253.  As die heiden uitroep

Nog ‘n jaar spoed ten einde.  Ons het nog nie die virus-ontwrigting heeltemal afgeskud nie en sommige nagevolge gaan ‘n nog ‘n rukkie vertoef, veral die hartseer as iemand geliefdes verloor het.  Die mediese wêreld het ‘n noodtoestand van paniek en vrees oor langer tye beleef.  Hulle was op die voor-front van die stryd.  Daar is egter so baie mense wat selfs nou nog in paniek en vrees leef, nie net vir die virus, die siekte en die moontlikheid van dood nie, maar nou selfs ook vir die inenting en die politiek rondom inenting-afdwinging.

Daar heers algemene en wydverspreide woede en verwarring oor die ekonomiese, politiese en sosiale impak van die virus en die oplossings wat uitgerol word om ‘n mate van normaliteit – wat dit ook al mag beteken – terug te kry.  Die debat is hewig en ontstellend, ook binne in die kerk.  

Tye van krisis is gewoonlik die tye waarin die Woord van God en die wonder van saligheid sterk moet staan en die pas moet aangee.  Ons word die bestendigheid van tyd belowe, met ‘n rykdom van verlossing en wysheid en kennis.  Die vrees van die Here dui die koers aan. (Jesaja 33:6 OAB)  

Ons dobber nie rond op die stormsee van virus-politiek nie.  Ons toekoms word nie bepaal deur die rukwind van korrupsie, stofwolk van slegte nuus  of selfs die donderstorms van dreigemente en gekke uitsprake van wie ook al oor ons heers nie.  Vir die kerk is die vuuroond die plek van openbaringskennis – die poort van die hemel. [Bodemklippe 251]

Kom ons gaan terug na ‘n plein in Babilon net buite die prag en praal van Nebukadnesar se paleis in die hoofstad van die ryk wat die antieke wêreld met ‘n grootse magsvertoon onder Babilon se oorheersing onderwerp het.  (+/- 600 vC)   Die majestueuse stad het op die walle van die Eufraatrivier gelê, net suid van die moderne Bagdad in Irak, ongeveer eenduisend vyfhonderd kilometer van Jerusalem af.  Die naam beteken “poort van die gode”.  In die Bybelse konteks, het Babel, verwarring beteken.  Die oorblyfsel daarvan is die Engelse woord babble wat na ‘n oordrewe, deurmekaar-pratery verwys.

Iewers in die newels van arrogansie besluit Nebukadnesar om ‘n beeld van homself in die dal van Dura in die provinsie Babel, op te rig.  Hy het ‘n omvattende gastelys van goewerneurs, amptenare, regters en bestuurders   opgestel om die inwyding van die beeld by te woon.  Die begin van die fees wat seker etlike dae sou duur, is gekenmerk deur ‘n seremonie van aanbidding.  Sodra die orkes begin speel, moes almal neerval en die beeld van Nebukadnesar aanbid.  Enigeen wat dit nie doen nie, sou onmiddellik in die brandende vuuroond gegooi word.  

Aanbidding van ‘n beeld is geen probleem vir ‘n heiden en afgod-aanbidder wat in elke geval sy eie besluite maak oor die gode wat hy oor homself aanstel.  Meeste het neergeval en seker gedink dis eenvoudig om aan die versoek te voldoen sodat die etery en drinkery kan begin.

Die Joodse bestuurders van die provinsie Babel se kliptafel-voorskrif dat hulle geen ander god mag aanbid nie, het hulle egter verhoed om voor die beeld van ‘n mens te buig.  Oor die see van vooroor-gevalle lywe, staan drie figure uit soos ‘n seer duim vir almal om te sien.  Die besluit om te doen wat hulle dood sou veroorsaak, was in hulle hart ingebrand sonder kompromie.

Voor die feestelikheid kon begin, moes almal eers ‘n teregstelling aanskou.  Nebukadnesar se eer was op die spel en sy argwaan sou die rebellie teen sy beeld uitbrand tot as wat in die wind wegwaai.

Die vuuroond is selfs warmer gemaak, soveel so dat die mense wat Sadrag, Mesag en Abednego daar moet inkry, doodbrand.  Die drie Jode woorde voor die magtigste aardse heerser in hulle tyd, staan vir tyd en ewigheid opgeskryf.

Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”  (Daniël 3:17,18)

Selfs al was dit hulle laaste dag op aarde, sou hulle nie buig voor die beeld van die afgod nie.  In hulle woorde word die mag van God besing en sy almag om hulle te red, uitgespreek.

Voor die oond is dit chaos.  Dis ‘n dodelike opdrag aan die Babiloniese laksmanne wat die vuuroond laat funksioneer.  Hulle sterf in die proses.

Die manne in die vuuroond is die dramatiese ommekeer wat die keiser van die magtigste ryk van daardie tyd op sy knieë dwing.

Toe het koning Nebukadnesar verskrik opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Het ons dan nie drie manne vasgebind in die oond gegooi nie?”

En hulle sê vir hom: “Dit is so, U Majesteit!”

Hy sê toe: “Maar ek sien dan vier manne wat vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur, en die vierde lyk soos ‘n hemelwese!”

Toe het Nebukadnesar na die bek van die brandende oond toe gekom en geroep: “Sadrag, Mesag en Abednego, dienaars van die allerhoogste God, kom uit hierheen!” (Daniël 3:24-26)

As die Kerk in die vuuroond is en die sekulêre brandpunte die Kerk skroei, sal die ongelowiges rondom ons die Vierde Man in die vlamme sien?  Wat sien die wêreld?

Sien hulle die Hemelwese wat saam met ons loop, sodat ons ongedeerd uit die vlamme stap sonder om na rook te ruik?  Die walm van wêreldse woorde wat geweld en stryd aanblaas, kruip soms binne-in ons gesprekke in sodat ons letterlik stink van rook.  Rook is dikwels die simbool van verwarring en misleiding.  Die Vierde Man is die antwoord op die witwarm vlamme van ons lewens-uitdagings op alle vlakke.  Die Hemelwese wat belowe het, Hy sal ons nooit verlaat nie.  

Laat die heidene uitroep soos Nebukadnesar:

 Daar is immers geen ander god wat in staat is om so te red nie. (Daniël 3:29)


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s