Welkom by ‘n kort reeks oor die boek Filippense. Ek hoop ons studie saam is ‘n skattejag want Filippense is ‘n boek van woord-juwele en krag-konsepte wat ons lewe op ‘n diep vlak verander. Ek sou kon sê dat as mens Filippense kan lééf, dan is dit hemel op aarde.
Eerste lesing
Die brief aan die Filippense is weer eens, soos in Paulus se ander sendbriewe, ‘n persoonlike antwoord op ‘n onmiddellike situasie in die stad se gemeente aan wie hy skryf. Dit was bedoel vir daardie spesifieke groep gelowiges in Filippi. Paulus, so sê die geleerdes, het nooit bedoel of kon droom dat sy briewe aan die gemeentes later so wyd gelees sou word en die grootste deel van die Nuwe Testament van die Christelike Bybel sou uitmaak nie.
Filippi het al bestaan voor 300vC. Filip, die koning van Macedon en vader van Alexander die Grote het die stad in 358vC ingeneem en na homself vernoem. Dit was ‘n groot kruispad van handelsweë van oos na wes en ‘n goeie plek om die Evangelie te verkondig. Paulus het ‘n kerk daar gevestig op sy tweede sendingreis in 52nC. Die kerk in Filippi word as die eerste kerk in Europa beskou.
Paulus het op hierdie reis vertrek na ‘n visioen van die Here (Handelinge 16). Hy skryf die brief in 62nC gedurende die dae van sy gevangeneskap in Rome ongeveer tien jaar na die totstandkoming van die kerk.
Handelinge 16 vertel die hele interessante storie van die Paulus en Silas se verblyf in Filippi. Sy eerste ontmoeting was met ‘n groepie vroue wat naby die rivier bymekaargekom het vir gebed en aanbidding aan God. Paulus het hulle van Jesus vertel en by hierdie ontmoeting kom Lidia, die purperverkoopster tot bekering. Die gelowiges word net daar gedoop en sy nooi Paulus en Silas om by haar te tuis te gaan. Lidia was ‘n besigheidsvrou, ‘n uitstaande prestasie in daardie dae. Sy moes heel moontlik aan ‘n gilde behoort het om haar baie eksklusiewe pers materiaal te verkoop. Gewoonlik het so ‘n gilde een of ander afgod as beskermheer gehad wat op ‘n seker manier vereer is met feeste en aanbidding. Haar bekering het verseker ‘n diep transformasie in haar hele lewe veroorsaak.
As mens die status van vroue in die antieke wêreld van daardie tyd in ag neem, was Paulus se optrede betekenisvol. Hy het baie verander van sy chauvinistiese, Fariseër-dae. Hy het vroue waardig geag, genoeg om die goeie nuus van Jesus aan hulle te verkondig. Die rabbi’s van daardie tyd was van mening dat enige lering oor die Wet aan ‘n vrou onnodig en onwaardig is.
Lidia het aan hulle verblyf verskaf. God is tydsberekening en voorsiening is altyd die beste. Ons kan onvoorwaardelik daaraan onderwerp.
Mag ek dit sê:”
Die woord “geluk” en “toeval” is nie in my woordeskat nie. Ek leef uit ‘n Bron vir ‘n doel volgens ‘n Plan. Niks gebeur onwillekeurig of blindelings nie. |
Na die ontmoeting met die vroue, gaan Paulus en Silas voort met hulle lering in die stad en trek ongevraagde aandag. ‘n Klein slawe dogtertjie wat die toekoms voorspel, loop agter hulle aan en skreeu ‘n oënskynlike bevestiging van hulle roeping agterna. Sy het geskreeu dat hulle dienaars van die Allerhoogste God is en dat hulle vertel hoe mens gered kan word.
Toe sy dit vir ‘n paar dae aanmekaar gedoen het, het Paulus die waarsêersgees in haar onderskei en omgedraai en die gees beveel om haar te verlaat. Hou hierdie insident in gedagte wanneer Paulus vir die Filippense bid vir onderskeiding.
Haar meesters of slawedrywers of eienaars, hoe ookal mens hulle wil noem, het dadelik gesien dat hulle inkomstebron daarmee heen is en vir Paulus en Silas by die owerhede moeilikheid gaan maak. Die gevolg van hulle klagtes (hulle was sekerlik invloedryk om so vinnig die owerhede se oor te kry) was dat Paulus en Silas se klere van hulle afgeskeur is en na ‘n wrede lyfstraf met houtstokke, is hulle in die tronk gegooi.
Die tronkbewaarder het streng opdrag gekry om hulle ekstra goed te bewaak sodat daar geen moontlikheid van ontsnapping sou wees nie. Lees maar. Hulle is in die binneste sel toegesluit (geen vars lug) met hulle voete in boeie. In die tronk het hulle aanbiddingsliede begin sing. ‘n Aardbewing het die hele ou tronk uitmekaar geskud sodat al die gevangenes vry kon wees. Die tronkbewaarder het in totale paniek besluit om selfdood te pleeg, maar Paulus kon hom keer. Hy en sy hele familie het tot bekering gekom en wie weet hoeveel van die ander gevangenes wat op so ‘n dramatiese wyse bevryding ervaar het. Onthou Paulus het die tronkbewaarder gerusgestel en gesê: Ons is nog almal hier.
Paulus het Filippi weer besoek op sy reis van Efese na Masedonië (Handelinge 20, 2 Korintiërs 2:12-13;7:5-6). Hy het ‘n Paasfees daar gevier (Handelinge 20:6) en boodskappe van die kerk ontvang (4:16). Hy skryf juis hierdie brief om die kerk vir hulle ondersteuning te bedank (4:18).
Die brief is ‘n informele brief van bedanking, eerder as ‘n lang relaas oor een of ander leerstellige geskil, soos wat dikwels in die ander briewe voorkom. Hy skryf oor sy liefde en dankbaarheid. Hy is hulle broer in Jesus en hy skryf oor die essensie van die Evangelie op ‘n warm en gesellige manier. Sy eie vreugde en liefde is duidelik in elke woord. Epafroditos is die boodskapper. Hy is uit Rome oppad Filippi toe en Paulus het die geleentheid om die brief saam te stuur.
Paulus begin gewoonlik sy briewe met ‘n verklaring van sy apostelskap en roeping. Hier in Filippense groet hy die heiliges, die gelowiges, die ware kerk. In sy groet, werk hy eintlik “van onder af op”. Hy groet die kerk as sy vriende en dan amper as ‘n nagedagte sluit hy die leierskap in.
Hy gee egter homself ‘n titel en dit is ‘n onverwagte variasie. Hy noem homself ‘n bediende (dienaar). (Grieks=doulos). Douloswas meer as net ‘n dienaar. Die woord is gebruik met betrekking tot ‘n slaaf. In die Romeinse Ryk was ‘n slaaf ‘n lewende instrument met geen mense regte of vrye tyd nie. Paulus verklaar homself die besitting van Jesus Christus om absoluut gehoorsaam te wees met geen wil van sy eie nie. Die titel van dienaar van God het ‘n ryke en luisterryke geskiedenis. Die grootste leiers van Israel soos Moses, Joshua en Dawid het die titel met die hoogste eer gedra. (Joshua 1:2; 2:8; Psalms 78:70; 89:3,20). Ook Amos (3:7) en Jeremia (7:25) het hulleself so beskryf. Met die titel plaas Paulus homself in die rangorde van die grootste profete en leiers van Israel.
In Latyn is daar die uitdrukking: : Illi servire est regnare = om ‘n slaaf te wees is om ‘n koning te wees.
Die brief is aan die “heiliges” in Filippi gerig. Dit is die OAB se woorde en nader aan die Grieks. Die NAB verduidelik die term.
Van Paulus en Timoteus, dienaars van Christus Jesus. Aan almal in Filippi wat deur Christus Jesus aan God behoort,met hulle ouderlinge en diakens. (1:1)
“Heilig” het in die moderne tong ‘n oordrewe verhewenheid gekry. Die betekenis van haigos (Grieks) en die Hebreeuse ekwiwalent (qadowsh) is om anders te wees. Heiligheid dui op iets of iemand wat ‘n spesifieke doel het en daarom opsy gesit is daarvoor. Ons is heilig. Noem jouself so en beskryf jouself in die betekenis van hierdie woord. Onthou woorde het krag. Jy is besonders en afgesonder vir ‘n lewe in die koninkryk van Jesus.
Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk… (1 Petrus 2:9, OAB)
In die NAB word die term verduidelik:
Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is,
In Filippense, soos in al Paulus se ander briewe word die frases: in Christus, In Christus Jesus en in die Heremeerdere male herhaal. Dit is sonder twyfel die essensie van sy onderrig. Paulus het geleer dat die basiese vereiste van ‘n Christen is om met ‘n bewustheid van die teenwoordigheid van God te leef, net soos ‘n vis in water en ‘n voël in die lug. Die teenwoordigheid van God is ‘n Christen se natuurlike habitat. Sonder dit is ons morsdood van binne en ‘n aanstoot vir almal om ons. Ons lyk soos ‘n vis op die rivierwal was smag na water en dan sterf. Christene sonder Jesus is monsters wat voorskryf en oordeel.
In Paulus se briewe verskyn die frase in Christus 34 maal, in Christus Jesus 48 maal en in die Here 50 maal.
Christendom is vandag ‘n breë en inklusiewe term. Selfs die Westerse kultuur word verkeerdelik en verwarrend as ‘n Christelike kultuur beskou. Die vroeë kerk is Die Weg genoem. Die term “Christen” is die eerste maal in Antiochië gebruik vir ‘n persoon wat soos Jesus is. ‘n Christen is slegs iemand was met ‘n bewuste besluit sy lewe aan God gee en aanvaar dat Jesus aan die kruis vir sy sonde gesterf het. Die lewe van ‘n Christen word gekenmerk aan die karakter van Jesus self. Die titel hoort hoegenaamd nie by robot-agtige kerkgangers wat dink hulle kan die hel ontkom of sosiale voordeel trek uit georganiseerde godsdiens. Daar is net een manier en dit is aan die voet van die Kruis met jou hele wese.
Dit bring ons by die eerste tema van hierdie studie.
Die KARAKTER van die Bron – Hy wie ons roep.