196. Vernietig die vesting.

Hulle praat van konvensionele wysheid. Ek weet per defnisie beteken dit tradisionele of gebruiklike wysheid.  Tog is die verband waarin dit gebruik word meer gerig op die moderne wysheid, of die wysheid van die dag.  Dit is seker so dat wysheid kan verander soos kennis vermeerder.  Die mediese wetenskap is so ‘n duidelike bewys van wysheid wat verander soos kennis vermeerder.  As die beste manier om te leef met die ontwikkeling in die natuur- en geesteswetenskappe deurgaans verander is dit baie moeilik om besluite tot voordeel van almal te neem.  Wat is die maatstaf?  Hoe sou jy weet wat reg en wys is?

Wysheid is die toepassing van kennis.  Hier is die amptelike definisie:

Wisdom, sapience, or sagacity is the ability to think and act using knowledge, experience, understanding, common sense and insight. Wisdom is associated with attributes such as unbiased judgment, compassion, experiential self-knowledge, self-transcendence and non-attachment, and virtues such as ethics and benevolence.

Dit is inderdaad ‘n mondvol.  Terselferdertyd is dit iets waarna my hele wese streef soos wat ek al die groot woorde waarmee wysheid in verband gebring word, lees.  Dit is alles dinge wat goed is.

Die eerste belangrike punt is: denke en optrede gaan saam.  Wysheid veronderstel aksie.  Jou gedagtewêreld word jou aksie, aktiwiteit en houding buite jouself.

Gedagtes is privaat – aksie is publiek.

Met ander woorde, wysheid wys wat in jou kop aangaan en dit vind uiting  in jou optrede.

Dit is alles goed en wel, maar dit beteken ek moet met wysheid bepaal wat in my kop aangaan.  Dit is waaroor ons gesels.  Kontrakte in jou kop wat bepaal hoe jy optree.  Ons het in ‘n vorige stukkie gesêhoe belangrik ons gedagtewêreld is, want ‘n kontrak bring iets tot stand wat voorheen nie daar was nie.  Uit ‘n kontrak word iets konkreet geskep wat blywende gevolge het.

Die Bybel het baie te sê oor hoe ons dink.

‘n Geduldige mens het meer waarde as ‘n bedrewe vegter, ‘n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ‘n stad inneem.(Spreuke 16:32)

 He who is slow to anger is better than the mighty, he who rules his [own] spirit than he who takes a city. (Proverbs 16:32)

Ons het gesels oor Romeine 12:2 waar die verandering in ons innerlike gebeur as gevolg van die vernuwing van ons gemoed, ons gedagtewêreld.  In hierdie verband is Paulus baie uitgesproke.  Skerp en op die punt af sêhy in 2 Korintiërs 10:5:

Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

Dit bring ons by ‘n groot waarheid.  Ons gedagtestryd is ‘n geveg waarin boosheid ‘n aktiewe rol speel.  Ons weet die duiwel kan gedagtes plant en hy doen dit – konstant en sonder ophou.  Ek het al spottend gesê dat die vyand nooit van luiheid aangekla kan word nie – hy is nie lui om te treiter nie.  Dit is asof hy ‘n swak oomblik ruik en onmiddellik daarvan gebruik maak om vrees en woede te plant.

Ons is met alles in die Woord toegerus om “bedrewe vegters” op hierdie gebied te wees.

Die skrif waaraan ek vasklou soos ‘n drenkeling ‘n reddingsboei, is die bekende en geliefde Filippense 4.  Lees en studeer saam met my.

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

 “Besorg” is so ‘n sagte woord vir knaende en verlammende bekommernis en vrees.  Hoor hoe stel die TPT dit.  [The Passion Translation]

Don’t be pulled in different directions or worried about a thing. Be saturated in prayer throughout each day, offering your faith-filled requests before God with overflowing gratitude. Tell him every detail of your life, then God’s wonderful peace that transcends human understanding, will make the answers known to you through Jesus Christ. 

Die Amplified sê:  Do not fret or have any anxiety about anything…

Daar is die woord – die siekte van ons tyd – vrees en angs.

Let daarop dat die Afrikaanse woord “smeking” met “faith-filled requests” vertaal word en nie ‘n kerm-element suggereer soos wat ons woord smeking sou kon beteken nie.

Hoe sal ons ‘n dag deurweek met gebed?  Dis ‘n uitdaging. Dit sal gebeur as ons die Here van die leërskare in die gedagte-oorlog inroep en die agste versie LEEF.

So keep your thoughts continually fixed on all that is authentic and real, honorable and admirable, beautiful and respectful, pure and holy, merciful and kind. And fasten your thoughts on every glorious work of God, praising him always.

Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.

 Hieroor is daar baie te sê.  Ek skryf sommer nou voort in die volgende stukkie – dis my voorneme om korter stukkies te skryf.

Hier is heelwat om oor te dink.  Dink ‘n bietjie bewustelik waaroor jy deur die dag dink.

Dit is die opdrag, die huiswerk as ek dit so kan noem:

dink wat jy dink.

Is jy opgevang in die kultuur van woede en skinder-skandale?  Dit voel soms asof die nuus hierdie gulsige monster met mense voed.  Geregtigheid, goedheid en genade is vreemde konsepte in hierdie kultuur van die sogenaamde reg op kennis met die media op alle vlakke as gewillige aanhitser.

 

158. En jy? Wat sê jy?

[Johannes 7]

Praat is maklik. Anonieme praat nog makliker. Woorde sonder verantwoordelikheid. Maklik gemaak met moderne tegnologie van vingerpuntnuus vir ‘n konstante stroom praatmateriaal. Mense in die publieke oog word nog steeds in die openbaar veroordeel en tereggestel soos in antieke tye tot die laat middeleeue, net die metode verskil. Die nuusmedia, sosiale media en privaatgesprekke verskaf die feite, spreek die vonnis uit en swaai die byl.

Shakespeare was die eerste persoon wie die werkwoord skinder as selfstandige naamwoord gebruik het. Afrikaans noem ‘n persoon wat skinder ‘n skinderbek – heel gepas met die negatiwiteit van die mond van ‘n dier wat woorde rondslinger. Dit impliseer die rou wreedheid van ‘n trop wilde honde wat verskeur en vermoor. Ek wens ons kon die beeld van bebloede prooi in ons gemoed bewaar wanneer ons onnadenkende woorde soos die skerp lem van ‘n dolk ander mense verwond.

In die lig van ons moderne tyd kan ons seker maklik die grapevine van Judea in die tyd van Jesus voorstel. Die gewoonte van die vroue in daardie tyd, was om in groepe die water vir die huis te gaan haal en die tydjie om die put as ‘n stukkie kuier uit ‘n besige dag met baie verpligtinge te kerf.

Nuus versprei so gou. Voor die dae van internet en kabelnuus was my pa se gunstelinggrappie: telegram, telefoon, tell-a-woman. Moontlik het nuus in Judea onder andere deur die tell-a-woman -netwerk versprei. Ons kan egter nie die mans heeltemal vryspreek nie. Openbare baddens was kuiertyd. Reisigers het op kruispaaie nuus gedeel en handelaars op die hoofpaaie het nuus versamel om gesprek om kooptransaksies aan te knoop. Mense uit ander wêrelddele was primêre nuusbronne.

Die mense het gebabbel, gepraat en geskinder – oor Jesus. Langer argumente is afgewissel met die korter het jy gehoor – weergawe van elke nuwe brokkie nuus oor Hom.

Die Joodse feeste was vrugbare grond vir albei. Die Fees van die Tabernakels wat hier in Johannes 7 genoem word het einde September, begin Oktober plaasgevind; een van die drie Herfsfeeste. Elke Jood, wat binne ‘n radius van 15 myl van Jerusalem af gewoon het, was verplig om die Fees by te woon. Die Fees het agt dae geduur en Jesus se broers het Hom probeer oortuig om die Fees by te woon. Jesus het egter niks gedoen wat nie op die kalender van die hemel uitgemerk was nie.

Hy praat van My tyd. Daar is ander plekke in Johannes waar Hy die woord tyd (ōra) gebruik waarmee Hy God se tyd aandui (Johannes 2:4; 7:30; 8:20; 12:27). God se tyd kon nie uitgestel of geskuif word nie. In hierdie gedeelte gebruik Hy die woord kairos, wat die geskikte tyd beteken, die volheid van tyd, die beste tyd. Hy sê eintlik dat die tyd nie gepas is vir dit wat moet gebeur nie.

Soveel van ons lewe word in tyd gemeet. Dit is ‘n luuksheid om tyd af te neem vir ontspanning. Ons lewe is letterlik in die ratte van outydse horlosies “opgewen” en afwen is ‘n woord wat met stresbestuur in verband gebring word. Dae word afgemerk vir vakansie, verjaardae, troues en ander spesiale geleenthede. Dit is ons chronos-tyd, kalendertyd.

Jesus besluit oor tyd op ‘n baie dieper vlak. Sy roeping en bediening bepaal wanneer Hy iets moet doen. Hy merk dit nie op die aardse kalender nie – Hy leef volgens God se kalender – ora. Wanneer God se tyd die uitkoms bepaal is dit die volheid van tyd – kairos-tyd.

Jesus gaan wel Jerusalem toe, maar op Sy eie. Hy het getrou die Feeste bygewoon. Hy het geweet dat elke Fees in Sy lewe, dood, opstanding en tweede koms vervul sou word. Hy het stil en privaat Jerusalem binnegekom, sonder om die publieke oog op Hom te vestig. Hy het nie toegelaat dat mense hom voorsê of Sy hand dwing met enigiets nie.

Dit is so belangrik om God te vertrou met tydsberekening.

  • Dit is onmoontlik om Jesus se optrede af te dwing. Sy dissipels wou hê dat Hy moet wys wat Hy kan doen in Jerusalem. Jesus tree nie op om die guns van mense te wen nie. Hy tree slegs op om die wil van God te doen.

 

  • Dit is onmoontlik om Jesus met ongeërgdheid te hanteer. Sy broers was nie ingestel op Sy missie nie. Hulle het die wêreld en die wêreld se metodes gemaklik gevind. Jesus se lewe het die wêreld geoordeel en Sy teenwoordigheid het ‘n groot verskil in die gewone gang van sake gemaak.

In die volgende verse (7:10-30) word verskeie reaksies op Jesus bespreek.

  1. Sy broers het Hom met minagting behandel, amper spottend.

 

  1. Die openlike haat van die Fariseërs en priesters begin wys. Jesus ontbloot die vyandskap tussen hulle en skielik is hulle bereid om saam te staan. Hulle was verknog aan hulle eie sisteme en stelsels en sou nie toelaat dat enigiets of enigiemand hulle aansien in die gemeenskap beskadig nie. Die Sadduseërs was polities. Al die priesters was Sadduseërs. Hulle het nie al die reëls van die Fariseërs onderhou nie. Hulle het gemaklik met die Romeine saamgewerk en in luuksheid geleef. Hulle eie belange was baie belangriker as God s’n.

 

  1. Daar was ‘n diep begeerte om Jesus te elimineer (Johannes 7:30,32) binne verskeie groepe. Elke persoon kan onderwerp of verwerp. Jesus is hoër as enigiets. Neutraliteit is nie ‘n opsie nie.

 

  1. Daar was arrogante oordeel oor Sy leer uitgespreek. Jesus het geen reg gehad om oor die Wet en die Profete te praat nie, omdat Hy nie die opleiding in die godsdiens en kultuur van die dag gehad het nie. Hulle was akademiese snobs. Dis miskien goed om te onthou dat meeste van die grootste digters, kunstenaars, skrywers en evangeliste min of geen opleiding gehad het nie. Ons kan nooit neerkyk op akademiese onderrig nie, maar kan dit nooit verhef tot ‘n voorwaarde vir grootsheid nie. Dit is nie altyd die sleutel nie.

 

  1. Die reaksie van die mense is gemeng. Sommige toon belangstelling (7:11) en ander wil gesprek voer (7:12).

 

Argumente is dikwels ‘n instrument om jou gedagtes en denkpatrone te vorm. Is dit dalk moontlik om uit gesprek tot kennis te kom? Inderdaad. Daar is ‘n groot verskil tussen gesprek en skinder.

Wat is skinder dan? Is dit altyd negatief? Net ‘n stemtoon kan feite so kleur dat dit leuenagtig word. Is ons woorde altyd ‘n juiste weergawe van die gees waarin iets aan ons oorvertel is? Moeilik.

Ons moet wegbly van ydelpraatjies sê Timoteus (1:6) en Titus (1:10). Beide hierdie skrywers kategoriseer ydelpraters met bedrieërs.

Nie alles wat ons van ander sê is noodwendig skinder nie. Ek het al dikwels iemand gekomplimenteer met die wete dat dit oorvertel sal word. Dit is soms ‘n manier om waardering uit te spreek. Woorde kan so bemoedigend en opbouend wees. Lees maar gerus weer Jakobus 3.

Een van my heel gunsteling gedeeltes in die Bybel is Maleagi 3:16-18 wat die wonderbare gevolge van goeie gesprek uitspel. Dit het tot gevolg dat die majestieuse Skriba van die hemel ons name in ‘n gedenkboek opteken.

Terug by Johannes 7 om te kyk na die uitkoms van die gesprek.

Sommige het gesê:

  1. Hy is ‘n goeie man. (7:12) Hy is soveel meer as dit.

 

  1. Hy is ‘n profeet (7:40). ‘n Profeet sê: God sê. Jesus sê: Ek sê. Hy het nie as gedelgeerde van God opgetree nie. Hy is God self.

 

  1. Hy is waansinnig (7:20). Hy het die kruis gekies bo mag, ‘n lydende dienskneg bo ‘n oorwinnende koning. Hy het wêreldstandaarde omgekeer en waarheid en vrede in ‘n wrede mal wêreld gebring.

 

  1. Hy is ‘n bedrieër. Hy het mense weg van godsdiens af verlei. Hy is van enige misdaad in die boek aangekla: oortreder van die Sabbat, ‘n vraat, ‘n dronkaard, verkeerde vriende en het die ortodokse leierskap wesenlik bedreig.

 

  1. Hy was dapper en vol moed (7:26). Hy praat openlik met die leiers hoewel Hy al hulle konvensies oorboord gooi. Hy het fisiese pyn hanteer. Hy het by Sy oortuigings gehou toe almal Hom verlaat het. Toe Hy triomfantelik in Jerusalem inry, het Hy geweet dit is die stad wat Hom sou teregstel. Hy het God gevrees, nooit ‘n mens nie.

 

  1. Hy het ‘n dinamiese persoonlikheid gehad (7:46). Hy is leë hande in hegtenis geneem. Krag het uit Hom gevloei sodat die soldate wat Hom gevange geneem het, verward en uit plek uit gevoel het.

 

  1. Hy was die Christus, die Messias. Dit is ‘n feit – eenvoudig en waar.

 

Daar was ook ander reaksies:

  1. Die mense het in vrees reageer (7:13). Die woord vir praat hier is letterlik ‘n gemompel. Dit was ‘n gebrom van onsekerheid soos die gekla in die woestyn. Ons hoef nie bang te wees om oor Hom te praat nie.

 

  1. ‘n Sekere deel van die skare het geglo (7:31). Hulle kon eenvoudig nie die bewyse ignoreer nie. Hulle het hulle vrees en vooroordeel oorkom.

 

  1. Nikodemus het Jesus verdedig (7:50). Hy was alleen in hierdie poging. As ons Jesus verdedig is dit vir ons eie aanmoediging. God het niemand nodig om Hom te verdedig nie. Ons eie getuienisse maak ons sterk en bemoedig die mense om ons. As ons van God praat is dit ons gees en siel wat sterk word.

 

Hoor wat sê Wysheid in Spreuke 8:

 Luister, want wat ek sê, is die moeite werd, elke woord van my is opreg.

 Ek praat net die waarheid, ek het ‘n afsku van wat verkeerd is. Elke woord uit my mond kan die toets deurstaan, nie een het ‘n verkeerde of vals bedoeling nie.

 Mense wat insig het, weet dat ek reguit praat, wie die kennis het, weet wat ek sê, is reg.

 Aanvaar wat ek julle leer, dit is meer werd as silwer; kennis is meer werd as die fynste goud.

 

Bid saam met my die woorde van die Psalmis (19:15, OAB):

Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!