188. Twyfel maar…en vra.

[Johannes 18]

Die dissipels was bymekaar deur die verloop van Saterdagnag, ore gespits vir ‘n geluid uit die straat.  Onsekerheid en vrees het soos ‘n wolk oor hulle gehang.  Wanneer sou die soldate kom?

Dit was in hierdie toestand van vrees dat hulle geskrik het toe Maria klop.  Haar bekende vrouestem het hulle die deur laat ooppluk en die resies graf toe het haar tyding bevestig.  Wat kon hulle anders doen as om maar weer saam te kom en te wag vir gebeure om te ontvou?

Skielik het Jesus in hulle midde gestaan, sonder om te klop met ‘n dood normale groet:  Vrede vir julle (Hebreeus: Shalom).  Hierdie groet was soveel meer as die afwesigheid van moeilikheid.  Dit was ‘n seën waarin elke goeie gawe van God afgebid word.   Jesus was so informeel asof Hy sou sê: Hallo julle!

Johannes vertel van hulle vreugde om hom te sien en gaan sommer dadelik aan na belangrike toekomstige dinge.  Ek sou my kon voorstel dat die oomblikke van verwondering ‘n rukkie geduur het.  Elke dissipel het Hom sekerlik in die oë gekyk en dalk met ‘n mengelmoes van emosie hemel en aarde in een oomblik ervaar.  Ek is oortuig al die vrees en onsekerheid het in die krag van Sy teenwoordigheid bloot verdamp.

Die uitstuur van die dissipels beteken dat die kerk die liggaam van God is, soos Paulus in Efesiërs 1:23 en 1 Korintiërs 12:12 skryf.  Jesus het aan ons die Vader getoon en nou was Hy oppad terug na die onsienlike realm.  Ons, die kerk is Sy mondstuk, sy voetsoldate en Sy hande van genade.

Die kerk het Jesus nodig.  Dit is net in Hom waar ons die krag, gesag en wonderwerke van God self kan beleef en uitleef.   Jesus het uit God gekom en die kerk kom uit Jesus. Die kerk kan slegs in volmaakte liefde en gehoorsaamheid bestaan.  Dit is die boodskap van Jesus wat die kern van alles is. Niks anders nie! Enigiets mensgemaak is onvolhoubaar.  Dit moet uit God kom om ewig en kragtig te wees.

Jesus het op hulle geblaas.  Die Heilige Gees is die asem van God, die asem van lewe.  God het op Adam geblaas (Genesis 2:7).  Hy het op die dooie bene deur die wind geblaas (Esegiël 37:9).  In Johannes 3 vergelyk Jesus die werk van die Heilige Gees met die wind – meestal onverklaarbaar en onsigbaar.  Die Heilige Gees is Sy asem – Hebreeus = ruach. Die Heilige Gees is die lewe van God in ons om ons toe te rus vir ons lewe op aarde en ons werk in die Kerk van Jesus, nie georganiseerde godsdiens nie.  Jesus het self gesêons sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom (Handelinge 1:8).

Die kerk moet die boodskap van vergiffenis verkondig.  Ons interpreteer die boodskap van God.  Die boodskap is slegs die waarheid en kragtig om te red in die mate waarin ons uit die teenwoordigheid van Jesus die Woord bring.  Wanneer die kerk vergifnis verkondig en die sondaar wat bely vergewe, is dit nie die kerk wat vergewe nie.  God vergewe die sonde, maar die kerk roep die waarheid van vergifnis oor die persoon uit.  Prediking is genade en liefde, maar ook waarskuwing en bemoediging.

TOMAS

Tomas het die dood verwag.  Hy het dit reeds in Beatnië gesê (Johannnes 11:16).  Hy het die etiket van twyfel by mense gekry en nie by Jesus nie.  Tomas het Jesus liefgehad.  Daar is geen twyfel daaroor nie.  Hy het besef dat die gesagstrukture in Jerusalem enigiets sal doen om van Jesus ontslae te raak. Toe als en erger as wat hy vermoed het, wel gebeur, was hy platgeslaan.  Hy het sekerlik bietjie onttrek om sy gedagtes bymekaar te kry.  Miskien was hy meer ontstel deur die tyding van Jesus se verdwyning uit die graf as wat hy wou toegee en het bietjie eenkant gekom.  Ons weet nie werklik hoekom hy nie teenwoordig was nie.

Hy hoor die nuus van Jesus se verskyning van die ander dissipels.  Dit het net te goed om waar te wees geklink.  Hy spreek sy twyfel uit: hy sal glo as hy dit self gesien het. Hy wou self die wonde aanraak. Hy wou seker maak dit is nie bedrog nie.  (Wonde in Jesus se voete word nie genoem nie. Die voete van ‘n gekruisigde is gewoonlik net vasgebind, nie met spykers deurboor nie.)

Tomas moet vir homself die waarheid onderskei.  Hy kan nie sy hele lewe en die diep impak van Jesus op sy lewe die vorige drie jaar gehad het, op ‘n leuen baseer nie.  Hy is nie anders as die miljoene wat na hom die Christendom ondersoek het nie.

‘n Hele week gaan verby en Tomas skaar hom by sy broers.  Daar in gemeenskap by hulle, ervaar hy wat hy so begeer.  Jesus ken sy hart en hanteer sy twyfel op ‘n baie spesiale manier.  Hy verskyn in hulle midde presies soos die vorige keer.

Jesus nooi hom om ondersoek in te stel. Hy sal mens altyd nooi om verder in te delf in die misterie van Sy bestaan en teenwoordigheid.  Hy is die antwoord op alles en Hy is nie suinig met antwoorde nie.  Moenie bang wees nie – vra die vrae en soek die oplossing.

Kom ons dink bietjie aan die besonderhede van hierdie ontmoeting.  Tomas val neer en roep uit: My Heer en my God!  Dink jy het aan Jesus geraak en sy vingers in die wonde gesteek soos Jesus hom nooit om te doen?  Miskien was die antwoord in Jesus se teenwoordigheid, in Sy blik op Thomas, net in Sy stem.

Dis net soos ons vandag nog Hom ervaar. Op die ou end is Sy teenwoordigheid, Sy stem en Sy oog op ons, genoeg om alle twyfel te laat verdamp. (Psalms 32:8)

Tomas sou hom nie laat inlaat by iets wat hy nie verstaan het nie.  Hy is tot op die been eerlik.  Hy maak seker dat hy die feite versamel en die gevolgtrekking self maak. Die waarheid is belangrik bo alles.

Hier in die oomblik wat die feite hom in die oë staar, gee hy oor in aanbidding.  Sy geloof is baseer op openbaringskennis en aanbidding is die natuurlike reaksie.

Die woorde wat Jesus teenoor Tomas uitspreek, het as inspirasie vir derduisende gelowiges na hom gedien.

Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” (Johannes 20:29)

Ons weet nie wat van Tomas geword het nie. Daar is stories dat die dissipels die wêreld verdeel het om Jesus te verkondig en dat Tomas so in Indië opgeëindig het.  Daar is ‘n kerk in die suide van Indië waarvan die geskiedenis tot by hom terugdateer.

Sy geloof is op ‘n besondere persoonlike vlak bevestig.  Jesus het homself aan Tomas openbaar.  Dit is presies soos vandag.  Ons kan die eindes van die aarde oorwin as ons Jesus ontmoet het.

LAASTE WOORDE (20:30-31)

Dit is duidelik dat die Evangelie hier eindig.  Johannes 21 is as ‘n aanhangsel geskryf.

Hierdie woorde bevestig weer die doel van Johannes se skrywe.

Dit is nooit bedoel as ‘n volledige verslag van Jesus se lewe nie.  Dit is nie daaglikse rapportering nie, eerder ‘n selektiewe geskiedenis van hoe Hy was en wat Hy gedoen het.

Die Evangelies is nie biografieë nie. Die doelstelling van al vier hierdie uitsonderlike stukke letterkunde is nie verslaggewing vir informasie nie, eerder ‘n kommunikasie van lewe.  Dit is geskryf om die persoon van Jesus so toe te lig dat die leser en hoorder Hom persoonlik kan ontmoet en ervaar.

Ons lees en leer om God te ken, nie geskiedskennis te versamel nie.

 

 

187. Hy doen wat Hy sê Hy sal doen.

[Johannes 20]

DIE OPSTANDING

Die Christendom staan of val by die Opstanding van Jesus.

Dit was in daardie tyd die gewoonte om die graf vir drie dae na die begrafnis te besoek.  Die meeste mense het geglo dat die siel van die dooie nog om die graf vertoef, maar na drie dae finaal vertrek.  Daarna sou die liggaam onherkenbaar verrot.

Jesus se geliefdes kon nie die tweede dag besoek nie, aangesien dit die Sabbat was.  Dit sou beteken dat hulle die Wet van Moses oortree.  Die Sondagoggend het Maria vroeg gegaan. Die Griekse woord is proi, wat beteken gedurende drie-uur en sesuur in die oggend, die laaste waakuur van die nag.  Die lug was nog donkergrys, maar sy kon nie langer wag nie.

Maria Magdalena het Jesus liefgehad.  Sy is gered, genees en vrygemaak sedert haar ontmoeting met Hom en sy sal nooit vergeet wat Hy vir haar gedoen het nie.

Sy was verstom en geskok.  In daardie tyd is grafte uit rots gekap en geseël met ‘n ronde klip wat in ‘n groef gerol word.  Die Romeine het Jesus se graf geseël en ‘n wag daar opgestel (Matteus 27:66).

Miskien het Maria gedink die Joodse leiers het Sy liggaam verwyder, maar dis onwaarskynlik aangesien die Jode oor Paas niks met ‘n lyk te doen sou wou hênie.

Sy het haastig vertrek om die nuus met Petrus en die ander dissipels te deel.  In die ander Evangelies praat die vroue (meer as net Maria) met ‘n man of mans (in blink klere).  Markus vertel hoe die een jongman by die graf spesifiek Petrus se naam noem.

Hier in Johannes volg ‘n beskrywing van ‘n resies – heel moontlik met die skrywer Johannes daarin.  Dit lees amper komies.  (Johannes 20:3-8)

Ten spyte van Petrus se nederlaag, is hy nog as die leier gereken.  Dit was aan hom wat Maria die nuus vertrel het.  Sy vind hom tussen sy broers (die ander dissipels). Selfs in sy grootste nederlaag en stukkende gemoed, kom voeg hy hom by die ander dissipels.  Judas was alleen toe hy selfdood pleeg. Petrus se verloëning van Jesus moes algemeen bekend geraak het.  Tog het hy troos tussen die dissipels gevind.  Hy was nog die leier.

Johannes het vinniger gehardloop; hy was jonger. Johannes het by die ingang gestop, maar Petrus het ingehardloop – so tipies van sy geaardheid.  Petrus het verstom gestaar, maar Johannes het die verstommende feite ingeneem.  As iemand die liggaam gesteel het, hoekom het hulle die grafklere daar gelaat?  Hoe was dit moontlik dat sy liggaam uit die grafdoeke is, sonder om die voue te versteur?

Die grafdoek was netjies in die vorm van Sy liggaam en die kopdoek  netjies opgevou.   Dit het gelyk asof die liggaam uit die grafdoeke verdamp het.  Die opgevoude kopdoek het gelyk soos die servet van iemand wat bedoel om terug te kom en voort te gaan met die maaltyd.

Die toneel het boekdele tot Johannes gespreek.  Hy het gesien en geglo.

Liefde is die basis van geloof.  Liefde het Maria na die graf gebring.  Liefde het Johannes se oë en gemoed oopgemaak.

Liefde interpreteer die lewe.  Liefde herken die waarheidterwyl die intellek en emosie nog verward is en dinge probeer uitredeneer.

Die toneel waar Maria en Jesus in die tuin gesels en sy Sy stem herken, is seker een van die dramatiese oomblikke in alle letterkunde.  Maria was die eerste om die opgestane Jesus te sien.  Haar liefde vir Hom was die dryfkrag agter haar optrede.

Maria het die nuus aan die dissipels gebring, maar het seker agtergebly in die resies na die graf.  Toe sy weer by die graf kom, was die dissipels al weer weg. Sy het gestaan en huil.  Sy het nie mooi geweet hoe dinge sou uitspeel nie en het aan haar hartseer oorgegee.  Deur haar trane het sy nie die man wat met haar praat herken nie.  Haar hartseer het haar verblind.

In verlies huil ons vir onsself.  Ons geliefde wat dood is, is by die Here en op die beste plek moontlik.  Ons voel die skerp pyn van verlies.  Solank ons deurgaans ons trane voor die Here uitstort, sodat ons nie die glorie mis nie.

Maria se oë was op die graf.  Sy het in die verkeerde rigting gekyk.  Ons oog moet op die hemel en op God wees waar ons geliefdes in Sy teenwoordigheid leef.  Trane is goed.   Ons treur natuurlik, maar ons moet nooit die graf beskou nie.

Haar gesprek is vol liefde.  Sy vra na Jesus sonder om Sy naam te noem. Sy veronderstel almal sal weet waaroor dit gaan.  Sy vra nederig en respekvol.  Haar wêreld begin en eindig met Jesus.

Toe Hy haar naam roep, het sy Hom herken. Sy antwoord:Rabboni(Aramees vir rabbi of meester).

Jesus sêvir haar om Hom nie aan te raak nie (20:11-18).  Net bietjie later in die hoofstuk nooi Hy Thomas om aan Sy wonde te raak (20:27).  Hy sê aan die dissipels Hy is vlees en been (Lukas 24:39).   Normaalweg sou mens sê: vlees en bloed, maar Sy bloed was gestort en Hy het dit nooit weer teruggeneem nie.

In Matteus (28:9) het die dissipels aan Sy voete geraak en Hom aanbid.

Die kommentare gee verskeie redes hiervoor. Sommige meen dit is ‘n fout en dit moet lees: Moenie vrees nie, in plaas van moenie aanraak nie. Hulle dink ook Jesus het dalk Maria gewoond begin maak dat Hy nie altyd fisies by hulle gaan wees nie. Sy moes met Hom kommunikeer sonder fisiese aanraking.

My eie mening is om die verklaring te aanvaar dat Jesus oppad na Sy vader in die hemel was, vir die triomfantelike aankoms wat in Openbaring 5 beskryf word.  Hy was die eerste gerf van die oes van die kerk, om voor die Vader te waai. Dit is die vervulling van die Fees van die Oes:

“Sê vir die Israeliete: Wanneer julle in die land kom wat Ek aan julle gee, en julle samel die graanoes in, moet elkeen die eerste ryp are van sy oes na die priester toe neem.

Hy moet die are as beweegoffer vir My, die Here, aanbied sodat julle vir My aanneemlik sal wees. Die priester moet dit die dag ná die sabbat doen.  (Levitikus 23:9).

Die Fees van die Oes is op die dag na die Sabbat oor Paastyd gevier.  Dit is die viering van die opstanding.  Dit is waarom Sondag vir ons die heilige dag is.

Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het.  (1 Korintiërs 15:20)

Ons moet dinge in kalendertyd verklaar. In ‘n verheerlikte liggaam het Jesus in en uit die onsienlike beweeg, net soos Hy wou.  Hy was in volle beheer, ook van tyd.  Hy het in die hemelse realm beweeg en Homself in die aards realm getoon.  Hy het bepaal hoe Hy verskyn en aan wie, om Sy kerk te vestig.

As die eerste gerf van die oes van die kerk, het Hy onaangeraak deur mensehande voor die Vader in die hemel verskyn as die volmaakte Offerlam wat die prys betaal het.

Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak.”

 Toe het ek voor die troon wat omring was deur die vier lewende wesens, tussen die troon en die ouderlinge, ‘n Lam sien staan, die Een wat geslag was.  (Openbaring 5:5,6)

Elke geestelike ritueel in die Woord van God het ‘n hemelse weerspieëling.   So is die Nuwe Jerusalem die volmaakte kubus wat die verbondsark voorstel en die teenwoordigheid van God simboliseer.

Dit is wat die kerk is – die plek waar die wêreld in die teenwoordigheid van God ingelei word.

Jesus het in werklikheid net na sononder op die Saterdagaand opgestaan, toe die Sabbat eindig.   Ons Sondagviering is die Fees van die Oes, waarin ons die opgestane Jesus as die eerste gerf van die kerk aanbid.

 

*****************************************************************************

 

[Net ‘n verduideliking van die Engelse woord Easter en die snaakse gewoontes van eiers en hase:

Easter is associated with the Babylonian feast of first fruits, a spring festival when the pagans asked their fertility god Ishtar, where the name Easter comes from, for new babies.  The egg hunt is to celebrate the attempts to conceive new life. Fertile things in nature are worshipped like rabbits.  The people wore new clothes to celebrate the buds on the trees.]