Jou plek – uniek. Ongedefinieerde ruimte – jou stempel – onder jou beheer. Jou porsie van die heelal word deur jou bepaal. Jy kan kies. Dit is hoe dit altyd was, van die begin af en dit het nog nooit verander nie. Daar in die begin het God ‘n tuin geplant om aan die mens wat hy gemaak het, ‘n plek te gee. [Genesis 2:8]
Wat God doen is goed – so sê die Woord – daarom was die Tuin die ideale plek. Die veilige plek, die beste plek om te woon – toe, net soos nou. ‘n Plek van rus.
Wat is jou definisie van veilig? HOE veilig was die TUIN: sou ons vandag in ‘n groep bymekaar kon wees en heeltemal kaal kuier – sonder ‘n draad klere. Wie sou kon waarborg dat hy nie in die uiterlike liggaamsvorm sou vaskyk en oordeel nie, maar diep in die siel die karakter raaksien VOOR die liggaam? Sjoe – dink maar self.
Hoe gemaklik is jy om voor al jou vriendinne jou klere uit te trek? Wat is jou eerste gedagte – jou gebreke of dalk die harde werk wat jou liggaam so aantreklik maak? Heeltemal naak – geen oordeel. Van wie sou ek kon verwag om verby my lyf in my siel in te kyk en al my vrees, bekommernis en vreugdes raak te sien?
Wel, jy kan kies hoe jy kyk. Daar is altyd ‘n keuse. Twee bome in die Tuin. Wat sien jy in jou gedagtes as jy oor die Tuin van Genesis dink?
Sien jy kinderbybelprentjie van die pragtige naakte Eva wat vir die hunk-Adam die appeltjie aanbied. Sit daardie prentjie in ‘n tydmasjien en pas hom aan – drasties!
Die toneel by die Boom van die Kennis van Goed en Kwaad speel hom daagliks in elkeen se lewe meerdere kere af. Dit is wanneer jy God is, wanneer jy oordeel, jy verdoem met jou woorde, jy eet jouself uit die tuin in die vervloeking van ‘n aarde waarin jy so geoordeel word, soos wat jy so maklik doen. Daar is geen rus net harde werk en swoeg. Dis ‘n lewenswyse van ek in beheer, ek sal sê wat en hoe. Ek sal besluit wat en wie is reg. Geestelike uitputting is deel van jou. Dikwels ly jyself eerste aan jou oordeeldenke. Jy voel self nie goed genoeg nie – jy is so moeg, jy luister vir die skor stem van aanklag en veroordeling.
Jesus het die Tuin kom herstel. Hy nooi jou in God se rus in, waar Hy jou vrymaak van oordeel.
Vir jou is die belofte aan Moses ‘n werklikheid- Exodus 33 Hier by My is vir jou ‘n plek in die Rots.
In Sy teenwoordigheid is jy in die Skaduwee van Almagtige en Skuilplek van die Allerhoogste. Dis jou veilige hawe, jou sterk toring. Dit is jou plek – en vandaar kry jy ‘n ander uitkyk. Wat is Moses se antwoord op die vraag van die volk: Hoe lyk God? Sy antwoord is HESSED. God LYK barmhartigheid, geregtigheid en liefde. Hy sien karakter – nie vorm nie.
Gevolg – jou lewe is op ‘n diep vlak anders. God is jou Vader – nie net ‘n faktor nie. Jy leef ‘n lewenspad van getuienis. Nie ‘n blinde tasting in die nederlaag van jou eie keuse nie, nie ‘n gesuig aan die uitlaatpyp van jou eie verkeerde besluite nie.
Die belofte van die Tuin is nog nooit herroep nie – [Romeine 11: 29] Geen genadegawe word ooit herroep nie. Die belofte staan – Nader tot God en Hy sal tot jou nader. [Jakobus 4:8]
God maak nie laaste minuut veranderings, omdat dinge nie volgens plan verloop nie en Hom onverwags vang nie. Die Tuin is die Meesterplan en dit geld deur al die eeue.
Die TUIN is jou plek.
Doel van Bodemklippe: Jou Vader het jou onvoorwaardelik lief en Hy nooi jou terug na die TUIN waar Hy met jou kuier.
Hy wil met jou praat – Jesaja 52:6 Hy praat deur die Woord, maar ook deur elke aspek van jou lewe.
Is jou ore oop? Leef met ‘n bewustheid dat jou hele lewe oorgegee is en jy op elke gebied die stem van die Here hoor. Gebruik jou VERBEELDING – getuienis van jongste seun. [Sien hieronder]
Die gevolg van gesalfde ore en ‘n bewuswording van die deurlopende kommunikasie van die Heilige Gees is:
- Gebed is maklike en spontane dialoog.
- Aanbidding en lofprysing is die tussen-in happies regdeur die dag.
- Openbaringskennis is jou kragkos. Ernstige studie – die stiltyd wanneer jy luister en ontvang.
- Dankbaarheid is die nagereg, die soet lekkerny, by elke ete. Sjokoladeblokkies van lekkerkry.
Hierdie is die KERNdoel van Bodemklippe. Dit maak jou sterk. Dit maak die proses van elke wonderwerk in jou lewe ‘n avontuur van hoë plekke en ribbok-voete. [Habakuk 3:19]
Kies die TUIN. Vry van oordeel.
Die gevolg van ‘n plek op die Rots is die beste wat die lewe kan offer.
1 Korintiërs 2:9
But as it is written: Eye has not seen, nor ear heard, Nor have entered into the heart of man the things which God has prepared for those who love Him.
How abundant are the good things that you have stored up for those who fear you, that you bestow in the sight of all, on those who take refuge in you.
Getuienis van my jongste seun :
Agtien jaar gelede was ek so ‘n paar weke swanger met my jongste seun en ons het net na Kersfees ‘n heerlike seevakansie in Vishoek gehou. Net voor ons terugry, praat ek met my ma oor die telefoon en sy vra of ek al iets voel. Die hele familie het uitgesien na die baba. Ek is die jongste kind en my broer en suster het my kinders vreeslik geniet.
Ek het vir my ma gesê ek voel niks, maar in my agterkop het ‘n bekommernis kom lê. Ek het gehoes, gekielie en gekrap aan my maag, maar die babatjie was tjoepstil. Skielik was al my berekeninge deurmekaar. Ek kon nie uitwerk hoe ver ek swanger is nie en kon nie onthou wat ek vyf jaar vantevore met my vorige baba ervaar het nie. Die bekommernis het gegroei. Ons het oorgeslaap oppad terug en het so 3nm op ‘n Sondagmiddag by die huis aangekom. My skoonma was baie bly om die kinders te sien en hulle het sommer summier by Ouma in haar huisie langs ons huis gaan kuier. My man het gesê ons gaan kerk toe. Onwetend het ek in sy hart ook ‘n vrees laat posvat.
In die kerk het hulle al gesing en ek het nie van die koortjie gehou nie. Ek het gestaan en wag dat die koortjie moet verander, terwyl die sangleier aanhou om die laaste reel te herhaal:
He’s the Ruler of everything. Ek het begin besef ek moet luister.
Ek het vir myself ‘n geestelike oefening gemaak in die kerk, om my te help konsentreer, sodat ek nie moet skuldig wees aan “leë lippetaal” terwyl die aanbidding aan die gang is nie. In my verbeelding het ek Jesus ge”sien” langs die groot luidspreker net bo die kansel. Dit het my gefokus.
Daardie aand kon ek dit nie regkry nie. Dit was asof ek alle beheer oor my eie verbeelding verloor het. Dis nie vir my moeilik om ‘n prentjie op te maak nie. Ek doen dit altyd. Ek onthou in prentjies, ek leer in prentjies. My kop is vol prentjies, maar daardie aand is my beheer oor die prentjie in my kop heeltemal weggeneem. Ek het in my kop na die Here uitgeroep en Hom gevra waar Hy is. Dit was ‘n oomblik van paniek! Die volgende moment het ek Hom duidelik in die kerkpaadjie “sien” afloop. Ek was stil van skok. Ek het nie opgekyk nie en my oë styf toegedruk. Tog was die beeld helder en duidelik. Ek het in al die jare daarna nooit daaroor getwyfel nie. Hy het langs my kom staan! In daardie oomblik is ek gestroop van alle bekommernis en vrees – en my man ook. Toe ek hom later my ondervinding vertel het hy getuig dat hy binne die eerste lied van al sy bekommernis verlos is.