185. Die verhoor van Jesus – Pilatus en Herodus.

[John 18:28-40 en 19:1-16 – Deel 2]

Pilatus was altyd ‘n tragiese figuur in die gebeure rondom die dood van Jesus. Ek moet seker nie simpatie vir hom hênie, want hy was ‘n wrede en harde man met geen respek vir lewe nie. Tog kan mens hom beter verstaan in die lig van die magtige, arrogante wêreldryk waarin hy gebore is en gekies het om te dien. Sy vrae aan Jesus was so dat mens sou dink daar is ‘n fluister-verlange na iets meer en ‘n amper ongeduldige besef dat hierdie man Jesus wel meer is as wat die Jode en die skare Hom uitmaak.

Pilatus wou verantwoordelikheid ontduik. Niemand kan dit eitnlik met Jesus regkry nie. Elke persoon as individu is met die persoon Jesus gekonfronteer. Sy bestaan vereis ‘n keuse om te aanvaar of te verwerp.

Pilatus wou die situasie ontsnapen ‘n gevangene vrylaat wat die skare se haat sou ontlont. Hy kon dit nie regkry nie.

Pilatus wou ‘n kompromie aangaan. Hy het Jesus laat martel om die vonnis te vermy. Niemand kan ooit die onvermydelike vermy. Hy was verbaas dat Jesus die marteling oorleef het.

Hy het Jesus aan die skare se oordeel oorgelaat. Hy het nie die moed gehad om ‘n regverdige uitspraak te lewer nie.

Pilatus het die Jode geminag. Dit is moeilik om ‘n goeie heerser te wees as die beweegredes vir jou aksie arrogansie en trots is. Hy wou eintlik nie betrokke wees nie. Hy het Jesus oor Sy koninskap uitgevra en Jesus het hom gevra oor die bron van die gerug. Hy wou  Pilatus in gesprek intrek en sy hart raak. Pilatus het dit nie toegelaat nie.

Pilatus was nuuskierig op ‘n bygelowige manier.Hy was bang om die uitspraak te lewer. Sy onkunde oor God het vrees in hom gewek. Watter god? Waar het hierdie man in die bonatuurlike ingepas? Pilatus was heel moontlik huiwerig om selfs die Romeinse gode en hulle stories te glo.

Daar was wel een ding wat hom geroer het. Hy het oor waarheid gewonder.Hy het die afwesigheid van betekenis in sy eie lewe bespeur. Hy was bewus van sy eie beperkinge en gebrek aan wysheid. Hy was dalk ‘n suksesvolle Romeinse soldaat en amptenaar, maar hy het geweet iets kort. Het hy dalk vir ‘n oomblik gedink dat die bebloede figuur hier langs hom die antwoord op sy sielsverlange was? Hy het nie vir die antwoord gewag nie.

Die rol van Jesus in hierdie drama is kalm en in volle beheer ten spyte van sy liggaam in skok en pyn.

Hy bly die majestieuse dirigent van sy eie verhoor.Pilatus het besef dat Jesus in beheer is. Hy was nie die patetiese slagoffer van wreedheid nie. Pilatus het hom met respek behandel. Hy het geweet Jesus is anders en spesiaal.

Jesus praat met hom direk oor Sy koninkryk. Hy verduidelik nie. Hy praat die waarheid. Hy weet Hy gaan sterwe en spreek die boodskap van Sy koms onverwater en reguit uit. Elke jaar oor die Pasga was die atmosfeer gespanne. Daar was altyd ekstra Romeinse troepe in Jerusalem. Pilatus het ongeveer 3 000 soldate onder sy bevel gehad. As Jesus ‘n opstand sou aanmoedig, was daar ‘n bloedbad.

Jesus maak dit duidelik dat Sy koninkryk in die harte van die mense is, nie op aarde nie. Die oorwinning van Sy koninkryk was in liefde en met liefde.

Hy het gekom as ‘n getuie van die waarheid – die waarheid oor God en Homself. Jesus is die waarheid. Sonder Hom kry ‘n mens dalk ‘n onvolkome deel daarvan en gryp rond na brokkies van waarheid.

Jesus was fisies sterk. Die marteling met ‘n Romeinse sweep was onmenslik wreed. Een kommentaar verduidelik dit so:

‘n Man is vasgemaak aan ‘n paal sodat sy hele rug ontbloot was. Die sweep was ‘n leerband met stukkies lood en skerpgemaakte been. Die sweep het in die weefsel ingeskeur en stukke vel uitgeruk. Meeste mense het flou geword van pyn en sommige het mal geskreeu. Jesus het stil geword en dit verduur.

Pilatus wou die simpatie van die skare opwek en het die bebloede Jesus, na die marteling, aan die skare voorgehou. Hy wou steeds die vonnis uitstel.

Pilatus sê: Kyk die man. Die woord wat gebruik word is die Griekse woord wat normaalweg vir ‘n mens gebruik word – ho. Griekse skrywers het dikwels die woord gebruik vir die ideale mens, die hemelse of bonatuurlike mens.Pilatus is verbaas dat die marteling  Jesus nie doodgemaak het nie.

Pilatus sêdat hy die mag het om Hom dood te maak of vry te laat.Jesus sêdat Pilatus net die mag het wat aan hom gegee word om die plan van God uit te voer.

Jesus is stil voor die Hoë Priester (Matteus 26:63; Markus14:61). Hy is stil voor Herodus (Luke 23:9). Hy is stil voor die Jode wanneer hulle die aanklagte bring (Matteus 27:14; Markus 15:5).

Hy praat egter met Pilatus en antwoord al sy vrae. Al die mag en gesag van Rome, wat Pilatus verteenwoordig, het verdwyn voor Jesus. Pilatus verwoord die uitroep van sy hart na waarheid. Sy onsekerheid vreet hom op en laat ‘n merk op sy loopbaan.

Teen die einde van die gesprek is Jesus stil. Die gesprek het geen slotsom nie. Dit is ‘n donker dag inderdaad wanneer die Prins van die Hemel stil raak. Hy is bekend as die God wat praat(Jesaja 52:6).

As ‘n mens se denke so in sy eie doelstellings en blindheid opgesluit is, is God stil.

Pilatus het Jesus uitgelei in die Binnehof van Lithostrotos (Gabbatha in Aramees), geplavei met marmermosaïek waar die regterstoel (bema) gestaan het. Dit was voor die praetorium waar die goewerneur gewoon het en die magistrate gesit het om uitspraak te lewer.

Sommige kommentatore meen dat Pilatus spottend vir Jesus op die stoel laat sit het en die skare gevra het of hy Hom sal kruisig. Hy sou nooit die ironie verstaan dat Jesus eendag wel op die regterstoel sou sit nie.

Die SOLDATE

Die soldate het bevele uitgevoer, met spot en twyfel oor wat hulle doen daar onder mekaar. Hulle was heel moontlik halfdronk net om die wreedheid te hanteer.

Hulle het ‘n speletjie gespeel en die selfgeproklameerde koning sy koningskleed aangetrek, met ‘n kroon wat pyn veroorsaak. Hoe sou hulle besef dat hulle die koning van hulle eie lewens kroon?

BARABBAS

Johannes praat vlugtig oor hom. Dis net in die Evangelies waar die gewoonte genoem word om ‘n gevangene vry te laat in die tyd van die Pasga. Dit was sekerlik gemik op soveel politieke gevangenes onder die Jode wat van rebellie aangekla is. Barabbas egter, was ‘n bekende moordenaar en geweldenaar, ‘n figuur wat vrees opgewek het. (Matteus 27:15-26; Markus 15:6-15; Lukas 23:17-25; Handelinge 3:14.)

Sy naam beteken: Bar Abba – seun van die vader of Bar Rabban – seun van die rabbi. Hy kon ‘n swartskaap van een van die prominente godsdienstige families gewees het. Hy was meer as ‘n gewone rebel – hy was ‘n moordenaar.

Die keuse van die mense het hulleself gemerk tot in ewigheid. Hulle het die man van moord en doodslag gekies bo die man van liefde en genade.

Dwarsdeur die eeue word hierdie keuse weer en weer gemaak.

Niemand weet wat van Barabbas geword het nie. Natuurlik was hy een van die sondaars vir wie Jesus gesterf het. Ek het geen twyfel dat die liefde van God wat hom daardie dag vrygespreek het, hom sou volg totdat hy ondersoek instel na die Man wat so dramaties en direk in sy plek gesterf het en hom die kans van ‘n nuwe lewe gegee het. God se liefde wen altyd.

In Lukas (23:2) is dit duidelik dat Pilatus gedurende sy ondervraging van Jesus besef het dat Jesus uit Galilea kom. Dit sou Jesus onder Herodus se jurisdiksie plaas.

Die Herodus wat Jesus ontmoet was in Jerusalem op daardie stadium, hoewel hy oor Galilea geheers het. Hy was Herodus Antipas, dieselfde koning wat Johannes die Doper laat onthoof het ten gunste van die skone Salomé. Hy was nuuskierig oor Jesus en het gehoop om ‘n wonderwerk of twee te sien.

Antipas het sy eerste vrou, Phasaelis, geskei om met Herodias sy halfbroer se vrou, te trou. Johannes die Doper het die egskeiding en hertroue verdoem en Herodus Antipas het hom laat arresteer. Hy was beskikbaar in Herodus se gevangenis vir die dramatiese teregstelling sodat sy kop op ‘n silwer skinkbord aan Salomé en Herodias getoon kon word. Herodus was ‘n tetrag (hy het oor ‘n kwart van Palestina regeer) en het in ‘n grensdispuut met sy skoonpa beland (die vader van die vrou van wie hy geskei het om met Herodias te trou). Die gevolg van die dispuut was ‘n oorlog en selfs Tiberius, die Romeinse keiser, het ‘n Romeinse teen-offensief beveel wat nie veel gehelp het nie. In 39nC is Herodus deur sy broerskind Agrippa 1 van sameswering teen Rome beskuldig. Hy is deur die Romeinse keiser Caligula na Gallië in ballingskap gestuur en hy en Herodias is daar dood.

Jesus is tjoepstil gedurende Herodus se spottende ondervraging. Jesus het sy oppervlakkigheid en geheime swakhede onderskei. Herodus was gewoond aan kompromie en sou enigiets doen om sy gemak en welvaart te beskerm.

Herodus het nie Pilatus gehelp om tot ‘n besluit oor Jesus te kom nie. Herodus stuur Jesus terug na Pilatus. Herodus het dalk gedink dat Pilatus Hom maar kan doodmaak want dit sal geen verskil aan sy eie lewe van voorspoed onder Romeinse gesag maak nie.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s