Israel aan die wesoewer van die Tigrisrivier. Toe die opdrag na Jona kom om vir hulle van die ware God te vertel sodat hulle hulle kon bekeer, was dit logies dat hy daarvan sou wegskram.

Jona was ‘n patriot en oortuig, saam met die res van sy volk, dat hulle die enigste ware God aanbid en daarom uitgesonder en afgesonder is. Die godsdienstige rituele van die profete en konings het hierdie opvatting bevestig en tot gevolg gehad dat daar vanuit ‘n opgeblase, geestelik-hoogmoedige houding op die goddelose heidennasies neergekyk is. God se oorpronklike uitnodiging na al die nasies van die wêreld, deur Abraham (Genesis 12:3 – in jou sal al die volke van die aarde geseën wees) is lankal vergete.

God, in Sy soewereiniteit en almag, besluit om uit te reik na die wêreldmag deur die profeet Jona. Hy gee Jona opdrag om na Nineve toe te gaan en Jona se ongehoorsaamheid aan die opdrag word beklemtoon deur te sê dat hy weg van die Here af vlug – so asof dit hoegenaamd moontlik is. Hy verwyder homself fisies ver van God se doel en beland in diep moeilikheid waarvoor hy ‘n wonderwerk nodig het om hom daaruit te kry.

Of mens glo dat hierdie storie werklik is, slegs ‘n metafoor is of die fantasie-produk van ‘n antieke storieverteller is – die waarheidsbeginsel staan sentraal. Die vis se maag is die holte van die krisis en uitkoms is ‘n wonder. Verskeie Bybelkommentare spekuleer oor die toestand waarin Jona hom bevind. Interessant dat die vis se maag beskryf word as ‘n plek van relatiewe veiligheid in die stormsee, warm, met suurstof. Dink jy aan jou krisis as die plek van veiligheid, waarin die Hand van God jou onderhou met lewensbenodigdhede wat jou voortbestaan waarborg? Ek dink – meestal nie. ‘n Krisis is eerder ‘n toestand van vrees en paniek. Dit is wat die vis se maag simboliseer. In Joodse tradisie het ‘n siel drie dae na die doderyk gereis. Vir enige aanhoorder van die storie het drie dae en drie nagte in die vis beteken Jona het gesterf. Dan kom die wonderwerk – Jona lewe en word uitgespoeg op vasteland sodat hy God se plan kan deurvoer.

Maar dis nie die hele storie nie. Iets het gebeur in die vis se maag. Die hele hoofstuk 2 van Jona word gewy aan sy pragtige gebed, sy aanbidding in die brandpunt van sy krisis.

In die aanhef verklaar Jona hoe die Here hom aanhoor as hy roep. Hy stel sy krisis in woorde: hy is in die diepte ingegooi, watermassa het hom omring, golf na golf is oor hom. Hy het getwyfel aan die Here se teenwoordigheid: Ek het gedink ek het uit U gesig verdwyn.

Water het hom toegevou, groot water het hom omring, seegras was om sy kop gedraai, hy het afgesak tot by die fondamente van die berge, die aarde het hom toegesluit….[Jona 2:1-7]

Dan draai sy perspektief. Hy verklaar dat die Here hom van die dood gered het, hoe sy gebed by God uitgekom het. Hy kom onder die indruk van God se liefde en eindig met die pragtige 9e versie:

Terwyl ek ‘n loflied sing, wil ek aan U ‘n offer bring, wat ek beloof het sal ek doen. Hulp kom net van die Here af.

But I, with shouts of grateful praise, will sacrifice to you. What I have vowed I will make good. I will say, ‘Salvation comes from the Lord.’

Hy preek Nineve in ‘n skouspelagtige herlewing in. Mense reageer en rou ooor hulle sonde. Die koning hoor en kondig ‘n vas aan vir bekering en ‘n uitroep tot God. Geweldige sukses, goddellike salwing op sy boodskap, groot oorwinning….en dan die laagtepunt. Jona rig vir hom ‘n skuiling buite die stad op – heel moontlik bewus van die reinheidsvoorskrifte van die Jode teenoor die heidene. Hy sou nie by die Assiriërs wou oorbly en saam met hulle eet nie.

Net soos Elia onder die braambos na sy groot oorwinning oor die Baälpriesters, is Jona duidelik in ‘n depressie na sy geestelike hoogtepunt. Hy verwyt God oor Sy goedheid en genade oor die Assiriërs en vra om te sterf! Hy verloor sy hele perspektief oor God se genade en plan vir hierdie wêreld. In plaas daarvan om met vreugde te deel in die ommekeer van Nineve en te juig oor Sy Vader se genade en goedheid, ook oor homself en sy redding van die storm en die vis, kyk hy met die verkeerde oog na die gebeure. God is hom genadig en laat ‘n komkommerplant groei om vir hom skadu te gee, maar bewys weer eens Sy soewereiniteit deur die plant te laat verrot met ‘n wurm. Jona sit in die son en wens vir dood. God antwoord hom in genade en stel weer Sy plan vir die redding van mense as prioriteit.

Jou redding en oorwinning is God se prioriteit. Al is jou omstandighede vergelykbaar met die doderyk, die skerp son sonder skadu, hoor die Woord van die Here. God red Nineve. Hy wil jou red.

Bring aan Hom die lofoffer binne in die krisis. Al is die omstandighede hoe sleg, dit is die plek waar geoffer word. ‘n Offer van aanbidding is juis die antwoord, wanneer prys en lof nie logies is nie. Jy offer jou perpektief op die omstandighede op die altaar van gebed en fokus op die grootheid en genade van God.

I will sacrifice a freewill offering to you; I will praise your name, Lord, for it is good. [Psalm 54:6]

Through Jesus, therefore, let us continually offer to God a sacrifice of praise—the fruit of lips that openly profess his name. [Hebreërs 13:15]

And now shall my head be lifted up above my enemies round about me; in His tent I will offer sacrifices and shouting of joy; I will sing, yes, I will sing praises to the Lord. [Psalm 27:6]

Dit is die vrug van jou lippe, al is die vyand rondom jou, al het jou omstandighede nog niks verander nie. Juis dan sal jy die prysoffer bring. Dit is die woorde van insig oor die seëninge in jou lewe wat voor die Here as ‘n lieflike geur opstyg.

Let my prayer be set forth as incense before You, the lifting up of my hands as the evening sacrifice. [Psalm 141:2]

Offer is om jou woorde in te span tot eer van die Here. Is jy stil oor jou wonderwerke? Weet jou kinders dat die Here vir jou uitkoms bewerk het? Vertel jy van jou wonderwerk op die regte manier – of sal jou vriende dink: Dit het goed uitgewerk – toevallig of gelukkig.

Twee woorde wat uit ons woordeskat geban word! Toeval en geluk bestaan nie vir die kind van die Here nie. Niks is ‘n verrassing vir die Here nie. As jou lewe aan Hom en Sy voorsiening onderworpe is, bestaan daar nie toeval of geluk nie en moet die eer vir uitkoms nooit ooit aan dit toegeskryf word nie. Jy verklaar soos Jona: Hulp kom net van die Here af.

Bring aan die Here ‘n lofoffer van sang. As jy ‘n instrument speel, loof hom daarmee. Sing, al dink jy jy kan nie sing nie.

Koop ‘n CD, leer ‘n lied, luister hom oor en oor en sing! Hard, uit volle bors, sodat jy jouself kan hoor die grootheid van God besing. Doen dit in die privaatheid van jou huis of kamer. Dans voor die Here met vrymoedigheid.

Verder – steek jou hande op, hoog, bokant jou kop uit. In antieke tye is hare beskou as deel van jou kroon en glorie, wat jou versier. Die liggaamsaksie om jou hande bokant jou kop op te steek en daarmee jou hele wese aan jou aanbiddingsaksie te onderwerp, het groot geestelike seën tot gevolg. Google die woorde: praise and worship images en kyk na die prentjies.

Unknown-1Unknown

 

Then I looked, and I heard the voice of many angels around the throne, the living creatures, and the elders; and the number of them was ten thousand times ten thousand, and thousands of thousands, saying with a loud voice:

“Worthy is the Lamb who was slain
To receive power and riches and wisdom,
And strength and honor and glory and blessing!”

And every creature which is in heaven and on the earth and under the earth and such as are in the sea, and all that are in them, I heard saying:

“Blessing and honor and glory and power
Be to Him who sits on the throne,
And to the Lamb, forever and ever!”

Then the four living creatures said, “Amen!” And the twenty-four elders fell down and worshiped Him who lives forever and ever.

 

[Openbaring 5:11-14]

 

Lees asseblief Psalm 145 – 150 en prys die Here uit jou hart met al daardie pragtige woorde.

 

 

2 thoughts on “49. Die geur van dankbaarheid – ‘n offer.

  1. Baie dankie vir hierdie Woord ,dit was vir my.Ek het vanoggend wakker geword met n lied wat ek nog nooit gehoor het nie,ek het die Here gevra om my die woorde van die lied te leer.Terwyl Ek besig was om te bid kom Handelinge 17:16-32 in my op.Ek gaan toe in op google met die woorde van die lied wat ek in my droom gesing het,wat ek nog nooit gehoor het nie en kom op u Bodem klippe af en vind dit so waar want dit is presies wat die Here onse God vanoggend vir my wil leer, om aan Hom n offer van dankbaarheid te bring te midde van my ongunstige omstandighede,soos Paulus en Silas in die tronk van Fillipi. Baie dankie weereens dat die Here u gebruik het om my op tel van die bokskryt af. Gods rykste seen

    • Beste Philip,
      Baie dankie vir jou kommentaar. As ek net een persoon so kan bemoedig deur die Woord wat ek glo van die Here af kom, is die hele bediening die moeite werd. Die Woord herinner ons aan God se goedheid en genade, juis in moeilike omstandighede. Ons sing saam en tel ons seeninge. Mag die Here jou ryklik seen! Bodemklippe.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s