[Johannes 7]
Praat is maklik. Anonieme praat nog makliker. Woorde sonder verantwoordelikheid. Maklik gemaak met moderne tegnologie van vingerpuntnuus vir ‘n konstante stroom praatmateriaal. Mense in die publieke oog word nog steeds in die openbaar veroordeel en tereggestel soos in antieke tye tot die laat middeleeue, net die metode verskil. Die nuusmedia, sosiale media en privaatgesprekke verskaf die feite, spreek die vonnis uit en swaai die byl.
Shakespeare was die eerste persoon wie die werkwoord skinder as selfstandige naamwoord gebruik het. Afrikaans noem ‘n persoon wat skinder ‘n skinderbek – heel gepas met die negatiwiteit van die mond van ‘n dier wat woorde rondslinger. Dit impliseer die rou wreedheid van ‘n trop wilde honde wat verskeur en vermoor. Ek wens ons kon die beeld van bebloede prooi in ons gemoed bewaar wanneer ons onnadenkende woorde soos die skerp lem van ‘n dolk ander mense verwond.
In die lig van ons moderne tyd kan ons seker maklik die grapevine van Judea in die tyd van Jesus voorstel. Die gewoonte van die vroue in daardie tyd, was om in groepe die water vir die huis te gaan haal en die tydjie om die put as ‘n stukkie kuier uit ‘n besige dag met baie verpligtinge te kerf.
Nuus versprei so gou. Voor die dae van internet en kabelnuus was my pa se gunstelinggrappie: telegram, telefoon, tell-a-woman. Moontlik het nuus in Judea onder andere deur die tell-a-woman -netwerk versprei. Ons kan egter nie die mans heeltemal vryspreek nie. Openbare baddens was kuiertyd. Reisigers het op kruispaaie nuus gedeel en handelaars op die hoofpaaie het nuus versamel om gesprek om kooptransaksies aan te knoop. Mense uit ander wêrelddele was primêre nuusbronne.
Die mense het gebabbel, gepraat en geskinder – oor Jesus. Langer argumente is afgewissel met die korter het jy gehoor – weergawe van elke nuwe brokkie nuus oor Hom.
Die Joodse feeste was vrugbare grond vir albei. Die Fees van die Tabernakels wat hier in Johannes 7 genoem word het einde September, begin Oktober plaasgevind; een van die drie Herfsfeeste. Elke Jood, wat binne ‘n radius van 15 myl van Jerusalem af gewoon het, was verplig om die Fees by te woon. Die Fees het agt dae geduur en Jesus se broers het Hom probeer oortuig om die Fees by te woon. Jesus het egter niks gedoen wat nie op die kalender van die hemel uitgemerk was nie.
Hy praat van My tyd. Daar is ander plekke in Johannes waar Hy die woord tyd (ōra) gebruik waarmee Hy God se tyd aandui (Johannes 2:4; 7:30; 8:20; 12:27). God se tyd kon nie uitgestel of geskuif word nie. In hierdie gedeelte gebruik Hy die woord kairos, wat die geskikte tyd beteken, die volheid van tyd, die beste tyd. Hy sê eintlik dat die tyd nie gepas is vir dit wat moet gebeur nie.
Soveel van ons lewe word in tyd gemeet. Dit is ‘n luuksheid om tyd af te neem vir ontspanning. Ons lewe is letterlik in die ratte van outydse horlosies “opgewen” en afwen is ‘n woord wat met stresbestuur in verband gebring word. Dae word afgemerk vir vakansie, verjaardae, troues en ander spesiale geleenthede. Dit is ons chronos-tyd, kalendertyd.
Jesus besluit oor tyd op ‘n baie dieper vlak. Sy roeping en bediening bepaal wanneer Hy iets moet doen. Hy merk dit nie op die aardse kalender nie – Hy leef volgens God se kalender – ora. Wanneer God se tyd die uitkoms bepaal is dit die volheid van tyd – kairos-tyd.
Jesus gaan wel Jerusalem toe, maar op Sy eie. Hy het getrou die Feeste bygewoon. Hy het geweet dat elke Fees in Sy lewe, dood, opstanding en tweede koms vervul sou word. Hy het stil en privaat Jerusalem binnegekom, sonder om die publieke oog op Hom te vestig. Hy het nie toegelaat dat mense hom voorsê of Sy hand dwing met enigiets nie.
Dit is so belangrik om God te vertrou met tydsberekening.
- Dit is onmoontlik om Jesus se optrede af te dwing. Sy dissipels wou hê dat Hy moet wys wat Hy kan doen in Jerusalem. Jesus tree nie op om die guns van mense te wen nie. Hy tree slegs op om die wil van God te doen.
- Dit is onmoontlik om Jesus met ongeërgdheid te hanteer. Sy broers was nie ingestel op Sy missie nie. Hulle het die wêreld en die wêreld se metodes gemaklik gevind. Jesus se lewe het die wêreld geoordeel en Sy teenwoordigheid het ‘n groot verskil in die gewone gang van sake gemaak.
In die volgende verse (7:10-30) word verskeie reaksies op Jesus bespreek.
- Sy broers het Hom met minagting behandel, amper spottend.
- Die openlike haat van die Fariseërs en priesters begin wys. Jesus ontbloot die vyandskap tussen hulle en skielik is hulle bereid om saam te staan. Hulle was verknog aan hulle eie sisteme en stelsels en sou nie toelaat dat enigiets of enigiemand hulle aansien in die gemeenskap beskadig nie. Die Sadduseërs was polities. Al die priesters was Sadduseërs. Hulle het nie al die reëls van die Fariseërs onderhou nie. Hulle het gemaklik met die Romeine saamgewerk en in luuksheid geleef. Hulle eie belange was baie belangriker as God s’n.
- Daar was ‘n diep begeerte om Jesus te elimineer (Johannes 7:30,32) binne verskeie groepe. Elke persoon kan onderwerp of verwerp. Jesus is hoër as enigiets. Neutraliteit is nie ‘n opsie nie.
- Daar was arrogante oordeel oor Sy leer uitgespreek. Jesus het geen reg gehad om oor die Wet en die Profete te praat nie, omdat Hy nie die opleiding in die godsdiens en kultuur van die dag gehad het nie. Hulle was akademiese snobs. Dis miskien goed om te onthou dat meeste van die grootste digters, kunstenaars, skrywers en evangeliste min of geen opleiding gehad het nie. Ons kan nooit neerkyk op akademiese onderrig nie, maar kan dit nooit verhef tot ‘n voorwaarde vir grootsheid nie. Dit is nie altyd die sleutel nie.
- Die reaksie van die mense is gemeng. Sommige toon belangstelling (7:11) en ander wil gesprek voer (7:12).
Argumente is dikwels ‘n instrument om jou gedagtes en denkpatrone te vorm. Is dit dalk moontlik om uit gesprek tot kennis te kom? Inderdaad. Daar is ‘n groot verskil tussen gesprek en skinder.
Wat is skinder dan? Is dit altyd negatief? Net ‘n stemtoon kan feite so kleur dat dit leuenagtig word. Is ons woorde altyd ‘n juiste weergawe van die gees waarin iets aan ons oorvertel is? Moeilik.
Ons moet wegbly van ydelpraatjies sê Timoteus (1:6) en Titus (1:10). Beide hierdie skrywers kategoriseer ydelpraters met bedrieërs.
Nie alles wat ons van ander sê is noodwendig skinder nie. Ek het al dikwels iemand gekomplimenteer met die wete dat dit oorvertel sal word. Dit is soms ‘n manier om waardering uit te spreek. Woorde kan so bemoedigend en opbouend wees. Lees maar gerus weer Jakobus 3.
Een van my heel gunsteling gedeeltes in die Bybel is Maleagi 3:16-18 wat die wonderbare gevolge van goeie gesprek uitspel. Dit het tot gevolg dat die majestieuse Skriba van die hemel ons name in ‘n gedenkboek opteken.
Terug by Johannes 7 om te kyk na die uitkoms van die gesprek.
Sommige het gesê:
- Hy is ‘n goeie man. (7:12) Hy is soveel meer as dit.
- Hy is ‘n profeet (7:40). ‘n Profeet sê: God sê. Jesus sê: Ek sê. Hy het nie as gedelgeerde van God opgetree nie. Hy is God self.
- Hy is waansinnig (7:20). Hy het die kruis gekies bo mag, ‘n lydende dienskneg bo ‘n oorwinnende koning. Hy het wêreldstandaarde omgekeer en waarheid en vrede in ‘n wrede mal wêreld gebring.
- Hy is ‘n bedrieër. Hy het mense weg van godsdiens af verlei. Hy is van enige misdaad in die boek aangekla: oortreder van die Sabbat, ‘n vraat, ‘n dronkaard, verkeerde vriende en het die ortodokse leierskap wesenlik bedreig.
- Hy was dapper en vol moed (7:26). Hy praat openlik met die leiers hoewel Hy al hulle konvensies oorboord gooi. Hy het fisiese pyn hanteer. Hy het by Sy oortuigings gehou toe almal Hom verlaat het. Toe Hy triomfantelik in Jerusalem inry, het Hy geweet dit is die stad wat Hom sou teregstel. Hy het God gevrees, nooit ‘n mens nie.
- Hy het ‘n dinamiese persoonlikheid gehad (7:46). Hy is leë hande in hegtenis geneem. Krag het uit Hom gevloei sodat die soldate wat Hom gevange geneem het, verward en uit plek uit gevoel het.
- Hy was die Christus, die Messias. Dit is ‘n feit – eenvoudig en waar.
Daar was ook ander reaksies:
- Die mense het in vrees reageer (7:13). Die woord vir praat hier is letterlik ‘n gemompel. Dit was ‘n gebrom van onsekerheid soos die gekla in die woestyn. Ons hoef nie bang te wees om oor Hom te praat nie.
- ‘n Sekere deel van die skare het geglo (7:31). Hulle kon eenvoudig nie die bewyse ignoreer nie. Hulle het hulle vrees en vooroordeel oorkom.
- Nikodemus het Jesus verdedig (7:50). Hy was alleen in hierdie poging. As ons Jesus verdedig is dit vir ons eie aanmoediging. God het niemand nodig om Hom te verdedig nie. Ons eie getuienisse maak ons sterk en bemoedig die mense om ons. As ons van God praat is dit ons gees en siel wat sterk word.
Hoor wat sê Wysheid in Spreuke 8:
Luister, want wat ek sê, is die moeite werd, elke woord van my is opreg.
Ek praat net die waarheid, ek het ‘n afsku van wat verkeerd is. Elke woord uit my mond kan die toets deurstaan, nie een het ‘n verkeerde of vals bedoeling nie.
Mense wat insig het, weet dat ek reguit praat, wie die kennis het, weet wat ek sê, is reg.
Aanvaar wat ek julle leer, dit is meer werd as silwer; kennis is meer werd as die fynste goud.
Bid saam met my die woorde van die Psalmis (19:15, OAB):
Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!