[Johannes 19:17-42]
DIE KRUIS
‘n Kruisdood was grusaam. Selfs die Romeine wat dit moes uitvoer het gedink daar is niks erger nie. Geen Romeinse burger is gekruisig nie. Die doodstraf vir ‘n Romein was onthofing of die gifbeker as gedwonge selfdood. Kruisiging was vir slawe en kriminele. Die kruis was oorspronklik ‘n Persiese teregstellingsmetode. Die motief vir so ‘n wrede dood was dat die bloed van ‘n krimineel so afstootlik was dat dit nie die aarde kan besmet nie. Die Kartagiërs in Noord-Afrika het dit by die Persiërs oorgeneem. Deur hulle het die Romeine die praktyk leer ken.
Jesus is doodgemaak deur die ergste wat die antieke wêreld kon opdink.
Die teregstelling het gewoonlik onmiddellik na die skuldigbevinding plaasgevind. Die slagoffer moes sy eie kruis dra. Na geseling met die sweep soos beskryf in die vorige Bodemklippe, het die bloedige optog na die plek van teregstelling vertrek. Voor die gevangene het ‘n soldaat met die aanklag geloop. Die optog is deur soveel strate as moontlik gelei as ‘n waarskuwing vir ander, maar ook vir moontlike tersydestelling. Indien enigiemand na vore sou kom en die teregstelling betwis, sou die hele verhoor van voor af begin. Niemand het vorentoe getree om as getuie vir Jesus se goeie dade te dien, toe hy so verswak en bebloed die Via Dolorosa moes stap.
In Jerusalem is die teregstellingsheuwel Golgotha (Hebreeus) genoem. Dit beteken letterlik die skedel. Dit kan wees dat die heuwel soos ‘n skedel gelyk het, maar ook omdat die gekruisigdes nooit die eer van ‘n graf kon hênie. Die lyke is op ‘n mens-ashoop gegooi vir die honde en die kraaie tot net die kaalgevrete bene oorgebly het. Dit kon dae neem voordat iemand sterf aan ‘n kruis. Die Jode het egter altyd teen die aand die dooies begrawe. ‘n Hoop lyke net buite die stad moes vir die Jode ‘n bitter aanstoot gewees het.
Bebloed en verswak het Jesus deur die strate gestrompel.
Sy “misdaad” is in Hebreeus, Grieks en Latyn geskryf. Dit was die drie groot nasies van daardie tyd. Saam moes hulle talente die wêreld ‘n beter plek gemaak het: die Romeine met regering en administrasie, die Grieke met filosofie en kuns en die Hebreërs met die waarheid van God.
Jesus was the supreme beauty and highest thought of God. In him was the law of God and the kingdom of God. In him was the very image of God. All the world’s seekings and strivings found their consummation in him. It was symbolic that the three great languages of the world should call him king. [William Barclay]
Die opskrif bokant die kruis was ‘n irritasie vir die Jode. Pilatus het dit met opset gedoen. Die Joodse leiers het hom gevra om dit te verander. Hy het geweier en gesê: Wat ek geskryf het, het ek geskryf. Hoewel sy woorde sterk was, het hy nogtans ‘n onskuldige man ter dood veroordeel.
Die soldate het altyd die klere van die gekruisigde gekry. Gewoonlik was vier soldate nodig vir ‘n kruisiging. Daar was meestal vyf items van klere – skoene, ‘n tulband, ‘n gordel, ‘n kleed en ‘n bokleed. Hulle het met dobbelsteentjies die klere verdeel. Die bokleed was moeilik verdeelbaar aangesien dit in een stuk geweef was en nie opgesny kon word nie. Hulle het seker maar altyd dobbelsteentjies byderhand gehad om die ure om die kruis met ‘n speletjie te verwyl. Hulle moes die liggaam bewaak ingeval iemand die persoon van die kruis afhaal of vinnig doodmaak om sy lyding te verkort. Die soldate was dikwels dronkerig. Die aanbeveling aan ‘n soldaat wat nog nooit iemand gekruisig het nie, was om alkohol byderhand te hou.
Hulle afsydigheid teenoor die wreedheid is skokkend.
Raak dit julle nie, julle almal wat met die pad verbygaan? Kyk tog self of daar ‘n smart is soos die smart wat oor my gekom het, wat die Here my aangedoen het die dag toe sy toorn losgebreek het. (Klaagliedere 1:12)
Die bokleed wat in een stuk geweef is, is presies soos die een wat die Hoë Priester gedra het. Die funksie van die Hoë Priester was om die mense en God te verbind. Die Latyn vir priester is Pontifex, wat brugbouer beteken. Dit is presies wat die kruis gedoen het; dit was die brugbouer na die teenwoordigheid van God.
Die verdeling van Sy klere is in Psalm 22:19 voorspel.
Daar was vier vroue by die kruis; drie van hulle met die naam Maria. Jesus se ma en haar suster Salomé, Maria van Magdala en Maria die vrou van Klopas, wie se identiteit nie heeltemal seker is nie, hoewel sy in Matteus (28:1) en Markus (16:1) ook genoem word.
Dit was altyd gevaarlik om met die misdadiger geassosieer te wees. Die vroue se toewyding en liefde het hulle vrees oorkom. Hulle was daar by Hom, in Sy teenwoordigheid tot op die heel einde.
Sy ma se teenwoordigheid is te wagte, hoewel nogtans ‘n risiko. Sy ma se suster, Salomé was die ma van Jakobus en Johannes (Markus 15:40; Matteus 27:56). Sy is die een wie oor haar seuns se posisie in Jesus se koninkryk gevra het. Sy is deur Jesus tereg gewys. Nogtans vind ons haar hier by die kruis. Dit wys op Jesus se volmaakte liefde waarin Hy ons korrigeer sonder om pyn, skande of vernedering te veroorsaak.
Maria van Magdala is die vrou wat in Markus 16:9 en Lukas 8:2 genoem word. Jesus het sewe duiwels uit haar gedryf. Hy het haar lewe gered.
Selfs daar aan die kruis, vergeet Jesus nie Sy verpligting as die oudste seun nie. Hy maak voorsiening vir die versorging van Sy ma en vra Johannes, sy neef en getroue volgeling om na Sy ma om te sien.
Johannes se teenwoordigheid spreek ook van liefde wat vrees oorkom. Dit was regtig braaf om daar saam met die vroue gesien te word. Die groepie was daar toe meeste ander misdadigers alleen sou gewees het. Jesus was hoegenaamd nie die gewone misdagdiger wat aan ‘n kruis sterf nie.
Jesus het gesê Hy is dors. Dit beklemtoon die versrkriklike pyn waarin Hy moes verkeer. Sommige mense dink Jesus was ‘n spookagtige bonatuurlike mens, maar Hy was ten volle mens.
In Psalm 69:22 word die suurwyn voorspel: …toe ek dors was, wou hulle my asyn laat drink.
Hy het sekerlike bietjie water verwag, maar hulle het hom die gewone mengsel van suurwyn en gal gegee om die pyn te verlig. Toe Hy dit proe het Hy dit geweier.
Die ander Evangelies noem dat Jesus met ‘n groot stem uitgeroep het toe Hy sterf. Hulle sênie die woorde nie (Matteus 27:50; Markus 15:37; Lukas 23:46), maar Johannes wel. Jesus het nie in moedelose nederlaag gesterf nie. Sy stem was sterker as wat mens van ‘n sterwende man sou verwag.
Die woorde: dit is klaar is een woord in Grieks = tetelestai. Dit beteken ook uitroep. Jesus is dood toe die prys betaal is. God het gesê dit is genoeg. Hy het Sy kop teruggeleun asof Hy in ‘n rus ingaan nadat Sy werk gedoen is.
DIE GRAF
Die Romeine het nie liggaam van ‘n gekruisigde begrawe nie. Soms het die lyk vir dae aan die kruis gehang. Daarna is dit vir die honde en die kraaie op ‘n ashoop gegooi. Die Jode het die aand van die dag van dood begrawe (Deuteronomium 21:22-23).
Die dag na die kruisiging was die Sabbat. Die begrafnis moes voor sononder gebeur. Soms het die Romeinse soldate die sterwende se bene gebreek sodat hulle gouer sterf. Hulle het dit gedoen met die twee misdadigers wat weerskante van Jesus gekruisig is. Toe hulle dit met Jesus wou doen, was Hy reeds dood. In Numeri 9:12 word dit gesêdat nie een been van die Paaslam gebreek sal word nie.
Om seker te maak dat Jesus wel dood is, het ‘n soldaat sy spies in Jesus se sy gesteek. Daar het water en bloed uitgekom, ‘n seker teken van dood, maar ook die teken van ‘n baie siek man. Hy het letterlik ons siekte ook op Hom geneem. Nog ‘n profesie sou vervul word:
Maar oor die koningshuis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem bring Ek ‘n gees van welwillendheid en van berou: hulle sal na hom kyk vir wie hulle doodgesteek het en hulle sal oor hom treur soos ‘n mens treur oor ‘n enigste kind, hulle sal oor hom huil soos ‘n mens oor ‘n oudste seun huil. (Sagaria 12:10)
Sommige van die kommentare skryf oor die moontlikheid dat Jesus letterlik van ‘n gebroke hart gesterf het. Wanneer die hart bars, meng die bloed met die vloeistof om die hart. Water en bloed het uitgekom toe hulle Hom steek.
Johannes was ooggetuie van alles. Dit is die simbool van waterdoop en die bloed wat red.
Die dissipels was arm en ‘n ordentlike begrafnis was vir hulle buite die kwessie. Twee mense het na vore gekom.
Josef van Arimitea was ‘n lid van die Sanhedrin en ‘n dissipel van Jesus. Hy het sy dissipelskap in die geheim uitgeleef maar nou onbeskaamd na vore getree. Nikodemus was die nagtelike besoeker van Jesus (Johannes 3), ‘n Fariseër en ‘n lid van die Sanhedrin.
Beide van hulle is met opset uit die groep gelaat wat in die nag in die huis van die Hoë Priester vir die verhoor van Jesus vergader het. Die Sanhedrin het nooit in die nag ontmoet nie. Die Hoë Priester het dus die verskoning gebruik om te sê dat die dringendheid van die verhoor buitengewoon was en dus nie vir al die lede nie. Hy het heel moontlik geweet hy teenstand van hierdie twee lede sou gehad het. Die duistere werke van die Raad moes onder die bedekking van duisternis plaasvind.
Josef het onbeskroomd die Romeinse owerhede genader vir toestemming om Jesus van die kruis af te haal. In Sy dood het Hy mense na Hom getrek (Johannes 12:32).
Twee prominente leiers het hulle reputasie en status in die gemeenskap oorboord gegooi om Jesus met hulle gesag en welvaart te eer.
Dikwels konfronteer die dood ‘n mens met die basiese beginsels wat die lewe bepaal. Oppervlakkigheid maak plek vir erns.
Die dood is ‘n intieme ondervinding met God in die onsienlike. Jesus het teruggetree in die onsienlike van waar Hy gekom het. Drie dae…