‘n Mens moet darem weet met wie hy te doen het. Mens kan nie sommer almal vertrou nie. Die lewe is moeilik genoeg met misdaad en bedrog om elke hoek. Kan ek dan iets anders in die heelal vertrou om my nie met leë beloftes en onbeantwoorde smekinge te fnuik nie.
Die Grieke het geweet hulle kan nie altyd hulle gode vertrou nie. Gebede en versoeke moes noukeurig formuleer word, anders het die gebed se antwoord ‘n vervloeking geblyk te wees.
‘n Baie bekende verhaal was die liefde tussen Eos en Titonus. Eos, die godin van die dagbreek is deur die jaloerse Aphrodite vervloek om altyd verlief te raak. Dit het veroorsaak dat Eos toe op die aantreklike prins van Troje, Titonus, verlief raak. Hy was egter ‘n verganklike mens en nie ‘n god nie. Verganklikheid het die einde van liefde beteken, want die dood was finaal en selfs die gode het geen mag oor die dood gehad nie. Die gode self het natuurlik ewig gelewe. Eos soebat toe vir Zeus, die hoofgod, om Titonus vir haar onverganklik te maak. Zeus het aan haar versoek voldoen, maar sy het vergeet om te vra dat Titonus ook ewige jeug by die onverganklikheid verkry. Titonus het nooit gesterwe nie, maar al hoe ouer geword. Kan mens jou eie gebed vertrou?
Een van die juwele in hierdie versameling van uitnemendheid wat ons in Filippense van lees is die Een wat belowe.
Kom ons staan net stil by een van die openingsverklarings wat Paulus maak.
Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.(1:6)
Paulus gebruik die werkwoorde vir begin en voleindig wat gebruik is by die bring van ‘n offer. Die werk van Jesus is gekenmerk deur die offer wat Hy gebring het. Hy vra ook ‘n offer van ons. Ons hele lewe, ons alles. Dit is die enigste manier waarop die werk wat Hy doen in ons volvoer kan word.
God is goed. Dit is hoe Hy homself beskryf in Exodus 34: 6:
Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.
Hy is die Bron van alles wat goed is. Sy werk is altyd goed. Sy aksies kom uit liefde. Daar is by hom nie die moontlikheid van enige optrede wat nie uit volmaakte liefde kom nie.
Hy het ‘n goeie werk in jou lewe begin en hier is die belofte: Hy sal dit end-uit volvoer. Dit is die essensie van geloof, veral as dinge nie goed lyk nie. Kan jy vandag net daar waar jy is, die verklaring maak dat jy die Here met jou hele wese vertrou? Dit is ‘n uitdrukking van geloof ten spyte van die omstandighede waarin jy jouself bevind – goed of sleg, krisis of gelyk-pad, verworpe of liefdevol – wat ookal. Die Here is goed – altyd.
Hoe sal jy weet of jy hom kan vertrou? Sommige mense vra of hulle dalk net ‘n teken kan sien om seker te wees dat die Here dit met hulle goed bedoel.
Kyk saam met my na die woord-juwele in die tweede hoofstuk van Filippense.
Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. (2:6-8)
Geen mitologie het eers ‘n vergelykbare storie van ‘n god wat die gestalte van ‘n mens aanneem. ‘n God-koning wat ‘n slaaf word en tussen die mense kom woon om heeltemal aan die mens gelyk te wees, is skokkend ongehoord. So het Jesus tussen ons kom woon en ons die teken van alle eeue gegee: die Kruis. Dit is op en in ons kerke, om ons nekke en in ons huise. Dit is die teken van die Christendom en dit staan as die uitstaande kenmerk van die Een wat belowe. Hy het alles gegee. Dit is hoekom ons hom kan vertrou.
Maar dis nie al nie. God het hom verhef as die triomfantelike oorwinnaar oor die dood en hel. Die “goeie” waarin ons glo is deur sy dood gewaarborg om te wen. Dit is nie ‘n patetiese poging om met liefde en goedheid in die aangesig van oorweldigende boosheid te veg nie. Dit is die kragtige sekerheid dat God se goedheid altyd wen, altyd red en altyd die dood oorwin. Die Naam van Jesus is die kulminasie van die krag van sy lewe en dood.
Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader. (2:9-11)
Jesus se titel in die vroeë kerk was kurios wat Meester beteken. Dit is gebruik as die eienaar van ‘n slaaf en het die amptelike titel van die Romeinse keisers geword. Die titel is ook aan heidense gode gegee, maar meer belangrik was dit die woord in die Griekse vertaling van die Ou Testament (die Septuagint) waarmee die vertalers die Hebreeuse woord: Jehova, vertaal het.
Die titel het gewig gedra. Die implikasie was dat Jesus die Koning van die konings, die Meester en Gewer van alle lewe en heeltemal goddellik is.
In hierdie titel was die teenstelling met sy lewe wat in alle opsigte van nederigheid, gehoorsaamheid en selfloosheid gespreek het. Hy het nie gekom om te domineer of manipuleer nie. Hy het gekom om te dien en God se hart van liefde te openbaar. Sy boodskap het die verheffing van ‘n nederige man gewaarborg.
Ons aanbidding aan hom kom uit liefde. Liefde met die vryheid van keuse het die mens se hart en verstand oorwin, nie krag en geweld nie. Dit is sy offer, die Kruis, wat oortuig en weerstand afbreek. Aanbidding kom uit liefde, nooit uit vrees.
Paulus skryf oor die uitsluitlike oppergesag van God. Dis hier waar teologie en aksie nooit geskei kan word nie. Enige denkpatroon word ‘n lewenspatroon.
Dink aan die beste. Dink aan die Een wat belowe:
En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. (4:19)