204. Karakter word ons kenmerk

Net soos wat mens moet weet met wie hy te doen het, so moet jy weet waarom ‘n mens hom hoegenaamd met ‘n God bemoei.  Godsdiens as alledaagse is eenvoudig nie vanselfsprekend soos in die ou dae toe kerke die samelewing oorheers en regeer het nie.  Kerkleiers het vir eeue die gemeenskap se karakter bepaal en op aanmatigende, arrogante en dikwels hartelose maniere voorgeskryf, geoordeel en veroordeel.

Daar was natuurlik baie goeie leiers, goeie herders wat waarlik verligting in lyding gebring het. Die Middeleeuse kerk was ‘n baken van lig en uitkoms in ‘n baie donker wettelose en wrede era.  Die basiese beginsels van die Evangelie het die onderbou van die ontwikkeling van die moderne gemeenskap gevorm.  Slawerny is bevraagteken en afgeskaf en die lang oploop tot die Handves van Menseregte het prosesse in plek gestel om aan elke mens menswaardigheid toe te reken.  Dit was Jesus, as mens op aarde, wat die kollig op die verworpenes, siekes en armes gegooi het, in ‘n gemeenskap met ‘n sieklike instelling op status en posisie, selfs in die kerk van daardie dae.

Die moderne mens beskou homself as onafhanklik van die kerk en het nie meer die “beskerming” nodig nie.  Wette en denkpatrone het die plek van Christelike beginsels ingeneem.  Die kerk is eenkant toe geskuif.  Om alles te kroon is die kerk “uitgevang” op misbruik en mishandeling. Die Evangelie-beginsels is verdraai en in lomp skynheiligheid het die kerk sy aanslag en boodskap verwater.

God bly aktief in sy kerk, al lyk dit van buite korrup en kragteloos.  God skryf nie sommer af nie en sal altyd die ware kerk, die kerk van Jesus, laat herleef.  Hy werk met die oorblyfsel, die mens wat met sy hart en siel die waarheid soek.  Die belofte is dat God nader tot diegene wat tot hom nader.  Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep die profeet Jesaja.  So sal die kreet oor eeue bly staan – God is ‘n waarmaker van sy Woord en sy Naam is kragtig en ewig.

Dit is in hierdie soeke wat ons in Filippense weer eens die beste beskrywing van die kerndoel van die Evangelie lees.

Filippense 3:10 en 11 klink soos ordinêre Paulus-taal as mens vinnig daaroor glip.  Ja, dis wat ek weet en wil hê, maar kom ons lees aan en hoor hoe dit gebeur.  Hierdie indrukwekkende paar woorde in Afrikaans, word in die Engelse Amplified vertaling uitgebou tot ‘n lewensbeginsel wat so omvangryk uitgespel word, dat dit bestudeer moet word as die kern van elke Christelike lewe.

Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

Let op die sagte woorde: ek wens en deel te hêteenoor die sterk doelgerigtheid van die Amplified vertaling.

10 [For my determined purpose is] that I may know Him [that I may progressively become more deeply and intimately acquainted with Him, perceiving and recognizing and understanding the wonders of His Person more strongly and more clearly],

and that I may in that same way come to know the power outflowing from His resurrection [which it exerts over believers], and that I may so share His sufferings as to be continually transformed [in spirit into His likeness even] to His death, [in the hope]

11 That if possible I may attain to the [spiritual and moral] resurrection [that lifts me] out from among the dead [even while in the body].

Hierdie paar lyne stel die kerndoel van elke Bybelstudie en elke poging van elke mens om by God uit te kom.

‘n Mens sou kon sê dat ons doelwit in hierdie lewe is ‘n opstanding uit die dood terwyl ons nog lewe.

Dit is ‘n opstanding uit die dood van die gebrokenheid van hierdie wêreld om saam met Jesus te regeer oor die duiwel se dooie werke en die chaos wat boosheid in ons wêreld veroorsaak.  Die enigste manier om hierdie opstanding te ervaar lê in ‘n intieme verhouding met die persoon Jesus Christus – die wonder van sy karakter.

Die Griekse woord wat gebruik word om die kennis van Jesus uit te druk is ginoskein.  In die Ou Testament is hierdie woord vir seks gebruik.  Dit is hoe intiem die kennis moet wees.  Dit is natuurlik waarom die wêreld se manier van lewe, seks so goedkoop en maklik wil maak, sodat die dieper betekenis en die ingrypende gevolge daarvan verlore raak. Die fisiese verhouding tussen mense is ‘n gevolg van ‘n raakvlak op alle ander gebiede – ook geestelik.

Die verhouding met Jesus bring ons by sy lewe – dus sy dood en opstanding.  Dit is die essensie van ‘n Christelike lewe – dood en opstanding.  Die begeertes en denkpatrone wat saam met die heersende wêreldbeskouing gaan, sterf en ons staan op uit die dood in ‘n nuwe lewe saam met Jesus.  Dit is die simboliek van die doop.

Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. (Romeine 6:3-5)

Lewe is die kern van ons bestaan.  Sonder lewe is daar niks.  God is die bron van lewe.  Lewe is ook niks sonder die dood nie.  Dood is in werklikheid die waarborg dat lewe iets besonders is.  Daarom is die opstanding, die oorwinning oor die dood, die hoogste lewe wat daar kan wees.   Dit is lewe wat die dood oorwin het.

Dit alles beteken dat lewe heilig is en uit God kom.  Lewe is egter nie net aan die fisiese liggaam gekoppel nie.  Lewe is veel meer, veel dieper en meer omvattend.  Lewe is die koppeling met God in die kern van ons innerlike wese.  Die liggaam is maar net ‘n afskynsel van die werklikheid wat onsigbaar in elke mens is. Ons innerlike – denkpatrone, besluite, verhoudings en emosies – bepaal wat ander sien.  Dit is die fundamentele karaktertrekke van ons menswees.  Dit is wat ons ‘n individu maak.

Sonder God is hierdie fundamentele menswees dood.  Dit is wedergeboorte – die besluit om Jesus, die oorwinnaar oor die dood, in ons innerlike wese in te nooi – wat, terwyl ons fisies lewe, die opstanding uit die dood bewerkstellig.

Dit is ware lewe.

Jesus het dikwels na die fisiese dood as slaap verwys.  Hy het dit gesê in verband met Lasarus, Jaïrus se dogtertjie en dood in die algemeen.  Die eerste kerk het ‘n lied gesing en ons sing dit vandag nog.

Daarom sê die lied: “Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood; en Christus sal jou lewe verlig.” (Efesiërs 5:14)

Jesus in ons is die kenmerk van ons lewe.  Wat ons dan leef is die wonderwerk van die proses wat die Amplified so beskryf:

…that I may become deeply and intimatelyacquainted with Him, perceiving and recognizing and understanding the wonders of His Personmore strongly and more clearly…

Staan op uit die dood. Vivit – Hy leef.  Lewe in die volste sin van die woord is ons kenmerk.

Die resultaat van hierdie intieme kennis en verhouding:

 “Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen,omdat Ek na die Vader toe gaan. (Johannes 14:12)

“Omdat julle geloof te klein is,” sê Hy vir hulle. “Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos ‘n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”  (Matteus 17:20)

 

 

 

 

 

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s