[Johannes 20]
DIE OPSTANDING
Die Christendom staan of val by die Opstanding van Jesus.
Dit was in daardie tyd die gewoonte om die graf vir drie dae na die begrafnis te besoek. Die meeste mense het geglo dat die siel van die dooie nog om die graf vertoef, maar na drie dae finaal vertrek. Daarna sou die liggaam onherkenbaar verrot.
Jesus se geliefdes kon nie die tweede dag besoek nie, aangesien dit die Sabbat was. Dit sou beteken dat hulle die Wet van Moses oortree. Die Sondagoggend het Maria vroeg gegaan. Die Griekse woord is proi, wat beteken gedurende drie-uur en sesuur in die oggend, die laaste waakuur van die nag. Die lug was nog donkergrys, maar sy kon nie langer wag nie.
Maria Magdalena het Jesus liefgehad. Sy is gered, genees en vrygemaak sedert haar ontmoeting met Hom en sy sal nooit vergeet wat Hy vir haar gedoen het nie.
Sy was verstom en geskok. In daardie tyd is grafte uit rots gekap en geseël met ‘n ronde klip wat in ‘n groef gerol word. Die Romeine het Jesus se graf geseël en ‘n wag daar opgestel (Matteus 27:66).
Miskien het Maria gedink die Joodse leiers het Sy liggaam verwyder, maar dis onwaarskynlik aangesien die Jode oor Paas niks met ‘n lyk te doen sou wou hênie.
Sy het haastig vertrek om die nuus met Petrus en die ander dissipels te deel. In die ander Evangelies praat die vroue (meer as net Maria) met ‘n man of mans (in blink klere). Markus vertel hoe die een jongman by die graf spesifiek Petrus se naam noem.
Hier in Johannes volg ‘n beskrywing van ‘n resies – heel moontlik met die skrywer Johannes daarin. Dit lees amper komies. (Johannes 20:3-8)
Ten spyte van Petrus se nederlaag, is hy nog as die leier gereken. Dit was aan hom wat Maria die nuus vertrel het. Sy vind hom tussen sy broers (die ander dissipels). Selfs in sy grootste nederlaag en stukkende gemoed, kom voeg hy hom by die ander dissipels. Judas was alleen toe hy selfdood pleeg. Petrus se verloëning van Jesus moes algemeen bekend geraak het. Tog het hy troos tussen die dissipels gevind. Hy was nog die leier.
Johannes het vinniger gehardloop; hy was jonger. Johannes het by die ingang gestop, maar Petrus het ingehardloop – so tipies van sy geaardheid. Petrus het verstom gestaar, maar Johannes het die verstommende feite ingeneem. As iemand die liggaam gesteel het, hoekom het hulle die grafklere daar gelaat? Hoe was dit moontlik dat sy liggaam uit die grafdoeke is, sonder om die voue te versteur?
Die grafdoek was netjies in die vorm van Sy liggaam en die kopdoek netjies opgevou. Dit het gelyk asof die liggaam uit die grafdoeke verdamp het. Die opgevoude kopdoek het gelyk soos die servet van iemand wat bedoel om terug te kom en voort te gaan met die maaltyd.
Die toneel het boekdele tot Johannes gespreek. Hy het gesien en geglo.
Liefde is die basis van geloof. Liefde het Maria na die graf gebring. Liefde het Johannes se oë en gemoed oopgemaak.
Liefde interpreteer die lewe. Liefde herken die waarheidterwyl die intellek en emosie nog verward is en dinge probeer uitredeneer.
Die toneel waar Maria en Jesus in die tuin gesels en sy Sy stem herken, is seker een van die dramatiese oomblikke in alle letterkunde. Maria was die eerste om die opgestane Jesus te sien. Haar liefde vir Hom was die dryfkrag agter haar optrede.
Maria het die nuus aan die dissipels gebring, maar het seker agtergebly in die resies na die graf. Toe sy weer by die graf kom, was die dissipels al weer weg. Sy het gestaan en huil. Sy het nie mooi geweet hoe dinge sou uitspeel nie en het aan haar hartseer oorgegee. Deur haar trane het sy nie die man wat met haar praat herken nie. Haar hartseer het haar verblind.
In verlies huil ons vir onsself. Ons geliefde wat dood is, is by die Here en op die beste plek moontlik. Ons voel die skerp pyn van verlies. Solank ons deurgaans ons trane voor die Here uitstort, sodat ons nie die glorie mis nie.
Maria se oë was op die graf. Sy het in die verkeerde rigting gekyk. Ons oog moet op die hemel en op God wees waar ons geliefdes in Sy teenwoordigheid leef. Trane is goed. Ons treur natuurlik, maar ons moet nooit die graf beskou nie.
Haar gesprek is vol liefde. Sy vra na Jesus sonder om Sy naam te noem. Sy veronderstel almal sal weet waaroor dit gaan. Sy vra nederig en respekvol. Haar wêreld begin en eindig met Jesus.
Toe Hy haar naam roep, het sy Hom herken. Sy antwoord:Rabboni(Aramees vir rabbi of meester).
Jesus sêvir haar om Hom nie aan te raak nie (20:11-18). Net bietjie later in die hoofstuk nooi Hy Thomas om aan Sy wonde te raak (20:27). Hy sê aan die dissipels Hy is vlees en been (Lukas 24:39). Normaalweg sou mens sê: vlees en bloed, maar Sy bloed was gestort en Hy het dit nooit weer teruggeneem nie.
In Matteus (28:9) het die dissipels aan Sy voete geraak en Hom aanbid.
Die kommentare gee verskeie redes hiervoor. Sommige meen dit is ‘n fout en dit moet lees: Moenie vrees nie, in plaas van moenie aanraak nie. Hulle dink ook Jesus het dalk Maria gewoond begin maak dat Hy nie altyd fisies by hulle gaan wees nie. Sy moes met Hom kommunikeer sonder fisiese aanraking.
My eie mening is om die verklaring te aanvaar dat Jesus oppad na Sy vader in die hemel was, vir die triomfantelike aankoms wat in Openbaring 5 beskryf word. Hy was die eerste gerf van die oes van die kerk, om voor die Vader te waai. Dit is die vervulling van die Fees van die Oes:
“Sê vir die Israeliete: Wanneer julle in die land kom wat Ek aan julle gee, en julle samel die graanoes in, moet elkeen die eerste ryp are van sy oes na die priester toe neem.
Hy moet die are as beweegoffer vir My, die Here, aanbied sodat julle vir My aanneemlik sal wees. Die priester moet dit die dag ná die sabbat doen. (Levitikus 23:9).
Die Fees van die Oes is op die dag na die Sabbat oor Paastyd gevier. Dit is die viering van die opstanding. Dit is waarom Sondag vir ons die heilige dag is.
Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het. (1 Korintiërs 15:20)
Ons moet dinge in kalendertyd verklaar. In ‘n verheerlikte liggaam het Jesus in en uit die onsienlike beweeg, net soos Hy wou. Hy was in volle beheer, ook van tyd. Hy het in die hemelse realm beweeg en Homself in die aards realm getoon. Hy het bepaal hoe Hy verskyn en aan wie, om Sy kerk te vestig.
As die eerste gerf van die oes van die kerk, het Hy onaangeraak deur mensehande voor die Vader in die hemel verskyn as die volmaakte Offerlam wat die prys betaal het.
Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak.”
Toe het ek voor die troon wat omring was deur die vier lewende wesens, tussen die troon en die ouderlinge, ‘n Lam sien staan, die Een wat geslag was. (Openbaring 5:5,6)
Elke geestelike ritueel in die Woord van God het ‘n hemelse weerspieëling. So is die Nuwe Jerusalem die volmaakte kubus wat die verbondsark voorstel en die teenwoordigheid van God simboliseer.
Dit is wat die kerk is – die plek waar die wêreld in die teenwoordigheid van God ingelei word.
Jesus het in werklikheid net na sononder op die Saterdagaand opgestaan, toe die Sabbat eindig. Ons Sondagviering is die Fees van die Oes, waarin ons die opgestane Jesus as die eerste gerf van die kerk aanbid.
*****************************************************************************
[Net ‘n verduideliking van die Engelse woord Easter en die snaakse gewoontes van eiers en hase:
Easter is associated with the Babylonian feast of first fruits, a spring festival when the pagans asked their fertility god Ishtar, where the name Easter comes from, for new babies. The egg hunt is to celebrate the attempts to conceive new life. Fertile things in nature are worshipped like rabbits. The people wore new clothes to celebrate the buds on the trees.]