Die Bybel het die antwoord vir alles. ‘n Baken in die duisternis, ‘n helder lig in die verwarrende omstandighede en onsekerheid van wêreld politiek. So is dit in elke geslag van die menslike bestaan. Dit is ‘n boek wat uit die misterie van lank gelede gegroei het; uit ‘n tyd waar net die argeoloë geraadpleeg kan word.
Dit is ses en sestig boeke met verskeie skrywers en nogtans ‘n eenheid met ‘n enkelvoudige boodskap van redding en liefde. Dit is die topverkoper van alle tye, wat deur mense van alle vlakke van die samelewing gelees word. Dit is meestal deur ongeleerdes geskryf en word gereken as verhewe literatuur. Dit is een van die mees gehate boeke in die wêreld wat in grootse pogings tot uitroeiing verdoem is, maar vandag is dit beskikbaar vir meer mense as ooit vantevore. Weer en weer staan ek in verstomming oor die relevansie en betekenis vir die tyd waarin ons leef.
Ek het vandag se titel uit die Ou (1933/53) en Nuwe (1983) vertalings van Afrikaans gehaal. Hou gerus beide byderhand – die woorde verskil, maar is almal toepaslik en verduidelikend. (Filippense 2)
Geen mens kan ontken dat die openbare debat giftig en verwoestend is. Dit is ontstellend om met die kwessies van die dag gekonfronteer te word. Die debat is aggressief en onverdraagsaam. Klassieke liberalisme wat aan ons die onvervreembare reg van vryheid van spraak en basiese vryhede gebring het, word aangeval en afgewater. As Christene word ons basiese waardes veroordeel en uitgerangeer in wetgewing en gemeenskap-aksies.
Ons moet sterk staan en wen – nie net die klein veldslae nie – die groot oorlog waarvan ons sukses gewaarborg is. Ons veg uit ‘n posisie van die oorwinning wat reeds behaal is aan die Kruis van Jesus. Ons wapens is liefde en redding vir ‘n gewonde, storm-gejaagde wêreld wat in geweld en tragedie vergaan.
Waar staan ons? Onthou altyd dat die uitsluitlike doel van Jesus se lewe op aarde was om die mense op God te fokus. Hy het nooit toegelaat dat die vraagstukke van die tyd sy boodskap verwater of verdoesel nie.
Lees saam met my die woorde van Paulus in Filippense. Paulus was natuurlik een van die hoog-geleerdes wat meeste van die Nuwe Testament geskryf het, tussen die meestal ongeleerde Bybelskrywers.
Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing;
want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.
Doen alles sonder murmurering en teëspraak,
sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld, (Filippense 2:12-15, OAB)
Ons lewe en bestaan in die wêreld maak mense bewus van die werk van God. Die woord werk beteken eintlik om te volvoer, om klaar te maak. God sal ons nie halfpad los nie. Hy sal die werk in ons voltooi sodat ons in oorwinning ons omstandighede kan hanteer. Ons kan staat maak op die volle pakket van krag vir ons lewe hier en waak teen tevrede wees met te min. Hy belowe sy onstuitbare aktiewe en effektiewe werk in ons lewe.
Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. (Filippense 1:6)
Hy bring tot volvoering. Ons is sy mede-arbeiders in die oes in ons eie hart, met vrees en bewing of eerbied en ontsag soos die NAB dit stel. Dit klink moeilik as mens nie verder lees nie. Die sin is nie klaar nie…
… want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer. (NAB)
want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. (OAB)
Hy werk sodat ons wil. Wat ‘n verstommende belofte!
Ons redding en vordering is nie van onsself afhanklik nie, maar hang af van die gehoorsaamheid aan God se werk in ons. Ons saligheid is duidelik in ons lewe wat ons in samewerking met die Heilige Gees leef om ‘n waardige lid van die ware kerk te wees – die onsigbare Liggaam van Jesus self.
God werk. Die Grieks is energein, wat God se aktiewe en effektiewe onderbou in ons lewe beskryf. As God werk is die resultate gewaarborg. Niks minder as sy doelstellings en wonder-plan vir ons lewe sal ons waardig maak om deel te hê aan die triomf van sy Koninkryk hier op aarde.
Die doel van sy werk is ‘n liefdesverhouding wat die hoogste en heiligste verhouding is wat ‘n mens ooit kan hê.
Wat is ons rol?
Saligheid kom van God, nie uit menslike pogings nie. Dit is die waarheid en ons weet dit.
Wat beteken vrees en bewing en eerbied en ontsag in ons wandel met die Here?
Ons erken ons eie hulpeloosheid en leef met die besef van ons eie kragteloosheid, sodat ons in ons harte, met nederigheid, die Woord kan aanvaar en die verhewe genadegawes van die Heilige Gees begeer. Dit is ons rol om te ontvang met eerbied en ontsag vir die Woord en die majestueuse guns van God oor ons lewe. Dit grootste en kragtigste belofte het geen gevolg as dit nie met vreugde en verwagting ontvang word nie, met respek aan ‘n heilige, almagtige Vader van liefde.
Hy graveer die lewensveranderende beginsels in ons denke wanneer ons aan sy stem deur sy Woord onderwerp. Daardie oomblik wat jy in trane is oor die wonder van die woorde wat jy lees, is wanneer die ontsag vir God se stem die wonderwerk loslaat. Die bewuswording van sy verstommende genade wat jou in alles deurdra.
Ons ken God nie met blote kennis nie. Ons leer hom ken deur openbaringskennis. Sy Gees in ons leer ons. Openbaringskennis is kennis wat ons red.
Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God. (1 Korintiërs 2:10)
As ons in die openbare debat verval, verwar die woede ons denke sodat ons fokus verloor. Ons moet voor God onberispelik en opreg wees. Onberispelik beteken nie ‘n foutlose lewe, vol skuldgevoelens en sonde-bewustheid nie. Onberispelik beteken onverdeeld en sonder twyfel, met ‘n enkelvoudige doelstelling om God se visie na te streef, sonder dubbelsinnige motiewe. Ons leef voor ‘n gehoor van Een. Dit is die enigste manier dat ons ‘n lig in hierdie wêreld sal wees.
God het ‘n antwoord vir al die vuurwarm kwessies in die strate van die nasies, wat maar altyd ‘n slagoffer identifiseer wat geregtigheid afskreeu by ‘n groep wat skuldig verklaar word deur die herinterpretasie van die geskiedenis en sosiale strukture. Dit is ‘n agenda uit die hel om mense van God af weg te keer, sodat hulle nie die gemoedsgenesing verkry wat net Hy kan bied nie. Hy is die antwoord op die verlange en verwonding van ‘n gebroke wêreld.
God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.
Wat ‘n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want God het dit binne hulle bereik gebring.
Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie,
omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister. (Romeine 1:18-21)
Dank die Here vir die Gees van Christus in ons. Die Engelse Bybel praat van the mind of Christ. Ons leef in die lig en ons is die lig. Laat ons nie opgevang word in die rommel en ruïnes van die woorde van ons dag wat ons waardes verwoes nie. Ons skyn met die waarheid en geregtigheid van Jesus.
Die mens wat die Gees van God het, kan die waarde van alle dinge beoordeel, maar self kan hy deur geen mens beoordeel word nie. 16Daar staan geskrywe:
“Wie ken die gedagtes van die Here?
Wie sal Hom raad gee?”
Maar ons, ons het die Gees van Christus. (1Korintiërs 2:15,16)
Ons kan die gesprek verhewe maak deur met die Woord van wysheid te reageer en nie met ‘n opinie op die wêreldgebeure nie. Opinies lei nie na eenheid nie; dit bring verdeeldheid. God se Woord maak ons een; ‘n kragtige eenheid wat die ware Kerk is. Ons is nie eenvormig nie. Net Hy kan ons een maak.