181. Woorde van glorie en waarheid.

[Johannes 17]

Reg aan die begin van die studie van hierdie Evangelie, het ons in verwondering gestaan oor die idee van ‘n woord wat ‘n mens word. Laat my toe om Augustinus se aanhaling te herhaal: In everything I ever knew about the world, everything I read and regarded as worth studying, I had never heard of a word becoming a man.[Bodemklippe 133]

As ‘n woord vlees word, dan moet ons hard en diep oor die krag van woorde dink. God het met woorde geskep en die ondenkbare in bestaan geroep. Profesie, Heilige Gees-inspireerde woorde, spreek die hart en gedagtes van God uit, vandag net soos in die verlede. Dink net aan die magtige uitsprake van die profete en Psalmskrywers van ouds, wat oor eeue ons bygebly het en oorwinning en wonderwerke van geloof in ons gewerk het.

Aanbiddingswoorde besing die karakter van God en bring die teenwoordigheid van die Almagtige in ons atmosfeer in. As ons God in ons wêreld in praat dan bou ons op, ons bemoedig, kalmeer, genees en spreek die wonderkrag van die onsienlike om ten goede te transformeer. As ons skinder, jaloesie, wellus, gierigheid en hoogmoed uitspreek, nooi ons die verwoesting van boosheid in ons lewe en dit beïnvloed almal om ons.

Woorde wat ons uitspreek is ooreenkomste met die kragte van die onsienlike wereld.  Woorde van belydenis sal ons innerlike mens genees. Woorde van vergifnis sal ons denke bevry sowel as die lewens van diegene wat ons te nagekom het. Woorde van feesviering sal ons jaloesie oorwin en gebede van dankbaarheid oor God se werk in ons lewens word.

Hoe ons kyk bepaal ons woorde. Ons eie perspektief kan ons verslaan, voordat ons nog die dag aanpak. Jesus het so dikwels oor die oog gepraat. Kom ons kyk na een van Sy uitsprake oor hoe jy kyk.

“Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!” (Matteus 6:22,23)

Dit laat mens dink aan hoe jy praat. Jesus het ook gesê:

Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dít is die dinge wat die mense onrein maak. Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery.  Dít is die dinge wat ‘n mens onrein maak… (Matteus 15:18-20)

Ons walglike en gemene woorde, wat uit ‘n donker hart met verkeerde perspektief kom, word ooreenkomste met die duisternis wat verwoesting en verderf in ons lewe innooi.

In die lig van hierdie begrip van wat ons woorde werklik skep, laat ons met oorgawe luister na die woorde wat Jesus vir ons bid.

Hoor, Bodemklipvriend, luister en leef!

Hierdie verse is wonderbaar. (Johannes 17:9-19)

As ons die volle betekenis van hierdie woorde begryp, het ons ‘n hemelse bestaan hier op aarde.

Ons is deur die Vader aan Jesus gegee. Die Heilige Gees roer ons harte om Jesus aan te neem. (Johannes 6:37,44)

In ons lewens, die dissipels van Jesus, verheerlik ons Jesus. Ons redding is Sy glorie. Ons opdrag van Hom is om die wêreld te leer van sy Vader, ‘n liefdevolle God wat red.

Ons is die instrumente van God in aksie.

Sit dit nie jou lewe in ‘n nuwe perspektief nie? Bring jou omstandighede voor Hom en “sien” hoe God dit uitwerk volgens Sy plan en tot Sy eer.

Jesus bring volkome vreugde, terwyl Hy waarsku hoe ‘n skerp kontras hulle (die dissipels en ons) se lewens met die wêreld rondom hulle sal wys. Dit maak nie saak hoe erg ons stryd is nie, by Hom is daar vreugde.

Jesus sê dat alles wat aan sy Vader behoort, syne is. Hy verklaar Sy volmaakte eenheid met Sy vader. Jesus is die inkarnasie van God self.

Hy bid verder vir Sy dissipels.

Daar is nie ontvlugting uit die wêreld nie, maar daar is oorwinning in die stryd. Ons begrawe onsself nie in kloosters en afsondering nie. Ons lewe die Christen-lewe in die rowwe oseane van boosheid. Ons sonder af in gebed en meditasie om kragtig in die storm te wees. Ons is God in aksie in die wêreld.Ons word nie vrygestel van probleme nie; ons is die oplossing van probleme in Christus.

Ons verwerp nie die wêreld nie, ons skryf dit nie af nie, ons wen dit terug.

Jesus bid vir eenheid.

Verdeeldheid impliseer eksklusiwiteit. Eenheid is ‘n besluit. Ons kan nie eenheid “voel” nie. Ons word een gemaak. Ons verander en leef uit God om onvoorwaardelik lief te hê, om te vergewe en in te sluit. Die Heilige Gees in ons onderskei die geeste, om te weet wat  demoniese misleiding en onenigheid is.

Die eenheid waarvoor Jesus bid is nie organisatories of administratief nie. Dit is die eenheid in persoonlike verhouding, die liefde in ons harte in die gesprek met Hom wat nooit ophou nie, wat ons verhoudings met ons medemens kragtig beïnvloed.

Kerke is georganiseerde godsdiens en kan verskil soos die wye verskeidenheid van mense op aarde, almal deur God geskape. Mense is so verskillend, die verskille verstom my. God se skepping is nooit stil nie, nooit stilstaande nie en altyd groter as wat ‘n mens verstaan. Slegs in liefde kan ons die groot verskille tussen denominasies oorkom. Die kerk is ‘n misterie. Dit is die Koninkryk van God en Hy regeer soewerein daaroor. Ons kan nie alles verklaar nie.

Dit is na alles meer menslik om verdeeld te wees; heel natuurlik om vyandig te wees. Die eenheid van die kerk van Jesus (nie ‘n denominasie nie) sal die bewys van God se werk in ons harte wees. Ware eenheid kan net bonatuurlik verklaar word.

Hy bid vir beskerming teen die aanvalle van die satan. Die Woord, die Bybel soos ons hom in ons hande hou, verduidelik al die strategieë van die duiwel. Ons vyand is nie kreatief nie. Hy kan nie nuwe maniere van verleiding en misleiding uitdink nie. Hy kom skelm en agterbaks met dieselfde goed oor en oor. Leer hoe hy werk en hoe om te veg. Leun op die beskerming van hierdie gebed.

Hy bid vir heiligmaking deur die waarheid.

Heiligheid is hagiazein in Grieks. Dit beteken apart of verskillend. Ons word afgesonder vir ‘n spesifieke doel.

Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel. (Jeremia 1:5)

Heiligmaking beteken ook om toegerus te word met die noodsaaklike vaardighede en toerusting vir die taak.

Jesus sal ons nie los nie. Hy gee ons alles wat ons nodig het om te oorwin.

In Johannes 17:20-26 gaan die gebed verder. Hy bid vir Homself en die kruis.

Hy bid vir die dissipels en die verre toekoms, die tyd wat voorlê en almal wat tot geloof in Hom sal kom. Dit is ONS!

Jesus het hoop en geloof in die toekoms gehad. Daar is nooit ‘n onsekerheid in Hom oor die toekoms nie. Hy het Sy vader vertrou en Hy het Sy missie aan die mense daar om Hom oorgelaat met vertroue en hoop. Hy het geweet dat hulle nie die volle implikasie van die grootse taak besef nie. Nogtans was Hy seker van sukses. Hy het geweet Sy vader sal hulle toerus en oppas en so ook almal wat na hulle sou kom.

Jesus gee aan ons God se glorie – dit is verstommend!

Die kruis was Jesus se glorie. Dit was Sy eer om te ly. Dit was nie die straf vir sonde nie. Dit was Sy manier om glorie oor boosheid te laat triomfeer. Enige sjirurg wat met moeilike operasies lewens red, ontvang groter erkenning as die dokter wat net ‘n voorskrif uitskryf.

Volkome gehoorsaamheid is Jesus se glorie. Om die wil van God te doen is ons glorie. Ons eie wil lei ons na hartseer en tragedie. Sy wil lei na oorwinning.

Jesus se glorie het gekom uit Sy verhouding met Sy vader. Ons verhouding met Jesus is die bron van ‘n glorieryke lewe. Ons lewe skyn Jesus se glorie. Onthou glorie is die substansie of volle “gewig” van alles van God – Sy aansien, eer, glans, prag en praal, Sy krag, gesag, rykdom, waardigheid en uitnemendheid. Sulke woorde is maar net ‘n karige poging om met woorde God te probeer beskryf.

Jesus sêdat Sy dissipels (ons ingesluit) Sy glorie in hemelse plekke sal sien.

Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee.  (Efesiërs 2:6)

Ons deel die lyding van die kruis in hierdie wêreld, maar ook die glorie van die oorwinning oor die dood.

Dit is ‘n betroubare woord: As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe; as ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer; as ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën; as ons ontrou is – Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie(2 Timoteus 2:11-13)

Dit is ons vreugde – ons sien die hemel reeds nou in die persoon van Jesus en ons verhouding met Hom.

Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. (1 Korintiërs 13:12)

Hierdie gebed was die laaste woorde van Jesus voor die verraad en die kruis. Kosbare laaste woorde van die grootste van alle mense.

Woorde van glorie en waarheid – woorde vir die lewe – woorde wat ons en ons toekoms verander.

 

 

158. En jy? Wat sê jy?

Praat is maklik. Anonieme praat nog makliker. Woorde sonder verantwoordelikheid. Maklik gemaak met moderne tegnologie van vingerpuntnuus vir ‘n konstante stroom praatmateriaal. Mense in die publieke oog word nog steeds in die openbaar veroordeel en tereggestel soos in antieke tye tot die laat middeleeue, net die metode verskil. Die nuusmedia, sosiale media en privaatgesprekke verskaf die feite, spreek die vonnis uit en swaai die byl.

Shakespeare was die eerste persoon wie die werkwoord skinder as selfstandige naamwoord gebruik het. Afrikaans noem ‘n persoon wat skinder ‘n skinderbek – heel gepas met die negatiwiteit van die mond van ‘n dier wat woorde rondslinger. Dit impliseer die rou wreedheid van ‘n trop wilde honde wat verskeur en vermoor. Ek wens ons kon die beeld van bebloede prooi in ons gemoed bewaar wanneer ons onnadenkende woorde soos die skerp lem van ‘n dolk ander mense verwond.

In die lig van ons moderne tyd kan ons seker maklik die grapevine van Judea in die tyd van Jesus voorstel. Die gewoonte van die vroue in daardie tyd, was om in groepe die water vir die huis te gaan haal en die tydjie om die put as ‘n stukkie kuier uit ‘n besige dag met baie verpligtinge te kerf.

Nuus versprei so gou. Voor die dae van internet en kabelnuus was my pa se gunstelinggrappie: telegram, telefoon, tell-a-woman. Moontlik het nuus in Judea onder andere deur die tell-a-woman -netwerk versprei. Ons kan egter nie die mans heeltemal vryspreek nie. Openbare baddens was kuiertyd. Reisigers het op kruispaaie nuus gedeel en handelaars op die hoofpaaie het nuus versamel om gesprek om kooptransaksies aan te knoop. Mense uit ander wêrelddele was primêre nuusbronne.

Die mense het gebabbel, gepraat en geskinder – oor Jesus. Langer argumente is afgewissel met die korter het jy gehoor – weergawe van elke nuwe brokkie nuus oor Hom.

Die Joodse feeste was vrugbare grond vir albei. Die Fees van die Tabernakels wat hier in Johannes 7 genoem word het einde September, begin Oktober plaasgevind; een van die drie Herfsfeeste. Elke Jood, wat binne ‘n radius van 15 myl van Jerusalem af gewoon het, was verplig om die Fees by te woon. Die Fees het agt dae geduur en Jesus se broers het Hom probeer oortuig om die Fees by te woon. Jesus het egter niks gedoen wat nie op die kalender van die hemel uitgemerk was nie.

Hy praat van My tyd. Daar is ander plekke in Johannes waar Hy die woord tyd (ōra) gebruik waarmee Hy God se tyd aandui (Johannes 2:4; 7:30; 8:20; 12:27). God se tyd kon nie uitgestel of geskuif word nie. In hierdie gedeelte gebruik Hy die woord kairos, wat die geskikte tyd beteken, die volheid van tyd, die beste tyd. Hy sê eintlik dat die tyd nie gepas is vir dit wat moet gebeur nie.

Soveel van ons lewe word in tyd gemeet. Dit is ‘n luuksheid om tyd af te neem vir ontspanning. Ons lewe is letterlik in die ratte van outydse horlosies “opgewen” en afwen is ‘n woord wat met stresbestuur in verband gebring word. Dae word afgemerk vir vakansie, verjaardae, troues en ander spesiale geleenthede. Dit is ons chronos-tyd, kalendertyd.

Jesus besluit oor tyd op ‘n baie dieper vlak. Sy roeping en bediening bepaal wanneer Hy iets moet doen. Hy merk dit nie op die aardse kalender nie – Hy leef volgens God se kalender – ora. Wanneer God se tyd die uitkoms bepaal is dit die volheid van tyd – kairos-tyd.

Jesus gaan wel Jerusalem toe, maar op Sy eie. Hy het getrou die Feeste bygewoon. Hy het geweet dat elke Fees in Sy lewe, dood, opstanding en tweede koms vervul sou word. Hy het stil en privaat Jerusalem binnegekom, sonder om die publieke oog op Hom te vestig. Hy het nie toegelaat dat mense hom voorsê of Sy hand dwing met enigiets nie.

Dit is so belangrik om God te vertrou met tydsberekening.

  • Dit is onmoontlik om Jesus se optrede af te dwing. Sy dissipels wou hê dat Hy moet wys wat Hy kan doen in Jerusalem. Jesus tree nie op om die guns van mense te wen nie. Hy tree slegs op om die wil van God te doen.

 

  • Dit is onmoontlik om Jesus met ongeërgdheid te hanteer. Sy broers was nie ingestel op Sy missie nie. Hulle het die wêreld en die wêreld se metodes gemaklik gevind. Jesus se lewe het die wêreld geoordeel en Sy teenwoordigheid het ‘n groot verskil in die gewone gang van sake gemaak.

In die volgende verse (7:10-30) word verskeie reaksies op Jesus bespreek.

  1. Sy broers het Hom met minagting behandel, amper spottend.

 

  1. Die openlike haat van die Fariseërs en priesters begin wys. Jesus ontbloot die vyandskap tussen hulle en skielik is hulle bereid om saam te staan. Hulle was verknog aan hulle eie sisteme en stelsels en sou nie toelaat dat enigiets of enigiemand hulle aansien in die gemeenskap beskadig nie. Die Sadduseërs was polities. Al die priesters was Sadduseërs. Hulle het nie al die reëls van die Fariseërs onderhou nie. Hulle het gemaklik met die Romeine saamgewerk en in luuksheid geleef. Hulle eie belange was baie belangriker as God s’n.

 

  1. Daar was ‘n diep begeerte om Jesus te elimineer (Johannes 7:30,32) binne verskeie groepe. Elke persoon kan onderwerp of verwerp. Jesus is hoër as enigiets. Neutraliteit is nie ‘n opsie nie.

 

  1. Daar was arrogante oordeel oor Sy leer uitgespreek. Jesus het geen reg gehad om oor die Wet en die Profete te praat nie, omdat Hy nie die opleiding in die godsdiens en kultuur van die dag gehad het nie. Hulle was akademiese snobs. Dis miskien goed om te onthou dat meeste van die grootste digters, kunstenaars, skrywers en evangeliste min of geen opleiding gehad het nie. Ons kan nooit neerkyk op akademiese onderrig nie, maar kan dit nooit verhef tot ‘n voorwaarde vir grootsheid nie. Dit is nie altyd die sleutel nie.

 

  1. Die reaksie van die mense is gemeng. Sommige toon belangstelling (7:11) en ander wil gesprek voer (7:12).

 

Argumente is dikwels ‘n instrument om jou gedagtes en denkpatrone te vorm. Is dit dalk moontlik om uit gesprek tot kennis te kom? Inderdaad. Daar is ‘n groot verskil tussen gesprek en skinder.

Wat is skinder dan? Is dit altyd negatief? Net ‘n stemtoon kan feite so kleur dat dit leuenagtig word. Is ons woorde altyd ‘n juiste weergawe van die gees waarin iets aan ons oorvertel is? Moeilik.

Ons moet wegbly van ydelpraatjies sê Timoteus (1:6) en Titus (1:10). Beide hierdie skrywers kategoriseer ydelpraters met bedrieërs.

Nie alles wat ons van ander sê is noodwendig skinder nie. Ek het al dikwels iemand gekomplimenteer met die wete dat dit oorvertel sal word. Dit is soms ‘n manier om waardering uit te spreek. Woorde kan so bemoedigend en opbouend wees. Lees maar gerus weer Jakobus 3.

Een van my heel gunsteling gedeeltes in die Bybel is Maleagi 3:16-18 wat die wonderbare gevolge van goeie gesprek uitspel. Dit het tot gevolg dat die majestieuse Skriba van die hemel ons name in ‘n gedenkboek opteken.

Terug by Johannes 7 om te kyk na die uitkoms van die gesprek.

Sommige het gesê:

  1. Hy is ‘n goeie man. (7:12) Hy is soveel meer as dit.

 

  1. Hy is ‘n profeet (7:40). ‘n Profeet sê: God sê. Jesus sê: Ek sê. Hy het nie as gedelgeerde van God opgetree nie. Hy is God self.

 

  1. Hy is waansinnig (7:20). Hy het die kruis gekies bo mag, ‘n lydende dienskneg bo ‘n oorwinnende koning. Hy het wêreldstandaarde omgekeer en waarheid en vrede in ‘n wrede mal wêreld gebring.

 

  1. Hy is ‘n bedrieër. Hy het mense weg van godsdiens af verlei. Hy is van enige misdaad in die boek aangekla: oortreder van die Sabbat, ‘n vraat, ‘n dronkaard, verkeerde vriende en het die ortodokse leierskap wesenlik bedreig.

 

  1. Hy was dapper en vol moed (7:26). Hy praat openlik met die leiers hoewel Hy al hulle konvensies oorboord gooi. Hy het fisiese pyn hanteer. Hy het by Sy oortuigings gehou toe almal Hom verlaat het. Toe Hy triomfantelik in Jerusalem inry, het Hy geweet dit is die stad wat Hom sou teregstel. Hy het God gevrees, nooit ‘n mens nie.

 

  1. Hy het ‘n dinamiese persoonlikheid gehad (7:46). Hy is leë hande in hegtenis geneem. Krag het uit Hom gevloei sodat die soldate wat Hom gevange geneem het, verward en uit plek uit gevoel het.

 

  1. Hy was die Christus, die Messias. Dit is ‘n feit – eenvoudig en waar.

 

Daar was ook ander reaksies:

  1. Die mense het in vrees reageer (7:13). Die woord vir praat hier is letterlik ‘n gemompel. Dit was ‘n gebrom van onsekerheid soos die gekla in die woestyn. Ons hoef nie bang te wees om oor Hom te praat nie.

 

  1. ‘n Sekere deel van die skare het geglo (7:31). Hulle kon eenvoudig nie die bewyse ignoreer nie. Hulle het hulle vrees en vooroordeel oorkom.

 

  1. Nikodemus het Jesus verdedig (7:50). Hy was alleen in hierdie poging. As ons Jesus verdedig is dit vir ons eie aanmoediging. God het niemand nodig om Hom te verdedig nie. Ons eie getuienisse maak ons sterk en bemoedig die mense om ons. As ons van God praat is dit ons gees en siel wat sterk word.

 

Hoor wat sê Wysheid in Spreuke 8:

 Luister, want wat ek sê, is die moeite werd, elke woord van my is opreg.

 Ek praat net die waarheid, ek het ‘n afsku van wat verkeerd is. Elke woord uit my mond kan die toets deurstaan, nie een het ‘n verkeerde of vals bedoeling nie.

 Mense wat insig het, weet dat ek reguit praat, wie die kennis het, weet wat ek sê, is reg.

 Aanvaar wat ek julle leer, dit is meer werd as silwer; kennis is meer werd as die fynste goud.

 

Bid saam met my die woorde van die Psalmis (19:15, OAB):

Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!

 

 

132. ‘n Woord kry menslike vorm.

Ons is so bekend met die Bybel se woorde – dit word amper betekenisloos. Ons denke moet weer verkwik word met ‘n nuwe waardering vir die wonder. Ons ken mos die woorde van Johannes 1: die Woord het vlees geword, so goed dat ons skaars weer daaroor dink. Miskien moet ons ons verbeelding in ‘n ekstreme oefening inspan en visualiseer hoe ons woorde in menslike vorm lyk.

Hoe sal die woorde daar in die kar wat na die ander motoriste geslinger word lyk? Heel moontlik soos groot, growwe, uitsmyters wat ‘n ou papslaan en disnis daar op die pad neergooi. Hoe lyk die woorde van skinder agter iemand se rug? Dalk soos ‘n donker figuur in ‘n mantel om ‘n bebloede dolk te versteek wat weer en weer verwond, soos die skerp woorde in die onsigbare realm ingestuur word. Dit klink dalk oordrewe dramaties, maar ek kan dit nie wreedaardig genoeg uitdruk nie. Ons woorde doen skade, selfs tot die dood toe. (Spreuke 18:21)

Hoe sou ons woorde van aanmoediging en liefde lyk? Kan jy jou voorstel dat hoorde lyk soos ‘n sterk arm wat iemand ophelp en afstof om aan te gaan? Ons woorde van liefde is ‘n groot omhelsing wat beskerm teen vrees en die wreedheid lewe wat ons moet hanteer. Ons woorde van gebed mobiliseer die hemelse weermag om te veg en te red.

Meer nog: daar was ‘n Man – logos – die Woord.

The first chapter of the Fourth Gospel is one of the greatest adventures of religious thought ever achieved by the mind of man.

[William Barclay, Professor of Divinity and Biblical Criticism at the University of Glasgow]

Teen die tyd dat Johannes hierdie Evangelie skryf, woon hy in Efese. Dit is na die die Joodse oorlog van 66-70 nC. Teen 60 nC was daar ongeveer ‘n 100 000 Griekse Christene vir elke Joodse Christen. Die goeie nuus van Jesus het uit die tradisionele Joodse wysheid uitbeweeg na ‘n baie groter toepassing in die wêreld van daardie tyd. Joodse idees was vreemd vir die Grieke. Die Grieke het byvoorbeeld, geen Messiaanse verwagting gehad nie. Hoe moes Jesus aan die denke van die Grieke voorgestel word?

In beide kulture was die konsep van die woord sentraal in ‘n hulle denke oor wysheid.

Vir die Jode was ‘n woord baie meer as net klank. Dit was iets met ‘n eie bestaan wat konkreet dinge verrig – ‘n eenheid van kragtige energie. Hebreeus was spaarsamig met woorde – 10 000 in totaal terwyl Grieks oor die 200 000 woorde gebruik het.

Die Jode het ‘n tipe letterkunde gehad wat die Wysheidsliteratuur genoem is. Dit was nie spekulatief en filosofies nie, eerder prakties om jou lewe elke dag te bepaal. In die Ou Testament is die voorbeeld van Spreuke. In sekere gedeeltes waar daar oor wysheid (Grieks=sophia) gepraat word, is wysheid ‘n misterieuse, lewende en ewige krag. Wysheid word personifiseer en soos ‘n medewerker van God voorgestel in Spreuke 3 en 8.

Dieselfde tyd as wat die Prediker geskryf is, is ‘n boek in Alexandrië in Egipte geskryf met die titel: Die Wysheid van Salomo. Die skrywer van die boek het wysheid en die woord gelykgestel.

Dus sê Johannes: As jy God se woord wil sien, God se skeppende krag wil sien, daardie woord wat lig en lewe aan die hele mensdom bring, kyk na Jesus. In Hom is God se woord tussen julle.

Maar hoe het hierdie idee in Griekse filosofie ingepas? Eintlik was dit alreeds daar, maar met ‘n verwagting vir vervulling wat die inhoud van die konsep sou bepaal. Sover terug as 560 vC het ‘n denker met die naam Heraclitus in Efese gewoon, presies waar Johannes geskryf het vyf eeue later. Heraclitus was van mening dat alles om ons in ‘n toestand van vloed is en dus van oomblik tot oomblik verander. Sy mees bekende voorbeeld hiervan, is dat dit onmoontlik is om twee maal in dieselfde rivier te tree. As jy uittree en weer intree, het die water gevloei en die rivier is anders. Indien dit waar is, hoekom is die wêreld en die lewe nie heeltemal chaoties nie? Daar kan geen sin wees as daar konstante verandering is nie.

Heraclitus se antwoord was dat die vloei van alles nie toevallig is nie – dit was onder beheer en fyn bepaal volgens ‘n patroon. Die patroon wat die wêreld orden is logos – die woord – die rede van God.

Die Grieke het vasgeklou aan die idee van logos en alles daarmee verklaar, veral in die denkskool van Stoïsisme, wat oor die orde van alles in verwondering gestaan het. Orde impliseer intelligensie, daarom is die kosmiese orde verklaarbaar met logos.

 So het Plato (428-348 vC), een van die bekendste Griekse filosowe, LOGOS as die basiese feit van die lewe verhef. Hy het bepaal dat daar ‘n vooraf iets was tussen die logos van die denkende siel en die logos van dinge.

Vir die Grieke is die betekenis van logos, die woord. Plato en ander filosowe het logos nie net vir die gesproke woord gebruik nie, maar vir die ongesproke woord, die rede, die woord wat nog vorm aanneem binne denke. In terme van die heelal, was logos die rasionaal, die intelligensie wat alles bepaal.

Johannes het logos binne ‘n hele nuwe konsep toegepas om die inhoud te gee wat die Grieke nagestreef het. Skielik was die mens in staat om sedert die heel begin van alles die logos te ken, in die persoon van Jesus Christus. Hy het aan die Grieke gesê: oor soveel eeue het julle gedink en geskryf en gedroom oor logos, die verstand en krag wat die wêreld gemaak het en die orde van alles bepaal, waarvolgens ‘n mens ook redeneer en kennis kry om met God kontak te maak. Jesus is die logos van God.

Die ongesproke woord in God se denke, het menslike vorm aangeneem en tussen ons kom woon. God se rede het ‘n persoon geword.

God se woord het ‘n mense geword om ons te wys hoe sou God op hierdie aarde geleef het. Ons is “klein Christusse”, daarom noem hulle ons Christene.

In wedergeboorte kry ons die “sin” (denke) van Christus.

Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus. (1 Korintiërs 2:16)

Hoe sou ons ons woorde in hierdie wonder-verklaring van God en Jesus onderwerp aan logos?

Kom ons bid Psalm 19:15:

Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!

 

These are the words in my mouth;
these are what I chew on and pray.
Accept them when I place them
on the morning altar,
O God, my Altar-Rock,
God, Priest-of-My-Altar.
(The Message)

 

 

 

 

 

47. Vrygewig met oorvloed – buitengewoon!

Soos met meeste dinge in die materiële wêreld, is perke ‘n goeie ding. In ons familie is my oupa se tafelgebed ‘n voosgebruikte aanhaling – Ag Here, behoede ons van overdaad! Hoe dikwels word ons in die lewe vermaan tot balans met betrekking tot werk, geld uitgee, dieet en plesier. Dit is ook reg so. Ons moet begroot vir uitgawe en belegging, ons lewenspatrone deurdink, kinders opvoed met balans, ons eie belange opweeg teenoor ander mense om ons. As werk of plesier, geld of kos of avontuur oorheers, is dit overdaad en ongesond.

In die geesteswêreld is dit anders. Daar is baie dinge sonder perke beskikbaar en selfs ‘n vereiste. Onbeperkte liefde, onbeperkte genade, onbeperkte vergifnis. Nuwe Testamentiese Grieks het ‘n hele paar woorde vir oorvloed. Een van hulle – perisseia – word vier maal gebruik en word vertaal met: an exceeding measure, something above the ordinary.

Ek kan hierdie woorde nie genoeg indrink nie. Dit is die mees belangrike kenmerk van ‘n lewe – buitengewoon. Dit is alleen moontlik met die oorvloed wat in God se wêreld beskikbaar is. Hy is El Shaddai – the God of plenty. 

Ek het onlangs ‘n pragtige preek by ‘n troue gehoor. Die tema van die preek was: Blessed is he who distinguishes between the holy and the ordinary. Hou dit in gedagte soos ons verder gesels.

Daar is soveel talent om ons. Die wêreld van besigheid, kuns, musiek, akademie, vermaak – alle fassette van die lewe – is vol buitengewone lewens. Dis nie moeilik om uitsonderlike, unieke, verstommende lewens op te noem nie. Daar is onuitspreeklike boosheid, wreedheid en vernietiging ook. Net soveel as wat skoonheid en talent jou siel oplig, voel mens soms platgeslaan deur die kwaad en ongeregtigheid in die wêreld. Binne-in hierdie paradoks, leef ons kinders van God uit Sy bron van onbeperkte genade. Daarom is dit so belangrik om te besluit hoe jy leef en nie te reageer op die wêreld om jou nie.

Een van die plekke waar perisseia gebruik word is Romeine 5:17:

For if because of one man’s trespass, death reigned through that one, much more surely will those who receive God’s overflowing grace (unmerited favor) and the free gift of righteousness [putting them into right standing with Himself] reign as kings in life through the one Man Jesus Christ, the Messiah, the Anointed One.

Die belofte is oorweldigend. Ons regeer as konings deur die oorvloed van genade in Jesus. Dis vry, dis meer as genoeg en dis ons geskenk deur Jesus. Die kenmerk van ‘n koning is om te regeer, nie te reageer nie.

Dit word bevestig deur die gebruik van perisseia in 2 Korintiërs 8:2:

For in the midst of an ordeal of severe tribulation, their abundance of joy and their depth of poverty have overflowed in wealth of lavish generosity on their part.

Dink net ‘n oomblik na oor die woorde wat hier in verband met mekaar gebruik word. Ernstige verdrukking, oorvloedige vreugde, diep armoede, uitbundige vrygewigheid. In ‘n sekere sin is dit woorde wat nie pas nie – dit sal in die gewone gang van sake nie eers in dieselfde asem genoem word nie. In God se wêreld maak dit volle sin. In werklikheid – dit is die onderliggende beginsel van alles wat Hy is.  

Dit is dikwels die moeilikheid wat lei tot uitkoms. Daarvoor gee die Here ons insig en wysheid om die saak te hanteer. Soos die woorde van Josef aan sy broers in Genesis 50:20:

You intended to harm me, but God intended it for good to accomplish what is now being done, the saving of many lives.

Die storie van Josef vertel van ernstige gesinskonflik, wat lei tot moordplanne en leuens. Konflik in verhoudinge is sekerlik die nommer een rede vir ongeluk en stryd. Ons is werklik net so gelukkig as wat ons verhoudinge met die mense rondom ons is. Ons lewenskwaliteit word in die eerste plek daardeur bepaal en nie deur materiële voorspoed of die plek waar ons bly nie. Daarom kan ons nie bekostig om sonder die insig en krag van die Heilige Gees in verhouding te staan nie. Ons het die volle rykdom van al die geestelike seëninge in Jesus nodig daarvoor.

Sou jy ooit kon dink dat jou konflik, jou versteurde verhouding is ‘n heilige oomblik wat deur die Here gebruik word. Onthou die woorde van die lied van Rick Moser – In Sy Naam word elke struikelblok ‘n vastrapplek vir oorwinning, word my onvermoë ‘n deur vir Sy voorsiening. Onderskei die oomblik – heilig of gewoon?

Dit is die buitengewoonheid van ons God. Verbly jou daarin. Daar is meer as genoeg – genade, liefde en vergifnis. Dis ‘n lewe van oorvloed, volheid van verlossing. Dis nie ‘n god wat pik op kleinlikhede, mislukkings en foute nie. Hy is groter, meer en mooier as wat jy in jou wildste drome en diepste verbeelding kan opmaak. [Efesiërs 3 – The Message]

Ons is die produk van hierdie verlossing. Wat is ons kenmerk? Wat maak ons buitengewoon? Presies dieselfde kenmerke – oorvloed van genade, liefde en vergifnis. Dit is die buitengewone kenmerk van ‘n volwasse Christen ‘n lewe uit God met Sy kentekens – nooit ‘n reaksie op ons omgewing nie. Dit is die oorvloed van ons harte wat by ons mond uitkom.

Woorde wat gesond maak, woorde wat troos, moed inpraat, vrede maak, woorde wat ophef en komplimenteer, blydskap bring en eensaamheid verdryf.

Die eerste toets is natuurlik altyd in die verhoudinge met die mense om ons. Ons woorde bepaal meestal die vlak en aard van verhoudinge. Ons almal weet hoe ‘n vriendelike woord die grimmigheid verdryf soos die 1933-vertaling beskryf. Grimmigheid is so ‘n mooi ou woord. Dit beskryf al die woede en dikbek stilstuipes van ‘n woordewisseling wat lelik draai. Hoe is dit moontlik dat woorde wat nie perke ken nie, so in ‘n maalkolk van kritiek en verwerping ‘n verhouding verskeur.

Woorde het krag. Ons het alreeds genoem dat dood en lewe in die mag van die tong is. Jakobus 3 se beskrywing van die tong en beheersing daarvan, is die sleutel tot oorwinning oor woorde wat moor en verskeur. Die hoofstuk begin deur te erken dat ons almal meestal struikel. As enigiemand sy tong kan beheer, kan hy sy hele liggaam beheer. Die tong is klein, maar – gaan Jakobus voort en dis asof hy momentum kry in sy beskrywing van die mag van die tong – dis ‘n vuur, ‘n wêreld van ongeregtigheid wat uit die hel aangesteek word.

Vers 8: ….maar die tong kan geen mens tem nie; dit is ‘n onbedwingbare kwaad, vol dodelike gif.

Vers 10: Out of the same mouth come forth blessing and cursing. These things, my brethren, ought not to be so.

Geen verhouding word deur heftige, ongeduldige en kritiese woorde herstel nie. Verhoudings herstel net in onvoorwaardelike vergifnis, onbeperkte liefde en onverdiende genade. Dit is wat God gedoen het. Sy genade, vergifnis en liefde het Jesus aan die kruis vasgenael. Wie is ons om minder te doen om verhoudinge te herstel?

Die moeilikste opdrag is in Fillipense 2:3:

Do nothing from factional motives, through contentiousness, strife, selfishness, or for unworthy ends or prompted by conceit and empty arrogance. Instead, in the true spirit of humility let each regard the others as better than and superior to himself [thinking more highly of one another than you do of yourselves].

Sjoe! In plein Afrikaans: Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.

Die belangrikste beginsel in die begrip van die volle implikasie van hierdie opdrag is dat God nooit van ons iets verwag wat Hy nie self gedoen het nie. Dit beteken: Hy het ons hoër geag as Homself.

God het Homself aan die kruis gehang vir ons verlossing van selfsug en eie eer.

Dit moet ‘n mens tot stilstand ruk en besluit om jou eie waan en selfsug voor die Kruis neer te gooi met ‘n uitroep na genade.

Ons gesels verder volgende keer. Hier is pragtige skrifte uit Spreuke vir meditasie en lering.

 

 

Spreuke16:24:

 

Pleasant words are as a honeycomb, sweet to the mind and healing to the body.

 

Spreuke 18:4

The words of a discreet and wise man’s mouth are like deep waters, plenteous and difficult to fathom, and the fountain of skillful and godly Wisdom is like a gushing stream, sparkling, fresh, pure, and life-giving.

 

Spreuke 12:25

Anxiety in a man’s heart weighs it down, but an encouraging word makes it glad.

 

Spreuke 25:11

A word fitly spoken and in due season is like apples of gold in settings of silver.

 

40. ‘n Geskenk vir jou – direk uit God se Hand.

Pinkster is ‘n heerlike Christenfees om te vier en krag uit te put. Daar is onder verskeie Christene ‘n begeerte om weer te assosieer met die Joodse feeste en ek dink dis doodreg want ons wortels is in die Ou Testament. Dit is egter belangrik om die volheid van Jesus se koms, wat die feeste soveel meer betekenis gegee het, te erken en te vier. ‘n Fees soos Pinkster (wat eintlik met die begin van die oestyd assosieer word) is propvol betekenis, veral na die gebeure van Pinksterdag in Handelinge 2.

In Kolosense 2:16 en 17 word hierdie feesvieringe van die Jode genoem.

Let no one judge you in food or in drink or regarding a festival or new moon or Sabbaths, which are a shadow of things to come, but the substance is of Christ.

Die inhoud van ons feeste is Christus en ons kan nooit die feeste vier sonder die “substansie” van die volle betekenis van Jesus se koms nie. Die kruisiging staan sentraal – altyd. En net in die mate waartoe Hy die middelpunt bly, kan ons saam met die Jode feesvier. Die Ou Testamentiese feeste was net ‘n skaduwee van hulle vervulling in Jesus en verder nog is ons feeste net ‘n skaduwee van wat ons in die Teenwoordigheid van God ervaar. Onthou dis vir die teenwoordige tyd. Die fees in jou hart, met ‘n bewuswording van God se teenwoordigheid en die openbaringskennis wat daaruit vloei, is die doel van feesvier.

Net vir agtergrond kyk ons na die Joodse Fees wat met Pinkster geassosieer word – ook genoem die Fees van die Weke. Die volk moes 7 weke tel van die uittog uit Egipte (die Paasfees) tot by hierdie fees wat die eerste bloeisels van die Oes vier. Dit was een van die drie (uit 7) feeste wat verpligtend was vir alle Joodse mans, saam met die Paasfees en die Fees van die Tabernakels (Loofhuttefees) . Laasgenoemde was die dankfees aan die einde van die oes.

Pinkster is op die 50e dag na die Paasfees gevier, ‘n tyd van vreugdevolle, partytjie-atmosfeer en die waai van die eerste gerwe van die oes.

Die Fees van die Weke word dikwels met die gawe van die wet in Exodus 19 geassosieer. Dit word soms in Joodse kringe die Fees van die Openbaring genoem. Die wet het die hart van God geopenbaar. Die wet is nie gegee om die mens se tekortkominge vas te vat nie. Dit was die maatstaf van ‘n verhewe lewe, ‘n gelukkige lewe want vir enigiemand wat die wet kon onderhou, was daar nie moeilikheid, vrees of bekommernis nie. Ons onvermoë om die wet te onderhou, het ons afhanklikheid van die inwerking van God se Gees onderstreep. Ons het al gesê: God is die God van jou verhouding met Hom. Hy bepaal, lei, red en onderhou. Daarom het Hy die Heilige Gees kom voorstel.

Om die volle prentjie van die Heilige Gees te kry, is dit nodig om Jesus se woorde en lering daaroor te ken. Gaan saam met my terug na Matteus 3 en die prentjie by die Jordaan toe Jesus gedoop is. (Moet asb nie dat kerkleerstellinge oor die doop nou jou prentjie verdof nie – hierdie is belangrik – ons kyk na die Skrif net soos dit geskryf staan).

God as ‘n drie-eenheid openbaar Homself by die geleentheid. Praat van ‘n defining moment dan is hierdie een van die uitstaandes in die geskiedenis van die mensdom. Kan julle sien hoekom die duiwel hierdie kragtige openbaring van God wil kleur met ‘n omstredenheid in kerkleerstelling?

Die doop van Johannes was ‘n bekeringsdoop en kan dus beskryf word as ‘n “sondaarsdoop”. Waarom moes Jesus dan gedoop word, as Hy soos ons weet, sonder sonde is. Vir die Jode was die doop heeltemal onnodig. Dit was net vir “nuwe” Jode (proseliete) wat uit die heidendom hulle tot die Joodse geloof bekeer het. In die tyd van Johannes se bediening het al hoe meer tradisionele Jode hulle aan die doop onderwerp in ‘n nuwe soeke na God en ‘n bewuswording van hulle sonde. Hierdie nasionale soekersbeweging het groter en groter geword en Jesus het Homself vereenselwig met die mense vir wie Hy gekom het.

Johannes het klem gelê op die Messias wat kom-boodskap en dit was die teken van Jesus om Homself te openbaar. HIerdie gebeure van Matteus 3 was die loodsing van Sy bediening op aarde. Toe Hy uit die doopwater opkom het die hemele oopgemaak en die Gees van God het op Hom neergedaal. Die Heilige Gees is nie ‘n duif nie, dit was net vir daardie visioen in die vorm van ‘n duif om dit iets konkreet te maak, sodat God in Sy drie-eenheid openbaar word. Dit is die wonderlike verwagting van God in Sy volle openbaring – Jesus, Heilige Gees en die goedkeurende stem van die Vader.

Die Heilige Gees wat op Jesus afdaal, het Hom toegerus vir die werk wat kom. Direk daarna is Hy wildernis toe en het Hy sy konfrontasie met die duiwel gehad. Boosheid en leuens kan nie sonder die inwerking van die Heilge Gees oorwin word nie. Die aanhalings van die Skrif deur die duiwel was so uit konteks dat dit slegs as leuens beskou kan word. Dis die Heilige Gees wat die Woord in jou lewendig en kragtig hou, sodat jy die leuens kan onderskei.

Dit sê Jesus direk in Johannes 6:63: NKJV (New King James Version)

It is the Spirit who gives life, the flesh profits nothing. The words I speak to you are spirit and they are life.

Super-belangrike woorde! Lees gerus verder – ‘n moeilike byeenkoms. Baie dissipels verlaat Jesus omdat hy aanstoot gee met sy woorde oor Sy vlees wat geëet moet word en Sy bloed wat gedrink moet word. Die twaalf bly oor en in Sy moedelose laagtepunt vra Jesus of hulle nie ook maar wil weggaan nie. Hier kom die goue woorde van Petrus wat in my hart weerklink: (Nuwe Afrikaanse vertaling)

Here na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en en ons weet dat U die heilige van God is. [Johannes 6:68]

[Herinner: definisie van heilig = afgesonder vir spesifieke doel en definisie vir ewig = nie net tydsgewig nie, ook goddellik, substansie, betroubaar, kan daarop staatmaak = die lewe wat God gee]

Hoekom kon Petrus sulke woorde van krag en waarheid spreek in ‘n atmosfeer van soveel kritiek en rebellie. Dit was die werking van die Heilige Gees.

Op ‘n ander geleentheid spreek Petrus sy oortuiging van geloof in Jesus as die Seun van God uit en Jesus sê direk:

Vlees en bloed het dit nie aan jou openbaar nie, maar My Vader wat in die hemele is. [Matteus 16:17]

Dis nie woorde uit onsself nie. Die Heilige Gees gee ons woorde om te spreek. Dit weet ons uit Jesus se eie lering in Johannes 16: 5 – 15.

Toe die dissipels bekommerd was oor wat hulle moet sê voor die gereg wanneer hulle as Christene vervolg word, was hulle verseker van die wysheid van die Heilige Gees.

Soms as die lewe druk, dan voel ek ek wil Jesus self hoor praat. Hoofstukke 14 – 17 in Johannes is wonderlik daarvoor. Dit voel asof Hy jou vasdruk en troos. Net soos daar by Sy dissipels, ken Hy die hartseer en spanning van die lewe.

Bewus van die hartseer wat Sy woorde van afskeid in Sy dissipels se harte veroorsaak, troos Hy hulle met die Heilige Gees. Hy gebruik woorde soos, waarheid, voordeel, helper, oortuiging.

Hierdie is die ewige lewe, die Goddellike lewe. Om waarheid te ken is om vry te wees van die leuen van die wêreld. Klein praktiese voorbeeld – dis baie moeite om te lieg, jy moet konsentreer om jou leuen in stand te hou, jy word ‘n gemartelde gevangene van jou eie storie. Die Heilige Gees oortuig jou van waarheid en die gevolglike vryheid is verligting en vreugde. So is dit ‘n vreugde om jou lewe met waarheid te deurdrenk. My man het altyd vir my seuntjies gesê na aanleiding van die gordel van waarheid in Efesiërs 6 se wapenrusting: Praat die waarheid anders val jou broek af! Jy sal in die skande kom met leuens.

Die waarheid is dat dit voordelig is dat ons Jesus nie kan sien nie, want nou het ons die Heilige Gees. Hy werk in ons, nader as ‘n fisiese mens, om ons te help en te oortuig van die liefde van ons Vader. Jesus sê verder in Johannes 14 : 26 dat die helper, die Heilige Gees ons sal herinner aan Sy woorde en ons leer.

Die Heilige Gees sal jou van sonde oortuig – in die volmaakte liefde van die Vader wat Sy seun gegee het, as offer vir jou sonde. Moenie toegee aan die duiwel se aanklagte van sonde wat skuld skep en jou lamlê nie.

Die Heilige Gees was Jesus se “persent” aan Sy dissipels (ons ingesluit) om hulle nooit alleen te laat nie. Sy woorde in Johannes 14:26:

But the Helper, the Holy Spitit, whom the Father will send in My name, He will teach you all things and bring to you remembrance all things that I said to you.

Die apostels is deurgaans gevul met die Heillige Gees in hulle bediening soos in Handelinge 13:52 vermeld word:

And the disciples were continually filled, throughout their souls, with joy and the Holy Spirit.

Die Heilige Gees is die belofte van die Vader. Exodus 34:14 (NLT – New Living Translation)

For He is a God who is passionate about his relationship with you.

 

Is dit nie pragtige antieke woorde van krag en vreugde nie?