221. ‘n Reis deur ou Judea

 

Leun terug en tydreis saam na die era van die Passie van ons Heer.

Dis woorde wat ons lanklaas of nog nooit gehoor het nie.  Dit hang dalk net af hoe oud jy is.  Die Passie van ons Heer.  Dit is die titel van W.E.G. Louw se tydlose gedig oor die laaste ete van Jesus en sy dissipels, sy kruisiging en opstanding.  Dit is waaroor die Paasfees hierdie naweek gaan.  Wat ‘n voorreg om in hierdie verstommende tyd in die geskiedenis van die wêreld die Paasfees te vier.  Omstandighede soos wat ons nou beleef tydens die stryd teen die Koronavirus, is so uitsonderlik, dit gebeur eenmaal in ‘n paar geslagte.  Tereg kyk die navorsers terug na honderd jaar gelede en die tyd van die Groot Griep soos wat die ou mense dit genoem het.

Volgens die Bybel is ‘n geslag veertig jaar.  Honderd jaar is dus twee en ‘n half geslagte.  As mens so ver terug dink en noodwendig vorentoe om te dink hoe die wêreld gaan verander na hierdie virus, dan is dit nou die tyd om op te kyk na die Oue van Dae, soos wat Daniël God noem vir ons verre verlede, waarheen ons gaan reis, die naby verlede, ons lewe sover, hierdie dag, môre, die nabye toekoms wanneer ons ons lewe weer optel na die virus en die verre toekoms waaraan ons almal skaars kan dink.

Ek was nog altyd gefassineer deur tyd en die konsepte daar rondom.  Ek het al dikwels gewens tydreis is wel moontlik.  Ons het darem ons verbeelding en sal ‘n goeie beeld van die plekke wat ons in die antieke wêreld gaan besoek kan opdink.  Dit is om die gebeure van soveel eeue gelede, wat ons tydsberekening verdeel het, beter te verstaan.  Of mens nou praat van Voor Christus (vC of BC in Engels) of van BCE (Before the Common Era) soos wat nou gewild is, die lyn wat die geskiedenis verdeel is die lewe van Jesus.  Dit sal nooit verander nie.  Dit is presies soos die ou lied sê: There is a line that has been drawn through the ages and on that line stands the old rugged Cross.

Die drama van Jesus se lewe en sy dood aan ‘n Romeinse kruis kan hoegenaamd nooit ignoreer word. Dit is ‘n ongemaklike innerlike konfrontasie vir elke mens.  Vir die miljoene wat die uitnodiging van alle eeue aanvaar het, het hy die voorreg gegee om kinders van God genoem te word.  (1 Johannes 3:1)

Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. (Johannes 1:12)

Die sekulêre fees met eiers en hase is gegrond in die Persiese woord Ishtar (daarom die Engelse Easter) wat die godin van vrugbaarheid aanbid.  Eiers is die simbool van lewe wat groei en hase is bekend dat hulle vinnig aanteel.  Dit is belangrik om ons kinders te leer en met kennis toe te rus sodat hulle intensioneel die Paasfees vier en nooit nalatig en onnadenkend die Paastyd ingaan nie. Dit is na alles die heel belangrikste datum op die Christen kalender.  Jesus is die Outeur van ons saligheid.  Hy staan sentraal in die geskiedenis.

Waar is jy op hierdie dag?  Berei jouself voor vir ‘n nuwe openbaring van wie Jesus is.  Laat jou uitroep na die Oue van Dae wees: Openbaar Jesus aan my!

Ek verwag groot deurbraak oor hierdie Paastyd.  Dit is nie toevallig dat die diepste stryd teen die virus oor hierdie tyd van die jaar val nie.  Laat ons gereed wees vir ‘n nuwe ontwaking vir die Evangelie van Jesus.  God praat op die megafoon van genade.

God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie? (Romeine 2:4)

Hy wat ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeente sê.  In hierdie tyd is die afstand tussen jou voet en jou knie baie belangrik.  Dit is die verskil tussen staan voor God en kniel voor God.  Dit is die afstand wat jou gaan red en genees.

So kom reis saam met ‘n paar stilhouplekke – op die walle van die Meer van Galilea, in ‘n donker gang tussen die pilare om die Tempel van Herodus in Ou Jerusalem, in die voorhof van die Paleis van die Hoë Priester, by die tafel van die laaste ete saam met Jesus en dan in ‘n kamer met geslote deure en luike iewers in die kronkel straatjies van die Stad van Dawid.  Ons sal swaar leun op ons verbeelding en al die prentjies van ons Kinderbybels en Bybel atlasse.  As jy so luister terwyl ek praat, maak jou oë toe en hoor wat die Gees aan jou wil kommunikeer.  Moenie probeer aantekeninge maak nie. Alles is opgeskryf en is beskikbaar.  Luister vir wat jy moet hoor.  Vra die Here om jou spasie met sy teenwoordigheid te vul. Leer van hom – al is die net een lewensveranderende insig hierdie Paas.  Luister na die Stem binne-in die stem wat praat.

Die meer, of soos dit soms genoem word, die See van Galilea is die grootste varswater meer in Israel.  Sy spesifieks geografiese struktuur maak dat ‘n windtonnel deur die Arbelpas soms geweldige storms oor die meer opwaai.  Dit is die kern van lewe in Galilea.  Die dorpies om die meer vind hulle bestaan in die visbedryf van die ryk visbronne in die vier kubieke kilometer water.  Vissermanne is algemeen.  Hulle sleep, vou of herstel reuse nette waarmee hulle snags visvang.  Dit word gesê dat Johannes se pa ‘n visfabriek bedryf het, wat die vis ingesout het vir preservering en dat Johannes soms van die aflewerings aan die Paleis van die Hoë Priester gedoen het.  Dit is waarom hy en Petrus die aand van die verhoor van Jesus in die voorhof kon inkom.  Hy het heel moontlik die wagte en bediendes daar geken.

Jesus en sy dissipels het baie tyd daar om die meer spandeer.  Verskeie wonderwerke het daar plaasgevind.  Die vermeerdering van die brode vir die vyfduisend, vir die vierduisend, die storm wat kalm word, die wonderlike visvangs, Jesus wat op die water loop en nog meer.  Dit was naby Kapernaum waar die Bergpredikasie plaasgevind het, wat steeds deur gelowige en nie-gelowige geleerdes as die diepste morele gesprek ooit gereken word.

Een dag langs hierdie meer het Jesus vir Petrus ontmoet.  Jesus het hom lank aangekyk; ‘n kyk wat tot in sy hart ingedring het.  Hy het hom ‘n nuwe naam gegee, net daar en dan. Cephas het rots beteken.

Twee name was algemeen. Meeste mense het ‘n Aramese en ‘n Griekse naam gehad – soos Thomans en Didimus (Grieks vir tweeling).

In die Ou Testament het ‘n nuwe naam ‘n nuwe verhouding met God aangedui.  Jakob het Israel geword, Abram het Abraham geword.  ‘n Nuwe mens kry ‘n nuwe naam.

Jesus sien die potensiaal in Petrus.  Hy sien wat hy is en wat hy gaan wees.  In daardie oomblik het Jesus in ‘n gewone Galilese visserman die potensiaal van ‘n groot leier wat sy medemens sal inspireer en ‘n leier van die kerk word, gesien. Hy sien dit in elkeen.  Hy het dit in Gideon en in Dawid en in soveel van die Ou Testamentiese geloofshelde gesien.

Kom ons sit saam met Jesus en sy dissipels onder ‘n boom in die koelte, iewers langs die meer vir ‘n gemaklike, informele gesprek.

Jesus vra ‘n maklike vraag.

Wie sê die mense is ek?

Die dissipels gee die maklike antwoord: sommige sê Elia, ander Moses, party Johannes die Doper of ander meen dat Jesus een of ander nuwe profeet is.

Skielik maak Jesus dit persoonlik.

Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”

Wel, natuurlik sal die voortvarende Petrus dit uitbasuin.

“U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

Hierdie inpsirerende, Heilige Gees-woorde laat Jesus ‘n seën oor Petrus uitspreek wat oor eeue tot in ewigheid sal weergalm.

 Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

Dit is openbarings-woorde van Petrus. Dit is wat ons begeer. Ons wil sien en praat soos wat die Vader in die hemel aan ons openbaar.

Jesus verklaar dat Petrus se insig wat in sy woorde uitkom, die rots is waarop die kerk gebou word. Dit is nie Petrus self nie, maar sy insig wat die rotsfondament van die kerk is. Die kerk van Jesus is nie gebou op ‘n mens nie.

 Die kerk is gebou op die openbaring van wie Jesus is.

Met dit in gedagte, kom ons staan naby ‘n pilaar in ‘n gang by die Tempel, miskien daar tussen die Korintiese marmerpilare van die Tempel voorhowe.  ‘n Paar van die priesters ontmoet een van die dissipels om ‘n skelm, agterbakse ooreenkoms aan te gaan.

In die agtiende jaar van Herodus se koninkgskap bou hy die Joodse Tempel met groot argitektoniese ambisie.  Hy is ‘n pion van die Romeinse owerhede en hy weet hoe om die Jode en die Romeine tevrede te hou.  Dit moes baie ingewikkeld wees en met baie korrupsie gepaard gegaan het.  Die luukse, aanskoulike argitektoniese bouwerk van die Tempel, kalmeer die Joodse godsdiensleiers.  Hy het ook heiden tempels gebou en dit het hulle baie kwaad gemaak.  Omdat niemand anders as priesters in die Tempel mag ingaan nie, stel Herodus omtrent ‘n duisend priesters as bouers en skrynwerkers aan om die werk te voltooi.

Die kern van ‘n Jood se lewe in Jerusalem en die omliggende gebiede, vind om die Tempel plaas. Dit staan sentraal in denke en aktiwiteite.

Hierdie spesifieke aand, (kom ons aanvaar maar dit was donker omdat sulke donker dade dikwels in die donker plaasvind), maak Judas ‘n offer om Jesus te verraai sodat Hy in hegtenis geneem kan word en in ‘n geheime, nagtelike verhoor ter dood veroordeel kan word.

Judas het behoort aan ‘n politieke party wat die Romeine met geweld wou uitdryf en ‘n onafhanklike Joodse staat uitroep. Na drie jaar saam met Jesus, het hy male sonder tal gesien hoe Jesus woedende argumente en selfs potensiële steniging vermy. Hy het net weggeloop al het sekere mense al klippe opgetel. Judas het besef dis ‘n wonderwerk dat hulle Jesus nie doodmaak nie.

Dit het hom laat dink om Jesus se hand te dwing en hom in konfrontasie met die Romeinse owerhede te bring. Dit sou ‘n wonderwerk afforseer en so Judas se visie in werking bring. Sy eie ambisie en toekomsvisie het sy ore doof gemaak vir die waarskuwings van Jesus dat Hy wel in hegtenis geneem en doodgemaak gaan word (Matteus 16:21; Markus 9:31; 10:33).

Vir almal in die woestynagtige hoekie van die Romeinse Ryk was die jaarlikse Paasfees ‘n doodgewone verskynsel.  Die tradisie het die rituele voorgeskryf, in graniet geskryf net soos die Wet op die kliptafels van Moses.  Hulle moes almal die bloed aan die deurposte onthou wat die dramatiese uitredding uit die slawerny van Egipte herdenk het.

‘n Paar jaar na die kruisiging is daar tydens die Paastyd in Jerusalem ‘n sensus geneem. Na beraming is daar toe 256 000 lammers geslag. Stel jou voor hoe die Tempel omgewing gelyk en geruik het met die bloed wat die priesters teen die fondamente gooi – amper ondenkbaar vir ons moderne ingesteldheid. Volgens voorskrif het tien persone ‘n lam vir die Paasoffer gedeel. Dit gee mens ‘n estimasie van 2,5 miljoen net Jode in Jerusalem. Die geheime nagtelike vergadering van die Sanhedrin het die opdrag laat uitgaan dat hulle Jesus voor die Sabbat wil laat teregstel. Dit gee mens ‘n idee waarom hulle ‘n verraaier nodig gehad het om Jesus tussen al daardie mense te kry.

Judas het nie die tye onderskei nie. Hy wou Jesus “gebruik”.

Hy het sy 30 stukke silwer (die prys van ‘n slaaf op die mark) ontvang en die soldate na Getsemané gelei.

Dink vir ‘n oomblik hoe belangrik dit is om nou in ons lewe die tye te onderskei en die Here te vra waaroor dit alles gaan.  Ons kan nie bekostig om met ‘n Judas-blindheid en een-dimensionele insig deur hierdie tyd te leef nie.  Daar is ook nie voorskrifte daaroor nie.  Die enigste insig-pad is in die teenwoordigheid van die Here in gebed met die eenvoudige versoek dat Jesus homself aan ons openbaar.

Kan ons in ons verbeelding saam met Jesus sit aan daardie tafel in die bokamer waar die Pasga maaltyd voorberei is?

Die dissipels moes ‘n naamlose vriend van Jesus uitken en hom vir die bokamer vra.  Die teken om die man te herken, was dat hy ‘n pot water dra. ‘n Man wat ‘n waterpot dra, sou uitstaan in enige menigte mense. ‘n Waterpot op die skouer was ‘n vrou se werk.  Hy sou aan hulle ‘n bokamer beskikbaar stel.  Daar het die dissipels die maaltyd voorberei.

Judas tree heeltemal normaal op met sy bose plan ‘n diep geheim wat hy met niemand deel nie. As die ander dissipels geweet het, sou hulle hom probeer keer het.

Johannes was nader aan Jesus om te vra wie dit was wat Jesus bedoel het Hom sou verraai. Johannes noem homself die geliefde dissipel.  Hy het geweet hoe lief Jesus hom het.  Dit is weer eens openbaringskennis wat sy lewe bepaal.  Jesus het nie Johannes meer as die ander liefgehad nie. Johannes het net besef hoe lief Jesus hom het.

Aan die gasheer se linkerkant was die plek vir die eregas. Judas het daar gesit.  Dit was ‘n poging van Jesus om hom van sy plan te laat afsien.

Die gasheer het aan ‘n gas iets van die tafel af aangebied as uitnodiging tot gesprek.  Jesus het die stukkie brood in sous gedoop en dit vir Judas aangebied (Johannes 13:26). [Vergelyk Rut 2:14 waar Boas Rut nooi om haar kos in die wynsous te doop.]

Weer en weer was die kans op versoening aangebied, maar Judas het toegelaat dat die duisternis oorwin.

Jesus het aanvaar dat die tyd verby is en dat Judas sal doen wat hy beplan om te doen. Toe Judas die tafel verlaat het die dissipels nie besef wat aangaan nie. Hulle het seker gedink dat Jesus Judas uitgestuur het om aan die armes iets te gee soos dit die gewoonte was.

Toe Judas die brood by Jesus vat, het die duiwel in sy hart oorhand gekry. Hy was so obsessief oor sy eie plan dat hy Jesus se uitnodiging en liefde keer op keer verwerp het.

Johannes noem dat Judas in die nag uitgegaan het om sy donker daad te verrig. Donker dade kies gewoonlik die duisternis vir uitvoering. Dit is simbolies van wat in sy siel aan die gang was. Weg van die teenwoordigheid van Jesus, is nag. Jesus is die Lig.

Sodra Judas die tafel verlaat praat Jesus uit Sy hart met die ander dissipels. Hy praat oor sy missie. Hy praat sodat hulle krag kry vir die donker ure van die kruisiging wat voorlê.

Sy afskeidswoorde is liefde.

Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Judas het sy 30 stukke silwer ontvang en die soldate na Getsemané gelei.

Baie gou het Judas gesien dat dinge nie volgens sy plan verloop nie. Hy het Jesus se kalm oorgawe aan die soldate gesien.

Johannes skryf dat ‘n kompanjie soldate die soldate van die hoë priester vergesel het.  Die hoë priester se soldate was die Tempelwag en moes die opdragte van die hoë priester en die Sanhedrin (die Joodse raad van sewentig lede wat verantwoordelik was vir godsdienstige reg en orde) uitvoer.  Ongeveer twee honderd Romeinse soldate het die Tempelwag vergesel, gereed vir ‘n bloedige opstand as hulle Jesus in hegtenis neem.

Dit is ‘n oorweldigende oormag  wat daardie nag in die tuin ingekom het om een man, ‘n eenvoudige Galilese skrynwerker, in hegtenis te neem.

Dink net hoe eenvoudig en kalm die inhegtenisname plaasgevind  het.  Jesus was deurgaans volledig in beheer van die hele proses.

Petrus het geskrik en onmiddellik reageer.  Hy het sekerlik een van die soldate wat op die proses met Jesus fokus, se swaard gegryp en opgelig om te veg – ‘n dapper daad teen so ‘n oormag.  In die warboel, sny hy die soldaat se oor af.

Dit is altyd so  – deur die geskiedenis.  As die kerk die swaard trek en met geweld reageer, word die ore van die mense afgesny.  In ander woorde – hulle vermoë om die Evangelie te hoor word afgesny en slegs ‘n aanraking van Jesus self sal die ore genees.  Net soos daardie aand in die tuin.  Jesus het kalm sy hand oor die oor gesit en die oor genees.

Judas beleef die hele proses in die geskokte besef dat dinge verkeerd loop.

Later die nag, nadat Hy heen en weer tussen Pontius Pilatus en Herodus gestuur is, word ‘n aaklige doodsvonnis die gevolg van die sogenaamde verhoor.

Judas was in doodspaniek.  Sy hele plan het verkeerd geloop. Hy strompel terug na die kerkleiers met die woorde:

 “Ek het gesondig. Ek het ‘n onskuldige man verraai.”  (Matteus 27:4)

Na ‘n hele drie jaar in Jesus se teenwoordigheid het hy nog nie besef met wie hy te doen het nie, die Christus, die gesalfde van God, die Een op wie die hele wêreld gewag het nie.

Hy sterf  deur sy eie hand, alleen en ontnugterd.

Die pas van die nag se gebeure tel op.  Kom ons gaan saam na die binnehof van die paleis van die Hoë Priester.  Annas was die krag agter die “troon” van die hoë priester. Die hoë priester was in samewerking met die Romeine ‘n posisie van aansien en gemak.  Annas se familie het so baie ryk geword.  Sy seuns en op daardie stadium sy skoonseun Kajafas het die pos vervul.  Hulle het presies geweet hoe om die Romeine tevrede te hou en hulleself te verryk in die proses.   Die handelaars in die voorhof van die Tempel is die Basaar van Annas genoem.  Hy was bekend daarvoor dat hy die inkomste uit die Tempeloffers in sy eie sak gesteek het.

Die verhoor voor Annas was ‘n verdraaiing van die reg.  Jesus het geen hoop op ‘n regverdige verhoor gehad nie. Hy het geweet hoe dinge sou uitwerk.  Volgens die verslae oor die verhoor in al vier Evangelies is dit duidelik dat Jesus deurgaans in beheer van die proses gebly het.

Petrus en Johannes was baie braaf om Jesus te volg tot in die binnehof van die hoë priester se huis.  Dit was nie ‘n tyd om as vriend van die Nasarener gesien te word nie.  Die godsdiensleiers het die gemeenskap oorheers. Daar was geen uitkom kans nie.  As jy hulle argwaan op die hals haal was jy ‘n uitgeworpene uit die ganse gemeenskap, met geen hoop op herstel nie.

Toe die mense hom vra of hy Jesus ken, ontken hy drie maal dat hy nog ooit enigiets met hom te doen gehad het.  Die hanekraai was die trompet wat die Romeine drie uur in die oggend geblaas het, om die omruiling van die stadswag aan te kondig.

Dit is presies wat jy moet hoor in jou diepste krisis-oomblik.  Die trompet kondig die aankoms van jou Redder, Jesus self aan. Hoor jy die trompet?  Kyk op in sy Oë.

Petrus het Jesus liefgehad.  Hy was wel swak in die oomblik, maar hy was teenwoordig daar as gevolg van sy liefde en lojaliteit.

Jesus het vir hom gekyk – seker so intens soos daardie eerste dag langs die meer toe Hy Petrus ontmoet het.  In een kyk, wat sekerlik die kragtigste liefde-kyk was, is Petrus gered.  Dit was nie ‘n kyk van verwyt nie.  Dit was nie die kyk van ek-het-jou-mos-gesê nie.

Dit was die oë van volmaakte liefde wat red en nie veroordeel nie.  In een kyk is liefde en reddingskrag gekommunikeer – genoeg om Petrus van verwoestende verwyt en hartseer te red.

Petrus se verloëning van Jesus het natuurlik oral bekend geword, maar hy het terug na sy familie in Jesus gevlug.  In sy vernedering was hy nie alleen nie.   Daar agter geslote deure saam met die ander het hy die skokkend-goeie nuus van die opstanding gehoor.  Daar in die tuin het Jesus, Petrus spesiaal aan Maria genoem, omdat hy geweet het dat Petrus se hart vreeslik pyn.

Petrus se lewe het in groot oorwinning geëindig.

Hou in gedagte dat Petrus die openbaring gehad het van wie Jesus werklik is. (Matteus 16:13-20)  Judas daarteenoor het in skuld en verwyt die geld gaan teruggee en gesê hy het onskuldige bloed verraai.  Hy het gesterf – aan sy eie hand, vol skuld, alleen en gebroke – sonder om werklik te weet met wie hy te doen gehad het.

Petrus se openbaringskennis het sy liefde en lojaliteit bevestig en deurgedra in die donker nag van verwyt en vernedering.

Daardie Vrydag is die lammers se bloed in duisternis uitgegiet. Op die uur wat die lammers gesterf het, het Jesus gesterf. Die tyd was belangrik, sodat die mense kon weet en die woorde onthou – die woorde van Moses en die woorde van Jesus wat Homself as offerlam voorgehou het. Die priesters het gefokus op die belangrikheid van die Paasfees en dalk alreeds vergeet van die wrede gille van ‘n skare wat ‘n bloedbedekte rondloop-prediker kruis toe aangepor het. Die priesters en die skare om die Tempel het sekerlik opgekyk en die skielike, onwelkome duisternis in verbasing onder mekaar bespreek. Het hulle besef dat hulle rituele met die lamsbloed en die Fees en die Tempel die laaste dae beleef? Klaarblyklik nie. Veertig jaar na die kruisiging is Jerusalem vernietig en die kernbaken van die ganse volk van Israel, die Tempel, in puin gelê. Die offerrituele van die Jode is gestaak. Die lammers word nie meer geslag nie. Die bloed vloei nie meer nie. Die Bloed van die finale Offerlam het ‘n einde gemaak aan die bloed van diere.

Kyk jy met die luuksheid van ‘n terugblik op hierdie gebeure?  Wat beteken  hierdie kennis vir jou persoonlik?

Kom ons bid:

Onse Vader wat in die hemel is – wys ons U glorie.  Wys ons Jesus.

Laat die opstanding binne in my  plaasvind asseblief.

For my determined purpose is that I may know Him, that I may progressively become more deeply and intimately acquainted with Him, perceiving and recognizing and understanding the wonders of His Person more strongly and more clearly, and that I may in that same way come to know the power outflowing from His resurrection, which it exerts over believers, and that I may so share His sufferings as to be continually transformed in spirit into His likeness even to His death, in the hope

 That if possible, I may attain to the spiritual and moral resurrection that lifts me out from among the dead even while in the body.

Philippians 3:10-11, Amplified Bible Classic Edition.

 

 

 

 

 

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s