Gebed
Ons verklaar vandag die Woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as ‘n swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van murg en gewrigte en siel en gees. Dit beoordeel die bedoeling en die gedagtes van die hart. Here, ons onderwerp ons gedagtes en hart aan die lewendmakende, kragtige ingrepe van U woord sodat ons verander kan word en ons hele lewe gekenmerk word deur die beginsels van U plan.
Ons kyk weer vandag na U karakter soos wat Moses dit daar op die berg aanskou het en weet dat U ‘n goeie God is – die uitstaande kenmerk wat U daardie dag gekies het om aan hom te wys. U het so goed geweet dat in al die sorge van die lewe en die kruis van elke dag ons weer die bevestiging van U goedheid nodig het.
Ons gaan ons nou oor U Woord verbly net soos hierdie jong koning so lank gelede.
2 Konings 22 – Agtergrond
Josia was 8 jaar oud toe hy koning word en het 31 jaar regeer. As die Bybel sy ma noem, soos hier die geval is, dan beteken dit dat sy invloed op die koning gehad het. Seker logies, want hy was jonk toe hy die troon kry. In hierdie geval was haar invloed goed want hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here en sy vader Dawid gevolg in dade.
Toe hy 18 jaar oud is het hy ‘n groot poging aangewend om die voorskrifte van die Here na te volg en die tempel te herstel. Hy stuur die staatsekretaris na die hoëpriester, om die geld bymekaar te maak wat deur die drumpelwagte ingesamel is. Geld is bymekaargemaak as tempelbelasting met die doel om die tempel in stand te hou. Selfs in afvallige tye het die oorblyfsel (remnant) – daardie mense wat selfs in afvalligheid die Here bly vertrou het – se getrouheid gesorg dat die tempelbelasting betaal is. Korrupte priesters het dit soms uitgemors, maar duidelik in hierdie tyd van ‘n goeie koning het die geld behoue gebly.
Die koning sien die tempel verval en besluit op restorasie en die indiensneming van vakmanne om te help. Hy het duidelik ook die vakmanne vertrou – die geld is oorhandig en daar is geen rekenskap daarvan vereis nie.
Die hoëpriester gee toe aan die staatssekretaris die boodskap dat hy die wetboek gekry het. Volgens die kommentare was dit die boek Deutronomium. Safan, die staatssekretaris het die boek aan die koning voorgelees.
Reaksie van die koning:
By die aanhoor van die wetboek het die koning opgestaan en sy klere geskeur – ‘n uiterlike teken van diep innerlike oortuiging en verootmoediging. Hy gee opdrag: gaan raadpleeg die Here namens my by die profeet. Hy besef hoe ver hy en die volk tekort skiet by die aanhoor van God se standaard. Sy reaksie op die Woord is ‘n diepe besef van sonde. Hy reageer op die regte manier.
Reaksie op die Woord van God bring deurbraak. ‘n Hele nuwe wêreld is moontlik as jy doen wat in die wetboek geskryf staan .
Jesus se woorde: Watter sin het dit dat julle my aanspreek, Here, Here en nie doen wat ek sê nie. Luk 6:46
En lees gerus verder waar Hy vertel van die huis sonder fondament en die huis op die rots. As jy jou geestelike huis bou, is die Woord die fondament.
Terug by die storie: die koningsamptenare raadpleeg die profetes Hulda. Haar man was seker die koning se mode adviseur – ja werklik – sy amp was die klerebewaarder – Engels = keeper of the wardrobe. Hulda was ‘n tydgenoot van Jeremia en Sefanje.
Haar profesie kry ons in 2 Konings 22 : 15 – 20.
Sy sê eers hoe kwaad God is oor al die afgodery en hoe Hy verdelging beplan. Dan in Vers 19 – luister mooi,
BELANGRIKE MAAR
Ek het daarop ag geslaan dat……
Amplified:
Because your heart was tender and penitent and you humbled yourself before the Lord when you heard [slaan teks oor]……and you have rent your clothes and wept before Me, I have also heard you, says the Lord.
God hoor as jy reageer op Sy Woord. Hy is onmiddellik en intens betrokke – dan kom die belofte van uitkoms.
DAAROM sal jy niks van die onheil self beleef nie.
Josia formaliseer die ommekeer – hy tree op – neem aksie.
Hy maak ‘n verbond met die Here waarin hy die volk bind tot ‘n skoonmaakproses – eerste die tempel, toe die priesters, die afgode uitgewerp, Asjera verbrand, huise van die manlike tempelprostitute afgebreek, die priesters wat aan afgode geoffer het , het hy verbied om by die altaar van die Here te kom en die kinderoffers aan Molech gestaak, alle aanbidding aan die son gestaak – baie gedetaileerde optekening van die skoonmaakproses.
As die Bybel so details gee is dit belangrik en daar is heelwat kommentaar gelewer oor die volgorde en aard van die skoonmaak. Die graf op die berg van die profeet wat teenoor Jerobeam geprofeteer het oor Josia (1Kon 13:31) het Josia behou.
Dit was ‘n deeglike en noukeurige proses om die volk en die feeste terug in lyn met die wetboek te kry.
Daarna het hy beveel dat die Paasfees gehou moet word. Vers 22:
‘n Paasfees soos hierdie is nie gevier van die tyd van die leiers af wat oor Israel geregeer het nie, ook nie tydens die regering van die konings van Israel en Juda nie. Josia gaan voluit en hou die fees van alle feeste – beste ooit, soveel so dat die Bybel noem dat dit die beste Paasfees in die tyd van al die rigters en konings was. Dit was die ware fees wat oorwinning oor afgodery en innerlike vrymaking van die hele volk en koningshuis, gevier het.
Al die afgodery wat uitgeroei is en die oproep tot sondebelydenis moenie gesien word as ‘n proses van stroping nie. Dit is ‘n proses wat skoonmaak vir die vervulling met die groot beloning van vryheid en vrede. Die Heilige Gees laat jou nie leeg en verlate nie. Hy vul jou op met die gawes van heerlikheid. Die fees van oorwinning – dis wat jy kry. Moenie met ‘n verkeerde oog, verlangend kyk na wat moet weggegooi word nie, wat afgegee word nie.
Gooi met ‘n groot gejuig die geestelike bagasie af en kry jou oog reg en kyk na die prys – I Kor 2:9 – dis die prys.
Dit wat jy nog nie oor gedroom het nie, word vir jou belowe.
God se reaksie is gewaarborg. Die Woord is Sy wil en soos wat jy verdiep raak in die Woord sal Hy vir jou Sy plan, Sy droom vir jou lewe begin openbaar.
DOEL: Openbaringskennis – die uitleg van die misterie – diepe kennis en insig.
Call to Me and I will answer you and show you great and mighty things, fenced in and hidden, which you do not know.
Jeremia 33:3