[Johannes 13]
Ons het al oor Judas gepraat. Ek al baie oor hom gedink, miskien selfs meer as oor enige ander dissipel. Ek wonder hoe dit moes gevoel het om Jesus eerstehands te ervaar veral as Hy die gemeenskap en kerk teengestaan het. Daar is geen twyfel dat Judas baie beïndruk met Jesus was. Hy het in sy hart geweet dat Jesus die sleutel tot die verwerkliking van die droom was – Israel se herstel en heerskappy onder die nasies.
Judas was gefokus op hierdie ideaal. Jesus het hom die verantwoordelikheid oor die geldsake gegee heel moontlik om vertroue te bou en hom in die binnekring in te trek. Jesus het natuurlik sy hart onderskei. Daar was ook indikasies dat hy nou nie juis die deursigtige finansiële administrateur van moderne tye was nie en dat daar misbruik van die geldsak was. Judas het saam met Jesus geloop oor ‘n tydperk van drie jaar en baie wonderwerke gesien. Hy het sy tyd gekies om op te tree, sonder om na die woorde van Jesus te luister. Hy het sy plan in aksie gesit sonder om die eenmalige uniekheid van daardie punt in die geskiedenis van die wêreld te onderskei,wat die Jode ingesluit het.
Om Judas beter te verstaan is dit nodig om terug te gaan na een van Jesus se gesprekke met Sy dissipels. (Matteus 16:13-20)
Jesus vra ‘n maklike vraag: Wie sê die mense is ek? Maklike antwoord gee die dissipels: sommige sê Elia, ander Moses, party Johannes die Doper of ander meen dat Jesus een of ander nuwe profeet is.
Skielik maak Jesus dit persoonlik.
Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”
Wel, natuurlik sal die voortvarende Petrus dit uitbasuin.
“U is die Christus, die Seun van die lewende God.”
Hierdie inspirerende, Heilige Gees-woorde laat Jesus ‘n seën oor Petrus uitspreek wat oor eeue tot in ewigheid sal weergalm.
Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”
Dit is openbarings-woorde van Petrus. Dit is wat ons begeer. Ons wil sien en praat soos wat die Vader in die hemel aan ons openbaar.
Jesus verklaar dat Petrus se insig wat in sy woorde uitkom die rots is waarop die kerk gebou word. Dit is nie Petrus self nie, maar sy insig wat die rotsfondament van die kerk is. Die kerk van Jesus is nie op ‘n mens gebou nie.
Die kerk is gebou op die openbaring van wie Jesus is.
Onthou hierdie Rhema-woord (die gesproke woord van God in die hart van ‘n mens) van Petrus wanneer ons die maaltyd waar Jesus die dissipels se voete was, bespreek.
Judas tree heeltemal normaal op met sy bose plan ‘n diep geheim wat hy met niemand deel nie. As die ander dissipels geweet het, sou hulle hom probeer keer het.
Johannes was nader aan Jesus om te vra wie dit was wat Jesus bedoel het Hom sou verraai. Johannes noem homself die geliefde dissipel. Hy het geweet hoe lief Jesus hom het. Dit is weer eens openbaringskennis wat sy lewe bepaal. Jesus het nie Johannes meer as die ander liefgehad nie. Johannes het net besef hoe lief Jesus hom het.
Aan die gasheer se linkerkant was die plek vir die eregas. Judas het daar gesit. Dit was ‘n poging van Jesus om hom van sy plan te laat afsien.
Die gasheer het aan ‘n gas iets van die tafel af aangebied as uitnodiging tot gesprek. Jesus het die stukkie brood in sous gedoop en dit vir Judas aangebied (13:26). [Vergelyk Rut 2:14 waar Boas Rut nooi om haar kos in die wynsous te doop.]
Weer en weer was die kans op versoening aangebied, maar Judas het toegelaat dat die duisternis oorwin.
Jesus het aanvaar dat die tyd verby is en dat Judas sal doen wat hy beplan om te doen. Die dissipels het nie besef wat aangaan nie. Hulle het seker gedink dat Jesus Judas uitgestuur het om aan die armes iets te gee soos dit die gewoonte was.
Toe Judas die brood by Jesus vat, het die duiwel in sy hart oorhand gekry. Hy was so obsessief oor sy eie plan dat hy Jesus se uitnodiging en liefde keer op keer verwerp het.
Johannes noem dat Judas in die naguitgegaan het om sy donker daad te verrig. Donker dade kies gewoonlik die duisternis vir uitvoering. Dit is simbolies van wat in sy siel aan die gang was. Weg van die teenwoordigheid van Jesus, is nag. Jesus is die Lig.
Dit verklaar die diep verskille tussen Petrus en Judas. Kom ons kyk na hulle rolle in die donker ure van Jesus se verhoor, voor die kruisiging.
Judas het behoort aan ‘n politieke party wat die Romeine met geweld wou uitdryf en ‘n onafhanklike Joodse staat uitroep. Na drie jaar saam met Jesus, het hy male sonder tal gesien hoe Jesus woedende argumente en selfs potensiele steniging vermy. Hy het net weggeloop al het sekere mense al klippe opgetel. Judas het besef dis ‘n wonderwerk dat hulle Jesus nie doodmaak nie.
Dit het hom laat dink om Jesus se hand te dwing en hom in konfrontasie met die Romeinse owerhede te bring. Dit sou ‘n wonderwerk afdwing en so Judas se visie tot werklikheid bring. Sy eie ambisie en toekomsvisie het sy ore doof gemaak vir die waarskuwings van Jesus dat Hy wel in hegtenis geneem en doodgemaak gaan word (Matteus 16:21; Markus 9:31; 10:33).
Judas het nie die tye onderskei nie. Hy wou Jesus “gebruik”.
Hy het sy 30 stukke silwer (die prys van ‘n slaaf op die mark) ontvang en die soldate na Getsemané gelei. Baie gou het Judas gesien dat dinge nie volgens sy plan verloop nie. Hy het Jesus se kalm oorgawe aan die soldate gesien en in verstomming aanskou hoe hulle hom na die hoë priester se huis neem. Later die nag, nadat Hy heen en weer tussen Pontius Pilatus en Herodus gestuur is, was ‘n aaklikge doodsvonnis die gevolg van die sogenaamde verhoor.
Judas was in doodspaniek. Sy hele plan het verkeerd geloop. Hy strompel terug na die kerkleiers met die woorde:
“Ek het gesondig. Ek het ‘n onskuldige man verraai.” (Matteus 27:4)
Na ‘n hele drie jaar in Jesus se teenwoordigheid het hy nog nie besef met wie hy te doen het nie, die Christus, die gesalfde van God, die Een op wie die hele wêreld gewag het nie.
Hy sterf deur sy eie hand, alleen en ontnugterd.
Sodra Judas die tafel verlaat praat Jesus uit Sy hart met die ander dissipels. Hy praat oor sy missie. Hy praat sodat hulle krag kry vir die donker ure van die kruisiging wat voorlê.
Die glorie van die kruis is seker. Gehoorsaamheid aan God is die heel belangrikste. Glorie kom deur gehoorsaamheid en vertoue is die fondament vir gehoorsaamheid.
God is teenwoordig in die ergste tragedie en “verkeerde” verloop van sake. God word verneder om verhoog te word, saam met almal wat Hom volg. Nogtans gaan Jesus heeltemal alleen kruis toe.
Sy afskeidswoorde is liefde.
Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”
In die lig van die gebeure by hierdie ete – die trotse pogings vir status en Judas se verraad, is dit die kragtige woorde van Jesus as oplossing vir al die stryd van die aand – LIEFDE.
Jesus het Sy dissipels liefgehad – met al die opoffering en vergifnis wat hulle nodige gehad het om saam met Hom te oorwin. Daar is geen twyfel dat Judas ook vergifnis sou kry, sou hy daarna uitgereik het.
Voortdurende liefde kan slegs oorleef in ‘n atmosfeer van vergifnis, selfloosheid en begrip.’
Die laaste woord van hierdie hoofstuk is aan Petrus.
Judas het Jesus verraai, Petrus het Jesus verloën – wat is die verskil?
Judas het koudbloedig sy aksies beplan, intensioneel en oor ‘n lang tydperk. Petrus was impulsief en swak in die oomblik van konfrontasie. Jesus het geweet hoe lojaal Petrus aan Hom was.
Jesus het Petrus liefgehad en geweet hoe lief Petrus Hom het. Jesus het geweet Petrus sal faal en weer opstaan. Sy swakheid het nie sy toekoms bepaal nie, net soos ons mislukkings nie ons toekoms bepaal nie. Sy liefde vir Jesus het sy toekoms bepaal.
In Petrus se uur van diepste vernedering en mislukking het sy openbaringskennis oor wie Jesus werklik is, hom staande gehou en teruggebring na sy broers toe. Hy was daar saam met hulle agter slot en grendel, baie vreesagtig, toe die skokkende, wonder-tyding van die opstanding kom. Hy was nie alleen nie. Jesus het vir Maria by die graf gesêom spesiaal vir Petrus te sêdat Hy opgestaan het.
Jesus het geweet wat Petrus sou word. Hy het geweet dat Petrus eendag braaf genoeg sal wees om dieselfde dood vir Hom te sterf.
Jesus sien wat niemand sien nie. Wat Hy in ons lewe doen, maak van ons iets wat niemand kan opdink nie.