249. ‘n Lewe bo die wolke

Iewers in Januarie 2015 maak ek my tuis in ‘n venstersitplek op ‘n vlug tussen Calgary en Toronto.  Dis die middel van die oggend in die middel van die woeste wintermaande in Kanada.  Buite is dit spierwit en die sneeu kom af soos ‘n kombers.  Ek het my foon dopgehou om te hoor of die vlug gekanselleer word in hierdie gure weer, waar niemand buite behoort te wees nie.  Een of ander tyd leer mens dat die Kanadese voortgaan met die lewe al brul die weer in hulle ore.  

Ek is deur sekuriteit, met ‘n Starbucks koffie in die hand, wat ek net in buitengewone omstandighede drink.  ‘n Lughawe en ‘n “white-out” sneeustorm tel as so ‘n geleentheid.  Ek het pas verneem dat my man wat my afgelaai het, terug by die huis is.

Ek het ‘n lang getuienis oor vrees vir vlieg, wat een dag onverwags in my kom sit het.  Ek het dit oor jare met alles wat ek weet oor vrees geveg en eendag besef ek is in ‘n gemaklike roetine van verbeeldingsvlugte oor engele wat gestuur word om my op te pas en sekere musiek wat in my ore weerklink nes ek my sitplek ingerig het.  Ek was vasberade om op hierdie vlug geestelik paraat te wees sodat ek nie paniekerig raak oor die storm buite nie.  

Net toe ek my oë wil toemaak en bid, “praat” die Here met my in my gedagtes.  Dit is onontkenbaar as mens jou instel om van die Heilige Gees te hoor.  Ek ken die liefde-fluistering van my hemelse Vader, maar ek ken  ook sy streng vermaning-stem.  “Dis nou genoeg”, hoor ek.  “Word groot en skud die kinderagtige prentjies wat jy op steun van jou af”.  Ek is so verbaas oor my gedagtes dat ek my oë oopmaak en kyk of ek nog in die werklikheid van die vliegtuig is.  Die vliegtuig stoot agteruit om by die aanloopbaan te kom.  In die wit wolk buite is dit onmoontlik om enige pad of aanloopbaan te sien.

Die enjins is aan en klink gereed vir aksie.  Deur die newel van wit buite sien ek die ys-trekker wat die vlerke ontys.  Die man in die beheersitplek kyk my in die oog en glimlag.  Hy wonder seker wat op aarde so dringend is, dat ek in hierdie weer vlieg.  Hy weet nie van ‘n tweeling dogtertjies wat gebore is sowat ‘n maand vantevore, wat ek nie kan wag om te ontmoet nie.  My geliefde susterskind se splinternuwe familietjie wag vir die groottante se besoek – baie dringend in my boek.

Intussen gesels ek nog met die Here.  Ek hoor duidelik dat ek moet ontspan, sonder vrees en terugsit om die vlug te geniet – geen paniekerige gebede of amperse bygelowe oor engele en musiek.  Toe die ys-trekkers aan beide kante, terugstoot, trek die loods die enjins oop en ons styg op, voordat die vlerke weer kan ys.

Wit, wit wolke met geen sigbaarheid van die omgewing nie – net volle vertroue in ‘n beheertoring wat met sterk radar die storm-pad oop verklaar.

Die volgende oomblik is die hele vliegtuig vol son en die lug helder blou.  Ek trek my oë skrefies van die skielike sonskyn… en trane van begrip.

Here, Here – ek sien wat ek moet leer.  Ek sien hoe beperk my sig is.  Die loods het geweet.  Hy ken die dril.  Hy weet hy gaan deurbreek en hoog vlieg – ver bo die stormwolke.  Hy weet die beheertoring sal hom lei om deur te kom.  Ek het nie geweet nie.  Ek moes dit ervaar om te leer.  

Ek het ook ‘n beheertoring wat die pad aandui as die stormwolk so dig en laag hang, dat dit onmoontlik is om die son en blou lug te voorsien.  Dit is letterlik blinde vertroue om die beheertoring se woord te aanvaar dat geen ander objek in die pad van die vliegtuig is nie.  Dis met die grootste vertroue en ondervinding van honderde vorige kere, wat die loods die spoed opjaag totdat hy die moderne wonder in die lug kry en deur die wolke vlieg.  Hulle vertel my dat ‘n moderne vliegtuig amper heeltemal outomaties vlieg.

Ek wil ook met my outomatiese loods deur die stormwolk van vrees en moedeloosheid vlieg.  Ek wil opstyg op die vleuels van die Woord.  Die beheertoring sê:

Die wat op die Here wag…

…maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.

Hulle vlieg met arendsvlerke,

hulle hardloop en word nie moeg nie,

hulle loop en raak nie afgemat nie.  (Jesaja 40:31)

Ek moet net genoeg spoed optel.  Openbaringskennis is die straler-enjin van ons lewe.

So sê die Here:

Die wyse man moet nie in sy wysheid roem nie,

die soldaat nie in sy krag nie,

die ryk man nie in sy rykdom nie.

Laat hom wat wil roem, daarin roem

dat hy insig het en My ken.

Ek is die Here.

Ek bewys liefde, reg en geregtigheid op die aarde,

want dit is wat Ek wil hê, sê die Here.  (Jeremia 9:23,24)

Ons wysheid, krag en rykdom is die Koninkryk van God hier op aarde en die prioriteite van daardie realm is ons straler-enjin.

Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig.  (Spreuke 9:10)

En toe die sabbatdag aanbreek, het Hy die mense in die sinagoge begin leer. Baie het na Hom geluister en is deur sy woorde aangegryp. Hulle het vir mekaar gesê: “Waar kom hy aan al hierdie dinge, en watter besondere gawe van wysheid het hy dat daar sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind?  (Markus 6:2)

Ons het die Bron van wysheid en kennis in die beheertoring van ons lewe.  

Styg op.  Trek oop die straler-aandrywing van geloof.  God wil met jou praat.  Hoor sy Stem. Luister en jou siel sal lewe – binne in die storm.  Jy kan deurbreek en hoog bo die stormwolk vlieg – in die Son van Redding met genesing in sy strale.  (Maleagi 4:2)


One thought on “249. ‘n Lewe bo die wolke

Laat 'n boodskap na Mardene Le Roux Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s